• No results found

3. Die verskillende kultuurgroepe

3.1 Blankes

3.1.3 Engelssprekendes

Soos in hoofstuk 1 genoem, is Bloemfontein in 1846 as Engelse militêre nedersetting deur die Britse resident in die Transoranje, maj. H.D. Warden, gestig. Die Engelssprekendes was dus verantwoordelik vir die stigting van die latere Vrystaatse hoofstad en dit het tot die totstandkoming van die eerste werklike Engelse gemeenskap in die gebied noord van die Oranjerivier gelei.98

Met die besetting van die Transoranje deur Brittanje en die totstandkoming van die Oranjerivier-Soewereiniteit in Februarie 1848, het al hoe meer Engelssprekendes hulle in die gebied gevestig, hoofsaaklik as handelaars. Anders as die Afrikanerboere, het die Engelssprekendes hulle hoofsaaklik in dorpe gevestig en in 1848, toe daar reeds meer as 30 gesinne in Bloemfontein gewoon het, was die oorgrote meerderheid hiervan Engelssprekend. Die Engelssprekendes het dus reeds sedert die stigting van Bloemfontein ’n belangrike rol in die geskiedenis van die Vrystaatse hoofstad gespeel en voor die totstandkoming van die Boererepubliek in 1854 was Bloemfontein die hoofkwartier van die Britse militêre en burgerlike administrasie noord van die Oranjerivier.99 Die eerste predikant noord van die Oranjerivier was ds. Andrew Murray junior (1828-1917), seun van die bekende Skotse predikant van Graaff-Reinet. In Mei 1849 het hy hom in Bloemfontein gevestig, met verantwoordelikheid vir die hele Transoranje.100

Vanweë die getalle-oorwig van die Engelssprekendes het Bloemfontein, selfs in die republikeinse tydperk, ’n sterk Engelse karakter gehad. Omdat Afrikaners nie tradisioneel dorpsmense was nie, het meer Afrikaners op Vrystaatse plase gewoon as in die dorpe, sodat Bloemfontein se Engelse karakter behou en selfs versterk is met die totstandkoming van Engelse kerke en skole en in die besonder met die koms van die Engelse biskop en sy gevolg. Selfs met die eerste Vrystaatse sensus van Mei 1880 was Bloemfontein steeds ’n oorwegend Engelse gemeenskap. Geleidelik het die Engelssprekendes Bloemfontein as hulle tuiste aanvaar en het hul verbondenheid aan Brittanje verminder. Teen die 1890’s was daar reeds baie Engelssprekendes wat geen ander vaderland as die Vrystaat geken het nie en mettertyd het daar onder die Engelse inwoners van Bloemfontein ’n besondere liefde vir en lojaliteit teenoor die republiek ontwikkel. Ofskoon die Engelssprekendes in Bloemfontein hul eie taal, kultuur en tradisies gehandhaaf het, was die meeste Engelssprekendes wat hulle voor 1890 in

98 J. Haasbroek, “Die rol van die Engelse gemeenskap in die Oranje-Vrystaat 1848-1859”, Memoirs van die

Nasionale Museum 15, Desember 1980, p. 2.

99

G.B.A. Gerdener, Ons kerk in die Transgariep, pp. 162-163; Haasbroek, “Die rol van die Engelse”, pp. 3, 5.

Bloemfontein gevestig het, ook in ’n mate Afrikaans-Nederlands magtig, aangesien dit onontbeerlik was om vir handelsdoeleindes met die Boere Afrikaans te kon praat.101

Na 1890, met die koms van die spoorweg na Bloemfontein, het die Vrystaat geleidelik begin verstedelik en het al hoe meer mense van ander kultuurgroepe hulle in Bloemfontein gevestig, veral swart mense en Afrikaners op soek na werksgeleenthede. In 1890 is die Engelse element in Bloemfontein verder versterk deur die koms van die Engelssprekende werknemers van die Engelstalige Kaapse spoorweë, wat met die bou van die spoorlyn en spoorwegwerke belas was. Die spoorweë was ’n groot bedryf en het aan meer as 200 mans, swart en wit, werk verskaf. Vir die blanke werknemers is ’n nuwe woonbuurt aan die oostekant van Bloemfontein uitgelê, die sogenaamde Spoorwegkamp102 met sy sinkskakelhuisies. Vir die Engelse spoorwegwerkers het die Anglikaanse Kerk die St. Margaret-kapel en -spoorwegskool in Langstraat gestig, terwyl die Katolieke Kerk vir hulle die St. Josef-skool in Oranjestraat opgerig het.103

