• No results found

HOOFSTUK 4 IDENTITEIT VAN SAW-DIENSPLIGGENERASIE

4.5 TEOLOGIEË, INVLOEDE EN RAAMWERKE WAT DIE AFRIKANER IDENTITEIT

4.5.2 Ander invloede wat meegewerk het tot Afrikaner-identiteitsvorming

4.5.2.3 Afrikaner nasionalisme

Die Afrikaner in sy strewe na selfbeskikking wat kultuur, grond (lokaliteit), taal en politiek insluit, het gesoek na ʼn dink-en-doenraamwerk of paradigma om sy bestaan te regverdig. Anders gestel, dit is ʼn lewens- en wêreldbeskouing waardeur die totaliteit van die leefwêreld en sy verhoudings geïnterpreteer en verstaan word, maar wat ook moet dien as regverdiging en impetus vir toekomstige besluite, aksies en strewes (Erasmus 2005:235). Een van die

elemente vir die Afrikaner was nasionalisme, wat geensins uniek tot die Afrikaner- geskiedenis is nie. Trouens, alle lande of geografiese gebied het ʼn eie stuk geskiedenis waarbinne een of ander vorm van nasionalisme manifesteer.

Nasionalisme word nie oornag gebore nie. Dit is dinamies en groei of ontvou stelselmatig, beide evolusionêr en rewolusionêr. Die aspek is reeds in Hoofstuk 2 bespreek. Slagtersnek was ʼn draaipunt aangesien die teregstelling van ʼn aantal setlaars deur ʼn Engelse owerheid primêr oor ʼn rassekwessie (Xhosas) gegaan het. Dit was belangrike redes vir die Trekkers om uiteindelik, in hulle strewe na selfbeskikking en -regering, te trek na waar hulle eerstens vry van Engelse invloed en tweedens verlos van die teistering van inheemse groepe sou kon wees. Die elemente vir nasionalisme was aanwesig alhoewel die Voortrekkers dit net nie so eksplisiet verwoord het nie. Hulle het later ook voortdurend met ander groepe gebots, waarvan die Slag van Bloedrivier seker die roemrykste was. Hierdie nasionalistiese strewe het uiteindelik gekulmineer in die totstandkoming van die twee Boererepublieke en die uiteindelike onafhanklikheid van Transvaal (ZAR) in 1852 en Oranje-Vrystaat in 1854. Dit was egter tydelik want die vryheid is finaal na die Anglo-Boereoorlog in 1902 weggeneem. Die hunkering na vryheid het steeds bly voortsmeul na Uniewording in 1910 soos blyk in die 1914-Rebellie.

Die hoogaangeskrewe Genl. Jan Smuts het as Afrikaner-leier reeds in 1917 ʼn ‘apartheidsbeleid’ voorgestaan. Teen 1943 het DF Malan, leier van die Nasionale Party, die woord apartheid in toesprake begin gebruik (Wilkins & Strydom 2012:198).

Danie Malan, seun van DF Malan (aangehaal in Giliomee (2001:13) vertel oor sy pa:

Hy het nie in sy jonger jare enige sterk rassegevoel gehad het nie. Hy het graag tee gedrink in die huis van ʼn bejaarde kleurling egpaar op hul plaas, wat vroeër slawe was. Die een ding wat hom tot trane kon stem, was die lot van die armblankes in die stad. Dit is die agtergrond waarteen D.F. Malan in 1939 ʼn opmerking gemaak het, wat miskien beste die apartheid manier van dink verwoord. Die blanke ongeskoolde of halfgeskoolde werkers waar hulle in mededinging is met die nie-blankes is in die nadeel. ‘Die blanke’ omdat hy ʼn blanke is, word verwag om ʼn blanke lewensstandaard te handhaaf. Hy moet sover dit die opvoeding van sy kinders betref, sover dit sy voedsel en kleding en behuising betref, en alles wat in verband staan met die blanke lewensstandaard, leef as ʼn blanke. U kan begryp dat in die omstandighede die mededinging vir die blankes dodend (sic) is, en terwyl die nie-blankes in die heersende omstandighede

kan opklim, moet die blanke ondergaan en moet hy sak laer as die peil selfs wat ons die armblankedom noem.

Oor dié stelling sê Giliomee (2001): “Malan se stelling spreek aan die een kant van die

blindheid vir die feit dat bruin en swart aspirasies dieselfde was as dié van blankes; aan die ander kant is daar die dwingende begeerte om die laer inkomste blankes ʼn gevoel van sekuriteit te gee.”

