• No results found

Pastorale druk wat Paulus beleef het

2. DIE NORMATIEWE TAAK – PRINSIPIËLE SKRIFGEFUNDEERDE

2.5 EKSEGETIESE PERSPEKTIEWE BETREFFENDE DIE UITWERKING

2.5.2 DIE PASTOR

2.5.3.2 Ontstaan van die gemeente en pastorale druk wat Paulus beleef het

2.5.3.2.2 Pastorale druk wat Paulus beleef het

In hierdie ondersoek word by Fee se uitgangspunt aangesluit dat die werklike probleem in 1 Korintiërs gegaan het oor die konflik tussen Paulus (die pastor) en die gemeente.

a) Die antagonisme van die kerk teenoor Paulus het by ’n minderheidsgroep ontstaan

Paulus se opposisie kom in hierdie brief nie van buite nie, maar van sekeres binne die gemeente wat ’n toenemende negatiewe invloed op die res van die gemeente begin uitoefen het. Fee (1987: 8,9) vermeld dat Paulus na sy opposisie verwys as “sommige onder julle” (1 Korintiërs 15:12, 4:18). Die verhouding tussen Paulus en die gemeente is besig om te verbrokkel,

alhoewel nog nie tot op ’n punt van openlike vyandigheid nie. Hulle kommunikeer steeds deur briewe oor en weer te skryf. Nietemin het daar ’n anti-Pauliniese sentiment begin ontstaan wat geïnisieer is deur ’n minderheidsgroep wat gevolglik ’n invloed op die meerderheid van die gemeente gehad het. (1987:8) Wanneer Paulus melding van skeuringe in die gemeente maak mag hierdie dalk die gevoeligste “skeur” gewees het, die een wat besig was om te ontstaan tussen Paulus en ’n groot deel van die mense binne die gemeente wat negatief beïnvloed is.

b) Die antagonisme teenoor Paulus spruit vanuit sy opponente se ou sondige lewe

Ciampa (2010: 4) meen dat ons hier met gelowiges te doen het wat pas tot bekering gekom het. Baie van die kwessies kan terugherlei word na hul onkritiese aanvaarding van gesindhede, waardes en gedrag wat verkry is uit die samelewing waaruit hulle tot bekering gekom het. Ciampa (2010:4) noem, onder meer, probleme soos “the glorification of wisdom, the eating of food sacrificed to idols, the denial of bodily resurrection, and the light assessment of sexual immorality, drunkenness, greed, and vexatious litigation”.

Ciampa (2010:5) haal vir Vander Broek aan wat vermeld dat meeste van die probleme ontstaan het as gevolg van die Korintiërs se onvermoë om toe te laat dat die evangelieboodskap hul heidense, Grieks-Romeinse lewe ten volle te verander en dat hulle weliswaar gepoog het om Christene te wees, maar met ’n minimale sosiale en teologiese versteuring.

c) Paulus se roeping word in twyfel getrek

Thiselton (2000: 24) verwys na die kwessie van Paulus se apostolisiteit wat veral onder skoot kom. Vir Paulus was sy roeping as apostel nie ’n “lofty stance based on prestige” nie, maar hy het dit eerder verstaan as “pointing to the cross and sharing in its shame and humiliation as God’s chosen mode of self-revelation.” Verder is Thiselton (2000: 45) van mening dat Paulus nie sy apostelskap gebruik het as ’n instrument vir mag nie maar as ’n oproep “to become a transparent agency through whom the crucified and raised Christ becomes portrayed through lifestyle, thought, and utterance”.

d.) Paulus se gesag verkeer onder verdenking

Evans (2003: 60) is van mening dat die konflikte en verskille wat Paulus poog om aan te spreek grootliks en direk met die kwessie van outoriteit verband hou – “who makes decisions and who has to obey, and why.”

e) Paulus se teologiese wysheid word bevraagteken

Wat aanleiding hiertoe gegee het, mag dalk ’n verskeidenheid van faktore wees. Volgens Fee (1987: 8) het die Korintiërs aan hul nuwe geloof begin dink in terme van “Sophia” (wysheid). Dit blyk dat dit vir hulle dalk die hoogste uitdrukking van geloof was.

