• No results found

HULPWETENSKAPPE EN DIE CHRISTELIK-TEOLOGIESE PERSPEKTIEWE

H OOP EN G EESTELIKHEID

5.2 DIE BEGINSEL VAN HOOP IN DIE OU TESTAMENT

5.2.1 Hoop in die Pentateug en Ou Testamentiese geskiedenis

Die Bybel begin waar God, deur sy Woord, alles wat bestaan laat ontstaan het en sodoende die geskiedenis van die mens begin. Nadat God die “hemel en die aarde geskape het” (Gén. 1:1), het Hy gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Gen. 1:26). Nadat God die mens, as man en vrou, geskape het na sy beeld, het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Gén. 1:28). Op hierdie vers lewer Vosloo en Van Rensburg (1997:Gén.1:31) die volgende kommentaar: “Soms is daar tye dat ’n mens nutteloos en waardeloos voel. In sulke tye moet die skeppingsvertellings van Génesis as herinnering dien dat elke mens vir Hom baie kosbaar is en dat daar ’n goeie rede is waarom God elkeen van ons geskape het.”

God plaas dit dus vir ons van die begin af op rekord dat Hy die mens geskape het met ‘n doel en die mens geseën het met die vermoë om daardie doel te verwesenlik. In hierdie geskiedenis is God, volgens Kaiser (1978:7), gedurig besig om sy wil en seëninge aan die mens te kommunikeer. Soos in die begin met die seëning van ‘n skeppingsorde, so het dit ook voortgegaan met die seëning van ‘n familie-orde in Adam en Eva, Noag en sy familie wat in die ark deur die watervloed heen gered is, Abraham en Sara en die uiteindelike Dawidiese koninkryk-dinastie van Israel.

Die sondeval, hoe groot die impak ook al was, kon geen einde bring aan God se openbaring van Homself en sy doel om ons te seën nie, veral as ons kyk na die woorde van belofte in die “proto-evangelium” (eerste evangelieboodskap): “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die

125

kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt” (Gén. 3:15). Hoe geweldig die impak van die sondeval ook al was, soveel groter was die belofte van ‘n Verlosser wat sou kom. Soos die skepping progressief ouer geword het, so het die plan van God al hoe duideliker geword in die woorde van God se verbond met Abraham. Volgens hierdie verbond (Gén. 12:1-3), moes Abraham sy ouerhuis verlaat en na ’n aangewese land trek en in die proses God se seën ervaar. In sy kontak met die samelewing sou hy tot seën wees vir die met wie hy in kontak kom en uiteindelik alles geslagte wat die aarde sal bewoon.

Deur die verskillende eras van die Ou Testament, het God sy volk laat groei en geseën as hulle in geloof in sy voorsiening van sy beloftes vertrou het, soos wat Hy dit aan hulle geopenbaar het. Die beloftes van God en hierdie openbaring as die hoop van Israel, is duidelik te sien uit die volgende aanhalings uit 2 Samuel 7:9: “Ek sal vir jou ‘n groot naam maak” (Gén. 12:2); vers 10: “Ek sal vir my volk Israel ‘n plek bestel en hom plant” (Gén. 15:18; Deut. 11:24f); vers 12: “sal Ek jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig” (Gén. 17:7-10,19); vers 14: “Ek sal vir hom ‘n Vader wees, en hy sal vir My ‘n seun wees” (Ex. 4:22); vers 23-24: “En wie is soos u volk, soos Israel, ‘n enige nasie op die aarde, wat God vir Hom as ‘n volk gaan verlos het, en om vir Hom ‘n naam te maak; en om groot dinge te doen vir hulle” (Gén. 17:7-8; 28:21; Ex. 6:7; 29:45; Lev. 11:45; 22:33; 25:38; 26:12,44,45; Núm. 15:41; Deut. 4:20; 29:12-13).

