• No results found

Verskillende benaderings tot die hantering van konflik

Hoofstuk 3: ‘n Model vir die hantering van konflik

3. Verskillende benaderings tot die hantering van konflik

John Paul Lederach (1995) onderskei tussen drie moontlike benaderings tot die hantering van konflik - naamlik: konflik skikking (of konflik bestuur)78, konflik resolusie en konflik transformering. Hierdie terme word oor die algemeen verwisselbaar in akademiese literatuur gebruik, en moet volgens Cordula Reimann (2003:7) as ideaal-tipes, eerder as duidelik onderskeibare alles-omvattende teoretiese stelsels beskou word. Die benaderings kan

78

Volgens Cordula Reimann (2003:1,12) word daar in konflik skikking gebruik gemaak van die “logika van bestuur”, maar word die term “konflik skikking” verkies, aangesien “bestuur” dikwels as ‘n sambreelterm vir verskillende benaderings tot konflik gebruik word.

nietemin van mekaar onderskei word op grond van hul basiese aannames met betrekking tot die oorsake van konflik, die akteurs wat in die hantering van konflik betrek behoort te word, die strategieë wat in die hantering van die konflik gebruik word, en die kriteria vir suksesvolle uitkomste (Reimann, 2003:7). Die drie benaderings word hier op grond van hierdie vier eienskappe onderskei.

3.1 Konflik skikking

Konflik skikking is ‘n uitkoms-georiënteerde strategie wat daarop gemik is om sogenaamde “wen-wen” oplossings vir konfliksituasies te vind (Reimann, 2003:8). Die fokus val primêr op die be-eindiging van onstabiliteit, direkte konfrontasie of geweld, en daar word nie spesifiek aan die onderliggende oorsake van die konflik aandag gegee nie (Burgess & Burgess et al [1997] & Reimann [2003:8]).

Konflik word beskou as die gevolg van ‘n onaanvaarbare sosio-politieke orde of status quo, en daar word aanvaar dat die belange van verskillende partye onversoenbaar is, aangesien die aard van die orde waarbinne groepe opereer hulle in kompetisie vir skaars hulpbronne plaas. Dit sluit in hierdie opsig aan by die sogenaamde objektivistiese siening oor die oorsake van konflik, waarin daar veronderstel word dat konflik sy oorsaak in die struktuur van die samelewing het – en nie in die subjektiewe ervaring of persepsies van die betrokke groepe nie.

Onderhandelings word gebaseer op die aanname dat die hoë-vlak verteenwoordigers van die betrokke groepe as rasionele akteurs in staat sal wees om ‘n oplossing te formuleer wat “wedersydse tevredenheid” of ‘n “optimale punt van inskiklikheid” teweeg sal bring (Reimann, 2003:8). Daar word onderskei tussen die korttermyn, relatief “kunsmatige” posisies van groepe, en hul langtermyn, fundamentele belange. Daar word aanvaar dat wyl groepe se posisies oor spesifieke kwessies nie onderhandelbaar is nie, daar deur middel van fasilitering, onderhandeling, mediasie of arbitrasie gepoog kan word om hul belange te konvergeer (Reimann, 2003:9). Die proses van konflik skikking word as suksesvol beskou indien geweld of vyandigheid be-eindig word (bv. deur middel van ‘n skietstaking of ‘n ooreengekome raamwerk vir die vestiging van ‘n aanvaarbare politieke orde), en daar is geen eksplisiete poging om sosiale geregtigheid te bevorder of betekenisvolle vrede (dus: meer as net “die

afwesigheid van konflik”) te bewerkstellig nie. ‘n Voorbeeld van hierdie skikkings-benadering tot konflik kan gevind word in I.W. Zartman (2001) se konseptualisering van wedersyds nadelige dooiepunte (“mutually hurting stalemates”), waarby geen party verder by die voortsetting van konflik kan baat nie en rasionele akteurs dus tot onderhandeling sal oorgaan in ‘n poging om ‘n posisie van optimale behoefte-bevrediging vir al die betrokke partye te vind.

