• No results found

HOOFSTUK 4: DIE DESKRIPTIEF-EMPIRIESE TAAK

4.3 NAVORSINGSMETODE

4.3.6 Etiese norme

Dit is belangrik dat data wat gedurende onderhoude bekom word op ’n wettige en verantwoordelike wyse geskied. Die navorser sal optree ooreenkomstig die morele, etiese en wetlike standaarde van ’n wetenskaplike ondersoek.

Die navorser moet ’n bewustheid demonstreer van die komplekse etiese kwessies en aandui dat die navorsing beide uitvoerbaar en eties is.

Wat ook al die rol van die navorser mag wees (die navorser tree ook vrywillig op – Wertz

et al., 2011: 354), moet hy aandui dat dit nie skadelike gevolge vir deelnemers sal hê nie. Indien

hy van deelnemers gaan verlang om hul roetine te verander of hul tyd af te staan, moet dit vir vrywilliglik wees (Babbie, 2012:62). Wat as roetine en aanvaarbaar in een situasie beskou word, mag dalk in ’n ander situasie skadelik wees. Wat vrywillig in een situasie mag wees, mag dalk as ’n verpligting in ’n ander situasie beskou word. Die navorser kan nie alles antisipeer nie, maar hy moet ’n bewustheid van, ’n waardering vir en ’n verbintenis tot etiese beginsels vir navorsing openbaar (Marshall en Rossman, 2011:122). Deur ’n etiese gedragskode te handhaaf, word ’n vertrouensverhouding tussen die navorser en die respondente gevestig.

Die doel van etiese reëls behels ook om die navorser te verhoed om die respondente enige skade te berokken. Babbie (2012: 62) maak melding van die kwessies van vrywillige deelname, geen skade, anonimiteit en vertroulikheid. Hierdie reëls het te doen met die beskerming van beide partye – die navorser sowel as die respondent.

Inligting van ’n sensitiewe of eksplisiete aard mag dalk in sulke navorsingsituasies na vore kom. Die volgende etiese hoofbeginsels soos gestipuleer deur die etiese komitee van die NWU kom in die Handleiding vir nagraadse studie (2010: 31) voor en handel spesifiek oor kwalitatiewe navorsing: 1) Outonomie – respek vir die persoon of persone en begrip van menslike waardigheid; 2) Voordeligheid – voordeel vir die deelnemer aan die navorsingsprojek; 3) Nie-nadeligheid – afwesigheid van enige vorm van skade berokken aan die projekdeelnemer;

4) Geregtigheid – sigbare verspreiding van geregtigheid en gelyke verspreiding van risiko's en voordele tussen gemeenskappe.

Die navorser is bewus daarvan dat hy verantwoordelik is vir die etiese gehalte van die studie en dat hy ’n morele verpligting het om die regte van deelnemers in ag te neem. Die volgende etiese kwessies was ter sprake in hierdie navorsing:

4.3.6.1 Ingeligte toestemming (informed consent)

Deelnemers baseer hul vrywillige deelname in die navorsingsprojek op die feit dat hulle volledig kennis dra van die moontlike risiko’s daaraan verbonde, indien enige (Babbie, 2012: 64).

Vir die doel van hierdie studie het die navorser skriftelike toestemming van respondente gekry en die moontlike risiko’s, voor -en nadele aan hulle voorgehou terwyl hulle ingelig is oor die tema van die ondersoek. Henn et al. (2009: 85) beweer dat hierdie belangrike stap te doen het met die feit dat daar nie ’n persepsie geskep moet word dat mense onder dwang verkeer, of “benodig” word vir ’n studie en mislei of gemanipuleer word om daaraan deel te neem nie.

Vir hierdie studie het die navorser die beraamde tydsduur aan die deelnemers voorgehou, naamlik ongeveer sestig minute. Nie een van die onderhoude het so lank geduur nie, maar die deelnemers het voor die tyd geweet wat om te verwag. Die navorser het ook die deelnemers gerusgestel dat hulle op enige gegewe oomblik hulself van die onderhoud kan onttrek.

Die navorser het egter ook aan hulle verduidelik watter positiewe impak hul deelname aan die projek vir hierdie spesifieke navorsing sal hê en dat dit pastors, wat druk beleef, moontlik kan ondersteun in die hantering daarvan. Sodoende kan pastors meer effektief in hul bediening wees en die werk van die Here daarby baat. Die navorser het hulle ook vooraf ingelig dat daar geen monetêre voordeel aan die onderhoude betrokke is nie, maar ook nie enige risiko’s inhou waarvan die navorser bewus is nie.

4.3.6.2 Konfidensialiteit en anonimiteit

Konfidensialiteit is ’n doelbewuste poging om enige identifiserende punte van die deelnemers in die studie te verwyder, terwyl anonimiteit behels dat deelnemers aan die studie naamloos sal bly (Henn et al., 2009: 94).

Anonimiteit verseker dat ’n persoon naamloos en onidentifiseerbaar bly terwyl konfidensialiteit beteken dat die navorser die data vertroulik hou en weg van openbare verbruik. Deelnemers is voor die tyd in die toestemmingsbrief ingelig dat hulle anoniem sal bly. Die navorser het respondente ook voor die aanvang van die onderhoude versoek om, sover dit binne hul vermoë is, geen name tydens die onderhoude te noem nie. Ná afloop van die

onderhoude, het die navorser die proses wat sou volg, aan elke respondent verduidelik, ook dat alle inligting vertroulik hanteer sou word.

4.3.6.3. Privaatheid

Hammersley en Traianou (2012: 100) beweer dat die kwessie rakende privaatheid krities is wanneer die belangrike rol wat publisiteit in navorsing speel, in ag geneem word. Oor die algemeen is navorsers verplig om hul bevindinge te publiseer en om deurlopend hul data aan die publiek bekend te maak.

In akademiese navorsing is die publisering van bevindinge (en bewyse daarvoor) binne die navorsingsgemeenskap ’n belangrike aspek van die navorsingsproses. Daar is ook ’n verpligting om die bewese bevindinge aan die wyer publiek bekend te maak, waar ook al dit nuttig toegepas kan word.

Gegewe die intrinsieke verbintenis tot publisiteit, is daar altyd merkbare “ruimte” vir spanning en konflik tussen navorsing en die verbintenis om ’n individu se privaatheid te handhaaf.

Die kwessie van privaatheid is kompleks (Henn et al., 2009: 97), en die manier waarop die navorsing uitgevoer word asook die verhouding wat tussen die navorser en deelnemers tot stand kom, is ter sprake. Mense mag voel dat hulle verkeerd behandel is sonder dat hulle fisiek seergemaak is of skade gely het. Dit mag dalk gebeur wanneer hulle voel dat hulle bloot as objekte hanteer is vir sekere afmetings, sonder enige respek vir hulle individuele waarde en sin vir privaatheid.

Die navorser het met groot sorg gepoog om nie individue se privaatheid te skend voor en tydens onderhoudsituasies nie. ’n Verhouding van respek en vertroue is gekweek deur hulle voor die onderhoud te bedank vir hul deelname en belangstelling in respondente te toon en hulle op hul gemak te laat voel.

4.3.6.4 Analise en verslaggewing

Navorsers het etiese verpligtinge teenoor subjekte (deelnemers) maar ook teenoor kollegas in die wetenskaplike gemeenskap (Babbie, 2012: 69). Die navorser moet enige tekortkominge in die studie kan bekendmaak. Negatiewe bevindinge moet ook gerapporteer word. Wetenskap progresseer deur eerlikheid en openheid terwyl ego en misleiding navorsing belemmer.