• No results found

3. Die staatkundige konteks

3.5 Polisiediens

3.5.1 Staats- en munisipale polisie

Die regering van die Oranjerivier-soewereiniteit het nie ’n groot polisiemag in stand gehou nie. Die Britse regering in die gebied het grootliks op hulle militêre mag gesteun om die rus en orde te handhaaf.206 Daar is wel in die 1850’s naby die fort in St. Georgestraat ’n klein gevangenis opgerig en twee konstabels in diens geneem. In die tyd van die Soewereiniteit moes gevaarlike gevangenes deur ’n afdeling soldate bewaak word.207 Na die onttrekking van die Britse mag en

204

Schoeman, Bloemfontein, p. 96; Macmillan, p. 7.

205 Macmillan, p. 7; Schoeman, Bloemfontein, pp. 96-97.

206 A.P.J. van Rensburg, Die rol deur landdroste, vrederegters en veldkornette in die distrik van Bloemfontein

vanaf 1854-1880 gespeel (M.A.-verhandeling, Universiteit van die Oranje-Vrystaat, 1952), p. 196.

die totstandkoming van die republiek OVS in 1854, moes die Boere terugval op ’n vorm van regspleging en was die stigting van ’n polisie- en militêre mag noodsaaklik vir die handhawing van wet en orde in die jong republiek. Veral in die hoofstad was ’n polisiemag weens toenemende misdaad broodnodig.208

Die landdros van Bloemfontein kon reeds in 1856 die direkteur van polisie en polisielede aanstel. Hoewel Bloemfontein reeds voor 1861 blykbaar ’n aantal konstabels gehad het, is daar eers in 1861 regulasies vir die Bloemfonteinse polisie uitgevaardig.209 O’Connor beweer dat ene W.G. Every in 1862 die kommandant van polisie was.210 Die 1861-regulasies het bepaal dat die polisiemag uit ’n superintendent en 15 konstabels of manskappe sou bestaan. Blykbaar was die konstabels swart of bruin mense en die superintendent wit. Drie polisiemanne moes bedags die dorp patrolleer en drie was by die Goewermentskantoor aan diens. Drie ander het nagdiens gedoen, terwyl twee elke Sondag veiligheid by die kerk moes handhaaf. Die swart konstabel Hartzeer, wat 32 jaar lank diens gedoen het, het ’n bekende figuur in Bloemfontein geword.211 In 1862 is daar verbeterings aan die tronk in St. Georgestraat aangebring en teen die einde van 1880 is tenders vir die bou van ’n muur om die tronk gevra.212 Eers in 1895 is ’n nuwe gevangenis aan die Dewetsdorppad opgerig.213

Die polisiemag in Bloemfontein was nooit baie groot nie en vroeg in 1889 was daar reeds klagtes dat die polisiemag onder hoofkonstabel (later sersant) W.H. Hawley ontoereikend was om die hoofstad se inwoners te beskerm, veral omdat daar toe baie boemelaars in die dorp rondgeloop het. The Friend was van mening dat ekstra polisiemanne dringend benodig word en met die inhuldiging van pres. Reitz op 10 Januarie 1889 is daar selfs van Bloemfontein se inwoners as spesiale polisiemanne vir dié dag aangestel, maar hulle het klaaglik misluk omdat hulle nie orde kon handhaaf nie.214

Hawley skryf in Julie 1889 aan die landdros van Bloemfontein dat die Volksraad in die begroting van 1889/90 slegs voorsiening gemaak het vir twee wit konstabels vir Bloemfontein – een vir bedags en een vir snags.215 N.P.C. Raaff (1846-1929), die balju van Bloemfontein, bevestig die probleem. Hy skryf in September 1889 aan die landdros dat daar in die 1889/90- begroting voorsiening gemaak is vir ’n staatspolisiemag vir Bloemfontein bestaande uit een

208 Groenewald en Herholdt, p. 313.

209 Van Rensburg, pp. 226-227; Schoeman, Bloemfontein, p. 37. 210 O’Connor, p. 10.

211

D.A. van der Bank, “Polisiemagte van die Vrystaatse republiek 1854-1900”, Navorsinge van die Nasionale

Museum, Bloemfontein 20(2), April 2004, pp. 24-25; Schoeman, Bloemfontein, p. 37.

