• No results found

HOOFSTUK 5 DIE PLAASLIKE BEVRYDINGSTRYD (SUID-AFRIKA), STREEKS

5.5 GLOBALE KONTEKS: KOUE OORLOG

5.5.1 Angola

Portugal het Mosambiek en Angola as kolonies in die suide van Afrika gehad. Teen 1975 was dit reeds 400 jaar ʼn Portugese kolonie. Dit het onder andere tot gevolg gehad dat dit finansieel ʼn enorme las op Portugal se skouers geplaas het. Portugal het sy kolonies as provinsies beskou. Alhoewel slawerny in 1836 afgestel is, het dit tog in die psige van die mense bly voortbestaan (Bothma 2012:116). In die anti-koloniale gees is bevrydingsbewegings ook hier gevorm om die Portugese juk af te gooi. Liebenberg (2010:45) beskryf dit soos volg:

Since 1961, the Portuguese in Angola had been fighting an insurgency war against three nationalist guerrilla armies. In the north, the National Front for the Liberation of Angola (FNLA) under Holden Roberto was fighting with backing from Zaire (Mobuto Sese Seko), Communist China and some Arab states. In the south, the National Union for the Total Independence of Angola (UNITA), led by Dr Jonas Savimbi, a proclaimed anti-communist, were launching attacks with some support from Zambia based on tribal loyalties. These loyalties changed after the MPLA (Popular Movement for the Liberation of Angola) of Dr Agostinho Neto took power in Angola.

Die eerste opstand het in die Malange provinsie by die Kimbundu katoenplase plaasgevind. Eiendom is beskadig en die lewende hawe van die Portugese is doodgemaak. Die Portugese owerhede se optrede was heftig en brutaal en 7 000 mense is in land- en lugaanvalle gedood (Liebenberg 2010:56).

Savimbi, wat aanvanklik deel van die FNLA was, het in 1964 van die FNLA weggeskeur en UNITA op die been gebring. Veral die MPLA het vanaf 1970 groot vordering gemaak aangesien die organisasie ook na hul onafhanklikheidswording vanaf Zambië in die ooste kon funksioneer. Suid-Afrika het gevolglik ʼn lugmagkomponent te Rundu geskep vanwaar hulle, in samewerking met die Portugese en die SAP, teen die bevrydingsbewegings opgetree het (Bothma 2012:231).

Die hele politieke landskap het egter in 1975 verander toe ʼn staatsgreep in Portugal uitgevoer is. Portugal kondig aan dat hy uit sy kolonies gaan onttrek. Dit veroorsaak dat die strydende magte na Luanda opruk en onder mekaar begin meeding om mag (Bothma 2012:286). Die aanvanklike ooreenkoms was dat die Portugese 24 000 soldate en die drie

bevrydingsgroepe (gesamentlik 24 000 soldate (8 000 deur elke bevrydingsbeweging) beskikbaar sou stel om die wet en orde te handhaaf, wat dan die groottotaal op 48 000 te staan sou bring (Malan 2006:112). Die Portugese goewerneur het egter van aanvang af die MPLA bevoordeel (Malan 2006:112; Scholtz 2012:16).

Van onmiddellike belang vir Suid-Afrika was om te verseker dat die Calueque-waterskema in die suid-weste van Angola, wat water aan Ovamboland verskaf het, en ook gebruik is om hidro-elektrisiteit op te wek, gehandhaaf sou word. Suid-Afrika het nie belang gestel om permanent in Angola teenwoordig te wees nie. Suid-Afrika sou egter wel UNITA in sy tradisionele gebied beskerm asook die SWA/Angola grens beman as teenvoeter vir SWAPO-insurgente (Malan 2006:117).

