• No results found

2. DIE NORMATIEWE TAAK – PRINSIPIËLE SKRIFGEFUNDEERDE

2.5 EKSEGETIESE PERSPEKTIEWE BETREFFENDE DIE UITWERKING

2.5.2 DIE PASTOR

2.5.3.4 Eksegese van 1 Korintiërs 4:9

“Want dit lyk vir my dat God ons apostels die laaste plek aangewys het as tot die dood veroordeel; want ons het ‘n skouspel geword vir die wêreld, vir die engele sowel as vir die mense.”

δοκῶ γάρ, ὁ θεὸς ἡμᾶς τοὺς ἀποστόλους ἐσχάτους ἀπέδειξεν ὡςἐπιθανατίους, ὅτι θέατρον ἐγενήθημεν τῷ κόσμῳ καὶ ἀγγέλοις καὶ ἀνθρώποις.

ἐσχάτους – Volgens Louw & Nida (1988: 740) verwys die woord eschatos (escatoz) na “pertaining to being of the lowest status – lowest, least important, last”.

Paulus toon dalk ’n bietjie sarkasme. Die Korintiër-gemeente maak ’n groot ophef van hul faksieleiers. Hierdie leiers is, volgens die gemeente, meer geestelik en wyser as Paulus en die apostels. Paulus, as pastor, word deur die gemeente stief behandel. Hy voldoen nie aan hulle kriteria vir ’n leier nie. Daarom maak Paulus melding dat hy en die ander apostels die laaste plek “geniet”.

“Laaste plek” beteken egter nie dat die bediening as ’n professie afsteek teenoor enige ander professie nie. Die aard van die bediening verskil integraal van enige ander sekulêre beroep. Hoofsaaklik handel die bediening daaroor om te dien. Die woorde van Christus in Matteus 23:11 vind hier weerklank: “Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees.” Die sukses van die bediening kan nie gemeet word aan syfers en persentasies nie. Namate die bediening daarin slaag om die rol van dienskneg te vertolk, vervul dit sy doel. Ook in Markus 9:34, 35 staan daar “...hulle het op die pad met mekaar gepraat oor wie die grootste is” en “as iemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees”.

Dieselfde betekenis word gevind in, onder meer, Mattheus 25:40 “...sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen...”.

Gemeet aan wêreldse standaarde, mag die status van die bediening dalk as gering beskou word. Die koninkryk van God funksioneer egter nie volgens wêreldse maatstawwe nie. Trail (1995: 185) beskryf ook die term as “laaste, heel agter, laagste” en “it refers to rank and succession and indicates ‘last, least, most insignificant’ and refers especially to the apostles who were exhibited as the least among men by the misfortunes they had suffered”. Dit is dus die oortreffende vorm van laaste in tyd of plek; laaste in ’n reeks (Lexicon-Concordance Online Bible, Thayer’s Greek Dictionary); verste ent, finale (van plek of tyd), laagste, uitermate (Lexicon-Concordance Online Bible, Strong’s Exhaustive Concordance). Dit blyk of werklik geroepe bedienaars (pastors) in die bediening teenkanting te wagte mag wees en soms met antagonisme begroet sal word.

Die bediening volgens die Skrif is van so aard dat dit nie veronderstel is om ’n geleentheid vir persoonlike gewin te wees nie. Alhoewel daar sommige is wat doelbewus poog om dit vir eie gewin aan te wend, en sommige onbewustelik.

Fee (1987: 174) het aangedui dat die Korintiërs se arrogansie moontlik hier vergelyk word met ’n triomfantlike generaal in ’n Romeinse oorwinningsoptog – direk teenstrydig met die beeld van ’n dienskneg – en die apostels wat heel laaste in die optog stap omrede dit die plek was vir die veroordeeldes.

ἀπέδειξεν – Volgens Louw en Nida (1988: 341) is hierdie woord afkomstig van die woord

apodeiknumi (ἀποδείκνυμι), met die betekenis “to cause something to be known as genuine,

with possible focus upon the source of such knowledge... to make clearly known”.

Volgens die Strong’s-leksikon beteken dit om ten toon te stel, te demonstreer, te akkrediteer, om ’n voorbeeld van te maak. Volgens Trail (1995: 184) beteken dit “to show publicly”, “to put on display” en reken hy dat hierdie betekenismoontlikheid dalk eerder in verband met die woord “skouspel” in die tweede helfte van die vers gebring moet word. Dit kan egter ook “to appoint” beteken. Die pastor is in die publieke oog. Mense kyk op na hom as voorbeeld. Hierdie posisie moet egter met die regte persepsie en gesindheid gevul word.

