• No results found

2. DIE NORMATIEWE TAAK – PRINSIPIËLE SKRIFGEFUNDEERDE

2.5 EKSEGETIESE PERSPEKTIEWE BETREFFENDE DIE UITWERKING

2.5.2 DIE PASTOR

2.5.5.1 Agtergrond van 1 Timoteus

Timoteus was die gereelde reisgenoot en jonger kollega van Paulus. Volgens Handelinge 16:1- 3 was Timoteus afkomstig uit Derbe en Listre, in die Romeinse provinsie van Galasië in die suidooste van Klein-Asië. Paulus het hom heel waarskynlik vir die eerste keer (46-48 n.C.) tydens sy eerste sendingreis in hierdie gebied ontmoet. Dis ook waarskynlik dat hy, sy ma en ouma onder Paulus se bediening tot bekering gekom het. Tydens Paulus se tweede besoek aan hierdie gebied (49-50 n.C.) en op aanbeveling van die plaaslike gelowiges (Hand. 16:2), het Paulus besluit om Timoteus saam met hom te neem op sy reise.

Paulus het gereeld vir Timoteus as afgevaardigde na gemeentes gestuur (Gloer, 2010: 2,3) waar daar probleme was (1 Tess. 3:1-6) om hulle te versterk, naamlik die Korintiërs (1 Korintiërs 4:17) om hulle te herinner aan Paulus se lering, om oor Paulus se omstandighede verslag te doen en aan hom verslag uit die gemeentes te bring (Fil.2:19-24, 1 Tess. 3:6). Hy was by Paulus met die skrywe van die boek Romeine en mede-outeur in 2 Korintiërs1:1, 1 Tessalonisense 1:1, 2 Tessalonisense 1:1 en Filemon 1.

Timoteus was egter van gemengde herkoms (Joodse ma en heidense pa), daarom het Paulus Timoteus laat besny om sodoende nie die sending onder die Diaspora Jode in gedrang te bring nie (Gloer, 2010: 2).

Paulus noem Timoteus “my geliefde en getroue seun in die Here” (1 Korintiërs 4:17) asook “my medewerker” (Romeine 16:21). Hy het Paulus se mees intieme en langste reisgenoot geword. ’n Goeie “navolger” van Paulus (1 Tim. 4:6) wat dieselfde “gesindheid” (Fil. 2:20) gehad het en wat Paulus se boodskap kon artikuleer (1 Thess. 3:2-3) (Fee, 1984).

In hierdie brief word ’n unieke en baie moeilike opdrag aan Timoteus opgelê. Hy word in Efese agtergelaat om die valse leraars hok te slaan wat gepoog het om die kerk as ’n lewensvatbare alternatief vir daardie stad te ontspoor. Hy word algemeen na verwys as jonk (ten minste dertig jaar en ouer met die skrywe van 1 Timoteus) huiwerig en het moontlik ’n gebrek aan gesag en afdwingbaarheid. Stott (1973: 20) het na hom verwys as ’n introvert, hy’t klaarblyklik herhaaldelike maagongesteldhede gehad (1 Tim.5:23) en was sieklik (Stott, 1973: 19). Volgens Fee was sy gebrek aan moed heel waarskynlik nie so erg as wat sommige dink nie omdat hy die vroeëre sendingreise na Tessalonika en Korinte met die gepaardgaande uitdagings meegemaak het. Die aansporing tot lojaliteit en deursetting in 1 en 2 Timoteus is as gevolg van sy jeugdigheid asook die sterkte van die opposisie (Fee, 1984).

Volgens Fee (2011: 684) ondersteun ’n sterk en vroeë kerktradisie (asook hyself) ‘n Pauliniese outeurskap. Om die historiese situasie agter te kom, meen Fee (1984) dat die beste moontlike oplossing van die brief van 1 Timoteus klaarblyklik is dat Paulus, ná sy vrylating uit Romeinse aanhouding, saam met Titus na Kreta gegaan het en moontlik Timoteus ook. Daar

evangeliseer hulle meeste van die dorpe, maar kom Hellenistiese Jode teë wat ’n verdraaide beskouing van die besnydenis het en hy los Titus in Kreta agter om hierdie probleem te hanteer. Intussen, onderwyl Paulus en Timoteus onderweg is na Masedonië, stop hulle in Efese en vind uit dat daar valse leerstellings verkondig word, ooreenstemmend met dit waarmee hulle vroeër in Kolosse, en meer onlangs in Kreta, te doen gekry het, en dít was besig om die kerk in Efese te ondermyn. Daarom ban (“excommunicate”) Paulus die twee ringleiers van hierdie beweging, Himeneus en Alexander (1 Tim. 1:19) en omdat hy in Masedonië wou kom, laat hy vir Timoteus in Efese agter om na die kerk om te sien. (Fee, 1984)

Ná sy aankoms in Masedonië, skryf hy briewe aan beide Timoteus en Titus. Timoteus moet in Efese aanbly, maar Titus word vervang deur Tigikus of Artemas en hy moet by Paulus in Nikopolis aansluit. Van daar blyk dit dat Paulus op pad terug na Efese gearresteer is.