Die MPLA het in die gevolglike magsvakuum na die suide opgeruk en groot gebiede van UNITA en die FNLA verower. Die MPLA het gevolglik al die hawens en die lugruim beheer. Dit en die feit dat die MPLA kommunisties-georiënteerd was, is as ʼn bedreiging vir Suid- Afrika beskou. Toe Suid-Afrika deur die Central Intelligence Agency (CIA) van Amerika (ʼn aanduiding van hoe die Globale Koue Oorlog sy invloed in streke laat geld het) versoek is om te keer dat ʼn kommunistiese bewind in Angola oorneem, het dit in 1975 finaal die weg gebaan vir Operasie Savannah (Malan 2006:123). Binne ʼn relatief kort tyd het die SAW met 30 000 man en 600 voertuie ʼn ‘blitzkrieg’ van stapel laat loop wat die SAW tot diep binne Angola laat vorder het. Die momentum wat opgebou is, is egter in sy spore gestuit toe die VSA besluit het dat die CIA nie kant mag kies of betrokke mag raak by spesifieke partye nie; die sogenaamde Clark amendment (Papenfus 2010:471). Die besluit is geneem binne die konteks van die Watergate-skandaal, wat tot President Nixon se bedanking gelei het en die Demokrate se pogings om al Nixon se vorige aksies te stop (Scholtz 2012:21). Dit was ʼn gevoelige slag vir die SAW wat uiteindelik op 27 Maart 1976 onttrek het. Die FNLA, onder leiding van Roberto, het intussen gehoop om die mag te verkry deur vanuit die noorde ʼn aanval op die MPLA, wat stewig in beheer van Luanda was, te loods. Hulle aanval was egter ongekoördineerd en die verrassingsaanval, wat toe nie ʼn verrassingsaanval was nie, het die MPLA genoeg tyd gegee om voor te berei. Binne ʼn kort rukkie is die FNLA op dramatiese wyse verslaan.

Intussen moes die Organisasie vir Afrika Eenheid (OAE) besluit of hulle ʼn regering van Nasionale Eenheid tussen die drie strydende partye of slegs die MPLA sal steun en as die wettige regering sal erken. Tydens ʼn vergadering in Desember 1975 was daar ʼn staking van stemme van 22 elk. Pres. Idi Amin van Uganda was die voorsitter en het sy beslissende stem ten gunste van die MPLA gebruik. Daardeur was die laaste alternatief daarmee heen vir ʼn nie-kommunistiese regering om beheer oor te neem.

Agostino Nato, MPLA leier, verklaar in Februarie 1976 dat hul vryheid nie volledig is totdat

Suid-Afrika ook bevry is nie. Hy onderneem ook om sy broers in SWA/Namibië te help (Scholtz 2012:58). SWAPO verkry verder vryheid van beweging binne Angola. In die lig van die voorafgaande is dit duidelik hoe die plaaslike, streeks- en globale konflikte ineengestrengel geraak het. Die SAW reageer met die opdrag van Magnus Malan dat die suide van Angola gedestabiliseer moet word, UNITA ondersteun moet word en SWAPO aangeval moet word (Scholtz 2012:58). Gevolglik was daar tussen 1978 en 1988 talle oorgrensinisiatiewe.

In 1984 was daar ʼn kans op vrede toe Min. Pik Botha met Chester Crocker, Adjunkminister van Buitelandse Sake van die VSA en Minister belas met Afrika, ʼn vredesvoorstel aanvaar het (Scholtz 2012:190). Dit het tot die Lusaka-ooreenkoms gelei. Die SAW sou nie noord van Cuvelai beweeg nie; SWAPO, FAPLA en die Kubane op hulle beurt weer nie suid daarvan nie. Verder sou die SAW en FAPLA gesamentlike patrollies doen. Daar is ook ʼn gesamentlike moniteringskommissie aangestel. Hierdie voorstel is egter nie eerbiedig nie aangesien Angola wou gehad het dat Suid-Afrika uit Angola moes onttrek sodat UNITA aangeval kan word, iets waarvoor Suid-Afrika nie kans gesien het nie. Suid-Afrika weer wou gehad het dat die Kubane Angola moes verlaat. Waarskynlik was Angola bang dat die SAW verdere offensiewe in Angola sou loods en die Kubane benodig sou word om sulke offensiewe af te weer (Scholtz 2012:194). Ook die bevelvoerder van operasie Askari in 1983, EP van Lill (2013) is van mening dat die kans verspeel is om ʼn blywende oplossing te vind toe Fidel Castro, soos later aangedui sal word, ook nie ten gunste van die ooreenkoms was nie en die MPLA-leier persoonlik hieroor geroskam het.

