• No results found

Hoofstuk 5: Transformasie in die wynbedryf

2.2 Die unieke uitdagings in die wynindustrie

Die wynbedryf maak 'n noemenswaardige bydrae tot ekonomiese aktiwiteite in beide die Wes- en Noord-Kaap, sowel as in Suid-Afrika as geheel. In 2003, het die industrie R16.3 biljoen rand tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk bygedra (hierdie syfer styg tot R22.5bn indien wyn-toerisme by die berekening ingesluit word) (WCSC124, 2005a:15-16). Die industrie neem ongeveer 260 000 mense in diens (waarvan ongeveer 20% in wyn-toerisme werk), en in 2003 was die omset ongeveer R10 675.27 miljoen (WSCS, 2005a:15). Hierdie omset is gebaseer op 'n primêre produksie-basis van R2597.44 miljoen - wat impliseer dat die waarde van roumateriale viervoudig deur die industrie verhoog is (WCSC, 2005a:15-16). 'n Verdere R4 198.37 miljoen is deur middel van wyn-toerisme gegenereer. Gefokusde sosio-ekonomiese transformasie in die wynindustrie kan dus 'n noemenswaardige bydrae tot Swart Ekonomiese Bemagtiging in die landbousektor lewer.

Die Suid-Afrikaanse wynindustrie staar egter 'n aantal uitdagings in die gesig, wat 'n strategiese respons van die industrie as geheel, sowel as ondersteunende strukture binne die regering vereis.

Deregulering en gepaardgaande herstrukturering

In die eerste plek, vind daar tans 'n proses van deregulering en herstrukturering in die plaaslike industrie plaas (Ewert & du Toit, 2005:315-317)125. Voor 1996 is aanplantingskwotas en minimum pryse in die wynbedryf op 'n sentrale vlak deur die Koöperatiewe Wynbouers Vereniging (KWV) beheer (WCSC, 2006:21). Daar was ook 'n meganismes vir surplus-verwydering in plek wat veroorsaak het dat die produksie van groot volumes lae-kwaliteit wyn 'n kenmerk van die Suid-Afrikaanse wynindustrie geword het (WCSC, 2006:18021). Menige produsente was ook georganiseer in koöperasies, wat dikwels effektiewe bestuur moes inboet ter wille van die finansiële gewin van hul lede (Ewert, 2005:317). In Oktober 1996, het die KWV egter aangekondig dat dit by die Wes-Kaapse afdeling van die Hooggeregshof wil aansoek doen om vanaf 'n koöperasie in 'n maatskappy omskep te word (WCSC, 2006:21-22). Die Minister van Landbou op daardie tydstip, Derek Hanekom, het egter die hof gevra om die aansoek uit te stel totdat 'n ondersoek na (i) die toekomstige regulatoriese raamwerk van die industrie (ii) die verdeling van regulatoriese funksies en (iii) die verdeling van die KWV se bates wat ter wille van hul rol as reguleerder bekom is, voltooi kon word (WCSC, 2006:22).

'n Komitee onder leiding van Professor Eckart Kassier het hierdie ondersoek onderneem, en in 1997 hul bevindinge in 'n verslag bekendgemaak. Daar is aanbeveel dat die industrie gedereguleer moet word, en dat die oorblywende regulatoriese funksies (waaronder: heffings, die versameling van informasie, navorsing en kwaliteitskontrole) na 'n verteenwoordigende liggaam van die wynindustrie oorgedra word (WCSC, 2006:23-24). Die Suid-Afrikaanse Wynindustrie Trust (SAWIT) is ook gestig om transformasie en die inkorporering van voorheen benadeelde persone in die wynbedryf te bevorder, om kommersiële ontwikkeling te dryf en Suid-Afrikaanse wyne te bemark ten einde globale mededingendheid en volhoubaarheid te verseker (SAWIT webruimte). Die KWV het onderneem om 'n bedrag van R200 miljoen (oor 'n tydperk van tien jaar) en dienste ter waarde van R227 miljoen (oor 'n periode van vyf jaar) aan SAWIT te voorsien. Die direkteure van die trust is deur die KWV en die Minister van Landbou aangewys.

