• No results found

Ekonomiese transformasie as ‘n geïnstitusionaliseerde proses

Hoofstuk 2: Ekonomiese transformasie en beskrywende teorieë van konflik

4. Ekonomiese transformasie in Suid-Afrika

4.1 Ekonomiese transformasie as ‘n geïnstitusionaliseerde proses

‘n Belangrike eienskap van die proses van ekonomiese transformasie in Suid-Afrika (dus: die “vorming” van “die ander kant”) is dat dit nie aan spontane faktore oorgelaat word nie, en (veral sedert 1994) in ‘n groot mate deur beleid en wetgewing geïnstitusionaliseer is. Swart deelname aan die arbeidsmark word bevorder deur die Wet op Billike Indiensneming (Government of South Africa, 1998) sowel as die strategiese prosesse en wetgewing rondom Swart Ekonomiese Bemagtiging (Government of South Africa [2003]). Swart eienaarskap in die ekonomie, die posisie van swart persone in die bestuur van ekonomiese entiteite (en dus hul deelname aan besluitneming) sowel as die ekonomiese bemagtiging van swartes deur middel van gepaste opleiding word aangespreek in die strategie vir swart ekonomiese bemagtiging en die wetgewing wat die strategie ondersteun (Government of South Africa [2003] en Department of Trade and Industry [2003]). Die eksplisiete doelwit van die Departement van Handel en Nywerheid se strategie vir Swart Ekonomiese Bemagtiging is dan ook om “’n noemenswaardige toename te bewerkstellig in die aantal swart persone wat die land se ekonomie beheer, besit en bestuur, sowel as ‘n noemenswaardige vermindering in ongelykheid” (Department of Trade and Industry, 2003). Die opleiding van swart persone ter wille van hul meer effektiewe deelname aan die hoofstroom-ekonomie word ook aangemoedig en bestuur deur die nasionale strategie vir vaardigheidsontwikkeling (die

National Skills Development Strategy) en die wetgewing wat die implementering daarvan

reguleer (Department of Labour, 2004 en 2005). Swart eienaarskap van grond (as ‘n simbolies-belangrike ekonomiese hulpbron) word bevorder deur, onder andere, die aktiwiteite van die Grondherstelkommissie en die Grondhervorming vir Landbouontwikkeling Program en gereguleer deur ‘n omvattende stel wetgewing (Departement van Landbou, 2004:46-47). Die transformasie-/ “vormings”-proses behels dus aktiewe ingryping vanaf die kant van die staat (deur middel van beleid en wetgewing) om die doelwitte wat daar vir ekonomiese transformasie gestel word te bereik. Daar is dus ‘n doelbewuste poging om ‘n herskikking in

ekonomiese verhoudings en die verdeling van ekonomiese mag en hulpbronne tussen verskillende groepe te bewerkstellig.

Dit is belangrik om te oorweeg hoe hierdie groepe ingedeel word. Aan die een kant is daar wit Suid-Afrikaners, wat (in terme van die gees van die huidige beleid en wetgewing wat ekonomiese transformasie beheer), tydens die apartheids-era onregverdige voordeel geniet het om ‘n sterk ekonomiese posisie te bewerkstellig. Aan die ander kant is daar swart Suid-Afrikaners, wat kollektief hanteer word (dus: geen onderskeid word tussen verskillende swart etniese groepe, gekleurdes en Asiërs getref nie) en wat as ‘n voorheen benadeelde groep beskou word. Ekonomiese transformasie in Suid-Afrika behels dus ‘n doelbewuste, geïnstitusionaliseerde poging om ‘n herskikking in ekonomiese verhoudings en die verdeling van ekonomiese mag en hulpbronne tussen wit en swart Suid-Afrikaners te bewerkstellig. Dit is verder interessant om te let op die posisie van wit vroue en wit gestremde persone ingevolge die wetgewing en kodes wat die implementering van swart ekonomiese bemagtiging reguleer. Volgens die Wet op Billike Indiensneming (Nr. 55 van 1998) is wit vroue en wit gestremde persone ook “aangewese groepe” wat by regstellende aksie behoort te baat – met die implikasie dat wit vroue en gestremde persone ook as ‘n voorheen benadeelde groep beskou kan word. Volgens die wetgewing en kodes rondom Swart Ekonomiese Bemagtiging, is dit egter slegs die aanstelling en opleiding van swart werknemers wat positief tot ondernemings se Swart Ekonomiese Bemagtigingsakkreditasie kan bydra. Hoewel die aanstelling van swart vroue of swart gestremdes vir ondernemings bonuspunte op hul telkaarte vir Swart Ekonomiese Bemagtiging kan verdien, geniet wit vroue en gestremde persone geen spesiale status nie. Die onderskeid tussen “voorheen benadeelde”/ “aangewese” groepe wat spesiale beskerming/ bevordering verdien, en “nie-aangewese groepe” word dus toenemend suiwer volgens ras getref.

