• No results found

HULPWETENSKAPPE EN DIE CHRISTELIK-TEOLOGIESE PERSPEKTIEWE

H OOP EN G EESTELIKHEID

5.2 DIE BEGINSEL VAN HOOP IN DIE OU TESTAMENT

5.2.4 Hoop in die Klein Profete

‘n Ander konsep van hoop kom na vore in die eskatologiese perspektief van die profeet Sagaría wat ons help om te verstaan wat vir Israel hoop gegee het. So spreek die profeet Sagaría in Sagaría 9:9:

“Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel – op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin.”

Israel kan hoop vind in hierdie Messiaanse boodskap, soos wat die eienskappe en karakter van die komende Messias beskryf word (MacArthur 2008c:Sag.9:9). Om die omvang en belangrikheid van God se belofte aan die “dogter van Sion” te beklemtoon, word die dogter opgeroep om met blydskap uit te sien na die koms van haar Koning.

Te midde van die naderende oordele in Samaria, gee Amos ‘n aantal vermanings wat gesien kan word as handelinge van hoop (Brueggemann 2008:303). In Amos 5:14-15 word hulle vermaan om sekere stappe te neem wat die Here se guns sal wen. Lewe is nog ‘n moontlikheid, mits hulle “(s)oek wat goed is, en nie wat sleg is nie”. Die frase “só met julle kan wees” dui op die profetiese boodskap dat God genadig sal wees. Hoop is dus aktief en transformerend (Brueggemann 2008:303,304).

In Hoséa is die krisis van die verhouding tussen God en Israel by ‘n breekpunt (Brueggemann 2008:304). As bewys hiervan volg die profeet se aangekondig dat ‘n skeisaak aanhangig gemaak is, wat aandui dat daar ‘n beëindiging van die verbondsverhouding sal wees. Te midde van die werklikheid van die wete dat hulle moontlik deur God verlaat kan word, kom die volgende woorde van hoop in Hoséa 2:18-20: “Ek sal My met jou verloof tot in ewigheid en My met jou verloof in geregtigheid en in reg en in goedertierenheid en in ontferming. En Ek sal My met jou verloof in trou; dan sal jy die HERE ken.”

Die volk, eens verstoot, sal in hierdie dag weer omarm en geliefd wees in ‘n ewige verhouding. Aan die anderkant van hierdie vrees vir die oordeel van God, lê die vernuwing van die verhouding tussen God en sy geliefde volk (Brueggemann

139

2008:304). Hoséa 12:6 bied raad aan die Israeliet: “tot jou God moet jy terugkeer, beoefen liefde en reg, en hoop gedurigdeur op jou God.”

Die profete het beaam dat die dae van oordeel nie die laaste dae is nie, maar dat daar meer dae daarna sal wees. Die beskrywing van die oordele van God is nie die laaste woorde van God oor sy volk nie. Die profeet Miga, net soos ook die ander profete, sien in sy geestesoog ‘n wêreld verby die oordeel (Brueggemann 2008:305). In Miga 4:1-5 lees ons dat God hulle plek van aanbidding sal vestig en bevestig. Daardie plek sal deur die nasies erken word as die plek van God en reg en geregtigheid sal uit Jerusalem uitgaan.

Hierdie woorde te midde van wanhoop is meer as net ‘n digterlike beskrywing van die toekoms; dit is die hoop van Israel. Die laaste dae is dae van die herstel van Israel en die heerskappy van sy Messias wat in en vanuit Jerusalem sy Woord sal laat voortgaan.

5.2.5 Samevatting

Hoop in die Ou Testament kom voor in die valleie van Israel se geloofservaring. In tye van hul eie ontrouheid en waar dreigende oordeel en dood ‘n tasbare realiteit in die profetiese openbaringe is, kom hoop – die verwagting van verlossing deur God - in sy suiwerste vorm na vore. Hoop erken die skadu wat sonde en ongehoorsaamheid bring, voordat dit die lig van God se verlossing sien. Hoop ontken dus nie die feit dat God in geregtigheid sal oordeel oor die sonde van die volk Israel nie. Die Ou Testament verklaar duidelik dat hoop op God se voorsiening, verlossing en genade alleen gegrond is. Vir die Ou Testamentiese volk Israel, was hoop nie ‘n vae en onsekere begrip nie, maar ‘n vaste en sekere wete dat God homself aan hulle openbaar en sal bekend maak deur verlossing en herstel. Dit het immers soveel maal gebeur. Die uitkoms van die hoop van Israel was nie bloot net ‘n terugkeer na die ou lewe wat hulle tevore gehad het nie, wat deur oordeel van hulle ontneem en dus nie meer moontlik was nie, ook nie ‘n “laat God’s water oor God’s akker loop”-gesindheid nie, maar ‘n aanbeweeg na ‘n nuwe verlossingswerklikheid, wat in die beloftes van die “beloofde land” en die nuwe verbond van God hulle aangebied is. Hierdie intrede van

140

God in die Ou Testamentiese gelowige se lewe, beskryf hoop onder die volgende lewenswerklikheidstemas:

 Die “so-spreek-die-Here”-uitsprake wat God se wil om hulle te seën deur sy beloftes en verbonde oordra, baan die weg van hoop na ‘n beter bedeling;

 die “vrees-van-die-Here”-lewenswyse wat in die wysheidsliteratuur beskryf word, ontvou hoop as kwaliteit van lewe wat uit nood gebore is. Dit maak ons bewus van die nuwe wêreld waarin ons met oop harte en hande moet leef en moet losbreek uit die wen-ten-alle-koste-gedagtegang waaraan ons in die ou wêreld gewoond geraak het. Hoop neem die vorm van ‘n vroom lewenswandel aan en word ‘n lewensanker waaraan hulle kon vashou as daar swaar tye aanbreek;  die Messiaanse profetiese verklarings van ‘n heerlike en ewige aardse Messiaanse

koninkryk van Israel laat hulle verby die huidige omstandighede van wanhoop kyk na die hoopbelaaide toekoms;

 die beloftes van die nuwe verbond wat God met sy volk gemaak het, is die mees bekende beskrywing van die hoop van Israel. Alhoewel Israel die Mosaïese Verbond gefaal het, beloof God ‘n Nuwe Verbond met ‘n geestelike en goddelike dinamiek, waarin almal wat Hom persoonlike ken, kan deel hê in die seëninge van verlossing deur die innerlike werking van die Heilige Gees;

 in die Ou Testamentiese idee van hoop word God beskou as die “Verwagting van Israel”. Die Ou Testament ontwikkel die idee dat Israel geen verwagting het behalwe om dit by God te kry nie, naamlik ‘n verwagting van verlossing deur sy Messias in die persoon van Jesus Christus;

 die lewe na die dood word uitgebeeld as die enigste hoop vir dié wat op die rand van die dood staan;

 hoop kan uitgebeeld word as die dors van ‘n wildsbok wat smag na water en uiteindelik versadig word;

 geloof in God se hulp en verlossing is ‘n vorm van hoop waarop die Ou Testamentiese gelowige homself uiteindelik verlaat.

141