• No results found

Hoofstuk 3: ‘n Model vir die hantering van konflik

7. Konflik transformering en die kontakhipotese

Die teorie van konflik transformering sluit op ‘n unieke wyse aan by die bekende, maar kontroversiële kontakhipotese. Dié hipotese is aanvanklik ontwikkel deur Gordon Allport in sy 1954 boek, The Nature of Prejudice. Allport argumenteer dat tussen-groep vooroordeel in optimale omstandighede deur kontak tussen groepe verminder kan word (du Toit & Bosman, 2007:3-4). ‘n Negatiewe korrelasie tussen kontak tussen groepe en konflik tussen groepe word dus geïdentifiseer (met ander woorde: meer kontak tussen groepe lei tot minder konflik tussen die betrokke groepe) (Forbes, 2004:69).

In terme van die teoretisering rondom die kontakhipotese is daar drie voorvereistes (sogenaamde “optimale omstandighede”) vir die negatiewe korrelasie tussen kontak en konflik om te realiseer, naamlik: (i) dat groepe in situasies van kontak gelyke status geniet, (ii) dat die groepe in ‘n aktiwiteit betrek word waar hulle ‘n gesamentlike doelwit het, en (iii) waar die situasies van kontak ‘n bepaalde vlak van institusionele legitimiteit het (Smith, 1994:438). Dit sluit in hierdie opsig aan by verskeie eienskappe en voorskrifte van konflik transformering, waaronder:

 die positiewe ingesteldheid teenoor konflik – en die gepaargaande aanname dat konflik ‘n geleentheid vir interaksie tussen twistende groepe skep waarin daar wedersyds nuwe materiaal vir interpretasie ingesamel word wat ‘n positiewe impak op die verhoudings tussen groepe kan hê (sien ook Lederach se beskrywing van die vlakke van transformasie in afdeling 4.2 van hierdie hoofstuk);

 die implisiete doelmatigheid van interaksie tussen rolspelers in situasies van konflik – naamlik: om die oorsake van die konflik aan te spreek en verhoudinge tussen groepe te herstel;

 die klem wat daar in die transformatiewe benadering op die legitimiteit van vredesonderhandelinge geplaas word; en

 die benadering se behoefte aan gelykmatige deelname aan vredesprosesse, soos verwoord in vereistes rakende verteenwoordiging in onderhandelinge, prosedurele geregtigheid en ewekansigheid in die geldigheid van verskillende standpunte en behoeftes.

Dit is belangrik om te let daar in die kritiek teen die kontakhipotese primêr verwys word na die ontoereikende beskrywing van die omstandighede waaronder kontak tussen groepe tot ‘n afname in konflik sal lei (die sogenaamde “optimale omstandighede” vir tussengroep kontak) (Pettigrew & Tropp [2006]; Connolly [2000]; Smith [1994]) . Gegewe die raakpunte tussen die kontakhipotese en konflik transformering sou laasgenoemde moontlik ingespan kon word om hierdie definisie van die optimale omstandighede vir tussengroep kontak in omstandighede van sosiale konflik uit te brei. Op grond van die bogaande bespreking van konflik transformering sou daar byvoorbeeld voorgestel kon word dat daar in die formulering van die “optimale omstandighede” vir tussengroep kontak in die kontakhipotese ook verwys word na die noodsaaklikheid van ‘n “vloei van inligting” tussen verskillende groepe, en die skep van ‘n veilige ruimte waarbinne groepe die geleentheid gegun word om hul opvattings oor mekaar, en moontlike ook oor kwessies wat tradisioneel tot konflik tussen die groepe aanleiding gee, te artikuleer.

‘n Meer uitgebreide bespreking van die kontakhipotese en die bydrae wat deur die teorie rakende konflik transformering tot hierdie hipotese gemaak kan word val buite die bestek van hierdie studie. Die raakpunte, ooreenkomste en verskille tussen die twee teorieë, en die implikasies daarvan vir die geldigheid van beide teorieë sou egter in verdere studies oorweeg kon word.

8. Slot

Daar is in Hoofstuk 2 tot die gevolgtrekking gekom dat raamwerke vir die effektiewe bestuur van konflik, ook in die bestuur van transformasie ingespan kan word. In hierdie hoofstuk is daar getoon dat beide die behoefte aan sosiale geregtigheid, en die herstel van sosiale verhoudings in die transformatiewe benadering tot die hantering van konflik aangespreek word.

In Afdeling 6 is daar getoon dat ‘n transformatiewe benadering tot konflik kan bydra tot stabiele sosiale verhoudings in soverre dit begrip tussen sosiale groepe bevorder en sodoende omstandighede skep waarbinne die beginsels van sosiale geregtigheid in die formulering van kompeterende reëls aanvaar sal word. Waar die reëls vir kompetisie op die beginsels van sosiale geregtigheid gebaseer word, behoort die veranderbaarheid van sosiale hiërargieë die kwetsende aard van vergelykings wat op grond van onvermydelike ongelyke

uitkomste getref word te verwyder. Gelykberegtiging in eiewaarde word sodoende bevorder, en ‘n volhoubare basis vir vreedsame sosiale verhoudings word gevestig.

