• No results found

HOOFSTUK 4 IDENTITEIT VAN SAW-DIENSPLIGGENERASIE

4.2 DILEMMA VAN DIE TERM AFRIKANER

Die gebruik van die term Afrikaner is problematies. Baie hedendaagse Afrikaners sal verkies om nie die woord te gebruik nie aangesien dit met rassisme en onderdrukking geassosieer word (Snyman 2005:326). Sommige verkies nuwe terme soos Afrikaanses of Afrikane (waarby almal wat Afrikaans praat ingesluit word) of blanke Suid-Afrikaners. As gevolg van transformasie en akkulturasie verander identiteit en raak dit problematies om Afrikaner- identiteit hedendaags te bepaal (Van der Merwe 2010:323). Tog beskryf die gerespekteerde Van Zyl Slabbert (1999:127) homself as “op die een of ander manier is ek ʼn Afrikaner”. Die term Afrikaner, alhoewel problematies en gelaai, is immers die naam wat deur die Afrikaner en andere aan ʼn groep gegee is wat sedert 1652 uit Europese volke in Suid-Afrika ontwikkel het tot ʼn eie groep met ʼn unieke identiteit wat sterk deur historiese faktore beïnvloed is. Afrikaans as taal was en is ʼn sterk onderskeidende faktor. Die kwessie is egter

nie so eenvoudig nie en word bemoeilik, aangesien talle nie-blanke Suid-Afrikaners ook Afrikaans praat.

Vir meer duidelikheid word ʼn voëlvlug deur die geskiedenis geneem om te probeer bepaal wat die oorsprong van die term is. Giliomee (2001:7) wys daarop dat die eerste aankomelinge in die Kaap aanvanklik eerder na hulself as burgers of Christene verwys het. Die term Afrikaner is eers in die verloop van die agtiende eeu gebruik. Die eerste geskrewe getuienis is in ʼn hofdokument aangeteken toe ene Hendrik Biebouw na homself as “Ik bin

een Afrikaander” (Ek is ʼn Afrikaner) verwys het (De Klerk 1998:3). Dit is ironies dat die term

aanvanklik juis gebruik is om slawe of mense van gedeeltelike slawe-afkoms teenoor die setlaars of koloniste te tipeer (Giliomee 2001:8).

Die term Afrikaner het veral met die opkoms van Afrikaner-nasionalisme sterker na vore gekom. Asmal (1997:50) haal Vorster, ʼn voormalige Eerste Minister (1966–1978) aan wat prontuit verklaar: “I am not willing to cooperate with the world if it means I must sacrifice my

Afrikaner identity.” Hy verwys ook na die woorde van die eerste Eerste Minister van die

Nasionale Party, dr DF Malan (1948-1954), wat sy geskiedenis (identiteit) Goddelik sanksioneer met die woorde: “Our history is the highest work of the architect of the

centuries.”

Dit blyk dat die term geleidelik gegroei het totdat die Afrikaanssprekende blankes en ook ander landsbewoners hul daarmee identifiseer het.

Nie almal is egter positief oor die benaming nie. Engelbrecht (2007:40) is snydend in sy kritiek oor die term Afrikaner. Hy laat hom soos volg uit:

In die eerste plek is ‘die Afrikaner’ ongelukkig ’n fantasie-konstruksie in die naam waarvan baie ideologiese geweld gepleeg is (teenoor groepe “buite” die Afrikaner, maar ook teenoor individue wat binne die groep geval het). In die lig hiervan is die politieke bruikbaarheid daarvan reeds uit die staanspoor beperk. In die tweede plek behels die heroprigting van “die Afrikaner” as ’n politieke magsbasis binne Suid-Afrika ’n inperking van die platform vanwaar aansprake gemaak kan word. Die rede hiervoor is dat dit Suid-Afrikaners met soortgelyke belange, maar wat nie val onder die kategorie ‘Afrikaner’ nie, uitsluit en vervreem.

In pas hiermee skryf Jansen (2009:24) soos volg: “The nightmare … is not knowing what is

true. Imagine if you had suddenly learnt that the people, the places, the moments most important to you are not gone, not dead, but what is, had never been. What kind of hell that

would be?” Hy beskryf hierdie as ʼn totale kennis van lewe en denke. Die bewering dat

hierdie identiteit nooit bestaan het nie, is waarskynlik verregaande. Dit het bestaan, maar kan nie in die ou gestalte binne die realiteite van Suid-Afrika en Afrika bly voortbestaan nie. ʼn Debat wat relatief onlangs in die media en in akademiese kringe gevoer is, maar wyer as die Afrikaner en die blanke in Suid-Afrika strek, se wortels lê in die VSA. Dit is die sogenaamde ‘whiteness’ of witheid-debat. Hiervolgens, binne konteks vertolk, geniet witmense oor die algemeen inherente bevoordeling as ʼn nalatenskap van die geskiedenis (Haffajee 2013), selfs al sou hulle hulself van die onderdrukkende verlede distansieer (Van der Westhuizen: 2013). Van die skrywers is van mening dat daar tog blankes is wat dink dat hul inherent beter is as onder andere swartes. Afhangende van watter standpunt – wit of swart – gehuldig word, sal argumente geplooi word ter verdediging of verwerping van ʼn sienswyse. Een waarneming wat gemaak word, byvoorbeeld, is dat hedendaagse jong blankes hulleself posisioneer ten gunste van globale witheid (Dolby 2001:5) Die praktiese implikasie is dat talle van hulle eerder sal emigreer na ʼn ‘veilige’ hawe waar witheid gehandhaaf word. Die omvang van die debat het so wyd geraak dat ʼn kongres oor ‘whiteness’ op 19-20 Maart 2013 gehou is (Van der Westhuizen 2013). Jansen (2007, 2008) se bydrae tot die witheid-debat lê in sekere gebeure, stereotiperings en leuens waarmee die Afrikaner spesifiek sou grootgeword het, en wat noodwendig gekonfronteer en afgebreek moet word. Ongeag hoe relevant die witheidkwessie vir die Suid-Afrikaanse situasie mag wees, trek dit die aandag af van hierdie studie se fokus en word dit nie verder bespreek nie. Tans wil dit voorkom of ʼn jonger geslag Afrikaners die term herinterpreteer en nuwe inhoude daartoe byvoeg. Dit blyk dat hulle op soek is na ʼn nuwe identiteit (Lambrechts & Visagie: 2009:75). Die begrip Afrikaner-identiteit word gevolglik onder die loep geneem.