• No results found

Gedragsopsies en die vestiging van stabiele sosiale verhoudings

Hoofstuk 2: Ekonomiese transformasie en beskrywende teorieë van konflik

7. Gedragsopsies en die vestiging van stabiele sosiale verhoudings

Op die oog af wil dit voorkom asof direkte kompetisie tussen groepe vermy behoort te word, aangesien dit die mees “radikale” opsie vir die hantering van bedreigde status is, en ook oënskynlik die potensiaal het om tot geweld tussen groepe aanleiding te gee. Die hipotese

wat hier ontwikkel word, is egter dat direkte kompetisie as’t ware die opsie vir gedrag is wat tot die mees stabiele sosiale orde kan bydra – mits die reëls van die “kompetisie” deur alle betrokke groepe as regverdig beskou word en die onvermydelike ongelyke uitkomste in ‘n bepaalde omgewing daarom vir alle groepe aanvaarbaar is as die resultaat van ‘n legitieme vergelyking. Hierdie hipotese word afgelei uit die verskillende teorieë aangaande die oorsake

van konflik en Tajfel & Turner se omskrywing van opsies vir die hantering van bedreigde groepstatus wat hierbo opgesom is.

Dit is in die eerste plek weereens nodig om aandag te skenk aan die “onveranderbare lyne van sosiale differensiasie” (Tajfel & Turner, 1979:35) wat deur ras, etnisiteit en kultuur geskep word. Wanneer individue of groepe die uitkomste van die vergelykende proses aanpas deur individuele mobiliteit of sosiale kreatiwiteit, vind daar geen werklike verandering plaas in die posisie van die groep ten opsigte van die eienskappe in terme waarvan dit aanvanklik ‘n laer posisie in status-hiërargieë bekom het nie. Individue wat hulself van die groep probeer onderskei (bv. deur middel van individuele mobiliteit) sal dus steeds gekonfronteer word met

ander se negatiewe stereotipies van hul ras-, etniese of kulturele groep – veral aangesien

sodanige groepe dikwels bepaalde fisiese eienskappe het wat sosiale kategoriserings vergemaklik. Gegewe die belangrikheid van eksterne erkenning in die proses van positiewe self-bevestiging, sou daar geargumenteer kon word dat individuele mobiliteit nie ‘n volhoubare meganisme is waardeur die implikasies van negatiewe askriptiewe groepseienskappe ontkom kan word nie.

‘n Soortgelyke logika sou kon geld in die gevalle van sosiale kreatiwiteit. Die individu en/of groep verander die uitkomste van die vergelykende proses deur die dimensie van vergelyking, die waarde-implikasies van ‘n spesifieke groeps-eienskap of die buitegroepe waarmee die groep vergelyk word te verander. Die aanpassing vind egter primêr op ‘n kognitiewe vlak plaas. Dit behels dus ‘n verandering in self-persepsie, terwyl daar geen werklike verandering plaasvind in die eienskappe in terme waarvan die aanvanklike

negatiewe status gevestig is nie. Beide die relevansie van die vergelyking en aanvaarding

daarvan deur eksterne partye is in sulke gevalle onseker en verhoed dus dat hierdie “opsie vir die hantering van bedreigde groepstatus” ‘n langtermyn oplossing in groepe (en by implikasie ook individue) se strewe na die bevestiging van hul eiewaarde kan wees. Ras-, etniese en kulturele groepe loop boonop ook hier die gevaar dat hul meerderwaardigheid volgens sekere maatstawwe bevestig word, maar die groep se status steeds bedreig word deur die onveranderde eienskappe wat die aanvanklik bron van hul veronderstelde minderwaardigheid is. Voorbeelde van hierdie dinamika word beskryf deur Amy Chua (2003) in haar omskrywing van die frustrasies van polities-bemagtigde meerderhede, wie se status bedreig word deur hul onvermoë om sigself in ‘n ekonomiese omgewing te laat geld.

