• No results found

Teologiese tradisie (“ the ecclesial / theological tradition.”)

2. DIE NORMATIEWE TAAK – PRINSIPIËLE SKRIFGEFUNDEERDE

2.2 DIE WOORD AS SENTRAAL TOT DIE NORMATIEWE TAAK

2.3.3 Teologiese tradisie (“ the ecclesial / theological tradition.”)

Die normatiewe taak behels onder meer ook om die tradisionele konteks waarbinne die handelingsveld voorkom, te verstaan.

Wat teologiese tradisie betref, wys Yong (2002: 271) op die belangrikheid van verskillende teologiese tradisies en beweer hy dat “no one event, creed, doctrine, etc., can carry the weight of the entire Christian theological tradition”. Alhoewel tradisies verskil, beweer Yong (2002:306) dat “all truth is God’s truth, wherever it may be found, and that all persons are created in the image of God and therefore possibly reflect aspects of the truth in and through their lives and thinking”.

Archer (2007: 305) pleit vir ’n radikale skuif: dat die Pentekostalistiese beweging as ’n onafhanklike tradisie beskou mag word. In stede daarvan dat daar na Pentekostaliste verwys word as deel van die Evangeliese tradisie, vra hy of die groter en meer ekumeniese vraag nie moet behels om aan te voer dat Pentekostalisme ’n outentieke Christelike tradisie in daad en gedagte is nie?

Volgens hom is dit uniek in die opsig dat “Pentecostal theology will reflect the reality of God’s encounter with humans, developing the recipe with a special ingredient that flavors the whole dish, not just the relish that complements the main course prepared by someone else” (Archer, 2007: 306). Hy is van mening dat die krag van die Pentekostalistiese tradisie in sy “powerful narratives” lê (Archer, 2007:306). Die Pentekostalistiese gemeenskap, volgens hom, is ’n “distinct coherent narrative tradition within Christianity” (Archer, 2004:41).

Pinnock (2009: 161) beweer dat hierdie Pinkster-narratiewe tradisie deel is van ’n groter storie wat besig is om af te speel en dat dit nog nie gekonkludeer het nie. Daarom bestudeer die Pentekostalis die teks histories, “not just to recover past events, but also to anticipate promises contained in those events. The stories are told and retold because the history of God’s salvation is not finished but still open” (Pinnock, 2009:161).

Archer (2004: 38) voer aan dat die uniekheid van ’n Pentekostalistiese hermeneutiek in die fundamentele interpretatiewe vlak gevind kan word in sy eie “unique story”. Wat die Pentekostalistiese gemeenskap hoofsaaklik van ander Christelike gemeenskappe onderskei, is

die Pentekostalistiese tradisie se “distinct narrative” en plaas dit “a particular twist on the Christian story” (Archer, 2004: 38).

Archer (2004: 39) beweer dat ’n persoon se verwysingsraamwerk (“point of view”) gevorm word deur daardie persoon se deelname in ’n geloofsgemeenskap:

“The... biblical scholar’s point of view guides the methodological critical analysis and inevitably shapes the present retelling of past history.”

De Klerk et al. (2013: 5) se standpunt kan hierby aangehaak word wanneer hulle vermeld dat ’n navorser met ’n onderliggende werklikheidsbeskouing werk “waarvolgens die gebeurlikheids- dimensie van die ondersoekterrein van praktiese teologie deur die bril van bepaalde voorveronderstellings in oënskou geneem word.”

Die Pentekostalistiese narratiewe tradisie se manier waarop teologie beoefen word toon, volgens Archer (2007: 307) baie ooreenstemming met “the primary biblical way of presenting theology – through narrative.”

Frank Macchia (soos aangehaal deur Archer, 2007: 308) beklemtoon ook die sterk narratiewe tradisie. Hy beweer dat “Pentecostals have always favored testimonies, choruses and prayers over intellectual or critical reflection as the means by which to interpret the gospel.” Volgens Archer (2007: 312) is die sentrale oortuiginge van die Pentekostalistiese narratiewe tradisie gebaseer op die vyfvoudige evangelie waarvolgens Jesus verkondig word as “Saviour, Sanctifier, Spirit Baptizer, Healer and Coming King”. Hierdie verklarings vloei vanuit ’n “redemptive encounter with the living Word, Jesus Christ, who is present in our community through the powerful presence of the Holy Spirit.” As Pinksterteoloog beweer Archer (2007: 312) dat hierdie Pentekostalistiese storie lei tot die formasie van die Pinkster-identiteit:

“...identity, guides our activity and reflects our understanding of salvation for all of God’s creation.”

