• No results found

HULPWETENSKAPPE EN DIE CHRISTELIK-TEOLOGIESE PERSPEKTIEWE

P ASTORALE B EGELEIDING NA H OOP

6.4 DIE EVALUERING VAN DIE ELEMENTE VAN DIE NAVORSINGSVRAAG, SOVÊR DIT DIE GEESTELIKHEID VAN DIE AFRIKANERGELOWIGE WAT ‘N MATE VAN

6.4.2 Samevattende evaluering op grond van die evalueringsvraag 2.4.3

Hoofstuk 3 het ‘n uiteensetting gegee van die hoopbeskouing van die Afrikanergelowige soos dit tans daar uitsien en ook watter dinge, na die respondente se mening, kan bydra of afbreek doen aan hierdie hoop. Daarmee saam lewer hoofstuk 3 ook verslag van die dinge wat die Afrikanergelowige meen hy in sy lewe moet inbring om ‘n beter tipe hoop te ontwikkel en die dinge wat weggeneem of vermy moet word, wat hoop sal laat verbrokkel.

Volgens hoofstuk 3 is dit moeilik vir die Afrikanergemeenskap om die beëindiging van Afrikaner-nasionalisme te verwerk (Giliomee 2004; Erasmus 2005). Die Afrikanerkultuur oor die algemeen ervaar moeilike tye van beproewing, in die vorm van beperkte of geen werkgeleenthede weens regstellende aksie, onsekerheid oor die rol wat hulle in die nuwe Suid-Afrika kan speel en die aftakeling van Afrikaans as ‘n histories-gerespekteerde taal en kultuur. Materialisme, ‘n valse vertroue in politieke en wêreldleiers en negatiewe mediaberiggewing is uitgesonder as bydraers tot die aftakeling van hoop. Hierdie dinge het ontnugtering en wanhoop tot gevolg. Die gevolge van hierdie ontnugtering of wanhoop is onder andere dat mense hulself isoleer van ander mense, soek na oppervlakkige vorms van musiek, vermaak en sosialisering en oormatig baie tyd by die werk spandeer. Gevolge wat dan hieruit

169

voortspruit is hoë vlakke van druk, verlaagde kwaliteit in gesinsverhoudings en spanning wat die langtermyn-loopbaanverwagting aanbetref. Nog ‘n afbrekende faktor wat hoop aanbetref is, volgens respondente, die invloed van post-modernisme, wat veroorsaak dat waarheid sy waarde verloor en enigiets konkreets as ‘n relatiewe begrip uitgebeeld word.

‘n Evaluering van sekere van die hulpwetenskappe en die Christelik-teologiese perspektiewe wat in die literatuurstudie in hoofstuk 4 uitgelig word, bied ‘n verduideliking van waarom die situasie, soos beskryf in hoofstuk 3, is soos dit is. Dit kan soos volg saamgevat word: Hopeloosheid is die krisis van ons dag en bring lusteloosheid en neerslagtigheid (Botman 2008). Hoop word deur sommige kerkleiers beskou as die resultaat van sosiale bemiddeling en bemagtiging. Vir mense om in die konteks van onsekerheid en wanhoop weer hoop te kan hê, moet hul fisiese en finansiële lewenstandaard dramaties verbeter (Botha 2008). By implikasie word sosiale hoop dus gekoppel aan finansiële en materiële vooruitgang en welvaart, en word dit die blink baadjie van materiële en fisiese sukses. Gevoelens van ontnugtering en wanhoop is dus die gevolg wanneer die mense nie daardie blink baadjie aanhet of kan bekom deur die tuig van die bevrydingstryd op te geneem om hulself te bemagtig nie (Niehaus 1993).

Die idee wat mense het dat hulle probleme sal verdwyn as hulle kry wat hulle wil hê, is ‘n valse idee van hoop (Mack 1994:190). Daarmee saam moet ook genoem word dat mense wat welvarend is óók wanhopig kan wees en ontnugter kan word. Ware Christelike hoop is ’n ander aangeleentheid as die bevrediging wat materiële dinge bring of wat die verbeelding van die gedagtewêreld kan optower, en kan nie geskei word van die geestelikheid van ons geloofslewe nie. Dit is nie net die optimistiese deelname aan die skepping van ‘n nuwe werklikheid wat hoop gee nie, maar ware Christelike hoop kan alleenlik in die lewe van Christus Jesus gevind word. Hierdie idee van ons hoop wat in Christus Jesus gesetel is, word verder in die volgende paragraaf verduidelik.