Die Engelssprekendes het persone afkomstig van Ierland, Wallis en Skotland ingesluit.104 Die tydgenootlike koerante dui aan hoe volop Britse vanne in die Bloemfontein van die 1890’s was, byvoorbeeld Alcock, Antill, Armstrong, Atherstone, Attwell, Austin, Bain, Ball, Bannister, Barlow, Barrett, Beard, Bevan, Bell, Blackadder, Blake, Boswell, Bramley, Brebner, Bridger, Brounger, Brown, Cameron, Carley, Champion, Coleman, Collins, Corbitt, Crawford, Creighton, Crisp, Croghan, Cunningham, Davis, Delahunt, Dominy, Drinkwater, Edwards, Elliott, Ensor, Fawssett, Fraser, Gibbs, Gill, Gladwell, Glenn, Goddard, Godley, Goodale, Grimsley, Hall, Hamilton, Harker, Harvey, Hawthorne, Hepburn, Howard, Higgs, Hutchins, Hudgson, Hurford, Innes, Irons, Kaine, Keast, Kelly, King, Maclagan, McCann, McHardy, McIntosh, Peacock, Mauchline, Maurice, McGregor, Mellet, Moorshead, Morgan, Mowbray, Mulligan, Northcroft, Norton, Oldfield, Palmer, Peeters, Phillips, Poultney, Pryce, Rapson, Reeler, Reid, Richardson, Robertson, Rose, Ross, Scott, Screech, Shaw, Silversides, Simmons, Skirving, Smith, Sowden, Steele, Stephenson, Stock, Stockdale, Tucker, Vernon, Wiley, Williams, Wilson, Wood en Woodward.105

101 VAB, A75/2: Aantekeninge oor Bloemfontein se inwoners deur regter Melius de Villiers; Schoeman,

Bloemfontein, pp. 89-91.

102 Die latere woonbuurt Hilton. 103 Schoeman, Bloemfontein, p. 113.

104 G. Baumann, “Recollections. Personal reminiscences of the Orange Free State. Village of Bloemfontein”, The

Friend, 10.11.1911, p. 4; Rose’s Buzz and Bubbler 32, Oktober 2008, p. 4.

105

Vergelyk onder meer The Friend, 10.7.1891, p. 2, 22.9.1891, p. 1, 1.4.1892, p. 3, 3.1.1893, p. 3, 12.6.1894, p. 2, 24.5.1895, p. 2, 5.7.1895, p. 2, 6.8.1895, p. 2 en 22.11.1895, p. 2; Daily News, 17.1.1890, p. 3, 13.3.1890, p. 3, 11.12.1891, pp. 1-3 en 18.3.1892, p. 1; De Express, 17.6.1890, p. 4 en 19.8.1890, p. 4; Daily Express, 4.8.1890, p. 2, 15.8.1890, p. 2, 30.10.1890, p. 3, 29.11.1890, p. 3 en 23.12.1890, p. 2; De Burger, 30.1.1895, p. 2.

Een van die bekendste Engelse skrywers, J.R.R. Tolkien106 (1892-1973), is op 3 Januarie 1892 in Bloemfontein gebore, waar sy vader, Arthur Tolkien, die bestuurder van die Bank van Afrika was. Vier jaar later is Arthur aan ingewandskoors dood en het die jong J.R.R. saam met sy moeder en jongste broer na Engeland teruggekeer.107

Die Engelssprekendes het ’n groot aandeel in die ontwikkeling van die Vrystaat en veral sy hoofstad gehad. Hulle het ’n meer gevestigde en vooruitstrewende lewenswyse na die jong republiek gebring en het ’n groot aandeel gehad aan die bevordering van die handel en ekonomie, die uitvoer van wol en meer geld wat in eiendom, geboue, besighede en aandele belê is.108 Aangesien die Engelssprekendes tot ’n meer politiek-bewuste volk behoort en ’n breër opvoeding as die deursnee Hollands-Afrikaanssprekende geniet het, het hulle ook ’n aktiewe rol in die politiek van die Vrystaat gespeel en dus ’n belangrike politieke invloed in die republiek en veral sy hoofstad uitgeoefen.109

Verskeie Engelssprekende inwoners van Bloemfontein was belangrike rolspelers in die 1890’s. Een van die bekendstes was die Skot dr. John Brebner (1833-1902), wat in 1874 as die eerste inspekteur van onderwys aangestel is en ’n reuse-invloed op onderwys in die OVS en veral in Bloemfontein gehad het.110 Brebner word beskou as die grondlegger van die Vrystaatse onderwysstelsel omdat hy, ten spyte van moeilike omstandighede, ’n onderwysstelsel tot stand gebring het wat uitstekend aan die besondere behoeftes van die ontwikkelende jong republiek voldoen het.111 Brebnerweg in die woonbuurt Westdene, sowel as Brebner-skool, is na hom vernoem.