Die Pentekostalistiese gemeenskap benader daarom outomaties die Skrif vanuit ’n Pentekostalistiese perspektief, gevorm deur hul unieke storie (Archer, 2004: 43). In hierdie unieke storie of Pentekostalistiese narratiewe tradisie, is daar twee belangrike teologiese invloede naamlik die “laat reëns”-motief wat dan die weg baan vir die teologiese konsep genaamd die “restourasie” (of wederoprigting) van die Volle Evangelie (Archer, 2004: 44). Dit verskaf aan vroeëre Pentekostaliste die hermeneutiese lens om die Skrif te interpreteer asook

’n konsepsuele raamwerk waarvolgens hulle hul huidige belewing van die realiteit kon interpreteer (Archer, 2004: 57).

Wat die “laat reëns”-motief betref, verduidelik Archer (2004: 57) dat die Pentekostalistiese narratief mondelings en deur publikasies oorgedra is en dat die “laat reëns”- motief die primêre onderbou vir ‘n Pentekostalistiese narratiewe tradisie verskaf (Archer, 2004: 45).

Volgens hom het die Pentekostalistiese narratief, net soos enige ander storie, ’n begin, middel en ‘n einde (Archer, 2004: 57). Hy voer aan dat God in die begin van die narratief sy Gees oor ’n verloste en geheiligde Christelike geloofsgemeenskap uitgestort het met die spreke in ander tale as inisiële teken (Handelinge 2).

Die kerk was aanvanklik rein en verenig, maar ná die dood van die apostels het wêreldse invloed die kerk se reinheid en eenheid toenemend begin bedreig. Konstantyn se bekering was egter die doodskoot vir die kerk en het ’n spoedige agteruitgang en geloofsversaking van die Christendom tot gevolg gehad. Die kerk sou gevolglik afvallig word omrede dit die praktyk van Jesus en sy apostels verlaat het. Die “reën” wat aanvanklik op die Nuwe Testamentiese Apostoliese Kerk begin val het, was nou aan die kwyn.

Volgens Archer (2004: 57) word die middel van die narratief gekenmerk deur die kerk wat die Romeinse Ryk omarm (Konstantyn staan aan die Christene gelyke godsdienstige status toe deur die Edik van Milan). Gevolglik onttrek God sy Gees van die afvallige hiërargiese Romeinse kerk. Dit was die begin van die sogenaamde Middeleeue. Die ‘reën’ het skynbaar opgehou. Tydens die lang droogte wat gedurende die Middeleeue geduur het, was daar slegs ’n oorblyfsel getroue en vervolgde navolgers van Christus. Deur John Wesley en die heiligheidsbewegings, het die Hervormers hierdie getroue oorblyfsel begin voorberei vir die restourering van die belofte van die ‘laat reën’. Dit bring die middelste gedeelte van die narratief tot ’n einde.

Archer (2004: 57) vermeld dat die paar “druppels” wat egter tydens hierdie droogte geval het, alhoewel dit sporadies was, nader aan die einde van die middelste gedeelte van die narratief in intensiteit begin toeneem het en ’n verwagting begin skep het dat die “reën” binnekort weer sou val, soos wat belowe was. Hy vermeld dat sommige dié sporadiese uitstortings verkeerdelik aangesien het vir die “laat reëns”, maar dit kon glad nie vergelyk met die apostoliese herlewing (die “vroeë reën”) aan die begin van die narratief nie.

Volgens Archer (2004:57) het die vroeëre Pentekostaliste geglo dat die “laat reëns” veronderstel was om heerliker en meer mildelik as die “vroeë reën” te wees (Joël 2: 23, 28). Die “vroeë reën” het dus op die dag van Pinkster begin en die eerste manifestasie daarvan was

spreke in ander tale, soos die Gees dit aan hulle gegee het, daarna het die genesing van siekes gevolg, die uitdryf van duiwels, ens.

Archer (2004: 57) is van mening dat dit dus net natuurlik sal wees dat die “laat reëns” van Pinkster ’n herhaling sal wees wat gekenmerk word deur dieselfde manifestasies as in Handelinge 2. Volgens Archer (2004:57) blyk dit dat die begin van die einde van die “laat reëns”-narratief ’n aanvang in die jaar 1906 in Los Angeles, Kalifornië geneem het (Archer, 2004: 57). Daarmee verwys Archer na die Azusastraat-herlewing wat deur baie beskou word as die begin van die moderne Pentekostalistiese beweging en dus die begin van die “laat reëns”, die begin van die einde van die Pentekostalistiese narratief.

