• No results found

Hoofstuk 3: ‘n Model vir die hantering van konflik

2. Die behoefte aan transformasie

2.1 Die proses van ongelyke ontwikkeling

Die post-apartheid regering in Suid-Afrika plaas in hul beleid, strategieë en retoriek sterk klem op die sistematiese ekonomiese marginalisering van die swart bevolking wat voor 1994 aan die orde van die dag was, en identifiseer hierdie uitsluiting as die beweegrede agter die verskillende beleidmaatreëls en strategieë wat daarop gemik is om sosio-ekonomiese transformasie aan te moedig. Die ANC se eerste makro-ekonomiese beleid as 'n regerende party, naamlik die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram (1994), het daarop gewys dat daadwerklike ingryping in die ekonomie noodsaaklik is om die gevolge van kolonialisme, rassisme, apartheid, seksisme en onderdrukkende arbeidsbeleid aan te spreek. Daar word verwys na die sistematiese rasgebaseerde segregasie wat in alle sfere van die samelewing gefigureer het, en geargumenteer dat die ongelykhede en armoede wat as gevolg hiervan ontstaan het slegs by wyse van 'n omvattende strategie, wat al die verskillende dimensies van voormalige onderdrukking aanspreek, uitgewis kan word (Government of South Africa, 1998). Die ekonomiese logika wat die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram onderlê het, was dat ekonomiese groei deur middel van herverdeling bevorder kan word.

In die GEAR (Growth, Employment and Redistribution) program wat in 1996 deur die regering aangekondig is, was verwysings na die behoefte aan die herverdeling van rykdom en die

regstelling van ongeregtighede van die verlede grootliks afwesig. Daar is hoofsaaklik gefokus op fiskale en monetêre hervormings wat ingespan sou word om ekonomiese groei aan te moedig. Werkskepping en herverdeling sou volgens die logika van die GEAR strategie deur versnelde ekonomiese groei bevorder word. Daar is dus wegbeweeg van die "groei deur middel van herverdeling" wat in die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram voorgestel is. Hoewel daar dus nie direk na die oorsprong van Suid-Afrika se sosio-ekonomiese ongelykhede verwys is nie, het die insluiting van armoedeverligting en die herverdeling van inkomste as primêre doelwitte van die beleid steeds impliseer dat Suid-Afrika se ekonomiese geskiedenis 'n onaanvaarbare status quo gevestig het wat op een of ander wyse verander moes word.

Ook in die "Tien Jaar Oorsig" wat in 2003 deur die regering geloods is, is daar verwys na die ongelykhede en verdeeldheid wat in die tien jaar sedert 1994 oorkom moes word. Die doelbewuste aard van die onderontwikkeling en uitsluiting van swart Suid-Afrikaners word weereens beklemtoon. Daar word met verwysing na die nalatenskap van apartheid gesê dat: "Blacks were denied the franchise, society was divided along racial lines and the social exclusion and neglect of the majority was a matter of state policy" en aangedui dat die vernaamste uitdaging van die demokratiese regering juis was om hierdie nalatenskap te ontredder (Government of South Africa, 2003).

In die Strategie vir Swart Ekonomiese Bemagtiging101 wat in 2003 deur die Departement van Handel en Nywerheid vrygestel is, is die "nalatenskap van Apartheid" weer meer direk beklemtoon. Die SEB Strategie word voorgehou as 'n noodsaaklike poging deur die regering om die "sistematiese uitsluiting van die meerderheid van Suid-Afrikaners van volle deelname aan die ekonomie" aan te spreek (Department of Trade and Industry, 2003b:6).

In 2005, het die Suid-Afrikaanse regering die ASGISA102 program aangekondig as sy makro-ekonomiese beleidsraamwerk vir die komende 10 jaar. Die primêre doel van die program is om ekonomiese groei genoegsaam te stimuleer om Suid-Afrika in 'n posisie te plaas om (in pas met die VN se Millennium Ontwikkelingsdoelwitte) armoede en werkloosheid teen 2014 te

101Dit is belangrik om daarop te let dat die regering deurgaans die beskrywing "Breë Basis Swart Ekonomiese Bemagtiging" gebruik. Ter wille van eenvoud, sal daar egter hier bloot verwys word na "Swart Ekonomiese Bemagtiging" of SEB.

halveer. 'n Ambisieuse groeiteiken van 6% is gestel (Government of South Africa, 2005). Die nalatenskap van apartheid word ook in die ASGISA program as 'n belangrike struikelblok vir Suid-Afrika se toekomstige ontwikkeling geïdentifiseer. Daar word spesifiek verwys na die "doelbewuste minderwaardige" onderwysstelsel waarbinne die meerderheid van die bevolking vasgevang was, die "irrasionele" patrone van bevolkingsverspreiding en die effek daarvan op die beskikbaarheid van gepaste vaardighede en die koste van arbeid103 (Government of South Africa: 2005:5).