In 1987 het ʼn sterk FAPLA (Angolese mag) bestaande uit ses brigades, met die ondersteuning van Russiese wapens en veral Kubaanse adviseurs, opgeruk suide toe om UNITA te Jamba, UNITA se hoofkwartier, te vernietig. Dit het daartoe aanleiding gegee dat die SAW ʼn sterk mag gestuur het om die offensief te stuit met Operasie Modulêr. Tydens die operasie is FAPLA gestuit en gevoelige verliese toegedien, veral op 3 Oktober 1987 toe feitlik ʼn hele brigade teen die Lombarivier vernietig is. Die gevolglike terugtrekking van FAPLA het ʼn tweede operasie, genaamd Hooper, tot gevolg gehad. FAPLA is teruggedryf tot by die Cuitorivier, maar geen beslissende oorwinning is deur die SAW behaal nie. Tydens die derde offensief, genaamd Packer, het die goed-ingegraafde magte van FAPLA ʼn posisie ingeneem onder direkte opdrag van Fidel Castro om Cuito Carnaval te alle koste te behou. Drie onsuksesvolle aanvalle is deur die SAW geloods om FAPLA wes van die Cuito te verdryf. Dit het aanleiding gegee tot ʼn skaakmatsituasie waar niemand die oorhand kon kry nie. FAPLA kon nie UNITA se gebiede verower nie en sy offensief is dus gestuit.

Intussen het Castro besluit om die geveg na die noordelike grens van SWA/Namibië te verskuif. Hy het sy beste soldate, vegters en vlieëniers vanaf Kuba ontplooi. Sy beste soldate en toerusting het noord van die SWA/Namibië-grens vanaf die mees suidelike hawe in Angola hawe in die weste in ʼn ooswaartse rigting ontplooi. Dit is nie presies seker of hy ʼn wig tussen die SAW magte by Cuito (in Angola) en die magte in Sektor 1Ø (een zero) in SWA wou indryf nie. Die gevaar van ʼn inval deur die Kubane was groot. Scholtz is reg as hy reken dat dit waarskynlik nie hulle bedoeling was nie, aangesien vredesamesprekinge reeds aan die gang was. Dat hy sonder twyfel Suid-Afrika strategies onverhoeds betrap het, is ook duidelik alhoewel dit nie geredelik deur Suid-Afrikaanse soldate erken sal word nie. Die koste van die oorlog vir Suid-Afrika asook die Russiese aanduiding dat steun aan die Angolese stryd nie onbepaald sal voortduur nie het alles bygedra dat daar nie ʼn grootskaalse konflik in 1988/1989 uitgebreek het nie. Castro was ook bewus daarvan dat Suid-Afrika kernwapens het en was gevolglik lugtig vir ʼn inval. Dat die SAW wel vir so ʼn inval voorberei het en selfs in die tydperk in ʼn paar gevegte teen die Kubane in Angola betrokke was, wys egter op die erns van die situasie. ʼn Aantal soldate is byvoorbeeld deur Kubaanse vliegtuie, wat op daardie stadium die lugruim oorheers het, gedood toe hulle die Suid- Afrikaanse magte by die Ruacana waterwerke gebombardeer het. Castro was tereg ʼn meester strateeg en het goed gedoen om ten minste die uiters vasberade SAW by Cuito tot ʼn skaakmat te dwing. Sy slim maneuvrering deur die geveg na ʼn ander front te verskuif was ook militêr briljant.