125Ewert & du Toit beskryf hierdie proses as deel van 'n trippel transisie wat tans die wynbedryf plaasvind. Die ander twee dimensies van die transisie wat deur Ewert & du Toit geïdentifiseer word, sluit in: die integrering van die plaaslike bedryf in internasionale kompeterende omstandighede, en die demokratisering van arbeidsverhoudinge (beide hierdie tendense word ook hieronder bespreek).

Die wynindustrie is gevolglik bevry van "beperkende strukture en regulasies" wat kompetisie beperk, innovasie verhoed, en die kwaliteit van wynproduksie benadeel het (WCSC, 2006:24). Talle koöperatiewe wynkelders is ook omskep in maatskappye wat o.a. strenger finansiële beheer en effektiwiteits-vereistes handhaaf. Hoewel hierdie herstrukturering sekerlik oor die langtermyn tot voordeel van die industrie sou strek, was die sterker mededinging en verlies aan beskerming aanvanklik 'n groot uitdaging vir die "onvolwasse" Suid-Afrikaanse wynbedryf, en moes beide produksie en bestuurspraktyke spoedig by nuwe kompeterende omstandighede aangepas word (Ewert & du Toit, 2005:317).

Internasionale mededinging

Die stygende kwaliteit- en effektiwiteitsvereistes in die Suid-Afrikaanse wynindustrie is verder versterk deur die integrering van die plaaslike industrie in die internasionale mark en -waardeketting126. Waar die KWV 'n statutêre monopolie op die uitvoer van wyn gehad het, moet alle kelders en produsente nou hulself rat om hul produkte in 'n kompeterende internasionale omgewing te bemark en te versprei. Gegewe die relatiewe stagnasie van plaaslike wynverbruik, is die groei van die Suid-Afrikaanse wynbedryf boonop toenemend afhanklik van sy vermoë om uitvoere te verhoog (WCSC 2005:36).

Die ekonomiese realiteite van landbou-ondernemings

Die toenemende kompeterendheid in die landbou- en wynmarkte impliseer dat ekonomiese eenhede in die landbousektor al hoe groter word. Die skaalvoordele wat uit hierdie groter eenhede geput word, maak dit vir landbou-ondernemings moontlik om kompeterend te bly. Die Departement van Landbou en Grondsake om swart kleinboere te vestig, en privaatinisiatiewe waarin daar klein gedeeltes van bestaande boerderye aan swart Suid-Afrikaners oorgedra word is teenstrydig met hierdie tendens, en bedreig die sukses van sodanige projekte.

Onder andere as gevolg van die rol van klimaatstoestande op landbou-aktiwiteite, is die risiko's verbonde aan landbou-besighede uitsonderlik hoog. Landbouprojekte vereis normaalweg ook, veral in die vestigings-stadium, groot kapitaalinsette en dit duur 'n geruime tyd voordat opbrengste op beleggings realiseer. Die hoë risiko's verbonde aan

aktiwiteite is veral krities vir nuwe toetreders wat nie oor die nodige kapitaalreserwes beskik om besighede in toestande van lae winsgewendheid te ondersteun nie. Nuwe toetreders is daarom dikwels afhanklik van ondersteuning van die Departement van Landbou- en Grondsake in die vestigings-stadium van hul besighede.

Toenemende kompetisie in die landbousektor en meer gesofistikeerde, kapitaal-intensiewe landboupraktyke bring ook mee dat landbou-aktiwiteite meer kennis-intensief word. Relevante kennis en ervaring is daarom 'n essensiële voorvereiste vir suksesvolle deelname aan die sektor. Beide nuwe toetreders en bestaande landbouers wat nie oor die nodige vaardighede beskik nie, moet dus op die een of ander wyse in hierdie verband deur organisasies in die landbousektor en die owerheid ondersteun word.