ἐπιθανατίους – Afkomstig volgens Louw en Nida (1988: 266) van die woord Thanatos (qanatoj) wat “dood” beteken of “ter dood veroordeel”, dra ook die betekenis van manne wat binnekort tereggestel gaan word, dus aangewys is om te sterwe (Strong’s-leksikon). Trail (1995: 185) vermeld dat hierdie woord moontlik gebruik is wanneer aangedui is dat veroordeelde misdadigers vir leeus gegooi is en verwys dus moontlik na die gladiators wat deel uitgemaak het van ’n skouspel in ’n amfiteater.

Paulus se verstaan van die bediening verskil hemelsbreed van sy opposisie s’n. Sy opposisie met hul aanhangers hou ’n bepaalde kriteria en beskouing van ’n apostel voor. Hulle ontken Paulus se apostelskap, want hy voldoen nie aan hulle kriteria nie. Die feit dat sy opposisie aan hul aanhangers se kriteria voldoen en hy (Paulus) nie, veroorsaak dat die gemeente neersien op Paulus. Paulus verwoord dit deur te meld dat dit blyk of hy deur God verstoot en veroordeel is en dat sy opposisie eer en aansien geniet.

θέατρον – Volgens Louw en Nida (1988: 279) is hierdie woord afkomstig van theouria (qeuria) wat beteken om “waar te neem” – ’n ongewone objek of gebeurtenis wat waargeneem word, ’n skouspel. Dieselfde woord word in Lukas 23:48 gebruik om die gebeure rondom Christus se

kruisiging te beskryf: ’n sonsverduistering, die voorhangsel wat in twee skeur, die hoofman oor honderd wat besef dat Christus regverdig was, die skare wat hierdie gebeure waarneem en op hulle bors slaan – almal waarnemers van die grootste skouspel ooit.

As bedienaar van die Evangelie het Paulus (en die apostels) ’n skouspel geword vir die gemeente en die wêreld. Hierdie was egter ’n skouspel in ’n negatiewe lig. Dit was ’n skouspel as gevolg van die vernedering, bespotting en ontkenning van sy apostelskap wat hy moes verduur.

Die Thayer’s-leksikon dui aan dat die woord theatron (θέατρον) ook op ’n teater of plek waarin spele en dramatiese skouspele gehou is, kan dui – daar waar publieke samekomste plaasgevind het. Die metaforiese gebruik in hierdie vers is om te verwys na ’n persoon van wie daar openlik ’n bespotting van gemaak word (Thayer’s-leksikon); ’n buitengewone gesig; “to put on display at the end of a victor’s parade to be stared at” (Trail, 1995: 186).

Volgens Inkelaar (2011: 55) gee 1 Korintiërs 4:9 ’n radikale interpretasie van wat die apostoliese bestaan behels en is dit ’n uitbeelding van die paradoksale aard daarvan. Volgens Ciampa (2010: 180) is die enigste manier waarop die Korintiërs hul triomfantelike, voorspoedteologie van gemak kan bly handhaaf, om die paradigmatiese ervaring van die apostels heeltemal te ignoreer.

Perkins (2012: 67) beweer dat die terminologie wat gebruik word in 1 Korintiërs 4:9 (“want ons het ‘n skouspel [theatron] geword vir die wêreld”) en in hoofstuk 3:18 (“laat hom dwaas word”) sowel as die terminologie in hoofstuk 4:10 (“Ons is dwaas ter wille van Christus ... Ons is swak ... ons in oneer”) daarop wys dat die hele scenario beskryf word ten opsigte van populêre vermaak van daardie tyd.

Die Korintiërs met hul beweerde wysheid word deur Paulus vergelyk met die sosiale elite wat op spesiale sitplekke sit en voordele geniet terwyl hulle in ’n amfiteater na ’n toneel of sport kyk. In hedendaagse terme sou dit wees soos toeskouers wat vanuit ’n losie (box or suite) (Fee,1987: 174) na ’n gebeurtenis in ’n stadion of teater kyk. Van die voordele sluit, onder meer, in dat hulle hul eie persoonlike ingange tot die teaters en amfiteaters het.

Hierteenoor verwys Paulus na homself as veroordeelde gevangene in ’n Romeinse triomftog of moontlik as een van die gevangenes in die populêre en wrede gladiatorspele in die arena (of amfiteater) en as deel van ’n skouspel na gekyk word.

