• No results found

2. DIE NORMATIEWE TAAK – PRINSIPIËLE SKRIFGEFUNDEERDE

2.5 EKSEGETIESE PERSPEKTIEWE BETREFFENDE DIE UITWERKING

2.5.2 DIE PASTOR

2.5.4.1 Die situasie in hoofstuk 9

Barnett (2011: 147) is van mening dat die tema in hoofstuk 9 te doen het met Paulus se “vryheid” wat hy as ’n resultaat van sy gesag as apostel, verkry het. Perkins (2012: 106) stem hiermee saam. Dit volg nadat Paulus in hoofstuk 8:7-13 ’n argument begin aanvoer het oor die komplekse probleme oor afgode en die vleis wat aan afgode geoffer is en hoedat die gelowiges daarop bedag moet wees (v. 9) dat hul vryheid (om dit te eet) nie dalk ’n struikelblok kan veroorsaak vir dié wat ’n “swakke” broeder (v. 11) is nie, maar dat hulle hulself eerder daarvan moet weerhou om sodoende hul “swak” broers nie te laat struikel nie.

In hoofstuk 9 val Paulus homself in die rede deur dan op sy eie vryheid as apostel te fokus en sommige teoloë meen dat hy dit hier verdedig. Sy argument wat hy in hoofstuk 8 begin het (die eet van vleis aan afgode geoffer) hervat hy weer in hoofstuk 10:23-11:1. Die kruks van sy argument in die onderskeie gedeeltes in 1 Korintiërs 8 en 10 is, soos reeds gemeld, dat dit beter is om jou vryheid (om te eet wat jy wil) prys te gee as om toe te kyk hoe iemand anders as gevolg van jou vryheid van die Christelike geloof afvallig raak. Fee et al. (2011: 653) beweer dat

Paulus meen dat dit ’n sonde teen Christus self is indien ’n gelowige (met ’n swak gewete) van die geloof afvallig raak as gevolg van ’n ander gelowige wat nie van sy regte wil afsien nie.

In hoofstuk 9 verskuif Paulus sy fokus na homself en sy eie vryheid as apostel. Hy hou homself as ’n voorbeeld van wat dit beteken om as gelowige jou vryheid en regte af te lê. Die rede hoekom hy sy regte aflê, word saamgevat in vers 19-23 en dit is om uiteindelik verlorenes deur sy ywer (wat deur Christus geïnspireer is) na God te lei. (Perkins, 2012: 107, Barnett, 2011: 147)

Deur homself hoofsaaklik as voorbeeld in hoofstuk 9 voor te hou, neem Paulus hom voor om self sekere kritiese aspekte aangaande die Christelike geloof vir die nuwe bekeerlinge te demonstreer. Hy weet dat mense meer uit ’n bedienaar se voorbeeld (exemplum) leer as uit ’n bedienaar se woorde (Galloway, 2001: 220). Daarom is hy so gedetermineerd om homself finansieel te onderhou en daardeur te toon dat hy hard werk in ’n kultuur waar werk verag is en beskou is as iets wat slegs vir slawe bedoel was (Barnett, 2011: 147).

Paulus verdedig in v.1-6 van hoofstuk 9 sy apostelskap deur te meld dat hy daarin, as persoon, geen vryheid het nie. Sy apostelskap is iets wat deur God aan hom toevertrou is (“die dwang is my opgelê”) volgens hoofstuk 9:16, en hy het nie die vryheid om daaroor te beslis nie. Aan die anderkant beskik hy wel oor die vryheid om sy persoonlike “reg” op te neem om enige finansiële vergoeding van die Korintiërs te ontvang al dan nie, soos in vers 13-23 en volgens Barnett (2011: 148). Die kwessie van ‘patronage’ (begunstiging) volgens Perkins (2012: 117) wat in hierdie hoofstuk na vore kom, word deur Paulus aangewend om die tema van “Om jou vryheid prys te gee” by die Korintiërs in te prent.

Perkins (2012: 117) beweer dat Paulus se verdedigende houding (“Maar ek ís mos ’n apostel! ”) dalk ook te doen mag hê met moontlike vergelykings wat deur die Korintiërs tussen hom en die ander apostels, soos Petrus en die broers van Jesus, getref is – in hierdie geval heel moontlik tussen hom en Barnabas (1 Korintiërs 9:6).

Soos reeds vermeld, beweer Perkins (2012: 117) dat daar in hierdie hoofstuk sterk klem gelê word op “patronage relationships” (begunstigde verhoudinge) en voer sy aan dat die apostels wat in geestelike dinge onderrig gee, na regte veronderstel is om materiële / finansiële ondersteuning van gemeentes te ontvang. Dis ’n “verpligting” wat bevestig word deur die Mosaïese wet (1 Korintiërs 9:9), Jesus se lering (9:14) en ’n algemene gebruik (9:13).