Die Skotse sakeman Robert Innes (?-1896) het in 1880 die eerste burgemeester van Bloemfontein geword nadat die Vrystaatse hoofstad volle munisipale status gekry het.112 Die bekende Inneslaan in Waverley is na hom vernoem. Nog ’n Engelssprekende, J.G. Fraser (1840-1927), die seun van ’n bekende Skotse predikant in Beaufort-Wes, het in 1871 na Bloemfontein gekom en verskeie regeringsampte beklee voordat hy sy eie regspraktyk begin het en tot Volksraadslid en later tot voorsitter van die Vrystaatse Volksraad verkies is. 113

106 Die skrywer van onder meer The hobbit en The lord of the rings. 107

The Friend, 5.1.1892, p. 1; “J.R.R. Tolkien: a biographical sketch”, <http://www.tolkiensociety.org/tolkien/ biography.html>, geraadpleeg 31.11.2010.

108 J.G. Fraser, Episodes in my life, pp. 173, 420; K. Schoeman, Voorwoord, in Bidwell (Preface).

109 M.C.E. van Schoor, Die nasionale en politieke bewuswording van die Afrikaner in migrasie en sy ontluiking in

die Transgariep tot 1854, p. 137.

110

Moll, pp. 193-194.

111 Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek 1, p. 121.

112 “Bloemfontein – history”, <http://www. africatravelling.net/south_africa/bloemfontein/bloemfontein_history.

htm>, geraadpleeg, 3.12.2010.

Op mediese gebied was dit nie net die Duitsers wat geneeshere vir Bloemfontein opgelewer het nie. Ook Engelssprekende geneeshere, soos drr. W.R. Scott, C.H. Bidwell, A.E.W. Ramsbottom en S.R. Savage, het in die 1890’s Bloemfontein hulle tuiste gemaak.114

Op kerklike en godsdienstige gebied het die Engelssprekendes van Bloemfontein gedurende die Reitz-tydperk eweneens ’n groot en belangrike rol gespeel. Enkele voorbeelde wat hier genoem kan word, is onder meer eerw. James Scott (1835-1911) van die Wesleyaanse Metodiste Kerk, ds. C.S. Morgan en die reeds genoemde ds. Andrew Murray (jr.) van die NG Kerk, eerwaarde D.G. Croghan, aartsdeken W. Crisp (1842-1910), biskoppe G.W.H. Knight- Bruce (1852-1896) en J.W. Hicks (1840-1899), kanunnike W.H.R. Bevan (1840-1919) en W.A. Holbech (1850-1930) van die Anglikaanse Kerk. Sommige van voorgenoemde geestelikes het ook ’n belangrike rol in die openbare lewe en ontwikkeling van Bloemfontein gespeel, soos biskop A.B. Webb (1839-1907) wat ’n aandeel in die stigting van die Nasionale Museum, die Cottage-hospitaal en die St. Andrew- en St. Michael- skool gehad het.115

In die 19de eeu was buitelandse argitekte in groot aanvraag in Suid-Afrika omdat daar in hierdie tyd nie plaaslik opgeleide argitekte was nie. Die Britse argitekte het ’n belangrike rol in die Vrystaatse boukuns116 gespeel. Een van die begaafste buitelandse argitekte was Francis Lennox Canning (1856-1895), wat in Londen gebore en opgelei is, maar later na Suid-Afrika gekom het en in vennootskap met Frederick Goad die argiteksfirma Canning & Goad in Queenstown gestig het. Hy was onder meer verantwoordelik vir die ontwerp van beide die Derde Presidensie117 (1886) en die Vierde Raadsaal118 (1893) in Bloemfontein, wat albei hoogtepunte van die republikeinse boukuns in die Vrystaat is. Tydens die werk aan die Presidensie het Canning hom tydelik in Bloemfontein gevestig om oor die bouwerk toesig te hou, waarna hy in 1886 na die pas gestigte Johannesburg verhuis het waar hy ook etlike geboue ontwerp het.119

Nog ’n buitelandse argitek was W.H. Stucke (1865-1931) wat in Engeland gebore is. Hy het in 1889 na Johannesburg geïmmigreer en in 1890 na Bloemfontein verhuis. Die eerste

114

The Friend, 9.8.1895, p. 2; J. Haasbroek, “A.E.W. Ramsbottom, eerste administrateur van die Oranje-Vrystaat 1910-1915”, Navorsinge van die Nasionale Museum, Bloemfontein 8(2), Maart 1992, pp. 79, 135.

