• No results found

2. DIE NORMATIEWE TAAK – PRINSIPIËLE SKRIFGEFUNDEERDE

2.5 EKSEGETIESE PERSPEKTIEWE BETREFFENDE DIE UITWERKING

2.5.7 HANDELINGE 20:24

2.5.7.3 Eksegese van Handelinge 20:24

“Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak: dit is om die Evangelie van God se genade te verkondig.”

ἀλλ' οὐδενὸς λόγου ποιοῦμαι τὴν ψυχὴν τιμίαν ἐμαυτῷ ὡς τελειώσω τὸν δρόμον μου καὶ τὴν διακονίαν ἣν ἔλαβον παρὰ τοῦ κυρίου Ἰησοῦ, διαμαρτύρασθαι τὸ εὐαγγέλιον τῆς χάριτος τοῦ θεοῦ. Paulus meld dat hy sy lewe van geen belang ag nie. Die term timian (τιμίαν) – afkomstig van

timios (τίμιος) – beteken van “groot waarde, kosbaar, dierbaar” (Thayer’s-leksikon). Die term poioumai (ποιοῦμαι) is die negatiewe vorm van “ek bekommer my”, afkomstig van poieou

(ποιέω) en kan vertaal word as Paulus wat hom nie oor sy lewe bekommer nie. Die 1933-Bybel vertaal dit as “maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie”.

Dit dui op die erns van sy roeping en sy ywer vir die Evangelie. Daar is ’n saak wat vir hom baie belangriker is as enigiets anders, ’n saak waaraan hy sy lewe gewy het, ’n saak wat absoluut die moeite werd is en daarop wil hy sy aanhoorders se aandag vestig. Hy sien dit groter as hyself, groter as die ongemak en lyding wat hy verduur ter wille van hierdie saak. Paulus bekommer hom nie oor sy eie lewe nie. Wat sy teëspoed betref, hy lewe nie meer nie, maar Christus leef in hom (Gal.2:20).

Hierdie saak was die dienswerk (diakonian [διακονίαν]), die “bediening”; diens (volgens die Thayer’s-leksikon) wat hy van die Here Jesus verkry het. Dit het die verkondiging van die Evangelie behels. Hierdie saak is wat sin en betekenis aan sy lewe verskaf het. Solank hy hierdie dienswerk kon verrig, was hy nie bekommerd oor enigiets nie. Christus was duidelik daaroor dat die mens hom nie moet bekommer oor iets nie, maar sy vertroue in God stel (Matt.6:25). Paulus is ’n voorbeeld hiervan. Hy vertrou God vir die dag van môre. Hy weet wat dit is om in volle afhanklikheid op en met vertroue in God te leef. Paulus se fokus behels dat hy hom allereers beywer vir die koninkryk van God en vir die wil van God, met die vertroue en wete dat God dan die nodige aan hom sal skenk (Matt.6:33).

Hierdie gedeelte kan moontlik volgens Newman & Nida (1972: 391) op twee wyses geïnterpreteer word, naamlik, “Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie” of “Maar ek reken my lewe as van geen waarde nie”. Dit kan ook vertaal word as “nie werd om oor gepraat te word nie”. In enige taal is dit amper onmoontlik om van jou lewe te praat in terme van waarde. Mens kan eerder sê dat dit nie saak maak of ek lewe en of ek sterwe nie. Dit word dan gevolg deur ’n klousule wat stel dat dit belangrik is om jou missie te voltooi.

Paulus se bediening van die Evangelie beskou hy as sy lewenstaak. Die Griekse term

dromon (δρόμον) kan op figuurlike wyse verstaan word en hou, volgens Louw en Nida (1988:

513), die betekenismoontlikhede in van ’n taak of funksie wat kontinuïteit behels, ’n ernstige poging en moontlik ’n verpligting (soos verpligting of dwang in 1 Korintiërs 9:16), ook ’n taak of missie.

Volgens die Thayer’s-leksikon kan dit moontlik dui op ’n “loopbaan”; dis afkomstig van

dromos (δρόμος) wat “a course” of baan beteken of “the course of life or of office”. Die Strong’s-

leksikon dui ook op die figuurlike gebruik daarvan wat “career” of wedloop kan beteken. Handelinge 13:25 lig ook hierdie tema uit: “En toe Johannes aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê: ‘Wie dink julle is ek? Ek is dit nie; maar kyk, Hy kom ná my, wie se skoen ek nie waardig is om van sy voete los te maak nie’ ”. Louw en Nida (1988: 528) verwys ook na dromos as ’n baan en wedloop. Hierdie wedloop behels om sy roeping, dienswerk en lewenstaak getrou tot die einde uit te voer. In hierdie verband is 2 Timoteus 4:7 ’n goeie voorbeeld: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.”

