• No results found

HOOFSTUK 5 DIE PLAASLIKE BEVRYDINGSTRYD (SUID-AFRIKA), STREEKS

5.6 BOETMAN-DEBAT

Wimpie (WA) de Klerk het in 2000 ʼn boek oor die Afrikaners en sy geskiedenis geskryf,

Kroes, kras en kordaat. Hierin kritiseer hy veral die optrede, beleid en houding van

Afrikaners gedurende apartheid maar lewer veral ook sterk kritiek oor hulle ‘wanaanpassing’ en ‘gesindheid’ in die nuwe Suid-Afrika.

Chris Louw,57 ʼn joernalis het in reaksie op De Klerk se boek, ʼn brief op 5 Mei 2000 aan

Beeld geskryf waarin hy weer op sy beurt ernstige kritiek uitspreek teenoor baie van die

dinge wat De Klerk geskryf het. Die redakteur van Beeld, nie Louw self nie, het die opskrif van die brief Boetman is die bliksem in gemaak. Louw se beswaar teen die boek is die feit dat mense soos De Klerk aanvanklik apartheid en Christelik-nasionalisme baie sterk gepropageer het en dat die jonger generasie, die Boetmanne (Louw se generasie), die ‘ooms’ (De Klerk se generasie) se ‘bevele’ slaafs nagevolg het. Die brief het ʼn storm ontketen. Talle korrespondensie het gevolg na dié koerantberig en ʼn vurige debat is in die media gevoer. Dit het tot gevolg gehad dat Louw ook op ‘wyer’ vlak by die generasie betrokke geraak het deurdat talle persone persoonlik briewe aan hom geskryf het. Hy het ook persoonlik individue asook groepe besoek wat letsels van watter aard ookal opgedoen het, hetsy uit die ou Suid-Afrika, of die nuwe Suid-Afrika. Dit het aanleiding gegee dat hy in 2001 ʼn boek Boetman en die swanesang van die verligtes die lig laat sien het waarin hy sy standpunt in groter detail stel. Die hele debat en die gevolge daarvan, wat onder andere ʼn besoek aan Eugene de Kock insluit, word in die boek bespreek.

Hy betoog in die boek dat die ‘Boetmanne’ juis in ʼn krisis is as gevolg van die ‘ooms’ se optrede (p. 35). Die ouer generasie sit nie opgeskeep met die probleme en kwessies van die nuwe Suid-Afrika nie, want hulle het hulle pensioen en leef rustig (p. 14). Die Boetman- generasie moet nou die sondes van die vaders uitsorteer terwyl hulle dit nie geskep het nie. Verder was dit die Boetman-generasie wat letterlik tydens die Bosoorlog en binnelandse stryd gebloei het. Mense soos Wimpie de Klerk het nooit ʼn wapen opgetel nie en het, volgens Louw, net in kantore gesit waar intellektuele konsepte uitgedink is (p. 11). Louw se aanval op De Klerk kom erg persoonlik voor. Hy wys op ʼn insident waar De Klerk jare gelede na hom (Louw), wat toe ʼn jong joernalis was, as Boetman verwys het. Louw het blykbaar die term as vernederend en paternalisties interpreteer.

Laastens moet daarop gewys word dat De Klerk in sy boek nogal skerp kritiek op die Afrikaner gelewer het. Sy opmerkings, alhoewel grotendeels geregverdig, het plek-plek gegrens aan beledigings. As ʼn erkende intellektuele, meningsvormer en geestelike leier was hy dalk nie sensitief genoeg teenoor die Afrikaners nie. Daarmee saam verstaan hy dalk nie werklik die frustrasie van die ‘Boetman’-generasie nie. De Klerk verwys na gesindhede en

57 Chris Louw het in die ou SAW diensplig gedoen. Hy was in 1987 deel van ‘’n afvaardiging wat die ANC in Dakar gesien

het. Hy het latere jare uitvoerende regisseur van Radio Sonder Grense (RSG) geword. Hy het op 30 November 2009 selfmoord gepleeg. Daar was selfmoordnotas wat nie geopenbaar is nie. In van sy laaste artikels spreek hy sy ontnugtering uit oor verwagtinge oor die nuwe Suid-Afrika wat nie gerealiseer het nie. Verder was hy erg besorgd oor misdaad, veral in die area waar hyself gebly het. Oor Louw het die Vryheidsfront Plus se leier Pieter Mulder die volgende gesê: "The

outspoken way in which Chris Louw had struggled with the problems of South Africa, resulted in nobody being indifferent to him" (IOL news 2009:aanlyn). N.a.v. die debat is ’n stuk deur Pieter Fourie geskryf wat in 2001 op talle plekke opgevoer is.

houdings soos arrogansie en verwaandheid wat Afrikaners gehad het, en dalk steeds het. Deur sulke stellings, volgens Louw, verwys De Klerk eintlik na homself. Hy was immers, soos Louw tereg opmerk, nie net deel van die bestel nie maar was een van die intellektuele leiersfigure wat apartheid geregverdig het (p. 163). Hy was immers ʼn koerantredakteur vir baie jare.