3.2 Konflik resolusie

Konflik resolusie behels daarenteen verskillende proses-georiënteerde pogings om die onderliggende oorsake van konflik aan te spreek (Reimann, 2003:9). Langdurige konflik word in hierdie benadering beskou as die gevolg van onvervulde menslike behoeftes (aan byvoorbeeld: sekuriteit, identiteit, aansien/status, deelname, sosiale geregtigheid en ontwikkeling) en die behoefte aan sosiale verandering wat hieruit ontstaan79. Dit sluit aan by die subjektivistiese siening oor die oorsake van konflik, waarin daar klem geplaas word op groepe se subjektiewe ervaring en persepsies van hul omstandighede, en die wyse waarop hul aksies beïnvloed word deur die betekenis wat op grond van hierdie ervarings/persepsie aan die sg. objektiewe realiteit geheg word80.

As gevolg van die klem op subjektiewe ervaring en persepsie (eerder as ‘n objektiewe realiteit ten opsigte waarvan ‘n bepaalde ononderhandelbare standpunt ingeneem word) is daar in hierdie benadering ruimte om ‘n proses van her-konseptualisering by konflikterende groepe aan te moedig, waarin sienings oor opponente, negatiewe interpretasies van bepaalde omstandighede/ gebeure en opvattings oor die groep se posisie in die samelewing aangepas kan word. Gefasiliteerde gesprekke, probleemoplossings-werkswinkels of tafelronde besprekings kan konflikterende groepe aanmoedig om mekaar se behoeftes en vrese te erken, en oplossings te identifiseer wat geen groep se fundamentele behoeftes onbevredig laat nie. Waar konflik op hierdie wyse hanteer word, word enige verbetering in kommunikasie, toename in samewerking of bevordering van wedersydse begrip vir mekaar se behoeftes as ‘n suksesvolle uitkoms vir die proses beskou (Reimann, 2003:10). As gevolg van die klem op kommunikasie, en die noodsaaklikheid van nuwe inligting en interpretasies van die sosiale realiteit om her-konseptualisering te fasiliteer, word daar in hierdie benadering tot die

79

Sien byvoorbeeld in hierdie verband John Burton (1990) se teorie oor die rol van menslike behoeftes in tussen-groep konflik.

hantering van konflik ‘n breër basis van akteurs betrek. Nie-regerings organisasies, akademici en burgerlike groepe kan byvoorbeeld ‘n sentrale rol speel in die versameling en verspreiding van akkurate inligting oor verskillende groepe se sosio-ekonomiese en politieke omstandighede, hul waardes en hul behoeftes - en sodoende wedersydse begrip tussen groepe bevorder.

Volgens Lederarch, (in Burgess & Burgess et al, 1997) impliseer die konsep “konflik resolusie” egter steeds dat konflik negatief is, (en dus ten alle koste beëindig moet word), en dat konflik ‘n korttermyn “fenomeen” is, wat permanent “opgelos” kan word indien verskillende groepe se behoeftes aangespreek word. Daar is dus steeds ‘n onder-beklemtoning van die potensiaal van konflik om positiewe sosiale verandering te bewerkstellig en van die behoefte aan ‘n langtermyn benadering wat selfs ná die be-eindiging van ‘n bepaalde konfliksiklus, meer stabiele verhoudings tussen groepe ondersteun.

3.3 Konflik transformering

Konflik transformering (soos omskryf deur Lederach [1995], Curle [1971] en Galtung [1996]) verwys na uitkoms-, proses-, én struktuur-georiënteerde langtermyn pogings om stabiele verhoudings tussen groepe te vestig. Konflik transformering is gebaseer op ‘n soortgelyke konsepsie van die oorsake van konflik as wat hierbo onder konflik resolusie bespreek is, en maak gebruik van soortgelyke metodes in die hantering van konflik. Dit behels egter ook ‘n verdere stap in die vestiging van ‘n stabiele sosio-politieke orde, naamlik: die bevordering van

strukturele veranderinge81 wat verhoudings tussen groepe op ‘n volhoubare basis sal verbeter. Daar word dus gepoog om die potensiaal vir verandering wat in konfliksituasies geskep word aan te wend in die bevordering van sosiale geregtigheid (Reimann, 2003:10-11).

