• No results found

Praktiese uitdrukking van die transformatiewe benadering

Hoofstuk 3: ‘n Model vir die hantering van konflik

5. Praktiese uitdrukking van die transformatiewe benadering

Daar is in die beskrywing van die verskillende vlakke van transformasie genoem dat die transformatiewe benadering beide ‘n deskriptiewe dimensie (as beskrywing van die oorsake en gevolge van konflik) en ‘n preskriptiewe dimensie (waarin daar sekere voorstelle ten opsigte van die hantering van konflik gemaak word) omvat. Op ‘n deskriptiewe vlak sluit dit nou aan by die subjektivistiese benadering tot konflik. Lederach se riglyne vir die hantering van konflik (dus: die preskriptiewe dimensie van die teorie) word onderlê deur sy beskrywing van die verskillende vlakke van transformasie, sowel as sy voorvereistes vir rekonsiliasie, soos wat dit in afdeling 4.2 en 4.3 opgesom is.

Die progressie tot vreedsame verhoudings

Lederach bou voort op Adam Curle se argument dat die “beweging vanaf konfliktuele na vreedsame verhoudings” voorgestel kan word in ‘n matriks waarin die aard van verhoudings

(d.w.s. of verhoudings gebalanseerd of ongebalanseerd is) met die vlakke van bewustheid van konfliktuele belange en behoeftes vergelyk word (Lederach, 1995:12). Hy gebruik die matriks om drie funksies te identifiseer wat “progressiewe verandering” kan fasiliteer – en dus tydens vredesprosesse ingespan behoort te word (sien figuur 1). Elkeen van hierdie funksies, waaronder: opvoeding, advokaatskap (“advocacy”)88 en mediasie kan op verskillende stadiums van die konflik ter bevordering van die transformatiewe proses ingespan word.

VERHOUDINGS

Konfliktueel Vreedsaam

STATIES ONSTABIEL DINAMIES

G e b a la n s e e rd

3. Onderhandeling 4. Volhoubare vrede

M A G O n g e b a la n s e e rd 1. Opvoeding Latente Konflik 2. Konfrontasie Openlike konflik LAE HOË

BEWUSTHEID VAN DIE KONFLIK Figuur 1. Die progressie van konflik (Lederach, 1995:13)

Volgens beide Curle en Lederach se modelle is opvoeding en bewusmaking veral nodig wanneer daar ongeregtighede en wanbalanse bestaan waarvan mense nie bewus is nie. Opvoeding is dan daarop gemik om onkundigheid aan te spreek en bewustheid van ongelyke verhoudings en ongeregtighede te verhoog (Lederach, 1995:12). Lederach (1995:12) wys

88

Lederach en Curle se “advocacy” word hier vertaal as “advokaatskap”. Dit word onderskei van “bewusmaking” op grond van die feit dat daar in “bewusmaking” hoofsaaklik daarop gemik is om konfliktuele kwessies en ongeregtighede aan die lig te bring. In “advokaatskap” word daar egter ook aktief gepoog om verandering teweeg te bring, of ongeregtighede aan te spreek.

daarop dat hierdie bewusmaking hoofsaaklik deur diegene wat die ongeregtighede ervaar geïnisieer sal word.

‘n Toename in die vlak van bewustheid van kwessies en die behoeftes en belange van verskillende partye lei volgens Lederach op ‘n natuurlike wyse tot eise vir veranderinge in die stand van sake. Hierdie eise word egter gewoonlik nie onmiddellik toegestaan nie, aangesien daar in die meerderheid van situasies ook groepe/ persone is wat by die huidige stand van sake baat, en daar dus ‘n bepaalde vlak van weerstand teen die verandering verwag kan word. Waar groepe wat aandring op verandering boonop in ongelyke magsverhoudinge tot ander groepe in hul omgewing staan, word hul kapasiteit om verandering te bewerkstellig ook deur hul ontmagtigde posisie in die samelewing beperk (Lederach, 1995:12-13). Volgens Lederach is dit op hierdie stadium van die konflik wat advokaatskap ‘n rol begin speel.