Hoe oordeel mens die debat? Beide Louw en De Klerk se geskrifte en die daaropvolgende debat getuig van ʼn innerlike konflik en worsteling met die verlede. Die ironie van die saak is dat albei die nuwe Suid-Afrika as onvermydelik aanvaar asook die oue kritiseer. De Klerk het gereageer op die debat deur onder andere die kritiek as “selfbejammerende

slagofferkomplekse” af te maak (Louw 2001:26). Mens wonder onwillekeurig of die twee

skrywers nie eie worstelinge, frustrasies en skuldgevoelens op mekaar projekteer nie. Wat wel waar is, is dat daar omvangryke, diep, intense emosies en gevoelens oor die verlede (en hede) bestaan. Louw het, in sy eie woorde, sy lewe, liefde en werk geoffer vir die army. In sy boek stoei hy met die verlede maar veral met die hede. Hy voel die nuwe Suid-Afrika aan sy lyf.

Hierdie studie wil nie ingaan op die meriete of die waarheid al dan nie van Louw se betoog nie. Die studie poog wel om die gevoelens, emosies en belewenisse van die geslag te ontleed. In dié verband het Chris Louw se boek heelwat waarde. Die boek bly primêr sy boek, maar dat hy tog baie ‘Boetmanne’ se ervarings verwoord, is waar. Die boek het enorme reaksie ontlok. Baie het saamgestem. Wimpie de Klerk het die reaksie probeer afmaak en gemaan dat die reaksie op sy boek “blame shifting” is. Dit mag so wees. Tog was Louw se boek ʼn belangrike katalisator, alhoewel dit nie so bedoel is nie, tot ʼn belangrike katarsis wat ten minste vir sommige heling gebring het. Die reaksie wys ten minste hoe sensitief mense is en dat uiters versigtig met die verlede omgegaan moet word.

Gevolglik word die emosies, gevoelens, belewenisse en denke van die SAW geslag in ‘temas’ of ‘dilemmas’ gekategoriseer, in soverre dit moontlik is, na aanleiding van Louw se boek. Die ontleding en kategorieë kan bydra tot ʼn beter begrip van die dilemma van die Boetman-generasie.

1 Emosies van frustrasie, woede en vernedering.

2 Ontnugtering in die voormalige politieke, kerklike en kulturele leiers (ooms).

3 Angs en vrees tydens oorlog en gewelddadige insidente. Manifesteer ook later, onder andere as Post Traumatiese Stressindroom (PTSV).

4 Skuldgevoel oor sekere aksies wat uitgevoer is deur lede self. Beskuldigings wat na die Boetman-generasie geslinger word, veral die nuwe magshebbers. Sommige worstel met skuldige gewete.

5 Die persepsie dat oud-SAW en -SAP lede deur politici in die steek gelaat is.

6 Die belewenis dat die destydse SAW en SAP ‘die gemors’ moes uitsorteer maar nou die sondebokke gemaak word.

7 ʼn Ontnugtering oor die huidige bestel waarin daar teenstrydighede is. Dit veroorsaak ʼn konflik in die gemoed asook ʼn bekommernis oor die toekoms.

8 Daar is ʼn worsteling met die verlede en ʼn behoefte om te praat. Mense soek heling.

9 Baie sukkel om aan te pas in die burgerlike lewe, byvoorbeeld, kommunikasie met huweliksmaats, asook interaksie met gewone mense bly ʼn uitdaging.

10 Die worsteling met die verlede en hede het ʼn godsdienstige en geloofskrisis veroorsaak. 11 Sommige voel vervreemd en afsydig oor die huidige bestel en onttrek daarvan.

12 Daar is ʼn soeke na identiteit en waarheid, asook na ʼn alternatief.

13 Die belewing van ʼn generasie ’gaping’ tussen die Boetmanne en die ooms, en die behoefte dat die twee generasies met mekaar moet praat om heling te bewerk sodat die toekoms saam ingegaan kan word.

Ter opsomming van die debat:

Louw het daarin geslaag om uitmuntend al die rou emosies, gevoelens, verwarring en soeke en hulpkrete te beskryf. Die uitdaging is om ʼn plan daar te stel om die generasie te help genees anders is die gevaar daar dat te veel van hulle pyn op die nuwe generasie oorgedra kan word.

Malan (2006:366) verwoord ook die gevoelens wat hy by voormalige ondergeskiktes bespeur, veral na die WVK waarin die SAW onder skoot gekom het. Dit behels onder andere: “Vertwyfeling, moedeloosheid, verslaenheid en skuld. Beroof van self- en

geloofsvertroue… Gees van vertwyfeling en magteloos. Gekrenk in eer en trots”. Die

oudstryder en vegter gaan lê egter nie wanneer hy trots vertel dat Nelson Mandela en Joe Slovo erken het dat hulle alliansie nie die militêre stryd teen die SAW gewen het nie (Malan 2006:370). Maar, sou mens kon redeneer, is slegs die militêre stryd deur die SAW gewen? In elk geval nie in die lig van die Boetman-debat nie. Dit wil voorkom of ʼn nuwe stryd, die stryd in die nuwe Suid-Afrika, om te verstaan, om ʼn bestaan te maak, om ʼn bydrae te maak, om brûe te bou, om brûe af te breek, om te genees, nog nie gewen is nie. Daardie stryd duur voort, veral vir die SAW-manne.

Miskien moes Wimpie de Klerk eerder met sy ‘kinders’ gepraat het wat intussen groot geword het en self kan dink en kan sien wat gebeur het. Dalk moes die twee generasies meegewerk het aan ʼn oplossing. Moontlik moes skuld teenoor mekaar bely word. Dit moes begin het by die vaders. Inderdaad ly die kinders vandag vanweë die sondes van die vaders. Eintlik moet die generasies mekaar help. ʼn Geestelike proses sou kon meehelp in die verband aangesien die grootste krisis van die Boetman-generasie volgens Louw ʼn geestelike krisis is.