• No results found

2. DIE NORMATIEWE TAAK – PRINSIPIËLE SKRIFGEFUNDEERDE

2.5 EKSEGETIESE PERSPEKTIEWE BETREFFENDE DIE UITWERKING

2.5.2 DIE PASTOR

2.5.6.4 Eksegese van 2 Timoteus 4:5

“Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.”

σὺ δὲ νῆφε ἐν πᾶσιν κακοπ,άθησον, ἔργον ποίησον εὐαγγελιστοῦ, τὴν διακονίαν σου πληροφόρησον.

Timoteus word deur Paulus vermaan om nugtere oordeel aan die dag te lê en nie soos die vals leraars deur verkeerde leringe mislei te word en dit te verkondig nie. Hy moet nugter wees wat die bediening betref. Dit dui ook op paraatheid. 1 Tessalonisense 5:8 lig dieselfde tema uit: “Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid.” In 1 Petrus 5:8 klink hierdie tema ook: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind”. Hy is die opponent en rig verwoesting aan deur, onder meer, valse leringe. Sy teiken is die werk van God in die gemeente.

Die pastor se besluitneming moet nugter wees, geskoei op die eenvoud van die Evangelie en hy moet dinge nie onnodig kompliseer nie. Die Griekse term neithe (νῆφε) is

afkomstig van die woord neithou (νήφω) en beteken om nugter te wees, om kalm en beredeneerd te wees; gematig; besadig; behoedsaam; bedagsaam (Thayer’s-leksikon). Dit dra ook die betekenismoontlikheid van “om jou te onthou, om diskreet te wees” (Strong’s-leksikon).

Die woord kakopatheson (κακοπάθησον) is volgens Louw en Nida (1988: 287) afkomstig van die woord kakopatheo (κακοπαθέω) en beteken moontlik om onder fisiese pyn, teëspoed en ellende gebuk te gaan, en om verdrukking te lei. Dit kan moontlik geïnterpreteer word as Paulus wat Timoteus bemoedig: “Continue doing what you should even though you are suffering” of “remain firm even though people cause you suffering”. In 2 Timoteus 2:9 kan hierdie tema ook gesien word wanneer Paulus meld dat “ek verdrukking ly tot die boeie toe soos ’n kwaaddoener; maar die woord van God is nie gebonde nie...”.

Wat vir Paulus egter van belang is, is nie sy persoonlike ongemak en belewing van verdrukking wat hy verduur nie. Sy fokus is op die Evangelie; in sy ellende verheug hy hom daaroor dat, alhoewel hy na sy liggaam afgetakel voel, die Evangelie ongeskonde en onaangetas bly. Sy fokus op die voortreflikheid van die Evangelie, maak die lyding wat hy ervaar, meer draaglik en die moeite werd. Volgens die Thayer’s-leksikon beteken hierdie term moontlik om booshede en/of moeilikhede te verdra en om seergemaak te word. Dieselfde term kom volgens Louw en Nida (1988: 287) voor in Jakobus 5:10: “Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete wat in die Naam van die Here gespreek het.”

πληροφόρησον – Volgens Louw en Nida (1988: 411) is hierdie term afkomstig van die woord

pleirosoreou (πληροφορέω). Dit dra die betekenismoontlikheid van die volle inhoud van ’n

boodskap deur te gee; om ten volle te vertel, om ten volle te verkondig. In die konteks van hierdie vers mag hierdie woord geïnterpreteer word dat Timoteus sy bediening as vervuld kan beskou solank as wat hy die volle Evangelie (die volle waarheid daarvan) verkondig in die aangesig van valse leraars en leringe en teenkanting. Romeine 15:9b brei uit op hierdie tema: “... sodat ek die Evangelieverkondiging van Christus volbring het.” Ook in 2 Timoteus 4:17 staan daar: “Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking heeltemal volbring kan word en al die heidene dit kan hoor”. Dit dra ook die betekenismoontlikheid van “om te veroorsaak” sodat iets kan plaasvind/gebeur, met die implikasie om een of ander doel te vervul of te verwesenlik (Louw & Nida, 1988: 161). In Matteus 1:22 word die gebeure rondom Christus se geboorte vermeld en dit het alles gebeur “sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het”. Volgens die Thayer’s-leksikon beteken dit om te dra of om vol te bring, om vol te maak, om te veroorsaak

dat iets in totaliteit na vore kom, om die bediening te vervul in elke deel; om deur te voer tot die einde; te bereik en volgens die Strong’s-leksikon om ten volle uit te voer; geheel en al bereik.

Lea (1992: 245) meen dat die “maar” aan die begin van 2 Timoteus 4:5 baie beduidend is. In kontras met hulle wie se “ore jeuk” en “gestreel” moet word, moet Timoteus reageer met spirituele intelligensie. Timoteus moet voortdurend attent wees op valse leringe. Terwyl baie mense agter leraars aanhardloop, moet Timoteus nugter en beredeneerd bly. Die oproep tot nugterheid is ’n oproep om heldersiende en versigtig te wees in die aangesig van die uitdagings wat deur wispelturige gemeentelede en kontrasterende en kompeterende leerstellings geskep word (Bassler, 1996: 170). Gloer (2010: 299) beweer dat die oproep tot nugterheid in die lig van die eskatologiese klimaks verstaan moet word.

Deur nugter te wees, sou hy verdrukking ly (Lea, 1992: 245), maar hy moes dit verduur en staande bly. Hy moes voortgaan met die verkondiging van die suiwere Evangelie. Gloer (2010: 300) beweer dat Paulus Timoteus voorberei ... net soos wat Paulus gely het as gevolg van die Evangelie, net so sal Timoteus ook daarvoor moet ly. Hy moet verdrukking ly, nie net bloot om lydingsonthalwe of om enige ander edele rede nie, maar ter wille van die Evangelie. Die kosbaarheid en uitnemendheid daarvan is hoofsaak.

Stott (1973: 112) het vroeër beweer dat die volle Evangelieboodskap nie altyd populêr is nie en dit tot gevolg mag hê dat pastors onder die versoeking mag verkeer om die boodskap aan te pas om sodoende enige teenkanting te vermy. Indien Bybelse geloof onpopulêr begin word, “[then] ministers are sorely tempted to mute those elements which give most offense”.

Die aanmaning om die werk van ’n evangelis te doen, het nie duidelike verwysing tot die spesialis-evangelis se bediening nie. Die goeienuusboodskap moet nie net teen valshede beskerm word nie, maar terselfdertyd verkondig en versprei word (Stott, 1973: 112). Volgens Lea (1992: 245) is dit ’n funksie van Timoteus se werk as pastor en nie ’n spesiale amp nie.

Stott (1973: 112) som die vers op deur te meld dat “the more determined men become to despise the teaching of Christ, the more zealous should godly ministers be to assert it and the more strenuous their efforts to preserve it entire, and more than that to ward off Satan’s attacks”. Deur dus getrou te bly aan die bediening van die Evangelie, vervul Timoteus so sy roeping. In 1 Tessalonisense 2:4 vermeld Paulus in hierdie verband: “...maar soos ons deur God waardig geag is dat die Evangelie aan ons toevertrou sou word, so spreek ons, nie om mense te behaag nie, maar God wat ons harte beproef.”