Advokaatskap behels aktiewe steun aan en samewerking met diegene wat verandering probeer bewerkstellig (Lederach, 1995:13). Dit is daarop gemik om magsverhoudinge te balanseer en die erkenning van wedersydse afhanklikheid aan te moedig deur die behoeftes en belange van ontmagtigde groepe te legitimeer, en hul inspraak in kwessies wat hulle raak te versterk. Volgens Lederach (1995:13) geskied hierdie proses normaalweg deur middel van een of ander vorm van konfrontasie waarin daar van “gewelddadige of nie-gewelddadige meganismes, of ‘n kombinasie van beide” gebruik gemaak kan word.

Die konsep van wedersydse afhanklikheid is belangrik, aangesien dit uiteindelik die erkenning van die unieke rol of posisie van verskillende groepe (en dus die legitimiteit van elkeen se aanspraak op ‘n regverdige posisie in magsverhoudinge) is wat onderhandelinge tussen groepe moontlik maak.

Lederach stel dit as volg: “In essence, negotiation means that the various people or groups involved recognize they cannot simply impose their will or eliminate the other side, but rather must work with each other to achieve their goals.”

Dit is tydens die onderhandelingsfase wat mediators ‘n rol kan speel in die bevordering van stabiele verhoudings. In tradisionele modelle van onderhandelinge word daar primêr gefokus op die hantering van konfliktuele kwessies. Lederach se transformatiewe benadering vereis egter dat daar tydens onderhandelinge ook aandag gegee word aan die herstrukturering van

verhoudings. Daar word dus aan die een kant gepoog om wedersyds aanvaarbare reëls vir interaksie en die organisering van die sosiale orde te ontwikkel (dus: om geregtigheid te bevorder). Geregtigheid word egter ook in die onderhandelingsproses tesame met waarheid en vergewensgesindheid aangewend om rekonsiliasie tussen groepe te bewerkstellig. Curle (in Lederach, 1995:14) verwys uiteindelik na die resultaat van die onderhandelingsproses as “increased justice and more peaceful relations”.

Dit is belangrik om daarop te let dat die progressie vanaf bewusmaking na konfrontasie, van konfrontasie na onderhandeling en uiteindelik vanaf onderhandeling na verbeterde verhoudings en die hervorming van onaanvaarbare sosiale strukture nie noodwendig ‘n liniêre proses is nie. Lederach (1995:14) argumenteer dat ‘n gegewe konfliksituasies vir uitgerekte periodes tussen verskillende kwadrante van die matriks kan sirkuleer of spring. As ‘n

benadering tot die hantering van konflik, is konflik transformering egter daarop gemik om

hierdie progressie oor die langtermyn te bevorder. Opvoeding, advokaatskap en mediasie verteenwoordig dus ‘n stel “komplementerende” en “wedersyds ondersteunende” meganismes waardeur hierdie progressie aangemoedig kan word.

Die effektiwiteit van vredesprosesse behoort dus volgens hierdie model voortdurend gemeet te word, aan die mate waarin dit vordering tot vreedsame verhoudings en sosiale geregtigheid aanhelp. Lederach argumenteer ook dat die bevordering van geregtigheid die maatstaf is waaraan alle praktiese instrumente vir die bevordering van vrede gemeet moet word, en dat enige “rol, aktiwiteit of strategie” wat nie geregtigheid as doelwit het nie bevraagteken behoort te word. In aansluiting hierby ondersteun Lederach Curle se waarde-oriëntasie wat voorskryf dat suksesvolle vredesprosesse afhanklik is van die bemagtiging van ondergeskikte groepe, en dat enige veranderinge wat in die vredesproses bewerkstellig word ten gunste van ‘n verbeterde magsposisie en ander wenslike uitkomste vir hierdie ontmagtigde groepe behoort te geskied (Lederach, 1995:14).

Beide Curle en Lederach beklemtoon egter ook die feit dat daar tydens mediasie, aan die artikulering van die legitieme behoeftes en belange van alle betrokke partye aandag gegee moet word om die ontwikkeling van regverdige, praktiese en wedersyds aanvaarbare oplossing moontlik te maak. Met ander woorde, hoewel daar dikwels tydens die bewusmakingsproses hoofsaaklik op die behoeftes van ontmagtigde groepe gefokus word,

moet daar tydens mediasie gepoog word om begrip vir alle standpunte in die konflik te kweek, en sodoende wedersydse begrip en wedersyds aanvaarbare oplossing te ontwikkel (Lederach, 1995:14-15).

