• No results found

3. Die staatkundige konteks

3.8 Militêre mag

3.8.2 Vrystaatse artillerie

Buiten die burgermagte is daar ook in 1857 ’n staatsartillerie vir die republiek OVS in die lewe geroep, maar dit was aanvanklik nie ’n baie sterk mag nie.294 ’n Aantal kanonne is aangekoop en reeds deur die kommando’s in die Vrystaat-Basotho-oorlog van 1858 gebruik.295 Die fort wat in 1849 deur Warden se soldate op die hoogte van Monumentweg opgerig is, is deur die artilleriste beman en het ook as barakke vir hulle gedien.296 Toe Brand tot staatspresident verkies is, het hy stappe gedoen om die staatsartillerie, wat toe net uit sewe lede bestaan het, op ’n beter grondslag te plaas. Derhalwe is daar in 1864 deur die Volksraad besluit om ’n bedrag van £10 000 op die begroting te plaas vir ’n “rijdende artillerie” van 20 manskappe wat vir die beskerming en die veiligheid van die staat se inwoners aangewend kon word.297

Die Vrystaatse artillerie sou in Bloemfontein gevestig wees. Kapt. John Goodman, voorheen van die Britse Royal Artillery, is as bevelvoerder aangestel en in 1865 is daar manskappe vir die artillerie gewerf. Rekrute moes 16 jaar of ouer wees, fiks en ongetroud. Die manskappe was dus meestal baie jonk en dit was grotendeels boereseuns uit die platteland wat by die artillerie aangesluit het. Twee nuwe en meer moderne twaalfponder-kanonne, een Whitworth en een Armstrong, is ook in 1864 vir die artillerie aangekoop.298

Die artilleriste moes aanvanklik in uiters primitiewe toestande in die fort lewe, maar mettertyd is die geboue verbeter en die grondslag van ’n doeltreffender verdedigingstelsel gelê. ’n Groot verbetering in dié tyd was dat die voorraad kruit wat voorheen op lewensgevaarlike wyse in die fort self bewaar is, na ’n afsonderlike kruithuisie op ’n veilige afstand aan die voet van Fortheuwel verplaas is. Die artilleriste het aan die Vrystaat-Basotho-oorloë van 1865-1869 deelgeneem en die ledetal van die korps is gedurende dié tydperk verder vergroot. In 1869 het Goodman bedank en is hy deur adj. J.A.J. van Rensburg as bevelvoerder opgevolg.299

’n Nuwe era van bloei en vooruitgang het vir die artilleriekorps aangebreek toe kapt. (later maj.) F.W.R. Albrecht in November 1880 as bevelvoerder van die korps aangestel is.300 Albrecht was ’n Duitse soldaat wat aan die Frans-Pruisiese Oorlog van 1870-1871 deelgeneem het. Onder bevel van Albrecht is die artilleriekorps baie uitgebrei, gereorganiseer en volgens die Pruisiese metode opgelei en gedissiplineer. Korpsregulasies is reeds in 1876 opgestel, maar

294 J.R. Williams, “A little bit of Prussia on the veld”, Kaiserzeit 9(3), 1980, p. 16.

295 A.B. Walmsley, “Staatsartillerie van de OVS: uniform and organization”, Africana Aantekeninge en Nuus

16(4), Desember 1964, p. 143.

296

De Express, 23.12.1890, p. 3.

297 Walmsley, p. 143; Ploeger, p. 10.

298 Schoeman, Bloemfontein, p. 46; Walmsley, pp. 143, 145. 299

Walmsley, pp. 143-145; Schoeman, Bloemfontein, pp. 46, 74.

is in 1886 en weer in 1889 gewysig en aangevul.301 Albrecht het die Vrystaatse staatsartillerie tot ’n militêre mag uitgebou waarop die Vrystaat met reg trots op kon wees. ’n Reisiger wat Bloemfontein in 1891 besoek en die artillerie in aksie gesien het, was uiters beïndruk deur die korps se dissipline en doeltreffendheid. Volgens hom het die Vrystaatse artillerie baie goed met die Britse berede artillerie vergelyk.302

Die Vrystaatse artillerie het in 1871 sy eie blaasorkes van 11 lede gekry met instrumente wat uit Duitsland ingevoer is. Nadat die artillerie-orkes in 1874 onder leiding van die bekende Sam Barrattgeplaas en tot 18 lede vergroot is, het dit ’n gewilde instelling geword wat by verskillende geleenthede, soos konserte, onthale, lesings, pieknieks, huwelike en amptelike funksies opgetree het.303 Na die aanstelling van kapt. Albrecht in 1880 is die musiekkorps verder vergroot en verbeter. Beter instrumente is aangeskaf en onder leiding van kapelmeester August Grader het die artillerie-orkes in ’n knap militêre orkes ontwikkel.304 In 1890 het E.R. Landgraf as beide orkesleier en onderwyser vir die artillerie opgetree.305 In 1892 het Landgraf egter bedank en is ene mnr. Hand (voorheen orkesleier van die President Brand Rifles) as kapelmeester en J.J. Herfst as onderwyser van die Vrystaatse artilleriekorps aangestel.306

