• No results found

Anti-Engelse sentimente en die Anglo-Boereoorlog

HOOFSTUK 4 IDENTITEIT VAN SAW-DIENSPLIGGENERASIE

4.3 AFRIKANER-IDENTITEIT

4.3.4 Anti-Engelse sentimente en die Anglo-Boereoorlog

Volgens Wilkens en Strydom (2012:377) en Serfontein (1978:132) is die Britse Union Jack, wat deel van die vorige Suid-Afrikaanse landsvlag was, tydens byeenkomste van die Broederbond bedek. Vir baie jare egter is die vlae van die Transvaalse en Vrystaatse Boererepublieke tydens byeenkomste gebruik (Pelzer 1979:42). Hierdie gebruik, as ook die totstandkoming van die Broederbond, is net enkele voorbeelde van ʼn sterk anti-Engelse gevoel onder Afrikaners.30 Die sentiment kan teruggevoer word na die eerste besetting van

die Kaap (1795-1803) deur die Britte toe hulle die Hollandse magte oorwin het. Die Kaap het wel later in 1803 (Wikipedia 2014a) weer onder Hollandse beheer gekom – vandaar die bekende uitdrukking ‘Die Kaap is weer Hollands.’

Die Slagtersnekopstande van 1815 het sterk emosies binne Afrikanergeledere laat opvlam jeens alles wat Engels is (Wikipedia 2014b), Die persone is skuldig bevind, en ter dood veroordeel. Tydens die voltrekking van die doodsvonnis het van die terdoodveroordeeldes se galgtoue gebreek en is hulle weer gehang. Dit was gevolglik ʼn sterk rede, waarskynlik die laaste strooi, om die Oos-Kaap te verlaat in die soeke na, letterlik en figuurlik gesproke, beter weivelde.

Die geskiedenis is ook vol van konflikte tussen die twee groepe wat selfs die destydse Duitswes-Afrika (later Suidwes-Afrika) (SWA)) ingesluit het. Die Britte wat bewus geraak het van diamante langs die kus van SWA wou ten alle koste keer dat die dorslandtrekkers31 toegang tot die see verkry. Die gevaar dat ʼn onafhanklike republiek tot stand kon kom moes gekeer word (Bothma (2012:45). Met die ontdekking van diamante32 in Kimberley is die grens van die Kaap verskuif om die gebied van Kimberley, wat voorheen deel van die Vrystaat was, by die Kaapkolonie in te sluit. Die mislukte Jameson-inval van 1895-1896 na die ZAR (Transvaal) via Botswana is nog ʼn voorbeeld van struwelinge tussen Boer en Brit (Wikipedia 2014c). Met die ontdekking van goud33 aan die Witwatersrand (1886) wou die

30 Dit is opvallend dat die gevoel nie soseer teen, byvoorbeeld, die Skotte is nie. Skotse predikante het hulleself met die

Afrikaner vereenselwig en is dikwels as predikante na gemeentes beroep. So byvoorbeeld was die bekende Andrew Murray van Skotse afkoms. Sy pa het juis finansiële hulp bekom dat ‘n skool soos Grey Kollege in Bloemfontein tot stand gekom het wat ten doel gehad het om Afrikaners op te voed. So byvoorbeeld was van die hoofde en onderwysers daar afkomstig van Skotland. Angus Buchan, ‘n lekeprediker van Skotse afkoms het ook al talle kere by die skool opgetree (Gesprek deur navorser met skoolhoof 2010).

31 Van die oorspronklike trekgeselskappe uit die Oos-Kaap het die Dorsland aangedurf. Die trekkers het deur die Noord-

Kaap na Suidwes getrek. Sommiges het so ver as Angola getrek. Later het ander groepe ook van uit die destydse ZAR getrek. (Sien Giliomee 2003:187).

32 Die ontdekking van diamante in Kimberley het ‘n stormloop van fortuinsoekers tot gevolg gehad. Ook die Engelse, veral

onder aanleiding van Cecil John Rhodes wou beheer oor die minerale rykdom kry.