Hierdie benadering tot mediasie word ook ondersteun deur Cecilia Albin. Volgens Albin (1991:48-49) kan samewerking tussen groepe slegs bevorder word deur ‘n benadering tot onderhandelings waarin daar vanaf die premis gewerk word (en moontlik vooraf ooreengekom word) dat die behoeftes en waardes van konflikterende partye erken word; dat hierdie behoeftes en waardes nie op sigself die onderwerp van onderhandeling is nie; en daar slegs gedelibereer sal word oor die verskillende wyses waarop die behoeftes van verskillende partye in ‘n prakties uitvoerbare oplossing aangespreek kan word. Daar word dus gestreef na die integrering van belange, eerder as ‘n soeke na die minimale voorwaardes vir ‘n ooreenkoms (die “laagste gemene deler”) wat vir verskillende groepe aanvaarbaar sal wees. Hierdie erkenning van diverse behoeftes speel dien ook as positiewe bevestiging van die eiewaarde van verskillende groepe, en kan sodoende bydra tot die transformering van wedersydse persepsies en verhoudings – en uiteindelik ook vrede.

Hierdie beskrywing van die progressie tot vreedsame verhoudings maak dit ook vir ons moontlik om af te lei watter akteurs by vredesprosesse betrek behoort te word.

Die akteurs wat by vredesprosesse betrek behoort te word

In sy boek Building Peace: Sustainable Reconciliation in Divided Societies argumenteer J.P. Lederach (1997a), dat geen enkele groep leiers of verteenwoordigers van ‘n enkele vlak van die samelewing vredesprosesse in isolasie kan dryf en momentum vir die implementering van ooreenkomste kan behou nie. Hy stel die verskillende akteurs in konfliksituasies in ‘n piramide voor (sien Figuur 2).

Lederach skryf dan tydens verskillende fases van die vredesproses verskillende rolle aan die “vlakke” (groepe in) die piramide toe. Top leierskap word byvoorbeeld by die aanvanklike onderhandelings betrek wat daarop gemik is om ‘n agenda vir onderhandelings te bepaal en voorbereidings vir verdere gesprekke te tref.

Figuur 2: Lederach se model vir vredesprosesse

Afgelei van Lederach (1997a:39)

Middelvlak leiers (hetsy op ekonomiese, etniese, religieuse, akademiese of humanitêre vlak) neem deel aan die onderhandelings self, en speel ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van werkbare oplossings vir die geskille tussen groepe. Voetsoolvlak akteurs word nie direk by onderhandelings betrek nie en word gewoonlik indirek deur die middelvlak leiers oor die vredesproses ingelig. Volgens Lederach (in Knox & Quirk, 2000:25) bestaan daar in hierdie opsig ‘n inkongruensie in so ‘n struktuur, aangesien diegene wat in die grootste mate deur die uitkomste van die onderhandelings geraak gaan word (naamlik die mense op voetsoolvlak), die mees beperkte toegang tot die besluitnemingsprosesse het, wyl diegene wat direk by onderhandelings betrokke is dikwels op ‘n “dag-tot-dag” basis geensins deur die gevolge/uitkomste van die proses beïnvloed sal word nie.

Voetsoolvlak leiers en hul volgelinge is boonop dikwels die enigste groep wat suksesvolle

implementering van ooreenkomste kan waarborg. Waar die beginsels van ‘n ooreenkoms

deur persone op voetsoolvlak verwerp word, of waar daar geweier word om die bepalings van die ooreenkoms te aanvaar (veral met betrekking tot kritiese kwessies soos ontwapening of die opskorting van gewelddadige aktiwiteite), word leiers op vlak 1 en 2 na die

