• No results found

Die bevordering van transformasie in die landbousektor

Hoofstuk 5: Transformasie in die wynbedryf

3. Die bevordering van transformasie in die landbousektor

Landbou is op nasionale vlak en op provinsiale vlak in die Wes-Kaap geïdentifiseer as 'n prioriteitsektor wat 'n noemenswaardige impak kan hê op werkskepping, die voorsiening van volhoubare lewensmiddele, die bevordering van gelykheid en ekonomiese groei. Sterk voorwaartse en terugwaartse skakels met ander sektore veroorsaak ook dat groei- en ontwikkelingsinisiatiewe in die landbousektor positiewe uitkringeffekte na die ekonomie as geheel kan hê (Western Cape Provincial Development Council: 2005).

'n Breë spektrum van beleid en wetgewing is reeds sedert die vroeë 1990's aanvaar en geïmplementeer met die doel om groei en transformasie in die landbousektor te bevorder. In die Nasionale Landbougids (Department of Agriculture, 2005:8-24) word daar 'n opsomming gegee van 77 wette wat op landbou van toepassing is. Menige hiervan hou verband met sosio-ekonomiese ontwikkeling en transformasie129.

Landbou-verwante wetgewing wat (o.a.) daarop gemik is om transformasie te bevorder fokus veral op die herverdeling van grond en die herstel van grondregte, die bevordering van verbeterde arbeidsverhoudinge, die ontwikkeling van menslike hulpbronne deur onderwys en opleiding en die daarstelling van 'n meer verteenwoordigende landbousektor (met begunstigdes van landbou-besigheidsaktiwiteite uit verskillende rasgroepe).

129

Sien byvoorbeeld: Die Wet op Landbou-arbeid (1993); Die Wet op die Herstel van Grondregte (1994 - gewysig in 2003); Die Wet op Arbeidsverhoudinge (1995); Die Wet op Ontwikkelingsfasilitering (1995); Die Wet op Grondhervorming (1996); Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (1997); Die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid op Verblyfreg (1997); Die Wet op Billike Indiensneming (1998); Die Wet op Vaardigheidsontwikkeling (1998); Die Wet op Basiese Onderwys en Opleiding vir Volwassenes (2000); en Die Wet op Swart Ekonomiese Bemagtiging (2003).

Hierdie prioriteite is ook sigbaar in ander inisiatiewe van die Departement van Landbou, waaronder die "Land Redistribution for Agricultural Development" (LRAD) program en die "Comprehensive Agricultural Support Programme" (CASP).

Die "Land Redistribution for Agricultural Development" (LRAD) program is daarop gemik om 30% van landbougrond teen 2015 in swart hande te plaas. Die belangrikste instrument wat deur die program ingespan word is subsidies en lenings vir die aankoop van grond vir landbou-doeleindes deur swart Suid-Afrikaners sowel as vir die ontwikkeling van landbougrond. Dit sluit aan by beide die grondhervormings-doelwitte van SEB in die landbousektor (soos omskryf in die AgriSEB dokument wat later in hierdie afdeling bespreek word) en ander pogings deur die Departement van Landbou om voedselvoorsiening en vlakke van inkomste in landelike areas te verbeter (Department of Agriculture, 2000).

Die "Comprehensive Agricultural Support Programme" (CASP) is in 2004 van stapel gestuur. Die program stel 'n ondersteuningstelsel vir die landbousektor beskikbaar - met spesifieke

klem op landbouers wat die sektor vir die eerste keer deur middel van

grondhervormingsprogramme betree. Soos die LRAD program bied CASP ook kanale vir finansiële steun aan nuwe toetreders. Die doelwitte van die program is egter breër, en sluit ook operasionele steun vir nuwe toetreders tot die landbousektor in. Daar word daarom ook pertinent gefokus op opleiding en kapasiteitsbou (Department of Agriculture, 2004b). Dit sluit in hierdie opsig aan by inisiatiewe wat ter nakoming van die Wet op Vaardigheidsontwikkeling en bevordering van die Nasionale Strategie vir Vaardigheidsontwikkeling geïnisieer geïmplementeer word. In 2004/5 is R13 765 000 en R10 518 000 in onderskeidelik die Wes-en Noord-Kaap deur die DepartemWes-ent van Landbou as deel van die CASP program uitbetaal (Western Cape Provincial Government, 2005).