In die beskrywing van die rol van positiewe self-bevestiging (of die gebrek daaraan) as ‘n meganisme vir tussen-groep konflik is daar verduidelik dat ongelykhede tussen sosiale groepe die positiewe self-bevestiging van groepslede bedreig en uiteindelik tot konflik lei wanneer groepe poog om hul posisies in status-hiërargieë aan te pas of optree om dit te beskerm. Daar is veral klem gelê op die rol van relatiewe status, en die behoefte van sosiale groepe om hul meerderwaardigheid oor groepe in hul omgewing te bevestig. Gegewe hierdie klem op relatiewe status, sou dit moontlik wees om te argumenteer dat die verhoudings tussen groepe tot konflik of minstens onstabiliteit gedoem is omdat dit impliseer dat ‘n bepaalde groep deurgaans (in relatiewe terme) as minderwaardig beskou sal word, en dus ‘n

behoefte sal hê om die situasie (dus: die uitkomste van die vergelykende proses) te verander. Dit wil dus voorkom asof stabiele sosiale verhoudings onmoontlik is in die afwesigheid van die

aanvaarding van ‘n bepaalde vlak van status ongelykheid tussen groepe.

Tajfel &Turner (1979:41-45) het in hul eksperimentele analises gevind dat beide minderwaardige én meerderwaardige groepe tot ‘n groter mate bereid is om ongelyke uitkomste in vergelykende situasies te aanvaar indien die vergelyking, en die omstandighede waaronder die verskille tussen groepe ontwikkel/ gevestig word, as legitiem beskou word. Volgens Tajfel & Turner word ‘n vergelyking as legitiem beskou, wanneer die uitkomste in

regverdige75 omstandighede bepaal is. Ons sou dus kon argumenteer dat onstabiele sosiale verhoudings verbeter kan word deur die aanmoediging van regverdige direkte kompetisie tussen groepe, wat legitieme vergelykings tussen groepe moontlik maak en dus status-hiërargieë kan vestig wat deur die verskillende groepe in die omgewing erken word, en (baie belangrik) ook aan die ondergeskikte groepe in die betrokke situasie die geleentheid gun om hul posisie (selfs al is dit oor die langtermyn) te verander. Dit moet dus vir beide ondergeskikte en dominante groepe moontlik wees om te glo dat hulle oor die langtermyn hul posisie “voortdurende verloorders” (“perpetual losers”) in die kompeterende proses kan verander (Austin, in du Toit [2004b:200])76.

Ten spyte van die ongelyke uitkomste van die kompeterende proses, word daar dus in hierdie omstandighede gelykberegtiging in eiewaarde gevestig en die oënskynlike onvermydelike spiraal van kwetsende vergelykings kan sodoende ontkom word. Die legitimiteit en die veranderbaarheid van vergelykings tussen groepe bring dus mee dat die vergelykings nie langer as meer as kwetsend (“invidious”) ervaar word nie, en in werklikheid skadeloos (“inoffensive”) word.

Dit is duidelik dat die werkbaarheid van so ‘n proses afhanklik sal wees van al die betrokke

groepe se aanvaarding van die legitimiteit/ regverdigheid van die vergelykende situasie, die

maatstawwe van die vergelyking en die omstandighede waaronder die verskille tussen

75

Die aard van hierdie “regverdigheid” word in hoofstuk 3 in meer detail bespreek.

76Dit is hier belangrik om te let op die onderskeid tussen konflik en kompetisie. Wyl kompetisie teenwoordig is in enige situasie waar verskillende individue of groepe meeding om hulpbronne, status, mag, posisie (of enige element wat deur alle betrokkenes as begeerlik beskou word), impliseer konflik ‘n bepaalde (gewoonlik negatiewe) verandering in die verhouding tussen die betrokkenes, as gevolg van onaanvaarbare pogings om die reëls waarvolgens interaksie tussen die groepe geskied, en waarvolgens hulpbronne, status, mag ens. tussen groepe verdeel word, aan te pas.

groepe gevestig word. Die feit dat so ‘n proses teoreties moontlik is skep egter ‘n alternatief tot die spiraal van konflik wat deur die onontkombaarheid van negatiewe relatiewe statusposisies geskep word, en regverdig verdere ondersoek.