• No results found

Hoofstuk 3: ‘n Model vir die hantering van konflik

4. Die Transformatiewe benadering tot konflik

4.2. Verskillende vlakke van transformering

In sy artikel “Beyond Resolution: What does conflict transformation actually transform” onderskei Christopher Mitchell (2002) tussen twee kategorieë van verandering wat volgens verskillende teoretici in ‘n transformatiewe benadering tot die hantering van konflik aangemoedig moet word. Die eerste hiervan behels ‘n transformasie in die konflik self, en die tweede ‘n transformasie in bepaalde aspekte van die sosio-politieke stelsel waarbinne die konflik gesetel is (Mitchell, 2002:5). Lederach (in Lederach & Maiese, 2003) tref ‘n soortgelyke onderskeid tussen verskillende kategorieë van verandering, maar definieer dit in terme van: (1) ‘n deskriptiewe vraagstuk, naamlik: wat word deur konflik verander? en (2) ‘n preskriptiewe respons tot konflik, dus: watter tipe veranderinge behoort in die hantering van konflik aangemoedig te word? Lederach identifiseer vier dimensies van verandering (transformasie) wat tydens konflik waargeneem kan word en wat dus ook in die hantering van konflik aangespreek moet word, waaronder:

i. die persoonlike dimensie ii. die verhoudings dimensie iii. die strukturele dimensie, en iv. die kulturele dimensie

Persoonlike verandering verwys na beide die impak van konflik op die individu en die

veranderinge wat op ‘n individuele vlak moet plaasvind ten einde stabiele verhoudings tussen groepe te vestig. Lederach (in Lederach & Maiese, 2003) argumenteer dat persoonlike transformasie op ‘n deskriptiewe vlak behels dat konflik die fisiese welstand, selfbeeld, emosionele stabiliteit, interpretasie-vermoëns en geestelike welstand van individue beïnvloed. Op ‘n preskriptiewe vlak (dus: as strategiese respons) vereis persoonlike transformasie daadwerklike inmenging/optrede om die destruktiewe effek van konflik te beperk, en die potensiaal vir persoonlike groei – op fisiese, emosionele en geestelike vlakke te maksimeer.

Verandering in verhoudings behels beide die aanpassing in tussengroep verhoudings wat

deur situasies van konflik veroorsaak word, en die “verlangde veranderinge” in tussengroep verhoudings wat in die hantering van die konflik bewerkstellig moet word. Daar word op ‘n deskriptiewe vlak veral aandag gegee aan die wyse waarop patrone van kommunikasie en interaksie deur konflik beïnvloed word, en die impak daarvan op die aard van verhoudings.

Op ‘n preskriptiewe vlak fokus Lederach op die noodsaaklikheid van ingryping om kommunikasie te verbeter, en om wedersydse begrip te bevorder deur die fasilitering van eksplisiete uitdrukkings van die verskillende groepe se doelwitte, vrese en behoeftes met betrekking tot hul verhoudings met mekaar.

Die strukturele dimensie van verandering, spreek tot die kern van die transformatiewe benadering. Op ‘n deskriptiewe vlak, behels dit die inkorporering van strukturele vraagstukke in analises van konflik en ondersoeke na die onderliggende oorsake (“root causes”) van spesifieke konfliksituasies. Die wyse waarop sosiale, ekonomiese en institusionele verhoudings ontwikkel en ge-organiseer word om basiese menslike behoeftes aan te spreek en toegang tot hulpbronne en besluitneming te voorsien, sowel as die impak daarvan op sosiale verhoudings, word dus in die transformatiewe benadering direk onder die soeklig geplaas. Op ‘n preskriptiewe vlak behels die strukturele dimensie van die transformatiewe

respons tot konflik daarom dat die strukturele oorsake van konflik erken word en dat

nie-gewelddadige meganismes vir die hervorming van sosiale strukture en die hantering van die konfliktuele verhoudings wat daaruit spruit bevorder word.

Lederach se klem op die strukturele dimensie van transformasie sluit aan by sy argument dat stabiele sosiale verhoudings slegs moontlik is in omstandighede waar alle betrokke groepe se basiese behoeftes bevredig word, en wanneer hulle ingesluit word by besluite wat hulle affekteer (Lederach & Maiese, 2003). Waar hierdie omstandighede ontbreek, is strukturele

transformasie dus nodig om die situasie te verander en sodoende sosiale geregtigheid te

bevorder84.