Paulus se gehoor is deeglik bewus van wat hy besig is om te doen, omrede hulle weet wat dit beteken om getuies of omstanders te wees van so ’n vernederende teregstelling van ’n eens trotse lid van ’n koninklike huis of ’n gewone misdadiger in die gladiatorskouspele. In hierdie opsig beskryf Thiselton (2000: 24) die apostels as “bloodied fighters in the stadium, even

if some Corinthian believers later came to perceive themselves as exempt from such a struggle, sitting among the seats of the spectators who judged the quality of the apostolic performance...” (1 Korintiërs 4:9-13).

Paulus sien die nut en waarde daarvan om ontbering te verdra, maar dit beteken nie dat hy masochistiese neigings toon nie (Ciampa, 2010: 180,181). Hy beskou dit eerder as ’n onderskeidende kenmerk van die egtheid van sy apostelskap, want dit manifesteer sy konformiteit tot Christus se lyding. Hierdie ontberinge van hom is nie buite God se wil vir hom as apostel nie. Inteendeel, hy vermeld dat dit blyk of dit God is wat vir die apostels die laaste plek “aangewys” het. Die bediening, soos dit dus in die Skrif omskryf word, is veronderstel om die onderskeidende kenmerk van die egtheid van die pastor se konformiteit aan Christus, te toon. Paulus het ten doel dat sy apostelskap ’n refleksie van die kruis sal wees, en nie ’n poging om ’n outonome held en martelaar te wees nie. Paulus pas hier die teologie van die kruis toe (Fee,1987: 166): Vir Paulus was die apostolaat ’n kwessie van “…like master, like servant” (1987: 175).

In teenstelling met die Korintiërs se verhewenheid, dat hulle alreeds soos konings heers, konsentreer Paulus in sy teenargument op sy “swakhede”. Volgens hom het hulle, as gevolg van hul arrogansie, heeltemal ’n verdraaide beeld van dissipelskap asook van die apostolaat. Constable (2007: 41) som hul verdraaide siening goed op:

"The Corinthians in their blatant pride were like the conquering general displaying the trophies of his prowess; the apostles were like the little group of captives, men doomed to die. To the Corinthians the Christian life meant flaunting their pride and their privileges and reckoning up their achievement; to Paul it meant a humble service, ready to die for Christ."

Paulus se beskouing van die apostolaat hou direk verband met die boodskap van die kruis, of soos Fee (1987: 175) dit noem, “The scandal of the cross”. Ciampa (2010: 181) stel dit so:

“Christ’s rejection as one ‘dishonored’ or ‘disgraced’ by the shame of the cross colors Paul’s language [here].”

2 Korintiërs 6:10 toon in hierdie verband ’n spesifieke ooreenkoms met 1 Korintiërs 4:9 wanneer Paulus na die bediening van die apostels verwys as “armes, maar wat baie ander ryk maak”; ook met sy voorbeeld van Jesus in 2 Korintiërs 8:9 waarin hy vermeld dat “alhoewel Hy ryk was,

ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.” ’n Duidelike verband bestaan ook tussen 2 Korintiërs 4:10-13, 1:9 en 2:14-3:3 met die fokus op die “doding van die Here Jesus” wat Paulus in hom saamdra.

Hierdie uitgangspunt van Paulus het nie in die verhewe beskouing van geestelikheid van die Korintiërs gepas nie. Die Korintiërs se arrogansie en trots in hul geestelike status het klaarblyklik ’n stuk verleentheid ingesluit oor Paulus wat, na hul mening, geestelik ontoereikend was. Nie eens om van sy gebrek aan wysheid en welsprekendheid te praat nie. (Fee, 1987: 175)

Uiteindelik lug Paulus sy mening in hierdie hoofstuk oor die Korintiërs se arrogansie deur te meld dat hy nie net bloot voel soos een wat in die openbaar tereggestel word nie, maar verduidelik in die oortreffende trap dat hierdie gebeure eintlik ‘n spektakel vir die hele wêreld geword het om te aanskou.

Die apostels se degradering onder die hand van sommige in die Korintiër-gemeente, wek dus eintlik ’n veel groter belangstelling as wat die toeskouers in ‘n arena of amfiteater sou ervaar. Daar kom ’n kosmiese dimensie by tot hierdie spektakel. Die belangrikheid van die apostels se bediening is van só ’n aard dat “selfs engele dit dophou,” volgens Garland (2003: 140) en Fee (987: 175).

2.5.4 1 Korintiërs 9:16