33 Die ontdekking van goud aan die Witwatersrand (1896) het tot gevolg gehad dat talle Britse mynmaatskappye tot stand

gekom het. Hulle sakebelange en dié van Afrikaners wat die politieke mag in die Boererepubliek gehad het, het telkens tot botsings gelei.

magtige Britse maatskappye trekarbeiders in diens neem om in die myne te werk. Die ou Boererepublieke het egter in die pad gestaan om arbeiders van onder andere Mosambiek te laat kom. Die Uitlanderkwessie34 is gevolglik gebruik, misbruik en op die spits gedryf, en dit het toe aanleiding gegee tot die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog of Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902).

In ʼn 1899-dokument wat kort voor die Anglo-Boereoorlog uitgegee is, skryf Genl. Jan Smuts oor die “British deceit, violation of treaties, contempt for the Boers” (Bosch 1983:22).

Dié oorlog en die Engelse vergrype en wandade is daarom die een gebeure wat tot vandag toe nog prominent binne die psige van die Afrikaner ingeprent is. Die konsentrasiekampe waar duisende vrouens en kinders gesterf het, die Verskroeide Aardebeleid waar huise en landerye verbrand is asook die verbanning van gevange Boere na plekke soos Ceylon (tans Sri Lanka) leef vandag sterk in die geheue van die Afrikaner. De Klerk (1998:6; 24) noem dit soos volg: “Anglo boer war burnt itself into collective consciousness … anti-British,

everything that was English.” Volgens Bosch (1983:22) het hierdie gebeure, meer as enige

iets anders, Afrikaneridentiteit gevorm. Die gemeenskaplike smart (common grief) het die volk verenig. Om hierdie gevoel te vererger het die Engelse Direkteur van Onderwys in Transvaal en die Vrystaat met die hulp van onderwysers van Brittanje meegehelp om ʼn beleid van verengelsing te implementeer. Dit is gedoen nog voordat die oorlog verby was. Dit het Afrikaners bitter gemaak.

Die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910 het juis gepoog om ou wonde te genees. Louis Botha, Eerste Minister (1910-1919), se optrede teen die Duitsers in SWA op versoek van die Britte het die 1914-Rebellie tot gevolg gehad. Vir Boere-generaals wat deel van die Unieregering was, was dit net een te veel om op aandrang van die Britte SWA binne te val. Van hulle het nie hiervoor kans gesien nie en het deel geword van die Rebellie. Feitlik al die eertydse vegters het ʼn hartseer einde beleef tydens die opstand. Genl. CF Beyers het in die Vaalrivier verdrink; Genl. Koos de la Rey is op pad na Potchefstroom per ongeluk geskiet; Genl. Manie Maritz het in ʼn tronk in Portugal beland nadat hy gehoop het die Duitsers van SWA kan hom help. Botha en Smuts, self eertydse generaals, is tydens De la Rey se begrafnis beledig, ʼn aanduiding van die gevoelens van verraad en anti-Britse sentiment. Jopie Fourie, ʼn lid van die Uniemagte, het die oogmerke van die Rebellie bevorder. Hy is aan hoogverraad skuldig bevind en het as martelaar gesterf (Bothma

34 Die ontdekking van goud het ‘n vloedgolf mense van die buiteland na die Rand laat stroom. Die mense het later as

Uitlanders bekend gestaan. Dit wil voorkom of die Britte die Uitlanderkwessie gebruik het om oorlog te maak. Die Engelse het aangedring dat stemreg vir hulle gegee word.

2012:110). Ook Suid-Afrika se gevolglike toetrede tot die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het groot bitterheid onder Afrikanergeledere veroorsaak.

Selfs tydens die Unieregering is skoolkinders gedwing om Engels te praat. Wilkens en Strydom (2012:37) beskryf die gebruik waar ʼn kind wat Afrikaans gepraat het ʼn plakkaat om die nek gehang is wat lees “I’m a donkey. I speak Dutch” en dat kinders net sekere ure gegun is om Afrikaans te praat. Verder was daar ook ʼn sterk gevoel dat Smuts die ryk Engelse mynmaatskappye probeer paai het toe hy sterk optrede teen sy ‘eie’ mense geloods het tydens arbeidsonrus in 1922 (Bothma 2012:149).

