• No results found

Konflik transformering as ‘n unieke benadering tot die hantering van konflik

Hoofstuk 3: ‘n Model vir die hantering van konflik

4. Die Transformatiewe benadering tot konflik

4.1. Konflik transformering as ‘n unieke benadering tot die hantering van konflik

John Paul Lederach (in Lederach & Maiese, 2003) beskryf konflik transformering as beide ‘n “lens” en ‘n “strategiese benadering” tot konflik. Lederach gebruik in hierdie artikel die metafoor van ‘n tri-fokale lens in ‘n bril, wat in een raam is, maar elk ‘n unieke bydrae lewer om verskillende aspekte van die (komplekse) visuele wêreld in fokus te bring. Hy beklemtoon twee belangrike eienskappe van hierdie “bril”. Eerstens, indien die verkeerde lens vir die verkeerde vlak van visie ingespan word, sal geen duidelike beeld gesien word nie. Tweedens, kan ‘n volledige prentjie van die visuele realiteit nie deur enige enkele lens verkry word nie, en het elke lens ‘n bepaalde rol om te vervul ten einde ‘n volledige beeld moontlik te maak. Lederach redeneer dat daar in die komplekse sosiale realiteit, en spesifiek in situasies van konflik, ook verskillende “lense” nodig is om verskillende dimensies van die realiteit te verhelder. Volgens Lederach, benodig ons in situasies van konflik “lense” om drie verskillende dimensies van die situasie te verhelder, insluitende: (1) Die onmiddellike omstandighede; (2) Om verby die onmiddellike probleme te sien en diepliggende patrone in verhoudings wat die konteks van die konflik vorm te identifiseer en aan te spreek; (3) Om met beide die onmiddellike omstandighede en die patrone van verhoudings in gedagte ‘n platform te vind vanwaar die konteks en sosiale strukture waarbinne die konflik afspeel ontleed en vervolgens aangepas kan word.

Hierdie metafoor strook met beskrywings van konflik transformering as die volgende stap in ‘n “kontinuum” in die hantering van konflik wat begin met konflik skikking, konflik resolusie as

volgende stap het, en uiteindelik kulmineer in konflik transformering (soos beskryf deur Botes [2003: 3]). Die unieke bydrae van die transformatiewe benadering lê dus in die laaste dimensie wat hierbo genoem word, naamlik die fokus op konteks en sosiale strukture en die wyse waarop hierdie veranderlikes aangepas kan word om ‘n meer stabiele sosiale orde te vestig.

Lederach (in Lederach & Maiese, 2003) definieer verder “konflik transformering” in terme van ‘n aantal eienskappe82 wat volgens hom “lense” voorsien om die drie dimensies van konfliksituasies te begryp, en strategiese keuses in die hantering van konflik moet lei. Hierdie eienskappe sluit in:

 ‘n Positiewe ingesteldheid teenoor konflik - waarin die potensiaal van konflik om konstruktiewe verandering teweeg te bring erken word, en daar dus groter bereidwilligheid is om in konflik betrokke te raak. Lederach argumenteer ook dat konflik individue en groepe dwing om hulself en hul verhoudings met ander onder die soeklig te plaas, en sodoende verhoudings en sosiale strukture op ‘n dinamiese wyse by veranderende behoeftes aanpas.

 Erkenning van die eb en vloei van verhoudings. Lederach redeneer alle verhoudings tussen vreedsaamheid en onstabiliteit/ konflik ossilleer. Hy beveel egter aan dat daar verby geïsoleerde gevalle van konflik gekyk word, en eerder aandag gegee word aan die wyse waarop hierdie konfliksituasies by algemene patrone van menslike verhoudings inpas. Daar word dus gepleit vir ‘n meer omvattende benadering tot konfliksituasies wat die verhouding as geheel, eerder as net die huidige onderwerp van die dispuut, aangespreek word.

 Fokus op konstruktiewe prosesse van verandering. Die transformatiewe benadering tot konflik is daarop gemik om konstruktiewe verandering te bewerkstellig deur middel van die “energie” wat deur konflik geskep word. Volgens Lederach is dit moontlik om die destruktiewe impak van konflik op verhoudings te beperk, en die geleenthede vir interaksie en ondersoek te gebruik as ‘n “kreatiewe platform” vanwaar beide die objektiewe kwessies in die betrokke dispuut, sowel as sosiale strukture en patrone van verhoudings aangespreek kan word.

82

Die eienskappe beskryf die basis van die transformatiewe model vir die hantering van konflik, en is dus hoofsaaklik gesetel in die

benadering van onderhandelaars, eksterne of interne bemiddelaars. Dit reflekteer egter ook ‘n bepaalde teoretiese interpretasie van die

oorsake en aard van konfliksituasies en die wyse waarop konflik (in die lig van hierdie interpretasie) aangespreek behoort te word, en het dus ook betrekking op die analitiese benadering van die ontleders van konflik.

