• No results found

HULPWETENSKAPPE EN DIE CHRISTELIK-TEOLOGIESE PERSPEKTIEWE

4.4 ‘N TEOLOGIE VAN HOOP: ‘N OORSIG VAN DIE BYDRAE VAN JURGEN MOLTMANN SE T HEOLOGY OF H OPE

4.5 ESKATOLOGIESE VERNUWING AS HOOP

4.5.2 Hoop vir die toekoms uitgeleef in die hede

Martin (2002:101) verklaar dat die kerk moet leef in die ruimte wat die samekoms van die hede en die toekoms skep. In hierdie ruimte leef die kerk in die hoop waar die werklikhede van ‘n toekomstige verlossing uitspeel in die goddelike invloed van die hede. As gevolg van God se gawe van verlossing, kan daar ‘n deelname in die hede wees aan dit wat ewige lewe bied. God se werk in die hede het alreeds vêrreikende gevolge in die toekoms, ver verby die beperkings wat geskiedenis daarop wil plaas.

Die hoop wat die kerk op die ewige lewe het, maak die kerk aktief in die werk van God in die hede en bring sodoende verandering in mense se lewens. Hierdie verandering, volgens Martin (2002:101), is in die manier hoe ons ander mense sien, die manier hoe Christene optree en die strewe na reg en geregtigheid. Hierdie hoop verander die lewens van Christene op ‘n dramatiese wyse en stel hulle in staat om ‘n verskil te maak, en is dus ook in wese ‘n maatskaplike of sosiale hoop.

4.5.3 ‘n Ekologiese hoop

‘n Ander toonaangewende siening wat in die Christelik-teologiese ruimte met hoop verbind word, het te doen met die ekologie van die fisiese aarde. Daar is talle doemprofete wat vandag spreek van die naderende ekologiese ramp wat op die mensdom afstuur indien die mens sou voortgaan in sy huidige verwerping van die klaarblyklike waarskuwingstekens. Rondom hierdie naderende krisis word daar baie

105

gespekuleer en gefilosofeer om ‘n werkbare oplossing te kan vind waardeur ons hierdie afwaartse tendens kan keer.

Die Christelike liturgie het die potensiaal om hoop te bring vir die mensdom wat ‘n naderende ekologiese katastrofe in die gesig staar (Hessel-Robinson 2010:9). Terwyl daar ‘n angstigheid en wanhoop bestaan oor die donker wolk wat hang oor die mensdom se interaksie met die ekologiese wêreld, ‘n wolk wat al hoe meer dreigend word, is dit die mensdom se traagheid om op te tree wat die wanhoop veroorsaak (Hessel-Robinson 2010:10). Terwyl vele hulle wend na ‘n meer selfonderhoudende leefstyl, is daar meer mense wat ‘n tipe fatalistiese siening van die saak het en nie glo dat daar enige noemenswaardige verskil is wat die mens kan maak nie. Die grootte van die probleem verdwerg enige aksies of strategieë wat geneem kan word. Mense is nou meer gesteld op selfbewaring, omdat die gevaar van ‘n naderende ekologiese ramp nie meer ‘n wetenskaptydskrif-nuusberig is wat fokus op die toekoms nie, maar ‘n dagbladartikel wat berig lewer oor die hede (Hessel-Robinson 2010:11).

Hierdie vrese en wanhoop vorm die konteks waarin die kerk byeenkom om te aanbid. Die vraag word dan gevra: Kan die kerk se liturgiese lewe enige noemenswaardige verskil maak in die hart van die mens wat aan apatie en depressie ly wat die naderende ekologiese ramp aanbetref? Is daar enige hulp te bied uit die tradisies van die kerk om te help met hierdie groot probleem? (Hessel-Robinson 2010:11). Die Christen se morele lewe is afhanklik van deelname aan die liturgie van die kerk en dat hierdie aanbiddingslewe die mens se kosmiese bewustheid en ekologiese verantwoordelikheid moet beïnvloed.

Die Christelike kalender het die potensiaal om hoop te bring ten aanskoue van die naderende ekologiese ramp, omdat die kerk se kalender Christene roep om getrou te wees aan God, wat weer getrou is aan sy eie skeppingswerk. Hierdie tipe hoop kan in die gedagtes van Christene gevorm word deur die verhale van Israel en van Jesus Christus. Wanneer die kerk saamkom op die eerste dag om die opstanding van Jesus Christus te aanbid, dan word die gemeente se verbeelding weer opnuut aangegryp deur die beloftes van redding. Ook hier gaan Hessel-Robinson (2010:11) in die baie populêre rigting van die mensdom se vermoë om deur ‘n tipe vernuwingseskatologie deel te neem aan die vorming van ‘n herskape ekologie: “When the eschatological dimension of the liturgy is prominent, the imagination of the Christian assembly can

106

be inspired to anticipate a hope-full future for the cosmos, and to participate in shaping it” (Hessel-Robinson 2010:11). Hierdie baie populêre beskouing is dat as die kerk nie kan deelneem aan die herskepping van die ekologie nie, dat die Christelike geloof niks meer is as net ‘n handige geestelike terapie nie.