TIPES AKTEURS Vlak 1: Top leierskap  Militêre, politieke, religieuse en

ander hoë profiel leiers

Vlak 2: Middelvlak leiers  Leiers van verskillende sektore  Etniese/ religieuse leiers  Akademici/ intellektuele leiers  Humanitêre leiers (NRO’s)

Vlak 3: Voetsoolvlak leiers  Plaaslike leiers

 Leiers van plaaslike NRO’s  Plaaslike gesondheidsamptenare A k te u rs w a t d e u r d ie k o n fli k g e ra a k w o

onderhandelingstafel terug gedwing. Dit is daarom van sentrale belang dat die algemene publiek se steun vir ‘n bepaalde oplossing/ooreenkoms voortdurend deur middel van effektiewe kommunikasie en deursigtige besluitnemingsprosesse gewen word.

Ook Harris & Reilly (1998) wys daarop dat die uitsluiting van groepe uit die onderhandelingsproses – veral in die geval van ekstremistiese partye wat die proses kan ontwrig, en vordering tot ‘n ooreenkoms kan verhoed – ‘n besondere risiko inhou, aangesien die ooreenkoms moontlik ‘n aanpassing in die aktiwiteite van hierdie groepe kan vereis. Indien alle groepe nie “inkoop” op die beginsels en bepalings van die ooreenkoms nie, is die kanse vir effektiewe implementering uiters beperk (Väyrynen, 1991:9).

‘n Soortgelyke benadering word beskryf deur Reimann (2003:10-12) wat daarop wys dat die bou van vertikale verhoudings tussen akteurs van ongelyke status ‘n belangrike bydra kan lewer tot die transformasie van verhoudings en persepsies, en dat akteurs uit al die betrokke groeperinge dus sover as moontlik by vredesprosesse betrek behoort te word.

Die betrokkenheid van derde partye

Dit is ook belangrik om te oorweeg watter rol daar in die transformatiewe benadering vir

eksterne akteurs of sogenaamde derde partye voorgeskryf word. In Lederach se model van

opvoeding, advokaatskap en mediasie, kan derde partye in elke vlak van die progressie tot vreedsame verhoudings betrokke wees. In haar opsomming van die akteurs wat by vredesprosesse betrek kan/ moet word wys Cordula Reimann (2003:4-6) daarop dat konflik transformering ‘n langtermyn en dinamiese proses is waarin ‘n verskeidenheid van akteurs op verskillende stadiums betrek word. Daar is gevolglik ook volop geleenthede vir derdeparty betrokkenheid, hetsy in ‘n amptelike, militêre of politieke hoedanigheid (byvoorbeeld tydens formele onderhandelinge) of as fasiliteerders vir informele rekonsiliasie of probleemoplossingsinisiatiewe op voetsoolvlak of tussen die leiers van verskillende groeperinge (dus: op al die vlakke van Lederach se piramide). Reimann (2003:12) lê ook weereens klem op die belangrikheid van volgehoue betrokkenheid by konfliksituasies, en spesifiek die rol van wat plaaslike en internasionale nie-regerings organisasies (NRO’s) in post-konflik samelewings kan speel/ behoort te speel.

Dit is weereens hier belangrik om te noem dat die doel van transformatiewe benaderings tot die hantering van konflik nie is om ‘n eksplisiete ooreenkoms tussen konflikterende partye te bewerkstellig nie. Dit is primêr daarop gemik om begrip te bevorder, en sodoende hervormings in onregverdige sosiale strukture aan te moedig. Daar is verskillende praktiese meganismes wat ter bereiking van hierdie doelwit ingespan kan word. Burgess & Burgess et

al (1997) beklemtoon vier verskillende instrumente wat tot die transformering van konflik kan

bydra, insluitende: dialoog, analitiese probleemoplossing, konstruktiewe konfrontasie en deelnemende beredenering89. Elkeen van hierdie instrumente word kortliks hier omskryf.

