• No results found

Bloedrivier en die Gelofte: geroepenheid-uitverkorenheid

HOOFSTUK 4 IDENTITEIT VAN SAW-DIENSPLIGGENERASIE

4.3 AFRIKANER-IDENTITEIT

4.3.3 Bloedrivier en die Gelofte: geroepenheid-uitverkorenheid

Die oorwinning teen ʼn oormag Zoeloe-krygers het buitengewone religieuse betekenis binne die identiteit van die Afrikaner. Die Voortrekkers wat gekies het om die Oos-grensgebied van die Kaap vanweë die Engelse invloed asook die voortdurende grensoorloë teen die Xhosas te verlaat, het letterlik om oorlewing geveg. Andries Pretorius, wat as trekleier aangesluit het na onderlinge twis, het die onbenydenswaardige taak gehad om die groep te lei. Ten aanskoue van die bedreiging het die groep onder leiding van Sarel Cilliers (c. week voor die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838) ʼn gelofte voor die Here afgelê dat as Hy hulle sou beskerm hulle Hom die eer sou gee en ook die dag in die toekoms soos ʼn Sabbatdag sou gedenk. Die oorwinning is daarna gebruik om telkens die nageslagte te herinner aan God se beskerming, die krag van eenheid (eendrag maak mag), asook die roeping wat die volk het as gevolg van God se beskerming. Die oorwinning is ook sterk geïnterpreteer dat daar ʼn spesifieke taak en Goddelike plan sou wees met die Afrikaner. Die dag is aanvanklik as Dingaansdag gedenk maar vanaf 1982 as Geloftedag. Sedert 1994 word hierdie openbare vakansiedag as Versoeningsdag gedenk.26

Wilkens en Strydom (2012:145) haal aan uit ʼn toespraak van Piet Meyer, ʼn baie prominente Broederbondleier, waar hy Afrikaneroorlewing toelig: “God did not call us to commit suicide,

but to maintain and protect ourselves.” Waarskynlik het hy as Afrikanerleier wat die

geskiedenis deeglik geken het, die Slag van Bloedrivier in gedagte gehad en die Afrikaner gemotiveer om te bly veg.

Van Jaarsveld (1988:11), soos aangehaal deur Marschall (2005:23), wys op die spesifieke gebeurtenis van die Slag as deel van die Groot Trek in die identiteitsvorming van die Afrikaner wanneer hy opmerk: “ … the significance was reinforced and publicly called to

mind through the annual ritual observance of the ‘Day of the Vow’. It legitimized Afrikaner

26 Vir ‘n volledige behandeling van die geskiedenis asook huidige inisiatiewe sien Piet Strauss se Geloftedag in die Nuwe Suid-Afrika(1994).

existence, culture and policy; it supported their identity as a people and provided them with orientation in South Africa and in the world.”

Die Gelofte, tesame met Bloedriviergebeure, is volgens Müller (2004:209) tydens die Anglo- Anglo-Boereoorlog gebruik as ʼn “ritual of consecration in Afrikaner religious thought”’. Die krag en simboliek is dus deur die geskiedenis gebruik en sou dit ʼn groot invloed op die SAW-dienspliggenerasie se Afrikaner-identiteit gehad het.27

Goddelike beskerming by die geveg word geïnterpreteer as ʼn aanduiding van die roeping van die Afrikaner. Die Gelofte herdenk gevolglik nie net nie, maar roep ook toekomstige geslagte op tot aksie en diens asook die aanbidding van God. Die Gelofte, bou van ʼn Gelofte-kerk, viering van die dag soos ʼn sabbat is godsdienstige aangeleenthede. Vir die Afrikaner wat as godsdienstig gesien word, verkry 16 Desember van al die geskiedkundige dae die hoogste betekenis. Die dag word dan ook ʼn openbare vakansiedag wat as Versoeningsdag in die nuwe Suid-Afrika voortbestaan. Heelwat Afrikaners vier steeds die dag as Geloftedag.28 Strauss (1994:51) is van mening dat die dag ook in die nuwe Suid-

Afrika gevier moet word as dankdag soos ʼn sabbat en dat dit juis ook Christelike waardes beklemtoon. Die Afrikaner behoort egter self die verantwoordelikheid neem om dit in stand te hou. Hiermee is daar nie fout te vind nie. Dis egter jammer dat Strauss (1994:46) die viering veral op Gereformeerde grondslag wil hou terwyl talle Afrikaners nie anti-Gereformeerd is nie maar ook nie uitsluitlik Gereformeerd is nie. Verder is daar ook gevaarelemente om, as die Israel van ouds, kerk- en staatsvolk as een te sien, soos hy dit dan ook uitlig (Strauss 1994:31).

Die senotaaf of altaar waarop geskryf staan ‘Ons vir jou Suid-Afrika’ by die Voortrekkermonument is tekenend van die impak van die Gelofte en die Slag by Bloedrivier in die psige van die Afrikaner.29

27Jaap Steyn, ‘n voormalige bevelvoerder van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep het in Junie 2014 in Bloemfontein by ‘n

geleentheid waar die as van ‘n gestorwe SAW-soldaat by Grey Kollege geplaas is, verwys na vier Malan-broers wat deel van die Slag van Bloedrivier was. Hy het onder andere opgemerk dat hulle dissipline geken het. Sy opmerking onderstreep die betekenis van die slag in die identiteit van die Afrikaner. Hy het verder aangevoer dat die Grensoorlog die moeite werd was anders sou ons (die mense van SA) nie nou die demokrasie geniet het nie. Die opmerking erken implisiet dat die SAW- generasie worstel met die feit of die oorlog die moeite werd was al dan nie.

28 Die skrywer het die 175ste herdenking van die Slag van Bloedrivier (1838) asook die 100-jarige viering van die

ingebruikneming van die Vrouemonument (1913) op 16 Desember 2013 by die Vrouemonument in Bloemfontein bygewoon.

29 Daar is kritiese stemme teen die Voortrekkermonument wat betref die ontwerp wat deur vrymesselary beïnvloed sou

wees, die prominensie van die vrou wat sou ooreenstem met die Rooms-Katolieke Kerk se verering van Maria, asook die woorde op die ‘altaar’ – ‘ons vir jou’ - wat in wese ‘n verbond met die dood sou wees. ‘Reaping the whirlwind’ is so ‘n voorbeeld.