• No results found

2. DIE NORMATIEWE TAAK – PRINSIPIËLE SKRIFGEFUNDEERDE

2.5 EKSEGETIESE PERSPEKTIEWE BETREFFENDE DIE UITWERKING

2.5.2 DIE PASTOR

2.5.6.1 Agtergrond van 2 Timoteus

2 Timoteus is geskryf vanuit die gevangenis (Gloer, 2010: 4) en daarin blyk dit of Paulus min of geen hoop op vrylating gehad het nie (2 Tim. 4:6-8). Waar 1 Timoteus aanmanings ten opsigte van die gemeente bevat het, bevat 2 Timoteus ’n meer persoonlike aanmaning (“intensely personal”, (Fee, 1984) omrede Paulus teregstelling afwag. Die brief bevat kenmerke van testamentêre literatuur – die laaste skrywes van ’n sterwende patriarg. Fee (1984) het dit ook vroeër reeds aangedui. Hy meen dat die brief in ’n sekere sin ’n laaste testament is, ’n “passing on of the mantle”.

Stott (1973: 20,21) het vroeër aangedui dat die tema van 2 Timoteus behels dat Paulus so te sê aan die einde van sy dertig jaar lange bediening gekom het. Hy was nou ’n gevangene en spoedig sou hy ’n martelaar wees. Hy het die goeie nuus getrou verkondig, kerke geplant, die waarheid beskerm en die werk gekonsolideer. Hy het “die goeie stryd gestry; ...die wedloop voleindig; ...die geloof behou” (2 Tim. 4:7) (Stott, 1973: 21).

Keiser Nero wat die aard van die kerk nie verstaan het nie, was daarop uit om alle geheime organisasies te onderdruk of te vernietig. Ketterye was aan die toeneem. Die toekoms van die Christelike geloof het onder druk verkeer en was op ’n mespunt gebalanseer. Wie gaan die “aflosstokkie” by Paulus oorneem? Hy herinner Timoteus (Paulus het reeds in 1 Tim. 6:20 gemeld “o, Timoteus, bewaar jou pand”) dat die kosbare Evangelie nou aan hom toevertrou word en dat dit nou sy beurt is om die verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar; vir die preek en onderrig daarvan; vir die beskerming daarvan teen vervalsing en om te verseker dat dit akkuraat oorgedra word aan generasies wat sou kom (Stott, 1973: 21).

Bassler (1996: 22,23) meen dat gemeentes in hierdie brief omtrent geen rol speel nie. Fee (1984), aan die ander kant, het voorheen egter beweer dat al die uitdagings in die eerste brief ook hier hul opwagting maak, maar op ‘n meer dringende en persoonlike manier.

In 2 Timoteus word die belangrikheid van ononderbroke kontinuïteit en getrouheid tot die tradisies wat deur Paulus gepreserveer en aangebied is, beklemtoon (Bassler, 1996: 23). ’n Groot gedeelte van 2 Timoteus adresseer die vraag na die korrekte manier waarop die Christelike leer verkondig moet word asook die inhoud daarvan. Die brief konstitueer ’n substantiewe respons tot die taktiek van die opposisie.

Die sleutel tot die verstaan van 2 Timoteus lê volgens Fee (1984) in die verstaan van Paulus se veranderde omstandighede. Hy is nie meer vry om sy rondreisende bediening na te jaag nie. Weer eens gearresteer (heel waarskynlik in Troas), is hy nou onder streng bewaking in Rome (2 Tim. 1:16-17; 2 Tim. 2:9). Hy het reeds ’n voorlopige verhoor gehad (2 Tim. 4:16-18) en hy wag nou op die finale verhoor; en toon dat hy nie enige positiewe uitkoms verwag nie – veel eerder die dood.

Sy gevangenskap is sy verdrukking. Sommige het hom in die tronk kom bedien (2 Tim. 1:16-18), andere het gaan bedien op ander plekke (2 Tim. 4:10,12) en een het hom verlaat. Die situasie in Efese het vererger. Sommige van wie hy meer verwag het, het hom en sy Evangelie verlaat (2 Tim. 1:15). Ten spyte van sy vroeëre banning uit die gemeente, is Himeneus steeds besig om sommige mense se geloof te laat skipbreuk ly.

Paulus herroep weer hul vroeër dae (2 Tim. 3:10-11; 2 Tim. 1:3-5) en boweal doen hy ’n beroep op Timoteus se ononderbroke lojaliteit aan die Evangelie, aan hom (as Timoteus se mentor) en ook tot sy eie roeping (Timoteus sin) (2 Tim. 1:6-14; 2:1-13; 3:10-4:5). In die agtergrond staan die valse leraars; Timoteus moet hulle teëstaan en streef om God se mense terug te wen. Maar hy moenie langer in Efese bly nie; hy moet daardie bediening aan ander toevertrou wat getrou was (2 Tim. 2:2) en hy moet na Paulus gaan (2 Tim. 4:9).

Op die voorgrond is Paulus se lewenslange doel: die Evangelie en die bediening. Timoteus word aangemoedig om “die genadegawe van God aan te wakker” wat in hom is (2 Tim. 1:6-7); “bewaar jou goeie pand” (2 Tim. 1:14); “hou as voorbeeld van gesonde woorde... wat jy van my gehoor het” (2 Tim. 1:13); “verkondig die woord” (2 Tim. 4:2)(Fee, 1984).

Paulus se eie omstandighede sowel as dié van Timoteus, noodsaak hom tot die aanmaning tot lydsaamheid in die gesig van vervolging: “skaam jou dan nie” (2 Tim. 1:8), maar “ly saam verdrukkinge vir die Evangelie na die krag van God.” 2 Timoteus is verseker nie ’n kerkhandleiding nie (Fee, 1984) en word nie oorheers deur valse leraars nie. Paulus se hoofdoel is om Timoteus tot sy sy te roep. Maar die groter rede is sy beroep op Timoteus se lojaliteit, veral in die lig van menige probleme en Paulus se gevangenskap (Fee, 1984).

’n Gesindheid van absolute vertroue in die deurdringendheid en standhoudendheid van die Evangelie word hier gesien. Ten spyte van die verdrukkinge (sy eie boeie), die opposisie en menige probleme, herken Paulus dat die Evangelie van God nie aan bande gelê is of kan word nie (2 Tim. 2:9). Die kerk sal nie kwyn nie, want dit dra die seël van God se eienaarskap – “Die Here ken dié wat syne is” (2 Tim. 2:19) (Fee, 1984).

Getrouheid en lydsaamheid word vereis, ‘n eskatologiese oorwinning word bevestig vir hulle wat volhard (2 Tim. 2:11-13; 4:8) omrede God in Christus reeds die dood oorwin het (2 Tim.1:9-10). Daarom, die kruks van die brief is ’n oproep tot Timoteus om ná Paulus se dood met die bediening van die Evangelie mee voort te gaan. Al staar die dood Paulus in die gesig, is hy steeds vol vertroue dat God die saak sal deursien (2 Tim. 1:5,8,14) (Fee, 1984).