Transformatiewe instrumente vir die hantering van konflik

Dialoog behels ‘n gesprek tussen verskillende individue en groepe. Dit word onderskei van mediasie, onderhandeling en debat op grond van die doel van die gesprek – naamlik dat daar primêr gepoog word om wedersydse begrip en respek tussen deelnemers te bevorder. Die verskillende groepe probeer dus nie mekaar van ‘n bepaalde standpunt oortuig nie, en daar word ook nie eksplisiet gepoog om ‘n oplossing vir die betrokke geskil te ontwikkel/ identifiseer nie (Burgess & Burgess et al, 1997). Burgess & Burgess se beskrywing van die proses van dialoog sluit aan by die fisikus David Bohm (in Smyth, 2002:159) se beskrywing van dialoog as ‘n “vloei van betekenis” tussen deelnemers, waarin hulle uitgedaag word om hul eie oortuigings tydelik opsy te skuif ten einde hulself as’t ware “oop te stel” vir nuwe idees.

Dialoog word veral gebruik in waarde-gebaseerde konfliksituasies waar onderhandelinge onmoontlik is omdat daar geen gedeelde verwysingsraamwerk tussen groepe bestaan nie (Burgess & Burgess et al, 1997). Vir dialoog om suksesvol te wees, is dit belangrik dat vooroordele vermy word, dat groepe na mekaar luister en mekaar se sienings respekteer, en dat die deelnemers hulself oopstel vir nuwe idees of benaderings tot die kwessies onder bespreking (Burgess & Burgess et al, 1997). Die dialoog skep in hierdie omstandighede ‘n veilige ruimte waarbinne gevoelens en ervarings ge-artikuleer kan word en dit dien dus ook ‘n belangrike sielkundige doel vir diegene wat tot op daardie stadium nog geen geleentheid gegun is om opinies te lug en moontlik hul optrede en houdings te legitimeer nie (Roth, 1994).

89“Collaborative learning” word hier vertaal as “deelnemende beredenering”. Die vertaling is gekies op grond van beide die klem op die betrokkenheid/ deelname van ‘n wye verskeidenheid akteurs, en die konnotasie van logika en redelikheid wat daar aan die term “beredenering” geheg word.

Die gesprek word dus uiteindelik ‘n instrument vir die bemagtiging van tradisioneel ontmagtigde groepe en die erkenning van hul griewe en belange.

In terme van Lederach se vlakke van transformasie is dit duidelik dat dialoog beide persoonlike en kulturele transformasie en transformasie in verhoudings kan aanmoedig – en dus volgens Lederach se model uiteindelik ook tot strukturele transformasie kan bydra. Dialoog kan ook bydra tot die bevrediging van die behoefte aan waarheid – aangesien al die betrokke groepe die geleentheid gegun word om hul ervarings van die konflik (en dikwels die ongeregtighede wat daarmee gepaard gegaan het) te deel. Volgens Leo Smyth (2002:158-159) word daar in die vloei van dialoog tussen konflikterende partye “nuwe materiaal vir interpretasie” tot bestaande konsepsies van binne- en buitegroepe gevoeg. ‘n Proses van herkonseptualisering van groepe se geykte opvattings oor mekaar word sodoende bevorder. Hierdie positiewe interaksie en verbetering in wedersydse begrip kan uiteindelik ook bydra tot die kweek van vergewensgesindheid. In terme van Lederach se model van die progressie na vreedsame verhoudings, sou ons ook kon argumenteer dat dialoog die geleentheid vir beide opvoeding en advokaatskap skep.

Analitiese probleemoplossing as ‘n benadering tot die hantering van konflik is oorspronklik ontwikkel deur Herbert Kelman and John Burton, en is gebaseer op die teorieë van die oorsake van konflik wat fokus op menslike behoeftes (Burgess & Burgess et al, 1997). Die basiese argument is dat langdurige konflik onvermydelik is in omstandighede waar individue en groepe se fundamentele behoeftes (bv. aan identiteit, sekuriteit en erkenning) nie bevredig word nie. Analitiese probleemoplossing is dan daarop gemik om die behoeftes wat bedreig of ontken word te identifiseer en beide verhoudings en die sosiale stelsel as geheel te struktureer op ‘n wyse wat hierdie behoeftes bevredig (Burgess & Burgess et al, 1997).