Hoofstuk 5 het normatiewe Skrifperspektiewe voorgestel oor wat die hoop-situasie na regte moes gewees het. Die Skrif dui aan dat ware Christelike hoop wel voorkom in swaar tye van beproewing en armoede. Swaarkry en beproewing word dan juis gesien

170

as die teelaarde vir hoop. Israel is ‘n voorbeeld van ‘n volk wat geleer het dat hoop nie net ‘n vae en onsekere begrip was nie of ‘n terugkeer na die ou lewe van oorvloed wat hulle tevore in Egipte gehad het nie, maar dat dit ‘n vaste en sekere wete was dat God deur verlossing hulle hoop is. Hoop kom dus deur die valleie van die desperaatheid van hulle eie geloofservaring in sy suiwerste vorm na vore – die belofte van God se verlossing (Jer. 4:23-26). Eers in hierdie tye kon Israel die harde werklikheid van hul sondige toestand in die gesig staar en deur ‘n nugtere voorraadopname hulleself aan God oorgee vir verlossing (Jes. 8:17; 43:1-5).

Hoop begin by die openbaring van die Verbondsgod se wil en daaropvolgende vervulling van sy beloftes (5.2.1) en is onlosmaaklik verbind aan die Persoon, kruiswerk en opstanding van Jesus Christus (5.3.3; Venter 2003). Die mens se hoop lê nie in welvaart of wensdenkery nie, maar in die kennis van die betekenis van die lewe van Jesus Christus. Hierdie ware Christelike hoop is vervat in Christus as die Waarmaker van die beloftes van God (Matt. 12:21; 1 Pet. 1:3), wat sonder welvaart en onder vervolging op aarde geleef het, wat die weg, waarheid en lewe as toegang tot ‘n nuwe lewe in die hiernamaals is, wat ons Hoëpriester is en verstaan wat ons ervaar en werklik kan help (Heb. 4:15) en wat alle hindernisse tussen die gelowige en God verwyder het (Rom. 15:4,12). Op grond hiervan is Christus Jesus se lewe die inhoud van ‘n beter hoop (Venter 2008). Die teelaarde waar hoop as ‘n innerlike geestelike lewenskragtigheid spontaan ontwikkel, is ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus, wat deur middel van dissipelskap ware betekenis vind.

Ten einde bovermelde gegewens saam te vat en ‘n praktiese riglyn vir die pastoraat voor te stel oor hoe die verbeterde handelswyse daar behoort uit te sien, moet die volgende in oorweging geneem word. Geen mens, van watter kulturele oriëntasie ook al, kan ware Christelike hoop hê buiten in ‘n persoonlike kennis en verhouding met Christus Jesus nie. Vir die ongelowige Afrikaanssprekende wat nie vir Christus Jesus as persoonlike Verlosser en Saligmaker ken nie, is ware Christelike hoop altyd ontwykend en is die eerste stap tot hierdie hoop om tot reddende geloof in Christus te kom. Die evangelie van Christus Jesus, is dus nie net die krag van God tot redding vir elkeen wat glo nie (Rom. 1:16), maar ook die deur tot ‘n ware, egte hoopbeskouing.

171

Die hoopbeskouing van Afrikanergelowiges en ongelowiges oor die algemeen, blyk gekoppel te wees aan die beskikbaarheid van beter werkgeleenthede, lewensomstandighede en politieke of sosiale selfbemagtiging. Hierdie tipe kulturele, sosiale of maatskaplike hoop is dus volop in gunstige lewensomstandighede. Wat die normatiewe Skrifperspektiewe egter getoon het, is dat ware Christelike hoop vir die gelowige verbind is tot ‘n lewende verhouding met God in en deur Jesus Christus, al is die lewensomstandighede hoe benard. Die Afrikanergelowige kan in ongunstige lewensomstandighede juis waarlik hoop as ‘n innerlike, geestelike lewenskragtigheid hê, omdat God se beloftes vir verlossing onveranderbaar is.