• No results found

HULPWETENSKAPPE EN DIE CHRISTELIK-TEOLOGIESE PERSPEKTIEWE

H OOP EN G EESTELIKHEID

5.2 DIE BEGINSEL VAN HOOP IN DIE OU TESTAMENT

5.2.2 Hoop in die wysheidsliteratuur

In Job 4:6 stel Elifas die Temaniet ‘n vraag aan Job: “Is jou Godsvrees nie jou hoop, jou vrome wandel nie jou verwagting nie?” In hierdie vraag spreek Elifas sy verwondering uit dat Job, wat so maklik ander mense kon troos, nou self so moedeloos geword het. Van Zyl (1997a: Job 4:1) stel dit dat Elifas Job daarop probeer wys dat die rigting van sy vrae uit sy noodbestaan op die ashoop kom en hy probeer hom wys watter gevaarlike koers hy nou begin inslaan. Job wat eens mense reggehelp het en hulle moed ingepraat en getroos het deur aan hulle die regte raad te gee, en homself nou in soortgelyke omstandighede bevind, moet nou self luister na sy eie raad. Elifas wil Job bring om homself te toets en die waarom-vrae te vra oor sy lewe. Sy punt is dat die vroom lewe ‘n anker is waaraan mense in moeilike tye kan vashou. Job lewer kommentaar op sy eie lewensduur, deur dit te sien as “vinniger as ‘n wewerspoel”, wat “sonder verwagting” verdwyn (Job 7:6). Hy het geen hoop in sy huidige omstandighede nie, behalwe in die dood. Volgens Job word die mens se eie verwagting “deur die Here verydel” en die Here “maak dit tot niet” (Job 14:19). Die mens se verwagting is volgens Job nie betroubaar nie, want “Hy het my verwagting uitgeruk soos ‘n boom” (Job 19:10). Job erken ook met die stelling “al wil Hy my ombring”, dat sy eie lewe soewerein beperk word deur die ingrype van God. Nogtans bied dit hom die geleentheid om te sê “ek hoop op Hom”, maar hy sal voortdurend sy “wandel voor sy aangesig bepleit” (Job. 13:15). Diegene wat “God vergeet” en afvallig word, se “verwagting” sal vergaan net soos dié van die goddelose (Job 8:13). Die goddelose, volgens Job, het geen “verwagting” as God sy siel “wegneem” nie (Job 27:8).

Dawid sê in Psalm 9:18 dat “die behoeftige” nie vir altyd vergeet sal word nie en dat die “verwagting van die ellendiges” nie vir ewig verlore sal gaan nie. Dawid sê voorts in Psalm 42:11 dat hulle “nie op verdrukking” sal vertrou nie en dat hulle “geen ydele hoop op rowery” sal bou nie en as “die vermoë aangroei” moet hulle nie “die hart” daarop sit nie (Van Zyl 1997b; Ps. 42:11). Sy raad aan dié wat geen hoop het nie, is: “Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting!” (Ps. 62:5). Hierdie verhouding tussen God en die skrywer, waar die skrywer hoop op die hulp van God, kom ook na vore in die volgende gedeelte: “Want U is my verwagting, Here

128

HERE, my vertroue van my jeug af” (Ps. 71:5) en ook: “En nou, wat verwag ek, o Here? My hoop is op U” (Ps. 39:7). Op grond van die beloftes wat God aan sy volk gemaak het, beskou Dawid sy God as die hoop van Israel en ‘n godvresende lewenswandel as ‘n resultaat van hierdie hoop.

Een van die belangrike temas wat in die wysheidsliteratuur met hoop geassosieer word, is volgens Thiessen (2006:441-468) die Messiaanse hoop van ‘n herstelde koninkryk van Israel wat die aarde as eiendom sal beërwe. Hoop word in die wysheidsliteratuur hoofsaaklik beskryf as die eskatologiese verwagting na ‘n Messiaanse heilstaat of vrederyk van Israel op aarde. Hierdie is ‘n konsep wat deur Clayton (2006:122-125) in die besonder beskryf word as die hoop van Israel. Hy meen dat hierdie hoop nie net tot die verre toekoms alleenlik behoort nie, maar ook ‘n deel vorm van hul huidige hunkering om ‘n heilige volk van God te wees. Psalm 73 bring hierdie sentiment na vore en ontwikkel as gevolg daarvan die tweeledige gevolgtrekkings wat in Psalms 1 en 2 so duidelik verklaar word, naamlik dat die “weg van die goddelose sal vergaan” en “welgeluksalig is almal wat by Hom skuil”. Hierdie Messiaanse hoop behels die tweeledige aspek van ‘n bedeling waarin die goddelose veroordeel word en die regverdige gered word.

In ‘n uitleg van Psalm 73 kom dit, volgens Vos (1997:391), na vore dat, alhoewel die goddelose oënskynlik in welvaart vooruitgaan, hulle uiteindelik sal “vergaan” en tot “niet” sal gaan deur “verskrikkinge” (v:19). In teenstelling met die voorspoed van die goddelose, bely die Psalmdigter “al beswyk my vlees en my hart”, is “God die rots van my hart”. Die eskatologiese hoop van Israel bestaan dus in die wete dat ‘n tyd sal kom waarin die goddelose vernietig sal word, maar dat dié wat “naby” God is, deur Hom bewaar sal word (Clayton 2006:137-141). Om naby aan God te bly, maak die werklikhede van die eskatologiese hoop vir Israel beskikbaar in ‘n lewe wat in geregtigheid uitsien na die staat van geregtigheid.