Ook in die toesprake van prominente regeringsleiers word daar verwys na die onderontwikkeling en sosio-ekonomiese agterstande wat as gevolg van apartheid bestaan, en geargumenteer dat die demokraties-verkose regering 'n mandaat het om hierdie agterstande uit te wis104. In 'n toespraak oor die tema "ekonomiese ontwikkeling en regstelling" deur die Minister van Finansies, Trevor Manuel (2000), word die situasie as volg opgesom:

"We are a society that has experienced systematic and legally framed oppression of a majority by a minority. The sustained cruelty of the system left its mark on every black person in the country. The cruelty of forced removals, of inferior education, of economic repression, of pass laws, of statelessness, of racism. Today we live in a situation where the former victims have political power. But the past hasn’t left us. The mark of cruelty is still manifest in the poverty we suffer, in the inequality in our country, in the appalling legacy of inferior education, in ongoing racism."

Die deurlopende argument in die bogenoemde beleidsraamwerke, sowel as die openbare kommunikasie van regeringsleiers is dat Suid-Afrika se huidige sosio-ekonomiese omstandighede nie 'n historiese toevalligheid is nie, maar die resultaat is van spesifieke diskriminerende wetgewing en praktyke wat tydens (en selfs voor) die apartheidsera toegepas is. Daar word hier 'n kort oorsig gegee van die belangrikste wetgewing wat die sosio-ekonomiese posisie van die swart bevolking beïnvloed het.

Die ekonomiese uitsluiting van swart Suid-Afrikaners het reeds in die laat 1800's onder Brittanje se koloniale bewind begin met die eerste onteiening van grond wat aan swart persone behoort het (Government of South Africa, 2003:6). Volgens Sampie Terreblanche

103Daar word o.a. geargumenteer dat arbeidskoste (van veral ongeskoolde arbeid) opgejaag word deur die feit dat soveel werknemers groot afstande moet aflê om by hul werkplek te kom.

(2002:245-247) is ras-gebaseerde kapitalisme in die vroeë 1900's geïnstitusionaliseer met die implementering van die bevindinge van die verslag van die "South African Natives Affairs Commission” (SANAC) wat in 1903 gepubliseer is. Na die ontdekking van goud in 1886 het Britse koloniale leiers voor 'n belangrike uitdaging te staan gekom. Goud kon in Suid-Afrika slegs winsgewend ontgin word indien 'n goedkoop bron van arbeid gevind kon word. Die SANAC verslag het gevolglik voorgestel dat swart grondbesit beperk behoort te word ten einde swart Suid-Afrikaners indirek te verplig om "vrywilliglik" hul arbeid teen laer pryse beskikbaar te maak (Legassick in Terreblanche, 2002:261). Die Naturelle Grondwet van 1913, het (in pas met die aanbevelings van die SANAC verslag) swart grondbesit buite naturelle-reservate (wat slegs 8.3% van Suid-Afrika se grondgebied beslaan het) verbied ([Terreblanche, 2002:261]; [Gelb, 2004:10]). 'n Goedkoop bron van arbeid is sodoende vir beide die myne (wat in daardie stadium grootliks onder Britse beheer was) sowel as die landbou-aktiwiteite van Afrikaanssprekende wit Suid-Afrikaners gevestig (Marais, 1998:9). Die Wet op Myne en Mynwerkers wat in 1911 aanvaar is, het boonop bepaalde werke in die myne vir wit werkers gereserveer ([Terreblance, 2002:269]; [Government of South Africa, 2003:6]). Swart werknemers kon dus nie hul posisie in die werkplek, en gevolglik ook nie hul salarisse, bo 'n bepaalde vlak verbeter nie. Diskriminerende arbeidswetgewing het deur die loop van wit minderheidsbeheer 'n belangrike instrument van swart onderdrukking gebly. In kombinasie met paswette en instromingsbeheer (wat swart persone se toegang en vrye beweging in stedelike areas wat dikwels ook die nodes van ekonomiese ontwikkeling gevorm het -beperk het) het dit swart Suid-Afrikaners tot ekonomiese onderontwikkeling gedoem.

Swart eienaarskap in die ekonomie is sedert die begin van die Nasionale Party se bewind in 1948 op 'n verskeidenheid van wyses belemmer. Daar was onder meer wetgewing wat swart persone se toegang tot kapitaal belemmer het; die Groepsgebiede Wet van 1950 het swart Suid-Afrikaners verhoed om besighede in groot gedeeltes van dorpe en stede te besit; daar was regulasies wat swart entrepreneurs verhoed het om meer as een besigheid te besit, om maatskappye of vennootskappe te stig, of om hul besigheidspersele te besit (Gelb, 2004:9). Swart maatskappye is beperk tot sekere aktiwiteite (hoofsaaklik kleinhandel voorsiening van voedsel en brandstof) (Gelb, 2004:9). Beperkings op swart eienaarskap van eiendom het boonop veroorsaak dat swart persone geen sekuriteit vir lenings kon aanbied nie, en gevolglik nie in 'n posisie was om ander bates te bekom nie.

