• No results found

3.3 ‘N VERSLAG VAN DIE PERSOONLIKE EN FOKUSGROEP-ONDERHOUDE WAT MET AFRIKANERGELOWIGES GEHOU IS

3.3.10 Die manier hoe gelowiges sonder hoop gehelp kan word om hoop te ontwikkel

Respondente is gevra watter maniere gebruik kan word om Afrikanergelowige te help om hoop te hê. Die volgende is wat in gesprek hieruit voortgespruit het.

Een respondent (C1) het verduidelik dat ‘n persoon deur persoonlike berading gehelp moet word om sy valse hoop te vervang met ware hoop. Volgens hom is dit ‘n baie moeilike taak om iemand wat reeds oortuig is van die hopeloosheid van die saak te laat afsien daarvan.

‘n Ander respondent (B1) het gesê dat ‘n persoon wat nie hoop het nie, by ‘n ware geloofsgemeenskap moet inskakel en die geleentheid gegun moet word om te ervaar hoe die Bybel prakties werk in mense se lewens. Mense sonder hoop het iemand nodig wat ‘n pad saam met hulle kan stap en hulle kan help om dinge uit te pluis en te probeer bepaal wat die rede is waarom hulle so voel. Hulle het nodig om kontak met objektiewe waarheid te hê.

‘n Ander respondent (D1, E1) het gesê dat ‘n gelowige met deeglike kennis van die Bybel gehelp kan word om sy geloof in God op te bou. Vir hom is daar ‘n definitiewe verband tussen hoop en geloofskennis in die Woord van God. Hy het ook ‘n voorval genoem waar hy iemand wat met groot vraagstukke sit en wat hoop verloor het, verwys het na ‘n webwerf wat daardie tipe vraagstukke uit die Bybel geantwoord het en hoe hierdie persoon se hoop weer herstel is.

56

Die een respondent (E1) het verwys na sy gesin se ervaring met heelwat vriende wat kinders aan die dood afgestaan het. Hierdie vriende van hulle het na hierdie traumatiese ervarings by ‘n plek in hulle lewe gekom waar hulle hoop begin verloor het en nie meer kans gesien het om aan te gaan met die lewe nie. Die oomblik wat hulle egter gehelp is om nie meer teen die tydelike verlies vas te kyk nie, maar te let op die Bybelse belofte van die ewige hiernamaals, het hulle weer begin hoop kry om aan te gaan met hulle lewens.

‘n Pastorale benadering is deur een respondent (C1) voorgestel, waar persone sonder hoop gelei moet word om hul swakhede raak te sien deur die oë van ‘n medegelowige wat kan simpatiseer met hulle gevoelens. Volgens hom is daar voorbeelde in die Bybel wat gebruik kan word om te illustreer hoe ‘n persoon deur tye van swakheid gehelp kan word om hoop te hê. Een Bybelse voorbeeld wat genoem is, is die lewensverhaal van Job.

Respondente (FG1, E1) het saamgestem dat ’n gelowige wat uitsien na die koms van Jesus Christus meer hoop sal hê as een wat nie eens daaraan dink nie. Sommige van hulle beskryf die Bybelse belofte van die wederkoms van Jesus Christus as “’n onvermydelike mylpaal sedert die skepping”.

Respondente (FG1) het ook gesê dat ‘n gelowige wat gereeld kerk toe gaan en werk aan ‘n persoonlike verhouding met God deur gehoorsaamheid aan die Woord van God, meer hoop sal hê as iemand wat dit nie doen nie. Persoonlike kontak met ander mense wat dink en glo soos jyself, en gebed saam met iemand anders is genoem as dinge wat sal help om hoop te herstel.

3.3.11 Samevatting

Die volgende is ‘n samevatting van die persoonlike en fokusgroep-onderhoude wat gevoer is met Afrikanergelowiges.