Volgens die teologie van die “ekologiese” hoop, is geloof, wat geen noemenswaardige bydrae maak in die fisiese wêreld waarin ons leef nie, net nog ‘n passiewe manier om die vervallenheid van die wêreld waarin ons te leef, te hanteer, en nie werklik in staat om iets noemenswaardigs daaraan te kan doen nie. Hessel- Robinson (2010:12) verklaar Christenskap is eskatologie, is hoop, is vooruitkyk en vooruitbeweeg, en is daarom ook revolusionêr en transformerend wat die hede aanbetref. Die Christen se proaktiewe deelname in die Eskatologie word deur hierdie populêre “red-die-ekologie”-teologie beskou as nie bloot net nog ‘n element van Christenskap nie, maar in der waarheid as die wese van die Christelike geloof, die sleutel tot die ontsluiting van ‘n nuwe dag. Dit is waarom die kerk, volgens hierdie siening, uniek geplaas is om ‘n noemenswaardige verskil te maak om hoop te verskaf aan die mensdom. ‘n Hoop wat ‘n fisiese aarde ontwikkel wat kan voorsien vir die nageslag.

Dit is op hierdie stadium belangrik om te verstaan watter invloed Jurgen Moltmann se teologie van hoop in hierdie populêre beskouing het. Hessel-Robinson se gebruik van Moltmann se teologie is insiggewend. Hy maak daarop aanspraak dat die universele aard van die Christelike hoop die fisiese heelal insluit en dat God se beloftes aan sy skepping beteken dat Hy nie sy skepping kan prysgee nie. Hierdie aanspraak is eie aan Moltmann se teologie, wat waarsku dat ‘n Eskatologie wat te nou gefokus is op die mensdom se toekoms op aarde, oftewel, ‘n toekoms wat nie die fisiese aarde insluit nie, ‘n valse hoop skep: “Christian eschatology must be broadened out into cosmic eschatology, for otherwise it becomes a gnostic doctrine of redemption, and is bound to teach, no longer redemption of the world but a redemption from the world, no longer a redemption of the body but a deliverance of the body” (Hessel-Robinson 2010:16).

Hierdie beskouing gaan van die teologiese voorveronderstelling af uit dat God nie sy eie skepping sal verwoes nie, maar eerder sal transformeer tot ‘n nuwe mens en

107

daarmee saam ‘n nuwe kosmos. Met ander woorde, hiervolgens is hierdie nuwe skepping nie ‘n vervanging van die ou een nie, maar ‘n vernuwing daarvan. Die liggaam en aarde sal dus nie verwoes word nie, maar voortgaan om vernuwe te word, totdat dit word wat God se wil was met die skepping (Hessel-Robinson 2010:18). Die eskatologiese visie van boeke soos Jesaja byvoorbeeld, beskryf dus nie ‘n verlossing na ‘n “ander” wêreld nie, maar ‘n vernuwing van die ou wêreld tot ‘n ruimte waarin vrede en volheid seëvier. Die wolf wat by die lam lê is ‘n verhaal wat die werklikheid van ‘n hernude toestand op aarde beskryf (Hessel-Robinson 2010:19). Die kerk is dan, volgens hierdie siening, goed geplaas om hierdie vernuwing ‘n realiteit te maak en aan te moedig deur sy liturgie van vernuwing en aanbidding van die God van vernuwing.

As ons in ag neem wat hierdie teologiese beskouing voorstel en ons aanspoor om te doen, dan moet dit ook vanselfsprekend wees dat die resultate van hierdie beskouing duidelik te sien sal wees in die wyse waarop die kerk gehoorsaam is aan sy skeppingsdoel. As God ons dan, volgens hierdie ekologiese “vernuwings”-teologie, die verantwoordelikheid opdra om onsself en die fisiese wêreld te vernuwe, moet daar tekens wees dat hierdie invloed werk. Dit sal dus normaal vir ons om te verwag dat daar tekens van vernuwing oral duidelik sal wees. Tog, as ons na die wêreld kyk, is die tekens eerder teenstrydig met die vernuwingsteologie. Daarmee saam is die Skrif dit eens dat die aarde wel “verander” sal word deur die oordele van God (2 Pet. 3:7).

4.5.4 Samevatting

Die basiese beskouing wat ons in hierdie gedeelte van die navorsing bestudeer het, is dat die Eskatologie die teologie van die transformasie van die toekoms deur ‘n aktiewe en veranderde lewe in die hede is. Die ware karakter van die Eskatologie is om te lewe vir die toekoms asof ons nie deur ons huidige omstandighede oorheers of geïntimideer word nie. Die boodskap van hierdie benadering tot die Eskatologie is die boodskap van verandering.

‘n Ware Christenhoop is dus waar die toekoms en die hede saamkom in ‘n lewe van ‘n praktiese geloof, waar die Christen sy hoop uitleef deur te werk om die ekologiese

108

wêreld te bevry van alles wat dit wil beëindig en dit te vernuwe deur ‘n proaktiewe vernuwingsteologie. Met inagneming van die studieveld waarin ons verkeer, is dit moontlik dat die Afrikanergelowige wat wanhopig en ontnugter voel, nie aktief deelneem aan die vernuwingsproses van die aarde nie. Omdat hierdie siening die geestelike werklikhede van wedergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees uitsluit, mag so ‘n benadering die Afrikanergelowige mislei om te dink dat ons hoop lê in slegs die voordele van ‘n verbeterde aarde en nie in Jesus Christus nie.

4.6 HOOP AS ‘N UITKOMS VAN PASTORALE BEDIENING