Die rol van landbou in algemene sosio-ekonomiese ontwikkeling en opheffing van landelike gemeenskappe word ook erken in streeksinisiatiewe in Afrika, waaronder: die algemene "New Partnership for Africa's Development" (NEPAD) program en die "Comprehensive Africa Agricultural Development Programme" (CAAPD) wat as deel van die NEPAD inisiatief aanvaar is.

In die opsomming van NEPAD aksieplanne (NEPAD Secretariat, 2005:33) word landbou geïdentifiseer as die primêre dryfveer vir ekonomiese groei in Afrika130. Die prominensie van die sektor as kontinentale ontwikkelingstrategie word toegeskryf aan die rol van landbou in landelike gebiede - waar meer as 70% van die armes in Afrika woonagtig is. Daar word weereens klem gelê op die kapasiteit van die landbousektor om landelike ontwikkeling te bevorder, voedselsekuriteit te verbeter en ekonomiese groei te stimuleer deur middel van voorwaartse en terugwaartse verbintenisse met ander sektore.

Die CAAPD is in 2003 deur staats- en regeringshoofde aanvaar as die raamwerk vir die herstel van groei in die landbousektor, landelike ontwikkeling en voedselsekuriteit in Afrika. Die program is in die eerste plek daarop gemik om die effektiwiteit van die sektor deur verbeterde hulpbronbestuur, verbeterde landelike infrastruktuur en die bevordering en verspreiding van relevante navorsing te verhoog (NEPAD Secretariat, 2003). Dit is egter in wese 'n ontwikkelings-inisiatief met die implisiete doel om sosio-ekonomiese onderontwikkeling te beveg.

Die nasionale strategie vir die ontwikkeling van die landbousektor is in 2001 gekonsolideer in die Strategiese Plan vir Suid-Afrikaanse Landbou (Department of Agriculture, 2001). Die plan is opgestel deur die Departement van landbou, in samewerking met Agri Suid-Afrika (AgriSA) en die "National African Farmer's Union" (NAFU).

Die strategie bevestig die sektorale visie van "'n verenigde, nie-rassige, florerende landbousektor". Hierdie visie word ondersteun deur drie strategiese doelwitte, insluitende: (i) Die bevordering van gelykmatige toegang en deelname aan die landbousektor; (ii) Die bevordering van globale mededingendheid en winsgewendheid; en (iii) Die bevordering van die volhoubare bestuur van hulpbronne. Alle rolspelers en belanghebbers in die sektor is aangemoedig om die plan te gebruik as 'n verwysingsraamwerk vir hul eie strategiese beplanning.

130

Die strategie stel dit as volg: "Economic advancement will ultimately be the surest way to achieve the vision encapsulated in NEPAD, and agriculture is destined to be the one economic sector to deliver broadly based economic advancement. While other

economic sectors, such as petroleum, minerals and tourism, may also contribute significantly to African economic growth, agriculture’s importance is rooted in the fact that more than 70% of Africa’s poor reside in rural areas. Within NEPAD agriculture will act as the economic spearhead or the engine of economic growth, in Africa’s quest for a prosperous continent free of conflict and in which people can participate effectively in economic activity" (NEPAD Secretariat, 2005:33).

Die doelwit van "gelykmatige toegang en deelname" word as volg omskryf:

Dit behels in die eerste plek die bevordering van swart grondbesit en eienaarskap van ondernemings in die landbousektor. Grondhervormingsprogramme (soos die LRAD program) en ondersteuning vir nuwe toetreders (soos in die inisiatiewe van die CASP) is vir hierdie doel geïnisieer.

Daar word ook klem gelê op die belangrikheid van samewerking tussen gevestigde boere en nuwe toetreders - veral in die vorm van mentorskapprogramme en vennootskappe tussen wit en swart boere. Daar word ook melding gemaak van die belangrikheid van die daarstelling van 'n strategie vir die ontwikkeling van menslike hulpbronne - wat nuwe toetreders van toepaslike vaardighede voorsien en entrepreneurskap in die landbousektor kan aanmoedig.