Die wysheidsliteratuur beklemtoon die voordele van ‘n aaneenlopende koninklike dinastie en ewige koninkryk. Dit is ‘n ewigdurende heerskappy en ryk wat universeel in omvang en invloed sal wees. Die hoop van Israel is dus ‘n tema wat bou uit hul geskiedenis, waar God gespreek het en hulle in gehoorsaamheid gedoen het en gevorm is tot ‘n “uitverkore nasie” (Deut. 10:15). As hulle faal, sou die oordele van

129

God hulle weer op koers bring om te bly hoop in die koms van die Een wat in reg en geregtigheid oor hulle en die aarde sou heers. Die hoop van Israel in die Ou Testament was altyd verbind tot die Messias wat sou kom om die fisiese en sienlike beloftes wat in die verbonde uiteengesit word, aan hulle te vervul.

Die wysheidsliteratuur bou ook aan die tema van die hoop van Israel, deur gebruik te maak van ‘n ander beginsel. Volgens Salomo in Spreuke 1:7-9 is “(d)ie vrees van die HERE... die beginsel van die kennis”, en net “sotte verag wysheid en tug”. Salomo moedig die seun aan: “luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; want dit is ‘n lieflike krans vir jou hoof en sierlike kettings vir jou hals.” Alhoewel dit klink na ‘n heel nuwe benadering tot die geestelike lewe van Israel, lees ons egter reeds in die lewe van Abraham oor hierdie gesindheid as die “Engel van die Here” in Génesis 22:12 vir Abraham sê: “nou weet Ek dat jy God vrees”. Die volgende frases was alles deel van die gesindheid en die leefstyl van die Israel van God: “dat jy die HERE jou God kan vrees om al sy insettinge en sy gebooie wat ek jou beveel, te hou ... dat jou dae verleng kan word” (Deut. 6:2); “om die Here jou God te vrees” (Deut. 10:12); “geen vrees vir God in hierdie plek nie” (Gén. 20:11); “Vrees dan nou die HERE en dien Hom in opregtheid en waarheid” (Jos. 24:14). Om God te vrees was om sy insettinge en gebooie te onderhou en om die gode wat hul vaders gedien het oorkant die rivier te “verwyder”.

Die “vrees-vir-die-Here”-beginsel is dus ‘n leidende beginsel wat die hoop vir die lewe in die gemoed van die volk van Israel aanbetref. Vrees en wysheid was parallelle in die gedagtegang en aanbidding van Israel. Al hierdie temas kan saamgevat word in die een woord waarop die profete verder uitgebrei het en dit is die woord “belofte”. Die inherente karakter van die belofte is kennis van God en die vrees van God. Die hoop van Israel was opgevat in hul kennis van God in en deur sy beloftes en die vrees van God wat dit sal laat uitwerk.

‘n Ander aspek wat nou hiermee saamgaan, is Dawid se vertroue op die beloftes van God. Dawid verklaar: “Ondersteun my volgens u belofte, dat ek kan lewe; en maak my nie beskaamd vanweë my hoop nie” (Ps. 119:116). Dawid hoop op die heil van God soos dit sal uitwerk volgens die geopenbaarde beloftes van God: “HERE, ek hoop op u heil, en ek hou u gebooie” (Ps. 119:166). Dawid wag op die Here, maar dit

130

is nie ‘n passiwiteit nie, maar ‘n toewyding aan sy Woord: “Ek wag op die HERE; my siel wag, en ek hoop op sy woord” (Ps. 130:5). Dawid beskryf verder dat dié “wat die God van Jakob as sy hulp” het, en “wie se hoop is op die HERE sy God” as “(w)elgeluksalig” (Ps. 146:5). Hy sê dat die Here ‘n “welgevalle” het in “die wat Hom vrees” en “wat op sy goedertierenheid hoop” (Ps. 147:11). Hieruit kan hoop in die Ou Testamentiese gedagtegang gesien word as die “vrees van God”.