212 Groenewald en Herholdt, p. 315. 213 Schoeman, Bloemfontein, p. 115. 214

The Friend, 16.1.1889, p. 6 en 10.4.1889, p. 6.

sersant, twee wit konstabels en 13 swart konstabels. Bogenoemde polisiemanne is soos volg aangewend: bedags moes een konstabel by die tronk waghou en snags twee. Konstabel Hartzeer moes bedags by die landdroskantoor diens doen en drie konstabels moes toesig hou oor die bandiete wat besig was om in die dorp te werk. Bedags was sersant Hawley aan diens by die polisiekantoor en was daar dus slegs een wit en twee swart konstabels om die strate te patrolleer. Hierdie drie konstabels moes ook beskuldigdes tydens hofsake bewaak, wat tot gevolg gehad het dat daar tydens hofsittings soms geen polisieman op straat diens gedoen het nie. Snags moes een wit en drie swart konstabels vir die inwoners en hul besittings se veiligheid sorg. Met die bouwerk aan die spoorlyn het die misdaad in Bloemfontein baie toegeneem en Raaff het versoek dat die polisiemag dringend met vier wit en sewe swart konstabels vergroot moes word.216

In 1890 het inwoners van Bloemfontein weer in die pers oor die ontoereikende polisiemag gekla, veral nadat daar met die konstruksie van die spoorlyn begin is en al hoe meer spoorwegwerkers na Bloemfontein gekom en in die dorp vir kos begin bedel het. Bloemfontein se bevolking en misdaad het heelwat toegeneem en die polisiemag het vanselfsprekend meer werk gehad. Daar is ook gevra vir beter salarisse vir die Bloemfonteinse polisie, aangesien hulle uiters swak betaal is.217

Die Bloemfonteinse polisie en tronkbewaarders het ook nie altyd hulle werk na behore gedoen nie en dikwels het van die gevangenes ontsnap. Daarby het die sersant van die polisie en die sipier van die gevangenis nie altyd saamgestem oor hoe die beskikbare arbeidsmag verdeel moes word nie. Verder was die lede van die polisiemag weens karige salarisse nie altyd die beste mensemateriaal nie.218 Daar was dikwels gevaarlike of langtermyn-misdadigers in Bloemfontein se tronke soos die McKeone-broers wat kort-kort gevang is en dan weer ontsnap het. In Oktober 1890 het McKeone II byvoorbeeld ontsnap terwyl hy in voetboeie buite onder toesig gewerk het. Hierna is twee swart konstabels en die sipier van die tronk ontslaan, aangesien daar vermoed is dat hulle aan die misdadiger hulp verleen het.219

In 1890 en 1891 was daar weer klagtes dat die polisiemag te klein en ondoeltreffend was. Volgens die 1890/91-begroting het die Volksraad vir een sersant, twee wit konstabels en tien swart konstabels vir Bloemfontein begroot. Bykomend is daar voorsiening gemaak vir konstabel Hartzeer, wat hoofsaaklik as tolk by die landdroshof aangewend is en twee nagwagte

216

VAB, GS185: N.P.C. Raaff – landdros, Bloemfontein, September 1889.

217

VAB, GS187: memorie over salaris van Sergeant Hawley, Bloemfontein Police, Mei 1890; GS188: sersant Hawley – landdros S.P. de Beer, 28.7.1890; The Daily News, 11.1.1890, p. 3; The Friend, 2.9.1890, p. 3.

218 VAB, GS191: sipier – goewermentsekr., 10.5.1891 en balju Raaff – landdros van Bloemfontein, 12.5.1891;

The Daily Express, 4.10.1890, p. 2.

by die tronk. Soggens moes die sersant en drie polisiemanne die beskuldigdes na die landdroskantoor vergesel en daar bewaak, sodat die polisiekantoor gesluit moes word totdat die hofsittings verby was.220 Die polisiekantoor was in Maitlandstraat geleë, aan die agterkant van die poskantoor aan Markplein.221

Bloemfontein se stadsraad het op hulle koste addisioneel ’n sersant aangestel, wat ook as straatopsigter en dorpsopsigter diens gedoen het, sowel as twee swart polisiemanne, wat ook as verkeerspolisie gedien het en moes toesien dat munisipale regulasies nagekom word.222 In 1891 en 1892 was daar klagtes dat die munisipale polisie ’n skande vir die hoofstad is omdat hulle klere flenters is en hulle nie hul pligte na behore nagekom het nie. Die munisipale polisiemanne is ook baie min betaal, wat verhinder het dat bekwame mense aangestel kon word. Hoewel daar nie ongewoon baie misdaad in Bloemfontein was nie, kon dit volgens The

Friend eerder toegeskryf word aan die wetsgehoorsaamheid van Bloemfontein se inwoners

eerder as aan doeltreffende polisiëring.223

Al hierdie klagtes van die inwoners het nie op dowe ore geval nie, want reeds in Junie en Julie 1891 is berig dat die Volksraad in die begroting voorsiening gemaak het vir die vergroting van die polisiemag en dat daar nou bedags en snags ses konstabels die dorp gepatrolleer het.224 Die wit polisiemanne se uniforms het bestaan uit baadjies van blou serge met koordwerk, swart broeke van koordstof, swart helms en stewels, terwyl die swart konstabels uniforms bestaande uit baadjies en broeke van swart koordfluweel gedra het, met swart pette en stewels.225

