• No results found

3. Die staatkundige konteks

3.3 Reitz se tweede ampstermyn, 1894-1895

3.3.1 Reitz tot staatspresident herkies

In November 1893 het Reitz se eerste ampstermyn ten einde geloop en moes daar weer ’n presidentsverkiesing gehou word. Die Vrystaatse Volksraad het Reitz as hul enigste kandidaat vir die verkiesingstryd benoem. Ds. A.A. van der Lingen en landdros S.P. de Beer het as onafhanklike kandidate gestaan. Reitz het die benoeming aanvaar en op 22 November 1893 het die verkiesing plaasgevind. Toe die eerste verkiesingsuitslae bekend gemaak is en dit blyk dat Reitz ’n oorweldigende meerderheid in die kiesafdeling van Bloemfontein behaal het (319 stemme vir Reitz teenoor slegs een stem vir Van der Lingen en 29 stemme vir De Beer), het ’n groot groep opgewonde Bloemfonteiners dié aand op Markplein bymekaargekom vanwaar hulle na die Presidensie is om Reitz met sy sukses in Bloemfontein geluk te wens. Nadat Reitz die inwoners in ’n kort toespraak vir hulle lojale steun bedank het, het die skare hom toegejuig en hierna is die Vrystaatse volkslied met groot geesdrif gesing.189

Ten spyte van die feit dat die verkiesing voorafgegaan is deur ’n redelik vurige verkiesingsveldtog en die beswaddering van Reitz deur sy opponente, het die volledige verkiesingsuitslae getoon dat Reitz met ’n groot meerderheid van stemme tot staatspresident van die OVS herkies is. Volgens die volledige, finale verkiesingsuitslag het Reitz 4 917 stemme behaal teenoor 1 802 vir sy naaste teenstander, Van der Lingen, en slegs 730 vir De Beer.190 Die spanning en onaangenaamheid tydens die verkiesingsveldtog het ’n nadelige uitwerking op Reitz se gesondheid gehad en vroeg in Desember 1893 het die president en sy gesin met vakansie na die Kaapkolonie vertrek. Danksy die vakansie het Reitz se gesondheid baie verbeter en op 1 Januarie 1894 het die Reitz-gesin na Bloemfontein teruggekeer waar hulle deur ’n groot aantal van die inwoners terug verwelkom is.191 By hulle aankoms is die presidentsgesin deur ’n erewag van die artilleriekorps na die Presidensie vergesel.192 ’n Paar dae later, op 10 Januarie 1894, is F.W. Reitz vir die tweede keer as staatspresident van die

188

Nelson Evening Mail, 9.3.1903, p. 2; Mol, pp. 175-180.

189

The Friend, 24.11.1893, pp. 2-3; Moll, pp. 199-206.

190 Gouvernements Courant, 22.12.1893, p. 219; S.F. Malan, Politieke strominge onder die Afrikaners van die

Vrystaatse republiek, p. 187.

191

The Friend, 2.1.1894, p. 2; Moll, pp. 206-207.

republiek OVS ingehuldig en net soos in 1889 was dit ’n dag van groot feesvieringe in Bloemfontein.193

3.3.2 ’n Reis na Europa

Voordat hy ingestem het om hom weer as president verkiesbaar te stel, het Reitz versoek dat drie maande se verlof aan hom toegestaan word, aangesien hy graag na Europa wou reis. Dit sou hom in staat stel om te rus en te ontspan, terwyl sy eggenote haar familie in Nederland sou kon besoek. Teen die einde van Mei het Reitz amptelike verlof van die Volksraad ontvang om dié reis te onderneem. Soos gewoonlik het die bekwame goewermentsekretaris, P.J. Blignaut (1841-1909), as waarnemende president opgetree.194

Hoewel dit ’n plesierreis in sy private hoedanigheid was, sou hy steeds as verteenwoordiger van die Vrystaat optree en het die Volksraad die hoop gekoester dat sy besoek aan die buiteland ook vir die republiek iets sou beteken.195 Dit was wel die geval, want Reitz se teenwoordigheid in Europa het heelwat belangstelling uitgelok. Tydens sy reis het hy onder meer Engeland, Nederland, België, Duitsland, Frankryk en Skotland besoek.196

’n Spesiale komitee is benoem om reëlings vir die president se verwelkoming te tref en met hulle terugkeer na Bloemfontein op 3 Oktober 1894 het ’n helde-ontvangs die Reitz-gesin te beurt geval.197