Dit is interessant om te let dat daar spesifiek in die strategie melding gemaak word van negatiewe persepsies van die landbousektor - waaronder: (i) die persepsie dat die sektor gekenmerk word deur lae winste, hoë vlakke van skuld, sekturiteits-probleme, 'n gebrek aan legitimiteit en trae transformasieprosesse, (ii) die stereotipe van wit Afrikaner mans wat 'n bedreiging vir nuwe toetreders inhou en daarop uit is om ander rasgroepe te marginaliseer, en (iii) die idee dat swart landbouers nie daartoe in staat is om meer as arm bestaansboere in die landbousektor te wees nie. Daar word egter nie in detail verduidelik hoe hierdie negatiewe beeld beveg gaan word nie, buiten 'n vae verwysing na die vervanging van hierdie beeld met een wat landbou as 'n "lewenskragtige, suksesvolle en verteenwoordigende" sektor uitbeeld.

Die transformasie-strategie van die landbousektor word in meer detail beskryf in die AgriSEB strategie. Die Departement van Landbou het reeds in Augustus 2002 begin met werkswinkels om die ontwikkeling van 'n strategie vir transformasie in die landbousektor te bespreek. 'n Verteenwoordigende taakspan van belanghebbers in die sektor is aangewys, en 'n eerste besprekingsdokument oor AgriSEB is in Oktober 2002 gepubliseer (Mbongwa, 2004). Hierdie dokument is verder ontwikkel in 'n reeks besprekings tussen taakspan die bestuur van die Departement van Landbou, waarin o.a. die definisie van AgriSEB en die omvang van die toepassing die handves bespreek is. Weergawe x van die besprekingsdokument het uiteindelik die eerste weergawe van die AgriSEB handves geword.

Tussen Oktober 2003 en Februarie 2004 is samesprekings met vyf industrieë en nasionale landbou-verwante instellings sowel as ander regeringsdepartemente gevoer. 'n Evaluering van die bemagtigingsbeleid,-strategieë en prestasie binne die landbousektor, is in Februarie 2004 gepubliseer131. Die bevindinge van hierdie evaluering is geïnkorporeer in die tweede konsepweergawe van die AgriSEB handves wat in Julie 2004 vir openbare kommentaar bekendgestel is. Die dokument het baie publisiteit geniet en is amptelik in al die provinsies geloods. Belanghebbers in die sektor kon tot Desember 2004 kommentaar lewer op die handves, en verskeie belanghebbers, waaronder verteenwoordigers van: landbou, arbeid, die jeug, vroue en die provinsies het direk met die taakspan geskakel om die dokument te bespreek (Department of Agriculture, 2005). Volgens die Departement van Landbou was die konsultasie-proses rondom die dokument deursigtig, en is 55 geskrewe insette ontvang. Die dokument is veral in die aanloop tot die Grondberaad in November 2005 in diepte bespreek en was in Desember 2005 die fokus van 'n AgriSEB Indaba wat in Pretoria gehou is.

'n Hersiene weergawe van die AgriSEB handves (genoem die "Eerste Konsepweergawe van die Tweede Fase") is in Desember 2005 vir kommentaar bekend gestel, en belanghebbers kon weer tot in Maart 2006 op die konsepweergawe kommentaar lewer (Department of Agriculture, 2006). Met inagneming van hierdie kommentaar is die finale konsepweergawe van die AgriSEB handves van April tot September 2006 ontwikkel, wat op 21 November 2006 deur die Minister van Landbou, Lulu Xingwana, aan die Portefeulje Komitee vir Landbou en Grondsake in die Nasionale Parlement voorgelê is (Department of Agriculture, 2006).

Die gestelde doelwitte van die finale konsepweergawe van die AgriSEB Strategie is om: Swart Ekonomiese Bemagtiging in die landbousektor te fasiliteer deur die implementering van inisiatiewe wat swart Suid-Afrikaners by alle vlakke van landbou aktiwiteite en ondernemings insluit deur:

 Die bevordering van gelyke toegang en deelname van swart persone in die totale waardeketting van die landbousektor;

 Die verwydering van ras-gebaseerde ongelykhede in die besit van grond en landbou-ondernemings, beroepe met hoër vaardigheidsvlakke en die bestuur van bestaande en nuwe landbou-ondernemings;

131

Hierdie evaluering is voltooi deur 'n taakspan insluitende: Almero de Lange, Frans Swanepoel, Edward Nesamvuni, Agnes Nyamande-Pitso en Aldo Stroebel, wat deur die Universiteit van die Vrystaat gekoördineer is.