Die sosio-ekonomiese posisie van swart Suid-Afrikaners word ook steeds beïnvloed deur die minderwaardige onderwys wat tydens apartheid aan swart leerders gebied is. Daar is veral min aandag gegee aan tegniese-, wiskundige- en wetenskaplike vaardighede wat talle swart werkers sonder die nodige vaardighede gelaat het om in 'n moderniserende, kommersiële ekonomie indiensname te vind of om hul eie ondernemings van die grond af te bring ([ACESS, 2002]; [Government of South Africa, 2003:7]; [Manual, 2000]). Slegs 'n klein minderheid het tersiêre opleiding bekom. Die huidige behoefte aan en klem op hoër kwaliteit onderwys en vaardigheidsontwikkeling vir swart Suid-Afrikaners verteenwoordiging 'n poging om die agterstande wat deur hierdie diskriminerende praktyke gevestig is reg te stel ([Government of South Africa, 2003]; [Department of Labour, 2005]).

2.2 Sosio-ekonomiese ongelykhede

Hierdie sistematiese onderontwikkeling het 'n verreikende impak op Suid-Afrika se ekonomiese ontwikkeling, en spesifiek die sosio-ekonomiese situasie van swart Suid-Afrikaners gehad.

In die dekade voor 1994 was ekonomiese groei minder as 1% per jaar (Government of South Africa, 2003). In die vroeë 1990's het die ekonomie tot 'n groot mate stagneer as gevolg van (o.a.) die beperkte binnelandse mark, 'n gebrek aan geskoolde arbeid, die kostes van industriële stakings, internasionale sanksies, hoë uitgawes op veiligheid en sekuriteit en die oneffektiwiteit van ondernemings wat deur sanksies en 'n hoogs beskermende invoerbeleid van internasionale kompetisie geïsoleer is. Hoewel Suid-Afrika in terme van gemiddelde per capita inkomste as 'n hoër-middel inkomste land beskou word is meer as 40% van die bevolking in 1993 as "arm" beskou105 (Government of South Africa, 1994:8). In terme van 'n relatiewe armoedsgrens (waarin daar aanvaar word dat 'n spesifieke persentasie van die bevolking met die laagste inkomstevlakke as arm beskou kan word) kon 53% van die bevolking in 1993 as "arm" geklassifiseer word.

Die afwyking tussen die gemiddelde vlakke van inkomste en die inkomste van arm Suid-Afrikaners dui op 'n besonderse hoë vlak van inkomste-ongelykheid. Met 'n beraamde Gini

105

Hierdie syfer is gebaseer is op maatstaf van armoede wat kyk na die vlakke van verbruik (byvoorbeeld - 'n vlak van verbruik wat dui op 'n bepaalde minimum kalorie-inname) waaronder 'n huishouding minder as 'n bepaalde "minimum" lewenstandaard kan handhaaf.

koëffisiënt van 0.61106, is Suid-Afrika in die vroeë 1990's (en in der waarheid tot vandag toe) beskou as een van die mees ongelyke samelewings ter wêreld107. Gemeet in terme van verskillende bevolkingsdesiele se aandeel in besteding was die armste 40% van huishoudings (wat ongeveer 53% van die totale bevolking verteenwoordig) in 1994 verantwoordelik vir slegs 10% van totale verbruik (Government of South Africa, 1994). Die boonste 10% van huishoudings (wat slegs 5.8% van die bevolking verteenwoordig het) was daarteenoor verantwoordelik vir ongeveer 40% van totale verbruik (Government of South Africa, 1994).

Gegewe Suid-Afrika se politieke en ekonomiese geskiedenis het beide armoede en ongelykheid in die land 'n sterk rasse-dimensie. In 1993 was ongeveer 95% van armes in Suid-Afrika swart. Volgens May, Woolard & Klasen (2000:27) is tussen-ras ongelykheid boonop verantwoordelik vir ongeveer 37% van totale inkomste-ongelykheid - ten spyte van 'n noemenswaardige styging in die inkomste-aandeel van swart huishoudings en die groeiende binne-groep ongelykheid in die 20 jaar tot 1994108.

Beide armoede en ongelykheid is vererger deur die historiese gebrek aan beleggings in menslike kapitaal (waaronder: gesondheid en onderwys) vir die meerderheid van Suid-Afrikaners en arbeidspraktyke waarin daar teen swart persone gediskrimineer is (Jenkins & Thomas, 2000:2). Verskille in vlakke van opleiding, werksreservering en ander vorme van diskriminasie het egter oor veroorsaak dat werkloosheid in Suid-Afrika 'n sterk rasse-dimensie het. In 1995 was die werkloosheidsyfer vir swartes 37%, teenoor 6% vir wittes, 23% vir kleurlinge en 13% vir Indiërs (Burger, 2004:61).