115 W. Crisp, Some account of the Diocese of Bloemfontein, in the Province of South Africa, from 1863 to 1894,

pp. 31, 41, 45, 83, 97, 107, 112, 114; Schoeman, Bloemfontein, pp. 77-78, 81, 86, 88, 94, 103, 134-135, 141.

116

Bloemfontein se argitektuur gedurende die Reitz-tydperk word in hoofstuk 4 in meer besonderhede bespreek.

117 Dit is vandag die Museum Ou Presidensie in Pres. Brandstraat. Hoewel die Derde Presidensie as die “Ou

Presidensie” bekend staan, was daar in der waarheid agtereenvolgens drie presidentswonings op dieselfde terrein. Die eerste twee presidentswonings is gesloop om vir Canning se Presidensie plek te maak. Vir meer besonderhede, raadpleeg S.M. Botes, Van Residensie tot Presidensie: ’n kultuurhistoriese studie van

ampswonings in Bloemfontein, 1846-1900.

118 Daar was agtereenvolgens vier raadsale op verskillende terreine in Bloemfontein wat vir die vergaderings van

die Vrystaatse Volksraad gebruik is. Canning se ontwerp, wat in Pres. Brandstraat opgerig is, was die vierde en laaste raadsaal van die republiek Oranje-Vrystaat.

gebou wat hy in die Vrystaatse hoofstad ontwerp het, was die nuwe Bloemfontein-klubgebou by Markplein in 1892. In 1893 het hy die kantoorgebou van die Mutual-maatskappy ontwerp, wat die eerste drieverdieping-gebou in Bloemfontein was. In 1895 het nog ’n Britse argitek, J.E. Harrison (1870-1945), by hom aangesluit. ’n Paar jaar later het Stucke na Johannesburg teruggekeer.120 As vennoot van die argiteksfirma Stucke & Harrison het Stucke ook ’n aandeel in die ontwerp van verskeie ander geboue in Bloemfontein gehad, waarvan die bekendstes die ou Grey-kollege121 in Douglasstraat, die vergroting van G.A. Fichardt se woonhuis Kaya Lami in Bo-Kerkstraat en Moritz Leviseur se woonhuis Halevy122 was.123

Stucke se vennoot in Bloemfontein, Harrison, het hom weens gesondheidsredes vroeg in 1895 in die Vrystaatse hoofstad gevestig. Harrison het onder meer die Fichardt-biblioteek, die Lennons-apteek, die kragsentrale en eerste Joodse sinagoge, sowel as ’n aantal huise in Bloemfontein ontwerp, terwyl hy ook planne vir ’n aantal geboue op die Vrystaatse platteland geteken het. Verder het hy ook in Bloemfonteinse komitees gedien en was hy tot 1906 een van die assessors wat vir die waardasie van geboue in die Vrystaatse hoofstad verantwoordelik was.124 Sy eie woonhuis, Freshford125 in Kellnerstraat 31, wat hy self ontwerp het, staan vandag nog in Bloemfontein. Harrison sou sy vernaamste werk in Bloemfontein na die Anglo- Boereoorlog tydens die Vrystaat se koloniale tydperk lewer en was onder meer verantwoordelik vir die ontwerp van die Imperial-, Grand- en Russel-hotel, die Fichardt Chambers in Maitlandstraat, asook die Eksekuteurskamer in Maitlandstraat. Laasgenoemde geboue is almal gesloop.126

Heelwat Engelssprekendes was in die 1890’s ook in ander afdelings van die boubedryf betrokke. J.C. Tully (1855-1929) was werksaam as toesighouer oor die oprigting van verskeie Bloemfonteinse geboue, waaronder die Vierde Raadsaal, die nuwe gevangenis langs die Dewetsdorppad, die Melaatse-hospitaal en die “Upper House” by die Damesinstituut Eunice.127 Bouaannemers T.W. Robertson en J.J. Kirkness was betrokke by die bou van die Vierde Raadsaal, terwyl H. Heath vir die oprigting van die Spoorwegburo verantwoordelik was. Die

120 Ibid., p. 105. 121

Later die Bloemfontein Tegniese Kollege en vandag die Motheo-kollege.

122 Sedertdien vergroot en verander en is vandag die Halevy House Heritage Hotel. 123 Schoeman, Vrystaatse erfenis, p. 105.

124 M. Briedenhann en J. Haasbroek, “J.E. Harrison, argitek en eerste bewoner van Freshford en sy gesin se lewe

in Bloemfontein (1895-1902)”, Navorsinge van die Nasionale Museum, Bloemfontein 9(7), Augustus 1993, pp. 217-220.