Arbeidsverhoudinge

Ewert & du Toit (2005:315-320) identifiseer ook die politieke en wetlike implikasies van demokratisering as 'n belangrike uitdaging vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Daar word spesifiek verwys na die omvattende pakket van beleid en wetgewing wat sedert die politieke oorgang aanvaar is in 'n poging om arbeidsverhoudinge in die landbousektor te verbeter127. Hoewel plaaswerkers se regte nou deur wetgewing beskerm word, word daar egter dikwels nie aan alle wetlike vereistes voldoen nie en is plaaswerkers nie altyd bewus van of ingelig oor hul regte nie (Ewert & du Toit, 2005:318-320). Ongelyke magsverhoudinge en gebrekkige regsverteenwoordiging vir plaaswerkers verhoed ook dikwels dat wetlike prosedures 'n regverdige verloop neem (Ewert & du Toit, 2005:318-320).

Veranderinge aan die arbeidsregime en wetgewing wat ontwerp is om plaaswerkers te beskerm teen onregverdige behandeling, afdankings en afsetting van plase het egter nie altyd die gewenste effek nie. Die implementering van 'n minimum loon het byvoorbeeld gelei tot 'n daling in werkskepping vir permanente arbeiders ten spyte van 'n uitbreiding in uitsette in die wynbedryf (WCSC, 2005a:18). Die kostes verbonde aan voldoening aan arbeidsregulasies en die druk op behuising op plase a.g.v. die Verblyfregwet gee ook aanleiding tot verdere rasionalisering van arbeid en 'n toename in die gebruik van tydelike- en kontrakwerkers.

127Hierdie wetgewing sluit onder andere in: Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (1998), die Wet op Beroepsveiligheid (1993), die Wet op Arbeidsverhoudinge (1995), die Wet op Billike Indiensneming (1998), Die Verblyfregwet (1997) en die Sektorale Bepaling oor plaaswerkers en die vasstelling van 'n minimum loon vir plaaswerkers.

Studies toon dat tot 53% van boere tans gebruik maak van arbeidskontrakteurs en dus 'n kleiner permanente werkerskorps hoef te onderhou (WCSC, 2005a:18). Tydelike- en kontrakwerkers word nie in alle opsigte deur arbeidswetgewing beskerm en is dikwels slegter af is as hul eweknieë wat permanente posisies op plase beklee (du Toit & Ewert, 2005:324-325).

Volgens Ewert & du Toit (2005:318) word arbeidsverhoudinge op Suid-Afrikaanse wynplase boonop gekenmerk deur 'n ras-gebaseerde hiërargie van outoritêre paternalisme, wat toegeskryf word aan die nalatenskap van slawerny aan die Kaap. Die paternalistiese aard van arbeidsverhoudinge word veral gereflekteer in die gebrek aan deelnemende bestuur. In 'n basislyn studie deur Professor Eckart Kassier (2005) is daar bevind dat slegs 11% van wyndruif-produsente tans hul werknemers by strategiese besluitneming betrek. Slegs 32% van produsente betrek hul personeel by bestuur en dag-tot-dag besluite (Kassier, 2005:4-5).

Sosiale uitdagings

Die swak sosiale omstandighede van plaaswerkers is 'n verdere belangrike uitdaging vir die wynbedryf. In terme van die Menslike Ontwikkelingsindeks ("Human Development Index"/HDI) is wit persone in die Wes-Kaap se lewenskwaliteit vergelykbaar met dié van die vyf mees ontwikkelde lande in die wêreld (Tregurtha, in WCSC, 2006:27). Die lewenskwaliteit van bruin persone in landelike areas (waarvan 'n groot persentasie plaaswerkers is) is egter in terme van hierdie indeks van die laagste in die wêreld. Plaaswerkers word ook in talle akademiese studies sowel as nasionale en provinsiale strategiese beplanningsdokumente geïdentifiseer as 'n kwesbare groep128 wie se ontwikkelings-status aandag behoort te geniet. Ontwikkelings-uitdagings sluit in:

