• No results found

HOOFSTUK 3 STAND VAN NAVORSING

3.6 OUDLEDE

Verskeie inisiatiewe is deur oudlede daargestel. Dit wissel van die herdenking van veldslae tydens parades en sosiale byeenkomste, tot pogings tot heling of genesing en sluiting (closure). Afgetrede generaals soos generaals Roland de Vries en Dippies Dippenaar is maar twee in hierdie verband waarvan die navorser bewus is. Verder maak oudlede van die sosiale media gebruik om kontak te hou en om ervarings en foto’s te deel. Dikwels is van die Facebook-groepe ʼn braaksessie teen die huidige bestel wat op sigself heelwat van SAW- lede se aanpassing openbaar. Oudlede was ook betrokke by die maak van

televisieprogramme wat die tydperk uitbeeld. Verder is twee teateropvoerings op die planke gebring: Tree aan (Deon Opperman) en Wit manne se wapens (Dit is ʼn vertaling van Greic Coetzee se toneelstuk White men with weapons). Veral laasgenoemde eindig met die vraag wat die SAW-dienspliggenerasie, wat deel van die gewapende konflik was, tans te doen staan.

Bogenoemde is ʼn aanduiding wat tans op akademiese en nie-akademiese gebied gebeur rakende die SAW, die oorlog asook die Afrikaner, sy identiteit en rol in die nuwe Suid-Afrika.

3.7 SAMEVATTING

Dit is voor die hand liggend dat daar baie geskryf en gepraat word oor die gewese SAW. Oor die SAW self is daar literatuur wat wissel van wetenskaplike werke en outobiografieë tot verhale deur talle oudlede self. Oor die Afrikaner en sy geskiedenis is daar legio. Betreffende sy huidige identiteitskrisis is daar literatuur wat afkomstig is vanaf teologiese, sosiologiese, antropologiese en historiese perspektief. Oudlede maak self ʼn bydrae hiertoe deur middel van inisiatiewe soos veteraangroepe, die bewaring van tradisies, die bywoon van parades asook deur mekaar te ondersteun. Heelwat soldate het heling en genesing gevind deur betrokke te raak by oud-makkers. Daar is doelgerigte inisiatiewe tot storievertelling en kontak met bevrydingsbewegings. Ongelukkig is die pogings nog te min en kan nog heelwat meer gedoen word. Verder is daar instansies en institute wat meewerk tot versoening en geregtigheid.

Die groot tekort is egter ʼn bydrae tot geestelike heling. Chris Louw het tereg opgemerk dat die grootste krisis ʼn geloofskrisis is. Die Afrikaner wat tradisioneel gelowig en godsdienstig is, is effe van balans af met die verlies van mag. Moontlik twyfel hy aan homself as gevolg van die feit dat die ‘uitverkore’ volk skielik nie meer blyk uitverkore of alleen uitverkore te wees nie. Verder word aanklagte van onreg teen hom gemaak, ʼn volk wat daarop aanspraak maak dat hy ʼn Christelike volk is. Apartheid was eens Bybels geregverdig maar intussen het die Afrikaanse kerke hulle siening verander. Dit op sigself kan verwarring saai en frustrasie en woede veroorsaak. Geestelik soek die SAW-dienspliggenerasie en Afrikaner leiding. Wimpie de Klerk, Oliver, Van der Walt en Cilliers, om maar enkeles te noem, raak die spirituele noodsaak aan. Die NGK het talle uitsprake gemaak oor apartheid en selfs die dienspligtiges as een van die ‘slagoffers’ (NGK 2014) van apartheid genoem. Daar bestaan egter nie ʼn gekoördineerde poging of program om die generasie geestelik te begelei nie. Verder word die SAW se siening van homself (identiteit) uitgedaag. Party mag reken dat dit verslaan is. Aangesien hy nie meer in die voorgestoelte sit nie, word hierdie identiteit nie

meer op andere afgedwing nie. Moontlik twyfel hy oor hierdie identiteit. Wat die identiteit behels het, en dalk steeds is, en of dit moontlik is om hierdie identiteit in die nuwe Suid- Afrika uit te leef, is nog nie vanuit ʼn teologiese hoek bekyk nie. Die enigste skrywers en navorsers wat dit aanraak, is Cilliers wat na enclavement (enklavevorming, omringing, laertrekking, afskeiding) verwys as teenstelling teenoor die ander wat dit grond op ʼn verskil in ras, taal, geskiedenis, ens. As teoloog beskryf hy die afskeiding of laertrekking wat die Afrikaner gemaak het as ʼn enklave. Sy prognose is onder andere die model van Volf wat inderdaad ʼn bruikbare model is. Oliver (2011), in sy artikel South Africa: the arduous task of

facing our religious past, noem dat die Afrikaner sy godsdienstige oortuigings moet

konfronteer. Wimpie de Klerk beklemtoon op eg Bybelse wyse die noodsaaklikheid van belydenis, die aanvaarding van skuld en ook dat regstelling (restitusie) moet geskied. Hy is van al die skrywers die mees uitgesproke. Van der Walt se Reconciling Africa (2003) gee die mees praktiese skema wat gebruik kan word in die soek na versoening.