Volgens Louw en Nida (1988: 658) is die term teleiousouw (τελειώσω) afkomstig van

teleisouw (τελειόω) wat die betekenismoontlikheid het van “to bring an activity to a successful

finish”. Filippense 1:6 gee ’n goeie idee van die interpretasie van hierdie term: “Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus”. Volgens die

Thayer’s-leksikon beteken dit “om perfek te maak, te voltooi, om totaal en al deur te voer, te bereik, eindig” en volgens die Strong’s-leksikon kan dit “vervul” beteken.

Die term diamartourasmai (διαμαρτύρασθαι) dui nie net aan “om te verkondig” nie, maar bevat ook, volgens die Thayer’s-leksikon, die betekenismoontlikheid van om “kragtig te getuig” – dit is afkomstig van die term diamartouromai (διαμαρτύρομαι) wat volgens Louw en Nida (1988: 413) beteken “to make a serious declaration on the basis of presumed personal knowledge”.

Paulus se dienswerk wat hom opgelê is, is gegrond in ’n persoonlike kennis en belewing van dit wat hy verkondig en waaroor hy getuig. Sy persoonlike ondervinding verleen krag en nadruklikheid aan sy getuienis en verkondiging.

Die Evangelie waaroor Paulus kragtig kan getuig as gevolg van persoonlike ondervinding, is ’n Evangelie van genade. Omrede Paulus self hierdie charitos(χάριτος – afkomstig van χάρις wat genade, “grace”, guns, die goedheid van God en geneentheid (Thayer’s-leksikon) ondervind het, kan hy met krag daarvan getuig.

Die genade-aspek van die Evangelie wat hy ervaar het, is die genade wat ook deur hom verkondig word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie hy die vernaamste is (1 Tim.1:15).

Wat Paulus ook al in die gesig mag staar, Paulus beskou nie sy lewe as van absolute belang nie. Hy reken sy lewe nie as dierbaar in homself nie. Die taalgebruik dui op dié van ’n rekenkundige (Bock, 2007: 628) of iemand wat ’n voorraadopname maak; sy lewe het slegs waarde en is dierbaar in soverre dit God dien en behaag. Sy vergelyking van sy bediening as ’n wedloop (dromon) word saam met die woordjie ous (ὡς) deur Lukas gebruik en Bock (2007: 628) meen dit lees dan “I do not consider my life worth anything, so as to complete my course.”

Wiersbe (2001: 486) meld die motief vir Paulus se bediening wat gevind word in Handelinge 20:19, naamlik dat hy “die Here gedien het”. Hy was nie geïnteresseerd om geld te maak of om ’n gemaklike lewe te lei nie (Hand. 20:34-35) omrede hy ’n dienskneg van Jesus Christus was. Hy het ’n punt daarvan gemaak om mense te laat verstaan dat sy motiewe vir die bediening geestelik en nie selfsugtig was nie. (1 Tess. 2:1-13).

Die manier van sy bediening was navolgenswaardig. Hy het ’n bestendige lewe gelei wat enige iemand kon ondersoek omrede hy niks gehad het om weg te steek nie. Hy’t gedien in nederigheid en nie as ’n “religious celebrity” nie. Sy nederigheid was egter nie ’n teken van swakheid nie; hy het veel teëspoed en gevare deurgesien sonder om moed op te gee. Hy was nie bang om te erken dat daar ook oomblikke van trane was nie.

Die boodskap van sy bediening (Hand. 20:20-21) was goed bekend omrede hy dit aangekondig en in die openbaar ander daarvan geleer het, sowel as in huiskerke. Hy’t sondaars vertel om hulle van hul sonde te bekeer en te glo in Jesus Christus. Die boodskap was “Die Evangelie van die genade van God” (Hand. 20:24) (Wiersbe, 2001: 486).

Wiersbe (2001: 486) meld dat Paulus ses metafore vir sy bediening gebruik. Hier in vers 24 gebruik hy die metafoor van ’n rekenmeester (en vind aansluiting by Bock hierbo) wat sy bates en verpligtinge onder oë neem en besluit om Jesus Christus boweal te plaas. Hy beskou homself in sy bediening ook as ’n atleet wat die wedloop wil voltooi (2 Tim.4:8). Die derde beeld was dié van ’n rentmeester (bestuurder) soos gevind in 1 Korintiërs 4:2. Die vierde beeld was dié van ’n getuie wat kragtig getuienis lewer “vir die Evangelie van die genade van God” (1 Korintiërs 4:24). Die vyfde beeld is dié van ’n boodskapper (1 Korintiërs 4:25) en die laaste is die beeld van ’n wag (1 Korintiërs 4:26) soos gevind in Esegiël 3:17-21.