Hy wys verder daarop dat die meerderheid Afrikaners teen 1946 in ʼn werkers- of lae middestand saamgebondel was. Min was buitensporig ryk en min was brandarm. Eers teen 1980 begin ʼn meer substansiële ryk bolaag onder Afrikaners verskyn (Giliomee 2001:15). Van belang vir die studie is die bydrae wat dr Nico Diederichs in die verband gehad het. Wilkins en Strydom (1978:195) wys daarop dat Diederichs, ʼn invloedryke Afrikaner en Broederbondleier, ʼn publikasie die lig laat sien het wat nasionalisme as lewens- en wêreldbeskouing propageer. Dit is belangrik om daarop te wys dat die Broederbond ʼn paar studente na Duitsland gestuur het om kennis op te doen oor watter rol die opvoeding in die vorming van die jeug het (Wilkins & Strydom 2012:76). Diederichs was een van hulle. Daar het hy ook met die konsep van nasionalisme in aanraking gekom. Kennis moet ook geneem word dat dit binne die konteks van Duitsland was waar die nasionaal-sosialisme onder die Nazis sterk opgang gemaak het. Beïnvloeding sou uiteraard plaasvind. Die Afrikaner met sy sterk Christelike en godsdienstige wortels en oortuigings wou uiteraard die Christelike inbring, vandaar die Christelik-nasionalisme. So ʼn beleid is gevolglik binne skool- en tersiêre verband ingevoer. De Klerk (1998:56) wys daarop dat nasionalisme as sodanig nie verkeerd is nie. Die gevaar lê in wat hy “etniese nasionalisme” noem waar elke groep sy eie staat wil opeis. Verder is etniese suiwerheid ook volgens hom ʼn fantasie.

Verwoerd (Wilkins & Strydom 2012:199) spreek tydens sy eerste toespraak in die senaat sy opinie uit: “I want to state unequivocally, South-Africa is a White man’s land and that he must

remain the master here. In the reserves we are prepared to let them be the masters. But within European areas. … we do not arouse suspicion that there is oppression … but policy which seeks justice.” Die gevolg was inderdaad onderdrukking, minstens diskriminerend,

soos ʼn aantal belangrike Apartheidswetgewing (1949 tot 1961) na die NP se bewindsoorname ter voorbeeld aantoon (Wilkins & Strydom 2012:200):

Wet no 55 van 1949: Wet op verbod van Gemengde Huwelike Wet no 30 van 1950: Bevolkingsregistrasiewet

Wet no 41 van 1950: Groepsgebiedewet

Wet no 46 van 1951: Afsonderlike verteenwoordiging van kiesers Wet no 52 van 1951: Wet op die voorkoming van onregmatige Plakkery Wet no 68 van 1951: Wet op Bantoe-owerhede

Wet no 67 van 1952: Naturellewet waardeur Swartmense gedwing is om ʼn pas te alle tye te dra

Wet no 47 van 1953: Wet op Bantoe Onderwys

Wet no 49 van 1953: Wet op die aanwysing van Aparte Geriewe Wet no 19 van 1954: Wet op die Hervestiging van Naturelle Wet no 69 van 1955: Wet op die Ontwikkeling van Groepsgebiede Wet no 34 van 1959: Wet op die Bantoebeleggingskorporasie Wet no 3 van 1961: Wet op gemeenskaplike Kleurling reservate Wet no 31 van 1961: Wet op behoud van Kleurlinggebiede Wet no 79 van 1961: Wet op Stedelike Bantoerade Dit was inderdaad “social engineering” op ʼn grandiose skaal.

Verwoerd se opvolger, Vorster (Wilkins & Strydom 2012:201), het probeer om die beleid te regverdig: “Not denying right to be human being, but the maintenance of identity of

everyone. It is a practical arrangement to remove friction between races.”

Meyer (Wilkins & Strydom 2012:202), leier van die Broederbond en SAUK-hoof op daardie stadium, is nog meer onwrikbaar in 1970: “All forms of integration must be fought in

churches, culturally, socially, politically. Our policy of separate development and anti- communism.” In dieselfde asem loods hy ʼn aanval op die Verenigde Nasies (VN), Chinese,

Russe en die Westerse Wêreld. Hy haal die woorde van Paul Kruger aan: ”They do not want

to vote, they do not want a share, they want our country.”

Apartheid het gevolglik die dag-tot-dagbeleid en sy intellektuele raamwerk geword soos onderlê deur nasionalisme en ʼn bepaalde teologiese interpretasie. Selfbeskikking as die strewe na die handhawing van die eie kon dalk nog regverdig word. Die drakoniese afdwinging van ʼn beleid ten koste van die oorgrote meerderheid van Suid-Afrika se diverse bevolking het inderdaad ʼn valse sekuriteit geskep, meer spesifiek gemik op die Afrikaner. Uit hierdie bevoordeelde fantasiewêreld sou hy noodgedwonge moes wakker word om te moet

leef en oorleef in ʼn demokratiese land met ʼn wit-minderheid in ʼn oorweldigende swart- meerderheidswerklikheid.