Gemeet hieraan het Paulus nie goed gevaar nie. Die inhoud van sy wysheid (die evangelie en prediking) het afgesteek teenoor hul beskouing van wysheid. Die vorm waarin hierdie wysheid oorgedra is, of anders gestel, Paulus se retoriese vermoë, was iets wat vir sy opposisie afstootlik was (1 Korintiërs1:17). Barnett (2011: 61) beweer dat Paulus in 1 Korintiërs 4 moontlik ’n plaaslike leraar of leraars van wysheid (’n valse wysheid) teiken en blootlê, wat moontlik gepoog het om die leierskap van die gemeente oor te neem.

Alhoewel baie teoloë nie met haar saamstem nie, is Perkins (2012: 65) van mening dat die moontlikheid bestaan dat dit dalk Apollos kon wees wat die gemeente mag bekendgestel het aan ‘n konsep van die Christendom as “a higher form of wisdom that made its initiates ‘the wise’ or the ‘spiritual ones’ or ‘the perfect’.”

Volgens Perkins doen Paulus moeite om nie so ’n selfverheerlikte siening oor homself te skep nie. Paulus se terminologie, soos gevind in 1 Korintiërs 3:18 (“laat hom dwaas word”) en in 1 Korintiërs 4:9 (“... ons apostels die laaste plek aangewys het... ons het ‘n skouspel geword...”) en 1 Korintiërs 4:10 (“Ons is dwaas ..., maar julle is verstandig... Ons is swak, maar julle sterk. Julle is in aansien, maar ons in oneer”) dui hierop. (Perkins, 2012:67)

Fee (1987:8) vermeld ook die feit dat Paulus met sy hande werk (as tentmaker), nie inpas met sommige mense binne die gemeente se idee van ’n wyse man nie.

f) Paulus word beskou as nie geestelik genoeg nie

Die Korintiërs verwys na hulself as “pneumatikoi” (Fee, 1987:10,11), oftewel geestelikes, maar is nie oortuig dat Paulus “pneumatikos” (geestelik) is nie. Fee suggereer dat dit moontlik die sleutelkwessie tussen Paulus en sy opposisie kon gewees het. In kontras hiermee, verantwoord Paulus homself deur te demonstreer hoe sy swakheid inpas by die evangelie wat hy verkondig. Om hul verwysing na hulself as geestelikes verder te versterk, gebruik hulle veral die gawe van talespraak as bewys dat hulle alreeds deel het aan die engele se bestaan. Hulle het ’n oor- gerealiseerde eskatologiese uitkyk van hul huidige bestaan, wat Fee (1987: 12) ook ‘n vergeestelikte eskatologie noem. Hul huidige bestaan word streng verstaan kragtens geestelike terme. Hulle redeneer dat die Gees aan die “eschaton” behoort en dat hulle reeds die Gees in volle maat ervaar.

Die eskatologiese gebeure is vir hulle dus nie toekomstig nie, maar dat hulle nou reeds deel daaraan het en reeds by daardie punt gearriveer het. Hulle beleef dus nou ’n absolute of sogenaamde “ultimate” (Fee, 1987:12) geestelikheid waarin hulle glo dat hulle bó die blote materiële bestaan van die huidige tyd verhef is. Volgens hulle het Paulus nog nie hierdie vlak van geestelikheid bereik nie.

g) In die oë van sy opposisie beskik Paulus nie oor genoegsame status nie

Thiselton (2000: 24) meld dat Paulus bewus was van sommige “status-seeking people who became believers”. Die probleemskeppers in die gemeente was statusbehep. Hulle beskou Paulus se status as “an embarrassment, even after they had come to faith. The apostles appeared like ‘the scum of the earth, the scrapings from people’s shoes’ ”.