Die vernaamste eienskappe van ekonomiese transformasie in Suid-Afrika kan dus as volg opgesom word. Dit behels in die eerste plek ‘n ekonomiese transisie – die verwydering van diskriminerende beleid, wetgewing en praktyke. Tweedens, verwys ekonomiese transformasie in Suid-Afrika na die integrering van swart persone in die ekonomie, en ‘n geïnstitusionaliseerde poging om ‘n herskikking in die verdeling van hulpbronne en mag in die ekonomiese arena te bewerkstellig. In die derde plek sou volledige ekonomiese transformasie in Suid-Afrika ook beteken dat die onderliggende waardestelsels en informele

magsverhoudinge in die ekonomie aangepas word om ‘n veranderde ekonomiese orde te ondersteun.

Die hipotese wat hier ontwikkel word, is dat die transformasieproses wat hierbo uiteengesit

is53 noodwendig ‘n herskikking in die verdeling van en beheer oor ekonomiese hulpbronne en aanpassings in ekonomiese verhoudings tot gevolg het; dat hierdie veranderinge ook bepaalde implikasies vir die relatiewe status van wit en swart Suid-Afrikaners inhou en dat hierdie aanpassing in relatiewe status die potensiaal vir konflik tussen verskillende groepe in die land kan verhoog. Daar word dan ge-argumenteer dat die erkenning van hierdie

konflikpotensiaal, die antisipering van groepe se moontlike reaksies op die veranderinge en die effektiewe hantering daarvan in die bestuur van die proses van transformasie tot ‘n meer stabiele sosio-kulturele, politieke en ekonomiese orde kan bydra.

Hierdie hipotese sal vervolgens aan die hand van twee oorkoepelende teoretiese raamwerke in die diskoers oor tussen-groep verhoudinge en ‘n aantal kern-konsepte uit die veld van konflikstudies ontwikkel word.

5. Konflikteorie

Daar word in die bestudering van konflik primêr gefokus op die oorsake en aard van konflik tussen verskillende akteurs in die samelewing (hetsy op individuele-, groep- of staatsvlak), en strategieë om die hantering/ bestuur van konflik te begryp en/of te verbeter (Reimann, 2003:3). Modelle vir die hantering van konflik word in ‘n groot mate gebaseer op en gevorm deur persepsies oor die oorsake en aard van konflik . Daar sal dus hier in die eerste plek aandag gegee word aan teorieë ten opsigte van die oorsake of bronne van konflik en die aard wat konfliksituasies as gevolg daarvan aanneem. Modelle vir die hantering van konflik sal in hoofstuk 3 bespreek word. Gegewe die aard van die sosiale verskynsel/ proses wat uiteindelik ontleed sal word, naamlik ekonomiese transformasie in Suid-Afrika, en die eienskappe van hierdie proses wat hierbo uiteengesit is, sal daar gefokus word op analitiese raamwerke wat daarop gemik is om ons begrip vir konflik tussen verskillende sosiale groepe (dus: tussen-groep konflik) uit te brei.