Die basiese aannames van “konflik transformering” as ‘n benadering tot die beslegting van konflik, en die beginsels wat in die benadering toegepas word, kan as volg opgesom word (Burgess & Burgess et al, 1997):

81

Daar is in hoofstuk 2 genoem dat daar “struktuur” in hierdie studie hoofsaaklik verwys na sogenaamde nie-materiële strukture (waaronder: gedeelde konsepsies van realiteit, reëls, norme, instellings ens.) wat die gedrag van die akteurs in die betrokke sosiale omgewings beïnvloed, maar dat hierdie strukture uiteindelik bepalend is in die materiële struktuur van die samelewing (soos gesien in die verdeling van mag, hulpbronne, status/ aansien ens.). Wanneer daar dus hier van “strukturele verandering” gepraat word, word daar dus verwys na aanpassings in beide nie-materiële strukture en die gepaardgaande materiële strukture in die samelewing.

 Sosiale konflik ontstaan in die verhoudings tussen mense, hul persepsies van mekaar, hul interpretasie van gebeure en hul sienings oor hulself (dus: die subjektivistiese verklaring vir die oorsake van konflik).

 Die bogenoemde verhoudings, persepsies, interpretasies en sienings word deur konflik verander (of “getransformeer”).

 In die afwesigheid van enige vorm van ingryping, kan hierdie veranderinge ‘n destruktiewe impak op die verhoudings tussen groepe hê – veral aangesien konflik gewoonlik die verskille tussen groepe beklemtoon en geneig is om vooroordeel ten gunste van die binnegroep en ten koste van buitegroepe aan te moedig.

 Die uitgangspunt van die transformatiewe benadering tot die beslegting van konflik is egter dat die transformasie van sosiale strukture, verhoudings en die self-persepsie van individue en groepe wat tydens konflik plaasvind aangepas kan word, om uiteindelik strukture, verhoudings en persepsies te verbeter, of meer stabiel te maak.

 Konflik is dus nie noodwendig negatief nie, maar kan tot noodsaaklike aanpassings in ‘n sosiale orde aanleiding gee.

 Die “transformasie” wat tydens die proses van konflikbeslegting plaasvind behels primêr ‘n aanpassing in groepe se persepsies van mekaar van hulself, en die uitbou van begrip vir mekaar se situasies.

 Daar word veronderstel dat selfs wanneer groepe se belange en waardes verskil of onversoenbaar is, die verbetering in wedersydse begrip wat in die proses van konflikbeslegting bevorder word ‘n noemenswaardige verbetering in die verhouding en interaksie tussen groepe kan bewerkstellig. Waar so ‘n verbetering in die verhoudings en interaksie tussen groepe bewerkstellig is, word die proses van konflikbeslegting as suksesvol beskou.

 Daar word spesifiek klem geplaas op die rol van konflik in die identifisering/ verheldering van verskillende groepe se behoeftes of griewe (hetsy by wyse van aktivisme of tydens onderhandelings) en die uitdrukking/ erkenning van persoonlike emosies, byvoorbeeld: vrees, woede of bitterheid. Die openbare uitdrukking of erkenning van hierdie behoeftes, griewe en emosies plaas druk op die vooropgestelde idees wat groepe van mekaar en hul eie identiteite koester, en gee aanleiding tot ‘n byna noodsaaklike aanpassing in verskillende groepe se persepsies van en houdings teenoor mekaar. Waar hierdie aanpassing ‘n positiewe, de-polariserende effek op verhoudings het (eerder as om

negatiewe reaksies te ontlok wat antagonisme tussen groepe kan verskerp), word ‘n meer stabiele basis vir verhoudings gevestig.

 Die verbetering in intergroep verhoudings, en die siklus van positiewe interaksie wat daardeur gevestig word fasiliteer die ontwikkeling van ‘n meer gelyke en regverdige sosiale orde – bv. deur die eliminasie van onderdrukking, verbeteringe in die verdeling van hulpbronne en die vestiging van nie-gewelddadige kanale vir die beslegting van konflik.  Hierdie sistemiese transformasie bevorder weer gesonde verhoudings tussen groepe. ‘n

Positiewe siklus van verbeterde verhoudings en instellings word dus aan die gang gesit, wat uiteindelik strukturele veranderinge teweeg bring wat sosiale geregtigheid bevorder, en sodoende ‘n meer stabiele samelewing vestig.

Dit is dus duidelik dat daar in die transformatiewe benadering aan beide die vestiging van regverdige sosiale strukture en die rol van persepsies, houdings en subjektiewe interpretasies van objektiewe omstandighede aandag gegee word. Die beginsels van die transformatiewe benadering tot die hantering van konflik word vervolgens in meer detail bespreek.