Soos reeds aangedui, het die herdenking in 1938 van die Groot Trek meegewerk tot ʼn herlewing in nasionalisme asook ʼn anti-Britse gevoel. Die oplewing het egter getaan met die toetrede tot die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945), wat soos die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918), anti-Engelse bewegings tot gevolg gehad het. Die Ossewa-Brandwag- beweging het die oorlogpoging openlik teengestaan en het met die Duitsers medelye gehad. John Vorster, ʼn latere Nasionale Party Eerste Minister, is self tydens die oorlog geïnterneer. Met die oorname van die Nasionale Party in 1948 is Afrikaners openlik bevoordeel en ten koste van dikwels bekwame Engelssprekendes aangestel (Wilkens & Strydom 2012:132), So blyk dit ook uit notules van die Broederbond dat die Afrikaners deur regstellende aksie in prominente posisies geplaas moes word. Meyer, Broederbondvoorsitter, wys daarop dat die Bond juis gevorm is vanweë gedienstigheid aan die Engelse en uitbuiting deur hulle. Die Afrikaner moes gelyke regte in die ekonomie en die stede verkry wat deur die Jode en Engelse oorheers is (Wilkens & Strydom 2012:342).

Name en stereotipering was aan die orde van die dag om die anti-Britse gevoel te verwoord. So byvoorbeeld is enige Afrikaner wat inligting oor Boeremagte sou gee verraaiers genoem, ʼn Afrikaner wat aan die kant van die Engelse geveg het, ʼn joiner, ʼn persoon wat deur die Engelse gebruik word ʼn hans-khaki en soldate wat in die Tweede Wêreldoorlog geveg het,

rooi lussies.35 Jansen (2009:90) vertel hoe hy eenkeer ʼn blanke skoolhoof besoek het wat uitgevaar het oor die stryd teen die Engelse. Die skoolhoof was ook nog bitter oor die hans-

khakies en die verraaiers. Blake (2010:176) vertel hoe joiners gewaan is en beskryf hoe van

hulle na verskyning voor ʼn krygsraad tereggestel is.

Binne Afrikanergeledere was daar dikwels verdeeldheid oor die Engelse. Smuts het waarskynlik vrede gemaak met die verlede en die Engelse eerder as ʼn vennoot beskou. Sy

35 Volgens die navorser se skoonma, Ria Hattingh, het SA-soldate ‘n rooi epaulet-lus op die skouer gedra tydens die

pro-Britse standpunt is uiteindelik teen hom gebruik en het bygedra tot Suid-Afrikaanse Party (waarvan hy die leier was) se neerlaag teen die NP in die 1948-verkiesing. Vorster self het die Afrikaner en Engelse gesien as een blanke groep wat moes saamstaan teen bedreigings. In hierdie opsig het hy gebots met manne soos Hertzog vir wie dit net oor die Afrikaners gegaan het. Hertzog en sy aanhangers het uiteindelik in 1969 weggeskeur van die NP en die Herstigte Nasionale Party (HNP) gevorm (Wilkens & Strydom 2012:7).

Die Vrouemonument in Bloemfontein is die sterkste gedenkwaardigheid van die hartseer episode in die Afrikanergeskiedenis. Dit is opvallend dat daar in die nuwe Suid-Afrika ʼn sterk oplewing en herdenking is van hierdie geskiedenis is. Die rede lê waarskynlik tussen ʼn soeke na identiteit asook deur terug te gryp na ʼn vroeëre era van ‘onskuld’. Die implikasie is dat die Afrikaner nou skuldig is of voel en gevolglik teruggryp na ʼn gewaande verlede versinnebeeld in toneelstukke soos ‘Ons vir jou’. 36

Menige SAW-soldaat sal die aanmerkings wat teenoor Engelssprekendes gemaak is in herinnering kan roep. Dikwels was dit spottend, soms neerhalend. Diskriminasie was algemeen. Die gedrag was net moontlik binne ʼn milieu waar ʼn Afrikanerkind se denke gevoed is deur ʼn selfgerigte geskiedenis van die stryd tussen Brit en Boer.