 Die volledige ontsluiting van die entrepreneursvaardighede en potensiaal van swart persone in die sektor;

 Die fasilitering van strukturele veranderinge in landbou ondersteuningsdienste en ontwikkelingsinisiatiewe wat swart Suid-Afrikaners bystaan in die besit, vestiging, en bestuur van landbou-ondernemings;

 Sosiale ontwikkeling en die herstel van die waardigheid van swart Suid-Afrikaners in die landbousektor;

 Toenames in die besit en beheer van bestaande en nuwe landbou-ondernemings deur gemeenskappe, werkers, koöperasies en ander kollektiewe ondernemings, en verbeteringe in hul toegang tot ekonomiese aktiwiteite, infrastruktuur en opleiding;

 Toenames in die besit en beheer van bestaande en nuwe landbou-ondernemings deur swart teikengroepe, en verbeteringe in hul toegang tot ekonomiese aktiwiteite, infrastruktuur en opleiding;

 Die bemagtiging van landelike en plaaslike gemeenskappe om toegang tot landbougebaseerde ekonomiese aktiwiteite, grond, infrastruktuur, eienaarskap en vaardighede te bekom;

 Verbeteringe in die lewens- en werksomstandighede, en die bevordering van aanvaarbare leef- en werksomstandighede vir plaaswerkers; en

 Verbeteringe in die beskerming van die grondregte en verblyfreg van plaasarbeiders, huurarbeiders en ander kwesbare plaasbewoners en die aanspreek van die inherente paternalistiese aard van die verhoudings wat op onsekere verblyfreg gebaseer word.

(Department of Agriculture, 2006a:6-7)

Die sewe elemente van die AgriSEB telkaart stem ooreen met dié van die algemene telkaart soos omskryf in die gedragskodes van die Departement van Handel en Nywerheid. Daar word dus aandag gegee aan: eienaarskap; bestuur/ beheer; gelyke indiensname; vaardigheidsontwikkeling; voorkeur aankope; en die ontwikkeling van ondernemings. Die residu-element in die AgriSEB telkaart meet landelike ontwikkeling, armoedeverligting en korporatiewe sosiale investering.

Die AgriSEB strategie volg verder die struktuur van die SEB handves van die mynindustrie waarin verskillende belanghebbers vir bepaalde inisiatiewe verantwoordelikheid neem. In terme van die AgriSEB telkaart (Department of Agriculture, 2006b), moet landbouondernemings onder andere poog om:

 Die ekonomiese belang in ondernemings waarop swart persone geregtig is tot 30% te verhoog

 By te dra tot die oordrag van 30% van landbougrond aan swart Suid-Afrikaners (bonuspunte word vir bydraes in hierdie verband verdien)

 Die stemreg van swart persone in die bestuurskomitees van ondernemings tot 30% te verhoog

 Meer swart persone by die bestuur van ondernemings te betrek ('n mikpunt van 40% is vir beide senior topbestuur en ander topbestuur gestel)

 Meer swart persone aan te stel, teikens vir gelyke indiensname sluit in: - 2% vir swart persone met gestremdhede

- 60% vir swart persone in senior bestuur - 30% vir swart vroue in senior bestuur

- 75% vir swart persone in middelvlak bestuur en professionele beroepe - 40% vir swart vroue in middelvlak bestuur en professionele beroepe

- 80% vir swart persone in junior bestuur, tegniese en akademiese personeel, toesighouers, voormanne en superintendente

 Om 2% van hul lonerekening op opleiding en vaardigheidsontwikkeling vir swart werknemers te bestee

 Om aan 5% van swart werkers geleenthede te gee om geakkrediteerde

vaardigheidsopleiding te ontvang

 Om 50% van hul totale aankope by swart ondernemings te maak

 Om 2% van hul netto wins na belasting op die ontwikkeling van ondernemings te bestee  Om 1.5% van hul netto wins oor vyf jaar aan korporatiewe sosiale investering te bestee, en

10% van hul grond aan plaaswerkers beskikbaar te maak (bonuspunte kan verdien word vir korporatiewe sosiale investering wat swart persone in geografiese areas wat in die regering se geïntegreerde volhoubare ontwikkeling of stedelike vernuwingsprogramme geïdentifiseer word bevoordeel).