Verder is die ontoereikende militêre geboue in Bloemfontein na Albrecht se diensaanvaarding ook opgegradeer, aangesien daar teen 1880 in die ou Queen’s Fort net twee vertrekke was, waarvan een as klaskamer en die ander as eet- en slaapruimte benut is. Daar was nie eers genoeg slaapplek vir al die artilleriste nie. Die fort self is vergroot en versterk, terwyl die Volksraad £2 500 vir ’n nuwe kaserne met vyf groot slaapsale, ’n klaskamer en ’n kombuis bewillig het.307 Die kaserne is oorkant die fort in Monumentweg opgerig en in 1883 deur pres. Brand geopen. In 1888 is ’n stal vir 40 perde net suid van die fort opgerig en later is ’n nuwe kruitmagasyn op die vlakte suid van die dorp gebou, naby die nuwe gestig vir geestelik versteurdes, terwyl daar ook bergplek vir die kanonne voorsien is.308

Behalwe al die militêre oefeninge het die jong artilleriste bedags vir drie ure elementêre onderwys in vakke soos Nederlands en Engels, asook skrif, rekenkunde, opstel, Bybelgeskiedenis en geskiedenis ontvang. In 1887 is ’n seinkorps in die lewe geroep en in die

301 Williams, p. 17; Schoeman, Bloemfontein, p. 99. Vergelyk ook Swemmer, pp. 77-87. 302 The Friend, 27.11.1891, p. 3.

303

Walmsley, pp. 143-145; Schoeman, Bloemfontein, pp. 46, 74.

304

OVS Volksraadsnotule, 19.6.1889; Swemmer, p. 101.

305 Daily Express, 27.6.1890, p. 2.

306 The Friend, 3.5.1892, p. 3 en 10.5.1892, p. 3. 307

De Express, 23.12.1890, p. 3; Swemmer, pp. 95-97.

gebruik van die heliograaf309 onderrig.310 Daar is ook van tyd tot tyd krygs- en skietoefeninge op die skietplek agter die fort gehou, wat soms deur Reitz en van die Volksraadslede bygewoon is.311 Teen 1890 is die Vrystaatse artillerie vergroot tot ’n militêre eenheid bestaande uit die kaptein, ’n luitenant, ’n sersant, vier korporaals, vier bombardiers en 45 manskappe, asook 40 perde.312 In 1893-1894 het die artillerie oor ses 75mm Krupp-kanonne, vyf negeponder Armstrong-kanonne, een sesponder Whitworth-kanon en drie drieponder Whitworth- bergkanonne, asook 1 403 gewere beskik.313 In Julie 1894 het die Volksraad ’n bedrag van £800 begroot om twee Maxim-kanonne aan te koop.314

Die artilleriste het beslis nie honger gely nie. ’n Uittreksel uit die 1876-korpsregulasies gee ’n goeie idee van die voedselvoorraad wat aan die artillerie uitgereik is: “Elk officier, onder-officier en Artillerist zal ontvangen: 1¼lb. vleesch, 1lb. brood, dagelijks; en per week, ½lb. koffij, 1lb. suiker, 1 lb. rijst, ½ bottel azijn en ½lb. gort, wordende zout, peper, hout en groenten voor officieren en manschappen overigens gezamentlijk aangekocht, zullende de aangekochte groenten en andere voedingsmaterialen hierin niet gespecificeerd gelijkelijk worden verdeeld en niet meer kunne bedragen dan £2 sterling per week voor het geheele Corps.”315 In Februarie 1890 het die artilleriste gekla dat hulle voedsel nie goed voorberei word nie en oneetbaar is, maar dit is deur kapt. Albrecht ontken, waarna die president persoonlik na die kaserne is om die probleem op te los.316

Die uniforms van die Vrystaatse artillerie het van tyd tot tyd verander. In 1880 het die artillerie nuwe uniforms gekry, op die uniforms van die Britse koninklike veldartillerie geskoei.317 In 1885 het die groottenue of parade-uniform van offisiere uit ’n blou tuniek en broek bestaan, versier met goue koord, asook ’n blou helmet in Britse styl met ’n brons wapen en bykomstighede. Die groottenue van die manskappe was dieselfde as dié van die offisiere, maar is met oranje koord versier. Die kleintenue of velduniform van offisiere is van blou sersje gemaak en met swart koord afgewerk, terwyl ’n Britse pet van blou materiaal versier met goue koord gedra is. Die velduniform van die manskappe daarenteen is van bruin Bedford-

309 Die gebruik van die heliograaf sou ’n belangrike rol in die Anglo-Boereoorlog speel. 310

Walmsley, p. 144; Swemmer, pp. 98-100.

