• No results found

Betroubaarheid van die navorsingsproses

HOOFSTUK 4: DIE DESKRIPTIEF-EMPIRIESE TAAK

4.3 NAVORSINGSMETODE

4.3.5 Betroubaarheid van die navorsingsproses

Dit is belangrik in enige navorsing om die betroubaarheid van die studie te verseker. Rubin en Babbie (2009: 231) beweer dat daar algemene konsensus is oor die feit dat betroubaarheid die kern in kwalitatiewe navorsing is.

In hierdie studie poog die navorser om die studie so betroubaar en geldig as moontlik aan te bied. Indien dit nie die geval is nie, kan dit nie die vertroue van lesers of ander navorsers inboesem nie.

Babbie (2012: xlix) verwys ook na betroubaarheid en geldigheid: betroubaarheid is om konsekwente resultate van dieselfde mate te verkry; geldigheid verwys na die verkryging van resultate wat die konsep (wat gemeet/ondersoek word) akkuraat reflekteer.

Om betroubaarheid van die navorsingsproses te verseker, is die volgende aspekte van Guba se strategie (Shenton, 2004: 63) in hierdie studie geïnkorporeer:

4.3.5.1 Waarheidswaarde

Waarheidswaarde het te doen met die interne geldigheid van die navorsing – dat die navorsing die beoogde doelwit wat gestel is, sal bereik (Shenton, 2004: 64). Dit het te doen met hoe vas oortuig die navorser is van die waarheid van die bevindinge gebaseer op die navorsingsontwerp, informante en konteks.

In kwalitatiewe navorsing word waarheidswaarde gewoonlik verkry uit die ontdekking van menslike ervaringe soos dit beleef is en beskou word deur informante. Sommige navorsers verwys ook daarna as “credibility” (geloofwaardigheid).

’n Kwalitatiewe studie is geloofwaardig wanneer dit só ’n akkurate beskrywing of interpretasie van menslike ervaringe bied, dat mense wat dieselfde ervaring deel, dadelik met die beskrywings sal kan identifiseer. Daarom is die belangrike vraag wat hier gevra moet word: “How congruent are the findings with reality?” (Shenton, 2004: 64).

Die waarheidswaarde van hierdie studie word versterk deur die ontdekking van die ervaringe soos dit geleef en ervaar word deur AGS-pastors terwyl die geloofwaardigheid van die navorsing aangevul word deur akkurate beskrywings of interpretasies van die AGS-pastors se

belewing en hantering van pastorale druk. Die volgende geloofwaardigheidstrategieë is toegepas in hierdie studie om waarheidswaarde te verseker:

4.3.5.1.1 Triangulasie

Triangulasie het te doen met die beskouing van sake vanuit meer as een oogpunt (Denscombe, 2007: 134). Triangulasie vind plaas wanneer navorsers bevestiging tussen twee of meer bronne soek vir hul data en interpretasies (Rubin & Babbie, 2012: 232).

Die navorser sal gebruik maak van verskillende navorsingsmetodes of, meer spesifiek, metodologiese triangulasie (Carter et al., 2014: 545). Dit behels, onder meer, steekproewe, onderhoude en data-analise om te verseker dat navorsingsgevolgtrekkings meer geloofwaardig is as navorsingsbevindings wat slegs op een bron van bewys gebaseer is. Databronne kan ook getrianguleer word met dokumentêre bewyse en waarnemings, bykomend tot onderhoude.

Golafshani (2003: 597) beskryf triangulasie as “...a validity procedure where researchers search for convergence among multiple and different sources of information to form themes or categories in a study”. Hierdie is ’n kragtige strategie om die gehalte van die navorsing te bevorder, veral wat geloofwaardigheid betref, maar ook ten opsigte van die bevestigbaarheid daarvan. Die hoofdoel van triangulasie behels nie die eenvoudige kombinering van verskillende tipes data nie, maar die poging om hul verwantskap met mekaar te identifiseer om sodoende die moontlike bedreiging teen die geldigheid van die navorsing teë te werk.

Die navorser sal triangulasie toepas omrede dit enige tekortkominge – wat afkomstig mag wees deur slegs op ’n enkele metode staat te maak – deur multistrategienavorsing sal kan oorkom; metodes word gekombineer nie net om hul individuele sterk punte verder te versterk nie, maar ook om vir die spesifieke foute en beperkinge van ’n enkele metode te kompenseer (Henn et al., 2009: 20).