In 1894 was daar groot verbeteringe in die polisiediens – ’n bekwame kommissaris van polisie is aangestel, die polisiemag is heelwat vergroot, meer doeltreffend aangewend en beter georganiseer. Verder is die staatspolisie en munisipale polisie albei onder beheer van komm. J.A.E. Markus geplaas. Tog is die polisie steeds swak besoldig.226

220 VAB, MBL3/1/2:Verslag van den burgemeester, 1890, p. 7; The Friend, 9.1.1891, p. 2 en 10.2.1891, p. 3. 221 Schoeman, Bloemfontein, p. 121. 222 The Friend, 9.1.1891, p. 2. 223 Ibid., 9.1.1891, p. 2, 9.6.1891, p. 2 en 12.8.1892, p. 3. 224 Ibid., 12.6.1891, p. 2 en 10.7.1891, p. 2. 225 Ibid., 5.1.1894, p. 2. 226 Ibid., 19.1.1894, pp. 2-4, 23.1.1894, p. 3, 21.6.1895, p. 2 en 3.9.1895, p. 3.

3.5.2 “Rijdende Dienstmacht”

227

Aanvanklik het ’n onderafdeling van die Vrystaatse staatsartillerie, bekend as die Berede Diensmag, in die Vrystaatse distrikte en op die grense van die republiek diens gedoen. Omdat die artilleriste te min was om gelyktydig in Bloemfontein en die Vrystaatse distrikte diens te doen, is daar tydens die Volksraadsitting van Mei 1889 besluit om ’n afsonderlike berede polisiemag, die sogenaamde “Vrijstaatsche Rijdende Dienst Macht”, onder bevel van kapt. F.W.R. Albrecht (1848-1926), kommandant van die Vrystaatse artillerie, in die lewe te roep. Ofskoon dié mag hoofsaaklik polisiëring gedoen het, het dit tog ’n sterk militêre karakter gehad.228 Volgens ordonnansie no. 16 van 1889 het die berede diensmag aanvanklik slegs uit 20 wit mans bestaan en ofskoon hulle oor die hele Vrystaat ontplooi kon word, sou hul hoofkwartier Bloemfontein wees. Hulle taak was om smokkelhandel en onreëlmatighede teë te gaan, diefstalle te voorkom, orde te handhaaf en die vrede te bewaar, ook op die grense van die staat. Die berede polisiemag het dikwels ook swart mense sonder passe aangekeer.229

Volgens tenders wat in Oktober 1892 aangevra is, het die berede polisiemanne uniforms gedra wat bestaan het uit baadjies en rybroeke van swart koordfluweel, swart rystewels en swart vilthoede met oranjekleurige bande. Op elke baadjie is twee Vrystaatse wapens van brons aangebring.230

Die Rijdende Dienstmacht was só doeltreffend dat daar in 1890 besluit is om dit te vergroot. Die aanlê van spoorlyne en die arbeidsvraagstuk het ook ’n groter diensmag genoodsaak. Aangesien artilleriste uiteraard oor militêre ondervinding beskik het, is heelwat manskappe wat voorheen in diens van die artilleriekorps was, in die Dienstmacht opgeneem.231 Teen 1894 het die berede polisiemag reeds uit 87 lede bestaan, waarvan ses in Bloemfontein gestasioneer was.232 Die berede polisiemag het dus die staats- en munisipale polisie aangevul en hulle in die uitvoering van hul pligte gehelp. Hulle was deurgaans suksesvol en het onskatbare dienste vir die republiek gelewer. In Julie 1896 is die Dienstmacht onder die bevel van komm. Markus van die polisie geplaas en het dit meer van ’n “polisie-karakter” aangeneem.233

227 In Engels as die Mounted Police bekend.

228 T.P.E. Swemmer, Die geskiedenis van die Vrystaatse artillerie (M.A.-verhandeling, Universiteit van die

Oranje-Vrystaat, 1953), pp. 110-119.

229

Gouvernements Courant, 21.6.1889, p. 2; The Friend, 19.6.1889, p. 3, 3.7.1889, p. 3 en 9.9.1892, p. 2.

230 The Friend, 9.4.1895, p. 2.

231 Swemmer, pp. 120-122; Van der Bank, p. 35. 232

Vrijstaatsch jaarboek en almanak 1894, p. 145; Van der Bank, p. 34.