 Onderwys en geletterdheid: In 1996 het plaaswerkers gemiddeld minder as ses jaar formele onderwys ontvang, en was ongeletterdheid onder plaaswerkers in die Wes-Kaap ongeveer 20%. Meer as 40% van plaaswerkers (waarvan meer as 96% swart is), het 'n onderwysvlak van Graad 4 of laer (Kassier, 2005:4-5). Ongeveer 16% van werkers in koöperatiewe kelders (waarvan meer as 85% swart is) het 'n onderwysvlak van Graad 4 of laer (Kassier, 2005:4-5)

128

Sien byvoorbeeld: Government of South Africa (2000); Department of Agriculture (2001, 2004a en 2004b); Du Toit (2004); Ewert & du Toit (2005); Husy & Samson (2001); Western Cape Provincial Development Council (2004) en Western Cape Provincial Government (2004).

 Behuising: In 1995 het minder as 50% van plaaswerker-huishoudings lopende water, en minder as 45% toegang tot spoeltoilette gehad (WCSC, 2005a:18).

 Werksomstandighede: Daar word nie aan wetlike vereistes i.t.v. werksomstandighede voldoen nie, menige werkers het byvoorbeeld geen skriftelike dienskontrakte nie, en 'n groot persentasie beweer dat hulle geen siekverlof kry nie (WCSC, 2005a:18).

 Afsettings en verblyfreg. Tussen 1994 en 2004 is ongeveer 942 303 mense van plase afgesit (Nkuzi Development Association, 2005:7). Hoewel dit 'n indirekte gevolg van die rasionalisering van arbeid is, het dit verreikende sosiale implikasies.

Ewert & du Toit (2005) wys daarop dat swak sosiale omstandighede nie net 'n ontwikkelings-vraagstuk is nie, maar ook die produktiwiteit en mededingendheid van die industrie negatief beïnvloed. Hierdie argument geld by uitstek ten opsigte van vlakke van onderwys en opleiding. Die modernisering van boerderytegnieke en bestuurstyle vergroot die gaping tussen die aanbod van en vraag na vaardighede in die industrie (du Toit, 2004), en vaardigheidsontwikkeling behoort dus beide die produktiwiteit van die sektor en die sosiale ontwikkeling van plaaswerkers te verhoog.

Ongelyke verdeling van grond/ produktiewe bates

Slegs een persent van die grond wat vir die produksie van wyndruiwe gebruik word is tans in swart besit (WCSC, 2006:7). Volgens Eckart Kassier (2005:4) is daar in sekere kringe 'n persepsie dat die wynindustrie gekenmerk word aan gevestigde "wynplaas dinastieë" - met ander woorde, dat plase vir generasies deur dieselfde families besit word, dat daar dus min grond in die mark beskikbaar kom en gevolglik moeilik sal wees om grondhervorming op grond van die beginsel van "gewillige kopers, gewillige verkopers" te bevorder. Hierdie persepsie is in Kassier se basislyn studie oor Swart Ekonomiese Bemagtiging in die wynindustrie bevestig. Die plase van respondente in Kassier se studie was gemiddeld reeds vir 20 jaar in die hande van huidige eienaars, en gemiddeld 56 jaar reeds in besit van dieselfde familie (2005:4). Kassier se studie het boonop 'n oorwig van respondente uit sg. "nuwe wynareas" gehad, waar eienaarskap waarskynlik minder stabiel is. Die eienaarskap van grond in die wynindustrie is dus baie stabiel, en kan as kompliserende faktor in grondhervormings-inisiatiewe dien.

Gegewe die bogenoemde uitdagings is dit duidelik dat ook die wynbedryf tans voor die uitdaging staan om noodsaaklike transformasie in die bedryf te bewerkstellig, terwyl daar ook gepoog moet word om mededingendheid te midde van 'n baie kompeterende mark te behou.

Daar sal vervolgens in onderskeidelik afdeling 3 en 4 'n opsomming gegee word van die benadering wat daar oor die afgelope 10 tot 12 jaar in die landbousektor as geheel en in die Suid-Afrikaanse wynbedryf gevolg is om die transformasie-imperatief aan te spreek.