Perkins (2012: 117) meld tereg dat Paulus se weiering om in so ’n verhouding met die Korintiërs betrokke te raak, aanstoot tot die meer vermoënde Korintiërs mag gegee het. Barnett (2011: 148) beweer weer dat die rede waarom Paulus geweier het om betaling van die

Korintiërs te ontvang, is moontlik vanweë “ander” (v. 2a) buite die gemeente wat hom nie as ’n apostel beskou het nie en wat beskuldigend teenoor hom mag staan (v. 3).

Paulus wil nie hê dat materiële ondersteuning ’n hindernis (v. 12) moet wees wat mense moontlik kan verhoed om die Evangelie aan te neem nie. Sy argument en redenasie stem (volgens die navorser se mening) baie ooreen met die afgode- en vleiskwessie (1 Korintiërs 8:13). In hoofstuk 9 weerhou hy hom egter daarvan om geld te ontvang om sodoende andere vir Christus te wen. Alhoewel hy goeie bedoelinge het met sy weiering, kon dit dalk ook sy apostelskap in gedrang bring en sy opposisie nóg meer skietgoed gee omrede dit ’n algemeen was dat apostels geld en materiële ondersteuning (te maklik) aanvaar het.

Waar die bedreiging in hoofstuk 4 hoofsaaklik van binne die gemeente gekom het, maak Paulus hier ook melding van andere buite die gemeente (Barnett, 2011: 148) en dit beteken dat Paulus wel deeglik bewus was van hulle. Indien hy dus ’n verkeerde indruk sou skep, was die kanse skraal dat hulle Christus ooit sou kon aanvaar en hy hulle vir Christus kon wen.

Volgens Barnett (2011: 148) kon Paulus se aanklaers waarna hy in vers 2 verwys, onder meer, sy apostelskap uitdaag en hom moontlik van die volgende dinge beskuldig:

 Dat hy nie ’n lid van die oorspronklike groep van dissipels was of werklik ’n getuie (v. 1c) van die gebeure rondom die opgestane Jesus was nie, nie deur Hom uitgestuur of afgevaardig was nie en dat hy ’n vervolger van die kerk was.

 Sy weiering om geld te aanvaar, kon dalk deur hulle gebruik word as ’n bewys dat hy nie werklik ’n apostel is nie – klaarblyklik het ander erkende apostels met hul gades wel finansiële ondersteuning aanvaar (1 Korintiërs 4-5, 2 Korintiërs11:7-12).

 Hulle kon sy openheid om saam met heidene te eet, beskou het as ’n bewys dat hy sy 

Joodsheid laat vaar het en dat dit hom daarom as ’n apostel van die (Joodse) Messias, Jesus Christus (v. 19-23) diskwalifiseer.

Hierdie “ander(e)” waarna Paulus verwys in vers 2, mag, volgens Barnett (2011: 148) moontlik Judaïste gewees het. Dit was persone wat streng volgens die wet van Moses geleef het en heidense gelowiges onder die juk van die wet wou indwing. Dit kon heel moontlik vorige volgelinge van Paulus gewees het voor sy bekering – volgelinge wat onderneem het om hom destyds as Saulus te ondersteun in sy missie om die gelowiges te vervolg. Hulle was moontlik uit Jerusalem afkomstig en het Paulus gevolg na Galasië en Sirië en het hierdie negatiewe gerugte oor Paulus in Agaje versprei.

Barnett (2011: 149) veronderstel dat hierdie persone moontlik die sinagoge-netwerke gebruik het om twyfel te saai onder die Joodse lede in die gemeentes, veral die Galasiër- gemeente (soos te sien Galasiërs 1 en 2) en ook in hierdie geval, die Korintiër-gemeente. Tog wil dit voorkom asof hierdie “opponente” van Paulus nog nie met die skrywe van die brief (1 Korintiërs) al in Korinte was nie, want hy maak melding van hulle asof hulle nog nie die gemeente persoonlik binnegekom het nie. Die negatiewe gerugte aangaande Paulus het wel, en dit verduidelik die Korintiërs se antagonisme jeens Paulus. Maar hierdie bedreiging was immanent, want toe Paulus ’n jaar later die tweede brief aan die Korintiërs geskryf het, het hulle wel reeds hul opwagting gemaak en groot skade in die gemeente aangerig.

Tog was die meerderheid lidmate volgens Barnett (2011: 151) van heidense afkoms en beweer hy dat die Judaïete se argumente nie veel van ’n invloed op hulle kon hê nie – hulle was tog immers “die seël” op Paulus se apostelskap in die Here (v.2b). Waarom skryf Paulus dan so ’n belangrike benoeming aan die Korintiërs toe en verwys na hulle as ’n bevestiging van sy apostelskap?

Barnett (2011: 151) meen dat Paulus se hele missie aan die heidense wêreld berus het op die oorlewing en die groei van die Evangelie in hierdie Egeïese hoofstad, naamlik Korinte.