Al hierdie seëninge was ter ondersteuning van sy beloftes aan Israel en het bygedra tot die vorming van ‘n nasie met die naam, Israel; ‘n nasie met ‘n volkshoop vir die toekoms. Lane (1996:72) verklaar dat daar min twyfel bestaan dat hoop ‘n sentrale rol speel in die vorming van Judaïsme en dat hierdie hoop van Judaïsme die primêre konteks is waarin die Eskatologie van Jesus verstaan kan word. Dit is volgens hom belangrik dat enige begrip van die hoop van Jesus of die Christelike Eskatologie wat ons het, in ‘n sekere sin ook die hoop van die Joodse nasie en die Eskatologie van die Hebreeuse Skrifte is.

Die geskiedenis van Israel kan gebruik word om lig te werp op die Eskatologie van die Nuwe Testament. ‘n Teologie van Israel en spesifiek met verwysing na die hoop van Israel, is gegrond op hul geskiedenis. Kaizer (1978:41, 42) weer, sê dat die Ou

126

Testament die geskiedenis van Israel reflekteer. Dit gee ons die geskiedenis van Israel en sy bevryding deur God, maar altyd vanuit die standpunt van “so spreek die Here” en die verwagting dat Israel gehoor sal gee aan die Woord (vergelyk Ex. 4:22; Ex. 5:1; Ex. 10:3; Ex. 32:27; Rig. 6:8; 1 Sam. 2:27; 1 Sam. 10:18; 2 Sam. 7:5; 2 Sam. 7:8; 1 Kon. 11:31; 2 Kon. 9:3; 1 Kron. 17:4; 1 Kron. 17:7; 1 Kron. 21:10; 1 Kron. 21:11; 2 Kron. 11:4; 2 Kron. 12:5; 2 Kron. 18:10; Jes. 37:6; Jes. 37:21; Jer. 2:2; Jer. 6:16; Jer. 8:4; Eseg. 2:4; Eseg. 3:11; Eseg. 11:17; Eseg. 12:10; Hag. 1:2; Sag. 1:3; Sag. 1:14; Sag. 1:17; Sag. 6:12; Sag. 8:2).

Hierdie profetiese uitsprake van die “so spreek die Here”-openbaring van God se wil aan die nasie van Israel, tree dus op as ‘n leidende beginsel wat hoop aanbetref en wat ons help om hul volkslewe en identiteit in die huidige tradisies te kan interpreteer. Hierdie enkele leidende beginsel, dat God Homself bekend gemaak het deur sy Woord, het dinge vir die skrywers as boodskappers aan die volk helder gemaak en die volk gehelp om die openbaring van God se wil te verstaan. God se geopenbaarde Woord en beloftes beteken dus dat Hy die hoop van alle mense sal wees, waardeur Hy ook sy goddelike werk sou uitvoer wat verrykende implikasies op hul geestelikheid en beskouing van sy wil sou hê.

In die konteks van hierdie navorsing oor hoop, is beide Lane (1996) en Kaizer (1978) se beskouing van die verband tussen God se geopenbaarde woord en Israel se volkslewe belangrik en waardevol, omdat dit die invloed van God se openbaring op die hoop en die geestelikheid van die volkslewe van gelowige Jode uit die Ou Testament bring. In die geskiedenis van Israel kry ons in die Nuwe Testamentiese tydperk die voorreg om te besin oor die konsepte en inhoud van Israel se voortbestaan en te leer vanuit die skrywer se gesigspunt van God se wil vir sy kinders (1 Kor. 10:11). Hul eie geskrifte wys ons daarop dat hul perspektief nie ‘n saak van private interpretasie of eie uitvinding of versinsel was nie, maar God se spesiale en direkte bekendmaking van Homself. Volgens die skrywers van die Ou Testament is dit God se reg om verklarings te maak, waardes te stel, belangrikheid uit te lig, om die betekenis van die huidige en die toekomstige aan te dui en deur sy beloftes, seëninge en verbonde hoop te gee aan die mens. Die uitkoms van die openbaring van God aan die mens is dus die hoop van elkeen wat daarin glo.

127