Vos et al. (2007:13) gebruik Psalm 42 om aan te dui dat daar ‘n beweging is van die wanhoop van smagting en verlatenheid, na die vervulling van hoop en dankbaarheid. In Psalm 42 hoor ons die stem van die ervaring van iemand wat op reis gaan. Die reis is vol dreiging en vyandigheid. Daar is net een uitkoms vir die Psalmdigter, as wanhoop en vrees op hom toesak, naamlik die smagting na God (vers 1): “Soos ‘n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God! My siel dors na God, na die lewende God” (Ps. 42:1, 2). Die beeld van die waterstrome waarna die hert smag, word weer in vers 8 herhaal. Dieselfde intense smagting na God se hulp word ook elders, in Psalm 84:3 vermeld. Hierdie smagting word lewend gehou deur die slegte herinneringe van die skrywer (Ps. 42:5). Met ander woorde, terwyl die slegte gebeure ontvou, groei die hoop dat God hom sal help, net soos in die verlede. Soos wat die digter in sy geestesoë sien hoe sy lewe voor hom afspeel, dink hy aan hoe God hom oor hom ontferm het en dit gee hom die vrymoedigheid om lofprysing voor die skare te doen. Hy voel “soos ’n wildsbok wat vir dae nie water gehad het nie” en hy smag nie “na waterstrome nie, maar na God, die lewende God” (Vos 2007:327; Ps.42:2; 84:2). In plaas van gejuig en lofsang (5e) is daar egter vir hom trane (4a; 6:7; 39:13). In sy haglike omstandighede spreek hy homself aan en wys hy homself daarop dat sy vertroue op God, ‘n doelgerigte vashou aan sy persoonlike verhouding met God en gebed, hom van vertwyfeling kan terughou en selfs daaruit kan red (Van Zyl 1997b:Ps.42:1-7).

Vertwyfeling is egter ‘n konstante deel van sy lewe: “wanneer sal ek ingaan en voor die aangesig van God verskyn?”(Ps. 42:3). Sy teëstanders sien sy twyfel en hartseer en laat hom voel asof God hom verwerp het. Hulle onderskraag sy vertwyfeling met die woorde: “Waar is jou God?” (Ps. 42:4, 11). In die mens se diepste oomblikke van wanhoop vind hy soms net die tergende woorde van sy vyande, wat hom aanpor om God se voorsienigheid te betwyfel. Die vyande laat hom voel asof God hom verwerp

131

het en sy rug op hom gekeer het (Ps. 42:10). Hierdie wanhoop en verlatenheid wat hy voel, word vervang met hoop en dankbaarheid. Die lojaliteit van God se wese staan in kontras met sy gevoelens van wanhoop. Die twyfel word vervang deur hoop.

Volgens Vos et al. (2007:14) word hierdie beweging van wanhoop na hoop ondersteun deur geloof in God (Psalms 42:6, 12; 43:5). Geloof stel die Psalmdigter in staat om sy smagting of petisie om hulp na God te neem. Dawid sê: “Doen aan my reg, o God, en verdedig my regsaak teen ‘n onbarmhartige volk; red my van die man van bedrog en onreg!” (Ps. 43:1). Die herhaling hiervan in ander vorme wys sy vertroue in God se vermoë om hom te help: “Want U is die God van my toevlug; waarom verstoot U my dan? Waarom moet ek rondgaan in rougewaad deur die vyand se verdrukking?” (Ps. 43:2). Hierdie geloof in God en die verwagting om deur Hom gehelp te word is nie net die hoop van Israel nie, maar ook van elke kind van God.

Vir Dawid was hierdie plek van neerslagtigheid en onrustigheid van hart nie so ‘n slegte plek in sy lewe om in te wees nie, solank God in sy lewe teenwoordig was: “Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op God; want ek sal Hom nog loof—die verlossing van sy aangesig! (Ps. 42:5); en “ék sal altyddeur hoop en al u lof vermeerder” (Ps. 71:14). In Spreuke 10:28 verklaar Salomo dat die verwagting van die regverdiges “vreugde” is, maar dat die hoop van die goddelose “vergaan”. Salomo bring ‘n toepassing van hoop as hy vir die ouer sê “tugtig jou seun” (Spr. 19:18) en vir die moedelose “daar is ‘n toekoms” (Spr. 23:18) en vir die goddelose dat by sy dood “sy hoop tot niet” sal gaan (Spr. 11:7).

Nog ‘n ander idee wat met hoop geassosieer kan word en wat nie in die Ou Testament opgeklaar sal word nie, is te vinde in een van Job se mees pertinente vrae: “As ‘n mens sterwe, sal hy weer lewe? Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom” (Job 14:14). Hierdie vers, volgens Rimmer (1935), bewys dat die mens reeds aan die begin van sy geskiedenis vrae gehad het rakende hoop, soos uitgedruk in die vraag van Job, en dat daar in hierdie vraag die onderbewuste onsekerheid van die mens saamgevat word. In Job 19:23-27 beskryf die skrywer sy hoopvolle verwagting deur te verwys na die feit dat hy ‘n geskrewe vorm daarvan wil nalaat. Sy begeerte om sy verwagting om sy Verlosser in die hiernamaals te sien, in klip te graveer, beskryf iets van die hoop wat hy het, al gaan dit swaar met hom.

132

Met hierdie woorde van Job, wat soos hy gebid het nou wel nie in ‘n rots ingekap is nie, maar wel in die ewige Skrif neergepen is (Job 19:24), gee hy die antwoord op sy eie vraag. Job het met verwagting vooruitgesien na die dag dat hy voor die Here sal staan, al het sy vlees ook verwerwe of tot sterwe gekom (Rimmer 1935). Dit blyk dus dat hier nog ‘n ander leidende beginsel of perspektief van die Ou Testamentiese gelowige na vore kom, naamlik die hoop op die opstanding al het die vlees tot sterwe gekom.