Hierdie “laat reëns”-motief baan die weg vir die tweede invloed wat ’n beduidende uitwerking op die Pentekostalistiese narratief het, naamlik die “restourasie” (of wederoprigting) van die Volle Evangelie (Archer, 2004: 44).

Archer (2004: 51) haal vir Brooks aan wat beweer dat bonatuurlike wonderwerke opgehou het / gestaak is in die tyd waarin die kerk afvallig geword het. Dit het egter daartoe aanleiding gegee dat daar ’n verwagting ontstaan het vir die uiteindelike restourasie of wederoprigting van die charismatiese gawes in die kerk. Die Evangelie sonder die manifestasie van die gawes van die Heilige Gees is deur vroeëre Pentekostaliste nie as die volle Evangelie beskou nie.

Met die aanvang van die “laat reëns” bring God egter herstel sodat die volle Evangelie geopenbaar kan word. Doktrines soos regverdigmaking slegs deur geloof, heiligmaking in die kerk, Goddelike genesing en die doping in die Heilige Gees kan nou weer as gevolg van die “laat reëns” plaasvind. Hierdie werk van God deur sy Gees onder Pentekostaliste moet beskou word as ’n bonatuurlike teken van die beweging se legitimiteit (Archer, 2004: 52, 53) en speel ’n beduidende rol in die vorming van die Pentekostalistiese narratief.

Nel (2014: 300-304) se bevindinge aksentueer die volgende eiesoortige kenmerke van die Pentekostalistiese aanbiddingstradisie:

• In Rooms-Katolieke kringe staan die mis volgens Nel (2014: 300) sentraal en in die Gereformeerde kringe, die kansel waar die verkondiging van die Woord hoofsaak is; in Pentekostalistiese kringe speel “ervaring” ’n belangrike rol en maak melding van ’n Christo-Pneumatiese ekklesiologie wat die soeke na ’n

ontmoeting met Christus en die Heilige Gees behels. Elke lid van die kerk moet daarvan kan getuig dat hulle ’n persoonlike ontmoeting met God deur sy Gees gehad het en waar die persoon oortuig was van sy sondige toestand en vergifnis van God ontvang het; só ’n persoon word aangemoedig om van hierdie ondervinding met Jesus as Verlosser te getuig.

• Jesus as heiligmaker speel ook ’n belangrike rol (Nel, 2014: 301) – Pentekostaliste word aangemoedig tot ’n lewe van deurdringende gebed (gebed totdat daar deurbrake beleef word) en ’n daaglikse wandeling met die Heilige Gees wat tot hul heiligmaking lei. Heiligmaking word beskou as voorbereiding en voorloper vir die ondervinding van die doping in die Heilige Gees.

• Jesus as Doper in die Heilige Gees (Lukas 3:16) - die doping in die Heilige Gees word beskou as die gebeure waarin vreesagtige, huiwerige en onvrymoedige dissipels getransformeer en bekragtig word tot ’n missionale gemeenskap wat die evangelie met vrymoedigheid saam met hulle die wêreld indra (Nel, 2014:302). Meeste Pentekostaliste beskou talespraak as die inisiële teken van die doping met die Heilige Gees omrede Christene van die eerste kerk en eerste eeu in tale gepraat het , soos die Gees dit aan hulle gegee het.

• Jesus as Geneser – 1 Petrus 2: 24: “Deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom”. Pentekostaliste assosieer verlossing met genesing; genesing word beskikbaar gemaak deur die versoeningswerk van Christus (Nel, 2014: 302). Genesings en wonderwerke is iets wat met die eerste eeuse kerk geassosieer word, maar die kerk moet met hierdie bediening van Christus deur die Heilige Gees voortgaan.

• Jesus as terugkerende Koning – Die uitstorting van die Heilige Gees word deur Pentekostaliste beskou as ’n eskatologiese gebeure, as ’n teken van die immanente Dag van die Here (Joël 2: 28-32). Christus kan egter nie terugkeer nie voordat elke volk, nasie en stam die evangelie gehoor het nie, en daarom is Pentekostaliste oortuig dat hulle hierdie dag van Christus (sy wederkoms) kan verhaas deur die evangelie aan elke mens te bring (Nel, 2014: 303).