Die telkaart stem grootliks ooreen met die algemene telkaart soos voorgeskryf in die gedragskodes van die Departement van Handel en Nywerheid. Dit is egter veral belangrik om te let op die wyse waarop grondhervormingsdoelwitte by die telkaart geïnkorporeer is. Die aanvanklike weergawes van die handves het ten opsigte van eienaarskap in die landbousektor feitlik uitsluitlik gefokus op die oordrag van grond. Die nuutste weergawe van die handves erken egter dat eienaarskap in die landbousektor 'n veel wyer definisie behoort te hê, en ook ondernemings op sekondêre vlakke van die waardeketting in ag moet neem (Department of Agriculture, 2006a:10-11). Daar word dus onderskei tussen eienaarskap van grond, en eienaarskap van ondernemings, met eksplisiete doelwitte wat ten opsigte van algemene eienaarskap gestel word, terwyl bonuspunte verdien kan word vir projekte wat bydrae tot die regering se algemene teiken van 'n 30% oordrag van landbougrond aan swart persone teen 2015.

Dit is ook interessant om te let hoe die lot van plaaswerkers (wat deurgaans as een van die belangrikste sosio-ekonomiese uitdagings in die sektor beskou word) in die telkaart aangespreek word. Punte kan op die telkaart verdien word vir beide korporatiewe sosiale investering, wat die sosio-ekonomiese ontwikkeling van plaaswerkers direk kan bevorder, en vir die oordrag van landbougrond aan plaaswerkers. Die insluiting van die oordrag van landbougrond aan plaaswerkers in die residu-element132 van die telkaart wat landelike ontwikkeling, armoedeverligting en korporatiewe sosiale investering meet, bo en behalwe die wyse waarop grondhervormingsdoelwitte in die eienaarskapselemen verreken word, is 'n aanduiding van die sosio-ekonomiese ontwikkelingsrol wat daar op 'n strategiese vlak aan grondhervormingsprojekte toegeskryf word. Sien ook afdeling 4.3 van hierdie hoofstuk vir ‘n bespreking van die verskillende maniere waarop grondhervormingsdoelwitte in die Wynbedryfhandves geïnkorporeer is.

Ook menslike hulpbronontwikkeling speel (soos in die algemene telkaart) 'n belangrik rol in die transformasie van die landbousektor. Daar word in die handves onderneem dat gapings in die vaardighede van werknemers geïdentifiseer sal word, en dat die regering 'n ondersoek sal loods na die vraag na spesifieke vaardighede in die landbousektor. SETA programme,

132

Daar word in afdeling 4.3 van hierdie hoofstuk melding gemaak van die feit dat die “residu” element in die Wynbedryfhandves geherformuleer is as die “landelike ontwikkeling en armoedeverligting” element. Voorstelle van die Wynbedryfhandves Loodskomitee in terugvoersessies oor die Generiese Kodes op nasionale vlak, het ook meegehelp dat hierdie element in finale weergawes van die Generiese Kodes as die “sosio-ekonomiese ontwikkelingselement”, eerder as die “residu” element bekend staan.

tersiêre opleidingsprogramme en ander vaardigheidsontwikkelings-inisiatiewe sal dan volgens hierdie behoeftes aangepas word. Daar word ook in die handves erken dat 'n hoë kwaliteit van menslike hulpbronne noodsaaklik is om die volgehoue kompeterendheid van die sektor te verseker (Department of Agriculture, 2006a:15-16).