4.3.5.1.2 Langdurigheid en variërende veld ervaring

Kwalitatiewe navorsingsdataversameling vereis dat die navorser hom/haarself in die deelnemer se leefwêreld moet indink. Die belangrikheid van die identifisering van herhalende patrone, temas en waardes moenie onderskat word nie. Dit suggereer die behoefte om genoegsame tyd met respondente deur te bring (Anney, 2014: 276).

Die navorser is reeds veertien jaar ’n pastor in die AGS-kerk en het talle kennisse en vriende binne AGS-verband. Die navorser glo dat die respondente hom as gevolg daarvan sal vertrou.

Die navorser het vooraf op vyf respondente besluit wat gekies is op grond van wie hulle is en wat hulle tot die studie kan bydra. Struwig en Stead (2001: 101) beweer dat die lengte van

die waarneming afhang van die doel van die studie, die finansiële kostes verbonde en die punt van dataversadiging.

Om dataversadiging te bereik, moet die navorser aanpasbaar wees in die verskeie navorsingsbenaderings wat deur hom toegepas word. Wanneer deelnemers begin om feite te herhaal wat reeds aangehaal is deur ander respondente gedurende onderhoude, sal hy besef dat versadiging plaasgevind het.

Die omgewing van die onderhoude wat die navorser met die respondente het, sal varieer. ’n Omgewing waarin hulle gemaklik is en logisties die gerieflikste.

4.3.5.1.3 Reflektiwiteit

Die navorser is deel van die navorsing, nie apart daarvan nie, en daarom is daar die risiko dat die navorsing moontlik deur die navorser persoonlike vooroordele, persepsies, emosies en betrokkenheid sy geloofwaardigheid mag verloor.

Sullivan (2002: 179) beweer dat reflektiwiteit ’n essensiële en onvermydelike deel van navorsing is en dit word gedemonstreer “... in each interaction with ‘subjects’ through the use or development of a shared vocabulary, the positive exploitation of our similar experiences, and recognition of any shared background of participation in a relevant culture or sub-culture”.

Die navorser moet die invloed van sy/haar eie agtergrond, persepsies en belange in die kwalitatiewe navorsingsproses deurlopend assesseer om die geloofwaardigheid van die proses te behou. Sullivan (2002: 179) sê dit is “...crucial to reduce the possible bias (or influence) of the researcher to a minimum”.

Die agtergrond van die navorser is dat hyself ’n pastor is met bepaalde belewenisse van problematiek en druk in die bediening. Sy bewustheid van sy moontlike vooroordele kan hom help om data op ’n beter manier te versamel en dit dra dan ook by tot ’n verhoogde geloofwaardigheid van die studie.

4.3.5.1.4. Ondervraging van portuurgroep

Anney (2014: 276) meld dat die navorser die navorsingsproses en bevindings met onpartydige kollegas moet bespreek wat ervaring in kwalitatiewe navorsingsmetodes het. Dit is een manier om die navorser “opreg” te hou en dit mag bydra tot dieper reflektiewe analise by die navorser. Kollegas of eweknieë kan nuwe perspektiewe tot die analiseproses bied en nuwe insigte, wat dalk oorgesien is, na vore bring. Kollegas tree soms soos ouditeure op wat ’n kritiese paneel vorm en die navorsingsprojek volg. Insigte in hierdie studie sal bespreek en probleme deurgegee word aan die promotor as ’n vorm van ondervraging (debriefing).

’n Onafhanklike enkodeur, met ’n doktorsgraad in teologie, is ’n kundige op die gebied van kwalitatiewe navorsingsmetodes van analise en sal die navorser die geleentheid vir oop en eerlike gesprekvoering gee en hom help om nie bevooroordeeld te wees nie.

Verder word die navorsing ook met ander pastors wat nie by die navorsing betrokke is nie, gedeel. Dit alles sal groter objektiwiteit aan die navorser bied.

Deur gebruik te maak van kollegas en metodologiese eksperts wat die navorsingsplan en implementering daarvan monitor, kan die betroubaarheid van die studie verhoog word (Anney, 2014: 276-277).