3.3.3 Reitz se siekte en bedanking

Die buitelandse reis het nie die gewenste uitwerking op Reitz se gesondheid gehad nie en kort na sy terugkoms het hy boonop ’n aanval van geelsug gekry, wat sy reeds oorwerkte gestel verder verswak het. Weens sy verswakte toestand was hy verplig om vroeg in Januarie 1895 met vakansie na Kaapstad te gaan en op 17 Januarie het hy en sy eggenote na Bloemfontein teruggekeer. ’n Paar weke later was dit duidelik dat Reitz se gesondheid steeds agteruitgaan en in Maart het hy, vergesel van sy private sekretaris, weer na Kaapstad vertrek. Die geneeshere daar het die diep terneergedrukte president aangeraai om ’n lang seereis te onderneem.198

Langverlof van ses maande is deur die Volksraad aan Reitz toegestaan en in Mei 1895 het hy op ’n seereis na Europa vertrek om spesialiste daar te raadpleeg. Die spesialiste kon

193 The Friend, 12.1.1894, p. 2; De Express, 12.1.1894, p. 3. Reitz se inhuldiging word in hoofstuk 5 in die

afdeling oor feesdae en feesgeleenthede meer breedvoerig bespreek.

194

Moll, p. 209; D.W. Krüger en C.J. Beyers (reds.). Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek 3, p. 75.

195

The Friend, 22.6.1894, p. 3; Moll, pp. 209-210.

196 The Friend, 4.9.1894, p. 3; Moll, pp. 210-211.

197 The Friend, 11.9.1894, p. 3, 2.10.1894, p. 2 en 5.10.1894, p. 3. Die ontvangs van die presidentsgesin word in

hoofstuk 5 meer breedvoerig bespreek.

geen organiese fout vind nie, maar omdat Reitz aan slaaploosheid en neerslagtigheid gely het, het hulle hom aangeraai om kort reise deur Europa te onderneem.199

Hoewel Reitz se gesondheid sodanig verbeter het dat hy sy ampspligte op 2 September 1895 kon hervat, was hy nog geensins heeltemal gesond nie. Teen November het Reitz verplig gevoel om te bedank omdat hy nie meer sy ampspligte na behore kon nakom nie. Op 11 Desember 1895 het die Volksraad Reitz se bedanking met leedwese aanvaar en op 16 Desember het hy en sy gesin die Vrystaat verlaat.200 Hy is in Maart 1896 deur M.T. Steyn as staatspresident opgevolg, wat die presidentskap tot met die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) sou beklee.201

Na Reitz se bedanking het hy in Junie 1896 weer ’n reis na Europa onderneem waartydens sy gesondheid sodanig verbeter het dat hy na vyf maande na Kaapstad kon terugkeer. In Julie 1897 vestig hy hom in Pretoria, waar hy as advokaat begin praktiseer en in Februarie 1898 as Transvaalse regter ingesweer word. In Junie 1898 word hy verkies tot die uiters belangrike pos van staatsekretaris van die ZAR en dus die belangrikste lid van die uitvoerende raad van die Transvaalse regering naas pres. Paul Kruger. Na die Anglo- Boereoorlog vestig Reitz hom in Seepunt naby Kaapstad en in 1910 word hy tot die eerste president van die senaat van die Unie van Suid-Afrika verkies.202

Hy bly senator tot in 1929 waarna hy hom aan die openbare lewe onttrek en hom tot aan die einde van sy lewe met skryf- en vertaalwerk besig hou. Hy sterf op 27 Maart 1934 in Kaapstad en word ook daar begrawe. Reitz het dus ’n belangrike rol in die hoogtepunte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis van sy tyd gespeel. Sy loopbaan was veelsydig en sy invloed wyd omdat hy waardevolle bydraes op regterlike, politieke en kulturele gebied in die OVS, die Transvaal en die Kaapkolonie gelewer het.203 Vir die Vrystaat was sy nalatenskap van die uiterste belang aangesien hy ’n groot rol in belangrike regterlike, politieke, ekonomiese en staatsgebeure in die Vrystaat gespeel het. Reitz se rol op politieke gebied, veral tydens sy eerste ampstermyn voordat hy siek geword het, is reeds bespreek. Tydens sy bewind was daar ook groot vooruitgang op staatkundige, militêre, regs- en ekonomiese gebied, soos duidelik uit die volgende afdelings sal blyk.

199

De Express, 9.4.1895, p. 3 en 3.9.1895, p. 3; Moll, pp. 214-216.

200

De Express, 19.11.1895, p. 2, 13.12.1895, p. 2 en 17.12.1895, p. 4. Vergelyk ook Moll, pp. 216-217.

201 K. Schoeman, In liefde en trou, die lewe van president M.T. Steyn en mev. Tibbie Steyn met ’n keuse uit hulle

korrespondensie, pp. 26-27; Schoeman, Bloemfontein, pp. 132-133.

202

Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek 2, pp. 598-599.