Uiteindelik is hy na Rome geneem waar hy ’n voorlopige verhoor voor ’n Romeinse regbank (2 Tim. 4:12) gehad het en oorhandig is vir ’n volle verhoor. Gedurende sy tyd in aanhouding ervaar hy gemengde reaksie van sy vriende. Onesiforus besoek hom, bedien hom en lig hom in oor die situasie in Efese wat steeds besig is om agteruit te gaan. Sy ander vriende los hom agter, sommige met grondige redes en een wat afvallig van die geloof geword het. Dis tydens hierdie gebeure dat hy vir Tigikus stuur om Titus te vervang en stuur ook saam met hom ’n brief aan Timoteus om hom aan te moedig en te versoek dat hy alles net so moet los en na Rome toe moet gaan, voor die winter sy reis kan bemoeilik.

Fee (1984) beweer dat die hoofdoel van die brief saamgevat kan word in 1 Timoteus 1:3. “Soos ek jou versoek het toe ek na Masedonië op reis was, moet jy in Efese wag om sekere persone te beveel dat hulle geen ander leer moet leer nie”.

Wié die valse leraars was, is Bassler (1996: 24) en Fee (1984) van mening dat Handelinge 20:30 as profesie aan die ouderling-opsieners, ’n duideliker prentjie in hierdie verband gee – “uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan”. Die probleemskeppers was vir seker leraars (1 Tim. 1:3,7 en 1 Tim. 6:3) en lering was, onder meer, een van die take van die ouderlinge (1 Tim. 3:2, 1 Tim. 5:17).

’n Beduidende deel van die boek word aan die karakter, kwalifikasies en dissipline van kerkleiers bestee (1 Tim. 3:1-13; 1 Tim. 5:17-25). Hierdie leraars het veral, na aanleiding van 2 Timoteus 3:6-9 asook 1 Timoteus 2:9-15 en 1 Tim. 5:3-16, ’n vrugbare arbeidsveld onder sommige vroue gevind, klaarblyklik jonger weduwees wat hul huise vir hierdie leraars oopgestel het en selfs hulle lering help versprei het (Fee, 1984, Marshall & Towner, 1999: 45).

Die kerk in Efese het na alle waarskynlikheid bestaan uit ’n aantal huiskerke (Fee, 1984). Dit was dus nie ’n kwessie van ’n groot vergadering wat in twee verdeeld was nie, maar die huiskerke in totaal wie se leierskap die pad byster geraak het. Dit noodsaak daarom ook die dringendheid wat in die brief waargeneem word.

Wát die aard van hierdie valse leer was, is, volgens Fee (1984) moeilik om presies vas te stel. Wat wel vasgestel kan word, is dat dit ’n gedrag- sowel as ’n kognitiewe dimensie bevat het. Die valse leraars was betrokke met spekulasie en woordestryd, besig met argumente en twisvrae. Hulle was hoogmoedig, arrogant en het onenigheid veroorsaak. Maar waarop dit veral, volgens Fee, neerkom, was hul geldgierigheid (1 Tim. 6:9-10). Hulle het geglo dat godsdiens ’n manier was om hulself te verryk.

Hulle valse leerstelling hou, onder meer, verband met die gebruik van die Ou Testament (1 Tim. 1:6-10) (Marshall & Towner, 1999: 44). Dit verklaar die asketisme (1 Tim. 4:3, 1 Tim. 5:23 en Titus 1:14-16) sowel as die fabels en eindelose geslagsregisters (1 Tim. 1:4, 1 Tim. 4:7) wat hulle verkondig. Elemente van Hellenisme en ’n vermenging van Griekse dualisme (wat ’n gedempte beskouing van die materiële wêreld gehad het) verklaar ook die asketiese beklemtoning (Marshall & Towner, 1999: 44) sowel as die bewering dat die opstanding reeds plaasgevind het (2 Tim. 2:18) (Marshall & Towner,1999: 45).

In hierdie tydperk (54-63 n.C.) blyk dit dat Paulus nie net die bedreiging van die Judaïste, met die klem op die besnydenis en die wet, moes probeer afweer nie, maar ook die godsdienstige sinkretisme wat in die Hellenistiese wêreld in die lug was. Marshall en Towner (1999: 47) beweer dat die inhoud van hierdie valse leer, ’n vroeëre vorm van Gnostisisme was. Bassler (1996: 27) vermeld ook dat sekere dinge – soos die verwerping van die materiële, die geskape wêreld, die vergeestelikte siening oor die Opstanding en die klem op kennis (1 Tim. 6:20, Titus 1:16) – duidelike ooreenkomste met Gnostisisme toon.

Die brief toon bewyse dat dit vir die kerk self bedoel was, nie net vir Timoteus nie, maar as gevolg van die defektiewe leierskap skryf Paulus nie direk nie, maar deur Timoteus aan die kerk. Dit dien ter aansporing en bemoediging vir Timoteus, maar is ook bedoel om deur die gemeente gehoor te word (Marshall & Towner, 1999: 52). Deur die brief dus aan hulle voor te hou, gee Paulus aan Timoteus ook die nodige “openbare” magtiging voor die gemeente om sy taak uit te voer. Sodoende word die valse leraars ook aan die lig gebring asook hoe die saak hanteer moet word. Paulus roep dus vir Timoteus op om ’n “suiwer” en gesonde doktrine te verkondig, sonder om die aard en die inhoud daarvan spesifiek te vermeld. Net soos in 1 Korintiërs 4:17 (“Hy sal julle herinner aan my handelwyse in Christus, soos ek oral in elke

gemeente leer”) moet Timoteus die gemeente aan Paulus se manier, lering en voorbeeld herinner (Fee, 1984).