• No results found

HULPWETENSKAPPE EN DIE CHRISTELIK-TEOLOGIESE PERSPEKTIEWE

P ASTORALE B EGELEIDING NA H OOP

6.3 WARE CHRISTELIKE HOOP – DIE ANKER VIR DIE SIEL

‘n Samevatting van hoop as die leidende beginsel in hierdie navorsing word vervolgens aangebied. Hoop as die sentrale tema van hierdie navorsing en die leidende beginsel vir die pastorale begeleiding van Afrikanergelowiges wat ‘n mate van ontnugtering beleef weens die veranderende Suid-Afrika, moet meer spesifiek omskryf word as om bloot te sê dat mense hoop moet hê vir die toekoms. Die navorsing het aangetoon dat hoop in die algemeen ‘n baie komplekse konsep is en in ’n groot verskeidenheid van verskillende vorme kan voorkom en vele verskillende fasette het. Dit is daarom hier belangrik om ook die aandag daarop te vestig dat die konteks waarin hoop in hierdie navorsing gebruik word, saam met ander temas, naamlik pastorale bediening en geestelikheid, gebruik word. Met verwysing na die sentrale teoretiese argument in hoofstuk 1.7 wat sê “Pastorale begeleiding kan dus suksesvol gebruik word om Afrikanergelowiges, wat ‘n mate van ontnugtering beleef

165

weens ‘n veranderende Suid-Afrika, te begelei na geestelikheid”, word ware Christelike hoop voorgestel as die instrument in die pastoraat se hande om ontnugterdes te begelei. Die volgende is ‘n samevatting van die algemene beskouing van hoop en spesifiek ware Christelike hoop wat uit die verskillende dele van die navorsing na vore gekom het.

● In hoofstuk 3 word aangetoon dat die konsep van hoop in die konteks van die Afrikaanssprekende geloofsgemeenskap oor die algemeen te doen het met die dinge waarna mense uitsien. As ‘n persoon hoop verloor dan verloor hy/sy die wil om aan te gaan met die lewe of ‘n aspek daarvan of hy/sy verloor die moed om na die toekoms te kyk en dit aan te pak. In hierdie konteks word hoop in ‘n algemene sin ook gesien as ‘n positiewe verwagting dat lewensomstandighede in ‘n finansiële, emosionele of geestelike sin mettertyd sal verbeter met ‘n vasberadenheid ten opsigte van die positiewe verwagting geassosieer selfs al sou dinge sleg gaan. Verder kan hoop in hierdie konteks ook hier gesien word as ‘n tipe emosionele selfvertroue, soos byvoorbeeld om die bul by die horings te pak in uitdagende omstandighede.

● Vanuit die hulpwetenskappe en Christelik-teologiese perspektiewe van hoofstuk 4 word verklaar dat hoop onderskei moet word van optimisme, doelgerigtheid en wensdenkery (Martin 2002) en eerder beskou moet word as die verwagting na die vervulling van die Godsbelofte (Van Rensburg 2010). Daar is gevind dat hoop dieper betekenis het as net ‘n positiewe gemoedstoestand of toekomsverwagting en is in verskillende fasette beskryf, naamlik die sosiologiese faset, wat deur sosiale bemagtiging gesteld is op versorging en veiligheid, die sielkundige faset, wat deur innerlike waardigheid gesteld is op identiteit en afwagting, en ‘n teologiese faset, wat deur geloofskennis van God se openbaring gesteld is op die kwalitatiewe potensiaal van persoonlike vernuwing (Prins 2003). Hoop word beskou as ‘n tipe geestelike uithouvermoë. Hoop word ook beskryf as die uitsien na ‘n ekologiese vernuwing van die aarde (Hessel-Robinson 2010) en as die uitkoms van maatskaplike en ekonomiese selfbemagtiging (Botman 2008). Hoop word ook beskou as ‘n sekere toekomsverwagting in die wederkoms van Christus Jesus, wat die fisiese opstanding van die liggaam en die finale uitwerking

166

van die uitwissing van die effek van die sonde op die mens tot gevolg sal hê (Adams 1973).

● Uit die samevatting van die navorsing wat in hoofstuk 5 gedoen is oor die Skrifperspektiewe wat Christelike hoop aanbetref, word ware Christelike hoop nie gesien as ‘n menslike gedagte of wensdenkery nie, maar eerder as ‘n innerlike oortuiging van die hart, wat gegrond is op waarheid buite die hart. Die Woord kom nie uit die hart van die mense nie, maar uit God se hart, buite die mens - dit is ’n spesiale openbaring van God soos in 1 Korinthiërs 2:6, 7 en 10, asook Hebreërs 1:1 verklaar word. Ware Christelike hoop is dus ‘n vaste vertroue in God, wat op die vervulde beloftes van God se Woord gegrond is. Dit is ook ’n sekere wete dat die Skepper en Onderhouer van alle dinge alles ten goede sal laat meewerk vir dié wat na sy voorneme geroep is (Rom. 8:28). Hierdie beloftes wat in die profetiese Woord van God uitgebeeld word en in Jesus Christus vervul word, is betroubaar en gewaarborg (Heb. 6:17; 8:6).

Ware Christelike hoop vir die Christen, wat Afrikanergelowiges insluit, is dus gegrond op die betroubare beloftes van God se Woord, wat in die seëninge van ‘n lewende verhouding met Jesus Christus beskikbaar is. Ware Christelike hoop kan nie losgemaak word van die Bybelse aspekte soos lyding, beproewing, oordeel, vervolging, belofte, vervulling, afwagting, sekerheid en verwagting na die wederkoms van Jesus Christus nie. Ware Christelike hoop vir die Afrikanergelowige is ten eerste gegrond op die innerlike geestelike lewenskragtigheid wat, ten spyte van negatiewe omstandighede, in ‘n persoonlik verhouding met God moontlik is. Petrus gebruik Christus as voorbeeld van hierdie innerlike geestelike lewenskrag in 1 Petrus 2:21-24. Jesus Christus het, toe hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel nie, maar die wraak aan God oorgegee wat regverdig sal oordeel. Ware Christelike hoop is ten tweede ‘n praktiese geloofsvertroue in toewyding aan die wil van God. Hiervan het Paulus gespreek toe hy Titus wou aanmoedig om ‘n praktiese geloofslewe te leef deur “goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe” (Tit. 2:12,13). Ware Christelike hoop is laastens ‘n lewende verwagting in die toekomstige verlossing, wat nie op die sigbare staatmaak nie, maar op die onsigbare (2 Kor. 4:16-18).

167

6.4 DIE EVALUERING VAN DIE ELEMENTE VAN DIE NAVORSINGSVRAAG, SOVÊR DIT