Die proses van analitiese probleemoplossing word gestruktureerd bevorder in werkswinkels waarby analitiese besprekings oor die aard van die konflik gefasiliteer word. Konflikterende partye word gehelp om die konflik in terme van beide hul eie behoeftes en potensiële oplossings te omskryf. Die oplossings wat hieruit voortspruit vereis dikwels daadwerklike veranderinge in sosio-politieke en ekonomiese strukture.

Die fokus op probleemoplossing suggereer tot ‘n mate dat hierdie instrument meer geskik is vir konflik skikking as vir die transformering van konflik. Dit word egter onderskei van die skikking-benadering op grond van die klem op die identifisering van verskillende partye se perspektiewe op die probleem, en spesifiek ook hul waardes, belange, vooroordele, vrese, behoeftes en wat hulle hoop om uit die getransformeerde orde te put (Burgess & Burgess et

al, 1997). Emosies word dus nie vermy nie, en die transformering van die konflikterende

partye se opvattings van mekaar en hul interpretasie en persepsies van die situasie is ‘n sentrale instrument waardeur gesamentlike oplossings vir die probleem bevorder word (Kelman, 1990:199).

Die proses van analitiese probleemoplossing kan transformasie op al vier van Lederach se “vlakke van transformasie” (naamlik: persoonlike transformasie, transformasie in verhoudings, strukturele transformasie en kulturele transformasie) bevorder. Die proses kan ingespan word om waarheid te ontbloot én vergewensgesindheid te kweek, en is uiteindelik daarop gemik om die sosiale interaksie en die sosio-politieke en ekonomiese omgewing op ‘n regverdige wyse te struktureer. In terme van Lederach se progressie na vreedsame verhoudings kan dit dien as forum vir opvoeding, advokaatskap en onderhandeling.

Soos daar in Afdeling 3.3 verduidelik is, is een van die basiese aannames van die transformatiewe benadering dat konflik ‘n onvermydelike eienskap van sosiale verhoudings is. In konstruktiewe konfrontasie word daar gepoog om die destruktiewe impak van konflik te beperk deur konstruktiewe interaksie/ konfrontasie tussen groepe te vestig waarin daar nie noodwendig ooreenkomste bereik of oplossings geïdentifiseer word nie, maar waarin die verhoudings tussen die partye en hul begrip vir mekaar versterk word (Burgess & Burgess et

al,1997).

Die doel van die proses is weereens nié om ooreenkomste tussen groepe te beklink nie, maar eerder om konflikterende partye van kanale vir interaksie en betrokkenheid te voorsien wat die verhouding tussen groepe kan verbeter. Dit sluit aan by Bush en Folger (1994) se konsepte van “bemagtiging” en “erkenning”. “Bemagtiging” is daarop gemik om groepe se begrip vir hul eie belange, waardes en behoeftes en die manier waarop dit op ‘n aanvaarbare wyse bevredig en uitgeleef kan word te bevorder. “Erkenning” behels aan die ander kant die bevordering van begrip vir die belange, behoeftes en waardes van ander groepe. Daar word

uiteindelik gehoop dat hierdie bemagtiging en erkenning ‘n basis sal lê vir ‘n gesamentlike soeke na wedersyds aanvaarbare oplossings vir die geskil.

In Burgess & Burgess (1996) se beskrywing van konstruktiewe konfrontasie word daar ook spesifiek gefokus op die bevordering van onderskeid tussen fundamentele oorsake van die konflik, en die impak daarvan op ander kwessies of verhoudings – of sogenaamde “konflik bedekking”. Daar word ge-argumenteer dat die belangrikste kwessies (oorsake van die konflik) deur ander kompliserende faktore (byvoorbeeld: misverstande, prosedurele probleme, onenigheid oor bepaalde tegniese feite ens.) versteek word (Burgess & Burgess, 1996). In konstruktiewe konfrontasie word daar dan gepoog om hierdie “bedekkings” te verwyder deur byvoorbeeld die eksplisiete hantering van misverstande, deur konsensus oor prosedurele kwessies te bevorder en deur geleenthede te skep vir die uitruil van wedersyds geloofwaardige tegniese informasie (Burgess & Burgess, 1997). Die destruktiewe aard van die konflik word dan op hierdie wyse beperk.