311 VAB, GS183: kapt. Albrecht – pres. Reitz, 21.5.1889; Daily Express, 13.6.1890, p. 2.

312 De Express, 13.12.1890, p. 3; F.W.R. Albrecht, Rapport van den kaptein der artillerie, 1892-1893, p. 3. 313 Vrijstaatsch jaarboek en almanak 1894, p. 145; F.W.R. Albrecht, Rapport van den kaptein der artillerie,

1892-1893, p. 3; The Friend, 11.5.1894, p. 2.

314

The Friend, 10.7.1894, p. 2.

315 Ordonnantie no. 3, 1876. Ordonnantie, Regulatien voor het Oranjevrijstaatsch Artillerie Corps, soos aangehaal

deur Swemmer, p. 189. Een pond gewig (1lb.) = 450g.

316

VAB, GS186: rapport van dr. J.W. Krause (distriksgeneesheer) – goewermentsekr., 5.2.1890.

koordfluweel gemaak en met swart koord versier.318 In 1889 het die artilleriste ook ’n wit uniform gedra, maar omdat dit nooit baie gewild was nie, is dit later afgeskaf.319

Terwyl kapt. Albrecht die artilleriekorps op Pruisiese grondslag georganiseer het, is daar ook geleidelik van die Britse tipe uniform na die Pruisiese uniform oorgeskakel en teen 1895 het die artilleriste ’n volledige Duitse uniform gedra – soortgelyk aan die uniforms van die Duitse artillerie uit dieselfde tydperk.320 Tot met die Anglo-Boereoorlog het artilleriste en offisiere ’n Pruisiese leerhelm by ’n blou uniform met oranje koordversiering gedra. As deel van die velduniform het die Vrystaatse artilleriste wit lyfbande skuins oor die bors en om die middel gedra. Hulle was verder met ’n hoë stafpet, asook ’n ligte

diensuitrusting met ’n slaprand-hoed toegerus.321 Offisiere se tuniek is met goue koord versier. Die helmplaat het uit ’n agtpuntige ster met die Vrystaatse wapen in die middel bestaan. Die helm van die parade-uniform is van ’n ligte oranje, slap verebos aan die helmknop voorsien322 (kyk figuur 4).

Die aanstelling van kapt. Albrecht in 1880 en die reorganisasie van die artilleriekorps het ’n vêrreikende invloed op die verdedigingstelsel van die Vrystaat gehad en uiteindelik ’n groot verbetering op militêre gebied meegebring. Nogtans was die Vrystaatse Staatsartillerie nie werklik ’n sterk militêre eenheid nie, aangesien die artillerie en burgermagte net vir verdedigingsdoeleindes gebruik is en nie bedoel was vir aggressie-doeleindes, soos die uitbreiding van die republiek se grense nie.323 Selfs in 1895 het die artillerie nog net uit 48 lede bestaan – die kaptein, ’n luitenant, sersant-majoor, sersant, twee bombardiers, ’n onderoffisier

318 Swemmer, p. 101; Walmsley, pp. 147-150. 319 OVS Volksraadsnotule, 19.6.1889.

320 Vir meer besonderhede oor die uniform van die Vrystaatse artillerie, raadpleeg A.B. Walmsley, “Staats

Artillerie van die OVS: uniform and organization”, Africana Aantekeninge en Nuus 16(4), Desember 1964, pp. 143-156.

321 VAB, A534: J.R. Williams – Crown Imperial, Desember 1981, p. 4; Swemmer, p. 102.

322 J.R. Williams, “Orange Free State Artillery Corps, circa 1895”, Dispatch no. 95, Lente 1981, p. 10; J.R.

Williams, “A little bit of Prussia on the veld”, Kaiserzeit 9(3), 1980, p. 17.

323 Swemmer, p. 128.

Figuur 4: Die parade-uniform van die Vrystaatse artillerie in 1895 (Uit: A.B. Walmsley, “Staatsartillerie van de OVS: uniform and organization”, Africana

Aantekeninge en Nuus 16(4), Desember

en 41 manskappe, asook 38 perde.324 Eers met die Jameson-inval in die ZAR in Desember 1895 en die gepaardgaande bedreiging wat dit vir die OVS se toekomstige onafhanklikheid ingehou het, sou daar hierin ’n verandering kom.325