Die navorser egter meen dat die Afrikaner eerstens sy identiteit, waarvan daar baie positiewe en konstruktiewe elemente is, moet konfronteer aan die hand van die Woord. Daar is in wese nie ʼn probleem met ʼn gebalanseerde nasionalisme of groepstrots en gesonde patriotisme (lojaliteit) rakende die eie kultuur nie. Die identiteit het egter by sommige Afrikaners skeefgetrek tot ʼn ongesonde afskeiding asook diskriminasie teen die ander. Die vorming is veral aan historiese faktore te danke, tesame met bepaalde ideologiese en teologiese invloede. Hierdie identiteit moet geopenbaar en gekonfronteer word ten einde die Afrikaner te verlos uit ʼn siening van homself wat nie kan voortduur in die nuwe realiteite nie. Hierdie skeefgetrekte identiteit kan óf homself vernietig óf enorme pyn verder veroorsaak binne homself óf konflik skep met ander landgenote.

Tweedens, in aansluiting by die vraag oor identiteit, sal ʼn eg Bybelse pad van verootmoediging gevolg moet word. Selfondersoek sal moet plaasvind, skuld bely word, verantwoordelikheid aanvaar word, regstellings gemaak word, brûe na die ander gebou word en ook patrioties meegewerk moet word tot die opbou van die land. Slegs dan is versoening moontlik.

Die Afrikaner moet sy eie waarheid- en versoeningsproses, weliswaar op ʼn ander manier, deurgaan. Die SAW-dienspliggenerasie en Afrikaner met sy enorme potensiaal, vaardighede en kultuurskatte moet ʼn denkskuif maak. Vanweë apartheid is groepe uitmekaar gehou en beleef veral die Afrikaner aanpassingsprobleme.

Die WVK is nie erken en herken as ʼn legitieme en noodsaaklike deel van die versoeningsproses nie. Die Afrikaner het die ‘tik op die vingers’ nie goed beleef nie. Wie het

die reg om die uitverkore groep aan die suidpunt aan te spreek? Niemand wil inderdaad sommer skuld aanvaar nie. FW de Klerk het gekla dat sy beeld aangetas is na die WVK. Maar, kan gevra word, is die Goddelike beeld van mede-Suid-Afrikaners nie aangetas deur apartheid nie? En, kan verder gevra word, of dit oor sy beeld of die eer van God gaan? Die heiligheid en eer van God is aangetas deur ʼn stelsel waaraan die SAW-lede, weliswaar as kinders van hulle tyd, meegewerk het. Dit moet reggestel word. Dit is moontlik. Hoe? Die Afrikaner se onderliggende erns met godsdiens moet gebruik word om die Bybelse pad aan te dui. Dit mag moeilik wees aangesien ook die Bybelse godsdienstige leiers van die dag hulleself in godsdienstigheid regverdig het tydens Jesus se tyd. Christus kon dit onderskei en het dit inderdaad gekonfronteer.

Ten slotte:

Die studie poog om die identiteit van die Afrikaner te bepaal, en dit dan aan die hand van die Woord te meet en te konfronteer. Hieruit voortvloeiend moet die Afrikaner sy hart regmaak, sy hart vir sy God gee. Hy moet opreg eerstens deur sy eie proses van selfondersoek gaan voordat hy gerieflikheidshalwe die verkeerde in die huidige bestel kritiseer. Hy moet sy eie skuld in die oë kyk. Dan, as vrygemaakte, kan hy poog om na die ander uit te reik. Hy sukkel op die oomblik om met medelandgenote oor die weg te kom. Hy kan nie en wil dalk ook nie eintlik nie. Dalk is hy in ʼn sielkundige ballingskap en leef hy in ontkenning dat dinge onherroeplik verander het, want eintlik keer sy identiteit dat hy sinvol deel kan wees van die nuwe bestel. Sy identiteit wil homself afskei, wegtrek, veg, diskrimineer, isoleer, verhef. Die dinge maak hom siek. Hy het ʼn Christus-identiteit nodig. Hy kan net ʼn Christus-identiteit kry as sy hart verander. Sy hart is egter nog seer oor die mag wat hy verloor het. Hy ervaar nog verlies, terwyl hy eintlik ‘skoonkinders’ bygekry het. Hulle is eintlik nie ʼn bedreiging nie, maar kan inderdaad waarde toevoeg tot sy lewe. Met die nuwe identiteit, sonder om sy eie kultuur prys te gee, sal hy en moet hy na die ander uitreik. Hy moet hulle leer verstaan, hy moet saam met hulle werk want hy is in Afrika. Indien hy anders denkend is, sal hy homself uitrangeer om sinvolle bydraes in die land te lewer, en moet hy homself voorberei vir ʼn volgende Groot Trek. Daar moet primêr ʼn hartsverandering plaasvind – Real change is

change of the heart. Die kerk se taak het maar pas begin. Ook ʼn Kerk wat sukkel om sy

lidmate by Belhar21 uit te bring. Baie van die SAW-dienspliggenerasie is nog nie met die

verlede versoen nie – ten minste nie die SAW-manne wat oor Belhar moet stem nie. Hulle het nog nie gerou nie. Of dalk is hulle in ʼn woede, ontkennings- of depressiewe fase van rou.

21 Belhar is ‘n belydenisskrif wat deur die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) opgestel is. Die aanvaarding van die

geskrif as ‘n belydenisskrif word as voorwaarde deur hulle gestel tot eenwording met die blanke NGK. Binne die NGK is daar ‘n proses aan die gang om die voorwaarde te hanteer. Belhar verklaar onder andere dat apartheid sonde is en dat dit bely moet word.