In die soeke na ‘n model vir die effektiewe bestuur van transformasie, sou ons dus kon argumenteer dat transformasie ook as ‘n proses van konflik transformering hanteer behoort te word. In die volgende twee hoofstukke word daar ‘n gevallestudie geskets van die proses van ekonomiese transformasie in Suid-Afrika. Die gevallestudie sal dan aan die hand van die teorieë en konsepte in die transformatiewe benadering tot die hantering van konflik ontleed word met die doel om (a) die toepaslikheid van die teorie as ‘n instrument vir die analisering van transformasie te toets en (b) om voorstelle vir die meer effektiewe bestuur van ekonomiese transformasie in die geval onder bespreking te maak.

Hoofstuk 4: Transformasie in Suid-Afrika

1. Inleiding

Die bevrydingstryd in Suid-Afrika het in die 1990’s gekulmineer in die inkrementele verwydering van die diskriminerende wetgewing en praktyke van die apartheidsbeleid, die eerste demokratiese verkiesing in 1994, en die relatief vreedsame oorgawe van politieke mag aan ‘n demokraties-verkose nie-rassige regering. Daar is van die nuwe regering verwag om die nalatenskap van rasgebaseerde onderontwikkeling en die gevolglike armoede en ongelykheid aan te spreek (Padayachee, 2006:7). Volgens Hein Marais (1998:2) was daar by menigte Suid-Afrikaners die verwagting dat die politieke transisie noodwendig, en feitlik onmiddellik sou vertaal in ‘n verbetering in hul lewensomstandighede. Marais (1998:2) beskryf dit as ‘n vorm van politieke reduksionisme, waarin die staat beskou word as die sentrale sentrum van mag (en dus ook die sentrale agent van transformasie) en waarin daar aanvaar word dat beheer oor die staat via ‘n demokraties-verkose regering noodwendig sal lei tot ‘n nuwe benadering tot besluitneming en beleid wat (selfs oor die korttermyn) die belange van die politieke meerderheid sal dien.

Die politieke transisie van 1994, word egter toenemend beskryf as ‘n “gedeeltelike oordrag” (“partial transfer”) waartydens veranderinge aan die formele politieke orde en magsverhoudinge suksesvol bewerkstellig is, maar die instellings, ekonomiese ideologie en informele magsverhoudinge wat ekonomiese apartheid in stand gehou het grootliks onaangeraak gelaat is (Marais [1998:2]; Brown & Fölscher [2004:xi]). Suid-Afrika se geskiedenis van ongelyke ontwikkeling vereis egter dat daar spesifiek aandag gegee moet word aan die effek van historiese diskriminasie op die sosio-ekonomiese omstandighede van (veral swart) Suid-Afrikaners en die wyse waarop die sosio-ekonomiese nalatenskap van apartheid tans aangespreek word. Toenemende ongeduld met en opstand teen die gebrek aan sosio-ekonomiese transformasie dui op ‘n diepliggende behoefte aan ekonomiese geregtigheid wat die ongelykhede van die verlede regstel.

In Afdeling 2 van hierdie hoofstuk word daar ‘n bondige opsomming gegee van die ekonomiese aspekte van die apartheidsbeleid wat bepalend was vir die sosio-ekonomiese omstandighede wat tans in Suid-Afrika heers. Daar word dan gekyk na die aard en omvang

van sosio-ekonomiese ongelykhede in Suid-Afrika ten tye van die politieke transisie. In Afdeling 3 word daar ‘n oorsig gegee van die verskillende maniere waarop die regerende party en ander akteurs in die ekonomiese arena sedert 1994 gepoog het om sosio-ekonomiese transformasie te bewerkstellig. Die SEB strategie en beleid en die prosesse wat hierdie strategie en beleid ondersteun het word in Afdeling 4 beskryf as ‘n spesifieke uitdrukking van die regering se benadering tot transformasie. Daar word in Afdeling 5 ‘n oorsig gegee van uiteenlopende interpretasies van en kommentaar op die SEB proses, ter illustrasie van die uitdagings wat steeds ten opsigte van sosio-ekonomiese transformasie bestaan. Hierdie hoofstuk dien as oorsig van die politieke en sosio-ekonomiese konteks waarbinne sektorale en industrie-spesifieke transformasieprosesse tans aangepak word, en skets dus die agtergrond vir die bespreking van transformasie-inisiatiewe in die Suid-Afrikaanse landbousektor en wynbedryf wat in Hoofstuk 5 plaasvind.