Dit is belangrik om te let op die drie tipes ondernemings wat in die AgriSEB handves en telkaarte geïdentifiseer word, en die verskillende SEB vereistes vir elke tipe onderneming. Ondernemings wat oor 'n periode van vyf jaar 'n gemiddelde omset van meer as R50 miljoen het, moet aan al die elemente van die SEB telkaart voldoen. Ondernemings wat oor 'n periode van vyf jaar 'n gemiddelde omset tussen R5 miljoen en R50 miljoen het, kan as 'n Kwalifiserende Klein Onderneming (KKO) geklassifiseer word (Department of Agriculture, 2006c). KKO hoef aan slegs vyf van die sewe elemente van die AgriSEB telkaart te voldoen. 'n Onderneming wat oor 'n periode van vyf jaar 'n gemiddelde omset van minder as R5 miljoen het, word van SEB vrygestel, en word bloot aangemoedig om op 'n vrywillige basis die AgriSEB teikens (veral ten opsigte van opleiding en korporatiewe sosiale investering) na te streef. Hierdie sogenaamde "Vrygestelde Klein Ondernemings" (VKO's) kry outomaties 'n "vlak vier" SEB status - wat 100% erkenning geniet in terme van SEB verkryging. Hierdie klassifikasie van ondernemings en die vereistes ten opsigte van SEB wat aan elkeen gestel word wyk af van die klassifikasie van ondernemings in die finale gedragskodes van die Departement van Handel en Nywerheid, waarin die afsnypunt vir KKO's R35 miljoen is (Department of Trade and Industry, 2006).

Die AgriSEB handves verskil ook in hierdie stadium steeds van die generiese kodes in dié sin dat KKO's aan vyf van die sewe elemente van die generiese telkaart moet voldoen. Die generiese kodes skryf voor dat KKO's aan slegs vier van die sewe elemente van die generiese telkaart hoef te voldoen (wat dan elk 25 punte uit 100 sal tel). Daar word egter wel die laaste konsepweergawe van die AgriSEB handves genoem dat dit in lyn met die generiese kodes gebring sal word sodra die finale weergawe van hierdie kodes beskikbaar is.

Die AgriSEB handves word in beginsel deur die meerderheid van rolspelers in die landbousektor aanvaar. Die klassifikasie van ondernemings wat hierbo bespreek is bly egter 'n belangrike punt van dispuut. Die Departement van Landbou het aangedui dat hy dit oorweeg om die afsnypunt vir VKO's te verlaag na R1.5 miljoen, wat beteken dat meer

landbou-ondernemings verplig sou wees om aan die AgriSEB handves te voldoen. Landbou-organisasies het ernstige misnoeë met hierdie afwyking van die Departement van Handel en Nywerheid se gedragskodes uitgespreek, en het beswaar gemaak teen die feit dat die Departement van Landbou in hul unilaterale besluit om die klassifikasie van landbou-ondernemings te heroorweeg die aanbevelings van die AgriSEB taakspan (waarop verskillende belanghebbers verteenwoordig is) ignoreer (Landbouweekblad, 2006). Daar word boonop geargumenteer dat die lae vlakke van winsgewendheid in die landbousektor verder bedreig sal word indien ondernemings met 'n beperkte omset gedwing word om duur bemagtigingsprojekte aan te pak (Landbouweekblad, 2006). Die Minister van Landbou het in reaksie op hierdie ontevredenheid 'n ondersoek van stapel gestuur, waarin een van die land se voorste bemagtigingsagentskappe, Empowerdex, die omset en winsgewendheid van landbou-ondernemings in Suid-Afrika moet analiseer en aanbevelings moet maak t.o.v. die kapasiteit van hierdie ondernemings om sinvolle bemagtigingsprojekte te akkommodeer (Moos, 2007). Finale besluite oor die afsnypunte vir VKO en KKO's sal dus geneem word nadat die bevindinge van hierdie ondersoek bekend gemaak is.

Die AgriSEB dokument is (in sy huidige vorm) ontwerp om te dien as 'n Handves vir die Transformasie van die landbousektor - ingevolge Afdeling 12 van die SEB Wet. Dit dien dus as formalisering van die landbousektor se doelwitte en aksieplanne ten opsigte van Swart Ekonomiese Bemagtiging, maar het geen wetlike status nie. Die Departement van Landbou hoop egter om die AgriSEB telkaart (soos wat dit tans in die AgriSEB dokument verskyn) te gebruik as basis vir 'n Afdeling 9 sektorale kode - wat dan in wetlike status gelyk sal wees aan