Kulturele verandering verwys na die impak van konflik op “patrone van kollektiewe bestaan”,

sowel as die wyse waarop kultuur die hantering/ bestuur van konflik kan beïnvloed. Dit behels dus op ‘n deskriptiewe vlak die manier waarop konflik kulturele gedrag, en dus groepe se respons tot die onstabiele situasie en mekaar beïnvloed. Op ‘n preskriptiewe vlak word daar gepoog om kulturele patrone wat in ‘n gegewe konteks tot konflik bydra te identifiseer en te beperk, en om kulturele hulpbronne en meganismes vir krisis-/konflikhantering te ontwikkel wat op ‘n positiewe wyse ingespan kan word.

Hoewel uiteenlopende terminologie soms in die veld ingespan word, word Lederach se konseptualisering van die verskillende vlakke van transformasie in ‘n groot mate ook in die raamwerke van ander teoretici gereflekteer.

Väyrynen (1991:4-6) identifiseer vier vlakke van transformasie, insluitende: transformasie van akteurs, transformasie in reëls, transformasie van strukture en die transformasie van kwessies. In sy beskrywing van die “transformasie van akteurs” sluit Väyrynen aan by Lederach se konsepte van persoonlike verandering, verandering in verhoudings en kulturele verandering, maar val die klem hoofsaaklik op die deskriptiewe dimensie van hierdie veranderinge, m.a.w. veranderinge in die individue en groepe wat by die konflik betrokke is in

reaksie op die konflik. Väyrynen sluit egter ook die toetrede van akteurs as ‘n potensiële

dryfveer vir transformasie in konfliksituasies in.

Väyrynen se “transformasie van reëls” verwys na ‘n herdefiniëring in die norme wat die aard van interaksie tussen groepe bepaal, en sluit dus aan by Lederach se “veranderinge in verhoudings”. Waar hierdie norme in instellings en strukture inslag vind, stem Väyrynen se “transformasie van reëls” ook in ‘n mate ooreen met Lederach se konseptualisering van strukturele verandering. Väyrynen se fokus blyk egter weereens grootliks op die deskriptiewe aspekte van hierdie verandering te val, en die maniere waarop die transformasie van reëls (en instellings/strukture) tot meer stabiele sosiale verhoudings kan aanleiding gee word dus nie eksplisiet beklemtoon nie.

Väyrynen se beskrywing van “strukturele transformasie” stem grootliks ooreen met Lederach se konseptualisering van strukturele veranderinge. In hierdie geval val Väyrynen se fokus egter hoofsaaklik op die veranderinge in strukture wat as gevolg van die konflik plaasvind, terwyl Lederach ook sterker klem plaas op die rol van sosiale strukture as ‘n oorsaak van onstabiele verhoudings tussen groepe.

Die “transformasie van kwessies” word nie in Lederach se vier vlakke van transformasie aangespreek nie. Väyrynen beskryf dit as: “veranderinge in die politieke agenda van die konflik”. Väyrynen beveel so ‘n “transformasie van kwessies” op ‘n preskriptiewe vlak aan as ‘n meganisme waardeur konflik bestuur kan word. Dit behels hoofsaaklik ‘n

onderbeklemtoning (en hopelik uiteindelik ook ‘n afname in die belangrikheid) van kwessies waaroor konflikterende groepe verskil en ‘n beklemtoning van die kwessies waaroor daar ooreenstemming bestaan, en wat dus as basis vir ooreenkomste kan dien.

Augsburger (in Botes, 2003:9) argumenteer dat daar tydens konflik transformering ‘n “metamorfose” of “noemenswaardige verandering” in houdings, gedrag en verhoudings plaasvind. Augsburger se definisie van die dimensies van transformasie impliseer ook ‘n preskriptiewe begrip van die konsep as ‘n strategiese benadering tot konflik, eerder as prosesse wat as gevolg van konflik plaasvind. Sy elemente van transformasie neem daarom die vorm van aanbevelings vir die hantering van konflik aan. Botes (2003:9) som Augsburger se konseptualisering van konflik transformering as volg op:

“The process of transformation first transforms attitudes by changing and redirecting negative perceptions. Secondly, it transforms behaviour, and lastly transforms the conflict itself by seeking to discover, and remove incompatibilities between the parties.”

Ook Northrup (in Botes, 2003:9) beskryf konflik transformering in terme van aanpassings in die identiteite van die betrokke partye, hul verhouding tot mekaar en hul persepsies van hulself (hul “sense of self”). Dit sluit dus aan by Lederach se “persoonlike veranderinge” en “veranderinge in verhoudings”, en volg ook die implisiete argument dat hierdie aanpassings positief gerig kan word om meer stabiele verhoudings tussen groepe tot gevolg te hê.

Uit hierdie konseptualisering van die transformatiewe benadering tot konflik stel Lederach drie “voorvereistes vir vrede”, wat ook as die doelwitte van konflik transformering beskou kan word, naamlik: geregtigheid, waarheid en vergifnis. Hierdie drie doelwitte word in die volgende afdeling bespreek.