Die Afrikanergelowige word beskryf as ‘n unieke, etniese groepering in Suid-Afrika, wat in ‘n streng, baie beskermde en konserwatiewe Afrikanerhuis grootgeword het en

57

sterk morele en etiese waardes geleer is. Hulle is as kinders na een van die gereformeerde susterkerke toe geneem waar hulle die Ou Testamentiese Wet en Profete goed leer ken het, maar het na hulle eie bekering en wedergeboorte na ‘n onafhanklike (nie-denominasionele) kerk toe geskuif. Hulle maak ‘n sterk onderskeid tussen die tradisionele godsdienstigheid waarin hulle grootgeword het en ware wedergeboorte wat ’n persoonlike verhouding met Jesus Christus en gehoorsaamheid aan die Woord van God behels.

Die Afrikanergelowige dink nie dat hy ‘n rol het om te speel in ‘n politieke sin nie en as gevolg van sy “velkleur” voel hy uitgesluit en gemarginaliseer wat werkgeleenthede aanbetref. Hy sien egter ‘n rol vir homself in die behoud van ‘n morele en etiese standaard in die samelewing en besef daarmee saam ook dat hy dalk meer inklusief met ander kulture moet omgaan as om dit te vermag. ‘n Deel van hierdie rol is om op ‘n geestelike vlak die evangelie van Jesus Christus te verkondig aan mense wat nie gelowiges in Christus Jesus is nie. Sonder kontak met ander mensegroepe sal dit egter nie werk nie.

Wanneer dit by die term “hoop” kom, is die Afrikanergelowige verdeeld. Aan die een kant bely hy dat hoop nie in fisiese dinge gevind kan word nie en beskou hy hoop as ‘n sterk geestelike konsep wat slegs in Christus Jesus gevind kan word. Aan die ander kant weer is sy hoop onder druk as gevolg van die gebrek aan fisiese dinge, veral as dit kom by die negatiewe aspekte wat in die nuwe Suid-Afrika alledaags is en waarvan hy ontvlugting soek in ander lande. Daar word beweer dat hierdie ontvlugtingsdrang veroorsaak is deur die eertydse invloed wat die idees van Afrikaner-nasionalisme op mense se begrip van hul toekoms gehad het.

Alhoewel die Afrikanergelowige glo dat sy lewe en toekoms in die Here se hande is en dat hy uitsien na die wederkoms van die Here, leef hy asof sy lewe en toekoms in sy eie hande is. Hy voel ‘n verantwoordelikheid om die beste te doen wat hy kan om geleenthede te skep of om dié wat op sy pad kom, aan te gryp.

Die Afrikanergelowige beskryf ‘n geestelik mens as een wie se lewe deur die Heilige Gees van God beheer word en in wie se lewe die Woord aktief is deur ‘n persoonlike verhouding met God.

58

Die toekomsverwagting van die Afrikanergelowige word eerstens beïnvloed deur ‘n konstante herinnering aan die politieke geskiedenis van Afrikaner nasionalisme. Die Afrikanerkultuur word in die geheel as ‘n bedreigde, kwynende en gemarginaliseerde mensegroep gesien. Die jonger Afrikaner word as geestelik soekend beskryf, maar is tog optimisties wat geleenthede, plaaslik en wêreldwyd, aanbetref. Tweedens word die toekomsverwagting van die Afrikanergelowiges ook beïnvloed deur ‘n persepsie dat gewelddadigheid in politieke bediening, sosiale misdaad en korrupsie onder leierskap toeneem en onkeerbaar voorkom. Hierdie sentiment word verder ondersteun deur beriggewing in die media en propaganda op sosiale netwerke.

Afrikanergelowiges meen dat diegene wat hoop verloor die beste gehelp kan word deur persoonlike berading, betekenisvolle vriendskappe in lewende geloofsgemeenskappe of gemeentes en ‘n verwagting na die wederkoms van Christus Jesus.

3.4 PERSOONLIKE ONDERHOUDE MET ANDER BEDIENAARS VAN DIE WOORD WAT