125 Die huis is vernoem na Harrison se geboorteplek, die dorpie Freshford, naby Bath in Engeland. Freshford, wat

in 1897 voltooi is, is in die 1980’s deur die Nasionale Museum gerestoureer en in 1986 as die Freshford- huismuseum vir die publiek oopgestel.

126 Schoeman, Vrystaatse erfenis, pp. 105-107.

127 “Tully, John Collingwood”, <http://www.artefacts.co.za/main/Buildings/arch_det.php?archid=1753&orderby

Vierde Raadsaal is deur 80 Britse arbeiders gebou. Die Engelssprekende ambagsmanne was onder meer bouers, timmermans, klipmesselaars, skilders, steenmakers, pleisteraars en klipkappers.128

Die Engelssprekendes het beslis op die gebied van Bloemfontein se straatname hulle stempel afgedruk, veral in die middestad wat voor 1900 ’n groot deel van die dorp uitgemaak het. Om maar net enkele straatname te noem wat óf deur Engelssprekendes gegee is, na Engelssprekendes vernoem is, óf een of ander verband met die Engelse gemeenskap het: Aliwal-, Charles-, Fraser-, Henry-, Maitland-, Douglas-, Gordon-, Hanger-, Harvey-, St. George-, St. Andrew, Goddard-, Elizabeth-, Poultneystraat129 en nog vele meer.

Die Engelssprekendes wat langer tydperke in Suid-Afrika bly woon het en selfs hier gebore is, het mettertyd ’n eiesoortige karakter en selfs fisiese voorkoms ontwikkel. Omdat Suid-Afrikaanse Engelssprekendes gewoonlik ’n moeiliker lewe gehad het en ’n veel droër, meer sonnige klimaat moes trotseer, was hulle gewoonlik bruiner gebrand en minder bleek as hulle Britse volksgenote. Die Suid-Afrikaanse Engelssprekende van die 19de eeu was meer gehard en energiek met baie moed en deursettingsvermoë, vasberadenheid en standvastigheid. Ofskoon hulle minder opgewek en simpatiek was as Engelssprekendes in ander lande en kolonies, het hulle in Suid-Afrika ’n sekere gehardheid en beslistheid ontwikkel wat goed te pas gekom het in die pioniersomstandighede aan die suidpunt van Afrika.130

In vergelyking met die Afrikaners wat vanaf die 17de eeu vanaf Europa na Suid-Afrika gekom het en oor geslagte lank hier gebore is, was die Engelssprekendes meer onlangse immigrante. Die meeste van hulle het eers in die 19de eeu na Suid-Afrika gekom. Deels as gevolg hiervan en omdat die Engelssprekendes baie tradisievas was, het hulle selfs in die laat 19de eeu grootliks hul Engelse karakter behou, beide ten opsigte van taalgebruik en idees. Hulle het ook hulle eiesoortige lewenswyse en gebruike gehandhaaf. Tog is hulle volgens James Bryce deur die Afrikaners beïnvloed sodat hulle die Afrikaners se afkeer aan hande-arbeid en hul mening oor swart mense gedeel het. Volgens Bryce het die Engelssprekendes in sommige dele van Suid-Afrika ’n sorgelose en selfs vervelige temperament gehad. Tog het hulle meermale ondernemingsgees en inisiatief as die meer besadigde Afrikaners aan die dag gelê en het hulle dus ’n groter rol op handels- en nywerheidsgebied gespeel.131

128

Schoeman, Vrystaatse erfenis, pp. 107-108.

129 Schoeman, Bloemfontein, pp. 7, 97.

130 VAB, A75/2: Aantekeninge oor Bloemfontein se inwoners deur regter Melius de Villiers; The Friend,

4.9.1889, p. 3.

Aangesien die Engelssprekendes tydens die 1890’s steeds ’n getalleoorwig in Bloemfontein gehad het, moes die Afrikanerregering met hulle saamwerk en omdat hulle ’n groot bydrae tot die ontwikkeling van Bloemfontein gelewer het, het pres. Reitz en sy regering hulle kundigheid gerespekteer. Reitz het deurgaans probeer om goeie verhoudinge met die Engelssprekende inwoners te handhaaf, maar as vurige Afrikaner en pleitbesorger van die Nederlandse en Afrikaanse taal, het hy by meer as een geleentheid met Engelssprekendes soos J.G. Fraser gebots, veral wanneer hulle die Engelse taal in Bloemfontein ten koste van Nederlands en Afrikaans probeer bevorder het.132