 Die beperking van geweld en bevordering van geregtigheid. Lederach erken dat die bekamping van geweld dikwels ‘n belangrike korttermyn doelwit in vredesprosesse is, en dat die identifisering en hantering van beide die kwessies onder dispuut, en hul onderliggende oorsake daarom primêr aandag behoort te geniet. Hy plaas egter ook sterk klem op die behoefte aan die bevordering van sosiale geregtigheid en die vestiging van positiewe patrone van interaksie en konflik-hantering, wat oor die langtermyn stabiele verhoudings tussen groepe moontlik kan maak.

 Direkte interaksie en sosiale strukture. Volgens die konstruktivistiese benadering tot tussen-groep verhoudings word negatiewe patrone van gedrag, sowel as die reëls, norme en die gepaardgaande instellings waarvolgens samelewings ge-organiseer word (dus: die strukture van die samelewing) gevestig tydens interaksie tussen individue en groepe (Onuf, 1998:49). Daar word daarom ge-argumenteer dat beide positiewe verhoudings en meer aanvaarbare sosiale strukture weer tydens interaksie gevestig/ ontwikkel moet word. Lederach sluit by hierdie argument aan deur klem te lê op die rol van dialoog (direkte interaksie) tussen vegtende groepe om persepsies en houdings aan te pas, en uiteindelik by te dra tot ontwikkeling van meer volhoubare/ regverdige sosiale strukture.

 ‘n Klem op menslike verhoudings. Die transformatiewe benadering behels nie uitsluitlik pogings om die objektiewe kwessies in situasies van konflik aan te spreek nie, maar plaas sterk klem op die rol van verhoudings, en die wyse waarop dit aangepas kan word om ‘n meer stabiele basis vir sosiale interaksie te vorm.

 ‘n Langtermyn benadering tot konflik. Daar word in die transformatiewe benadering sterk klem gelê op die noodsaaklikheid van volgehoue betrokkenheid in omgewings wat deur konflik geteister is, en ondersteuning aan die akteurs in eertydse konfliksituasies. Die argument is dat daar by uitstek in post-konflik situasies aandag gegee moet word aan die herstel van verhoudings, die bevordering van aanvaarding van die getransformeerde orde, en die nodige ondersteuning en opleiding aan groepe en individue aan wie daar in die proses van konflik transformering nuwe rolle toegeken is.

Waar die transformatiewe benadering tot die beslegting van konflik deur onderhandelaars, interne of eksterne bemiddelaars of ontleders aanvaar word, word daar dus nie in onderhandelings primêr gefokus op die verskillende standpunte van konflikterende groepe, die toegewings wat ter bereiking van ‘n ooreenkoms gemaak sal word of voorgestelde

oplossings vir spesifieke probleme nie, maar eerder op die verhouding tussen groepe, hul

begrip vir mekaar en mekaar se situasies, en die wyse waarop ‘n verbetering in verhoudings

en wedersydse begrip tot ‘n erkenning van mekaar se behoeftes – en dus ook meer regverdige sosiale strukture bydra. Daar word dus groter klem geplaas op die potensiële positiewe impak van die proses van onderhandeling, en minder gefokus op die uitkomste van die proses – bv. in die vorm van ooreenkomste. Ooreenkomste wat wel in die proses opgestel word, word dan gebaseer op die “getransformeerde begrip” van die konflikterende partye (ten opsigte van mekaar, hulself, hul verhoudings en die kwessies waaroor die dispuut handel), en die implementering daarvan word deur die gepaardgaande transformasie in houdings en persepsies vergemaklik.

Lederach se beskrywing van konflik transformering word ondersteun deur ander teoretici wat ook die benadering op grond van die fokus op sosiale strukture en die verhoudings tussen vegtende groepe, van ander teoretiese raamwerke onderskei83. Miall, Ramsbotham & Woodhouse 2005:10-11,27) plaas veral klem op die rol van ‘n aanpassing in houdings/ verhoudings, en beskryf konflik transformering as beide die verwydering van die bronne en oorsake van die situasie wat die konflik veroorsaak het nie, en die sielkundige transformasie in die houdings van en verhoudings tussen die betrokke partye. Väyrynen (1991:151) beskryf konflik transformering as ’n metode om nuwe sosiale verhoudings, instellings [strukture] en visie te bevorder. Hierdie beskrywing van die transformatiewe proses sluit ook aan by Norbert Ropers (2003) se omskrywing van die drie maatstawwe vir suksesvolle konflikbeslegting binne ‘n transformatiewe benadering, naamlik (1) ’n struktuur-georiënteerde eliminasie van sosio-ekonomiese ongelykhede tussen groepe, (2) die bevordering van goeie regering en (3) die daarstelling van ‘n regverdige sosiale struktuur.

Die omvattende aard van die transformatiewe benadering tot die hantering van konflik word ook geïllustreer in die vlakke van transformasie wat volgens voorstanders van die benadering tydens vredesprosesse behoort plaas te vind.