• No results found

2. DIE NORMATIEWE TAAK – PRINSIPIËLE SKRIFGEFUNDEERDE

2.5 EKSEGETIESE PERSPEKTIEWE BETREFFENDE DIE UITWERKING

2.5.2 DIE PASTOR

2.5.3.3 Die situasie in 1 Korintiërs 4

Om die agtergrond van die situasie in 1 Korintiërs 4 te skets, vra Evans (2003: 59) die vraag of mense leiers in verskillende sfere van die lewe is as gevolg van wat hulle weet of as gevolg van hul karakter of temperament of as gevolg van een of ander sisteem waardeur hulle aangestel is of promosie ontvang het. Vir sommige mense verdien outoritêre figure outomaties respek terwyl ander op hul beurt van meet af outoritêre figure met suspisie bejeën. Barnett (2011: 65) beweer dat daar sekere ambisieuse individue in die gemeente was wat opgang gemaak het, elkeen met sy eie groep volgelinge wat “trots” was op hul leier.

Vir Evans (2003: 59) het die oorkoepelende kwessie in hoofstuk 4 te doen met Paulus se gesag (outoriteit) en leierskap:

“Power operates in many ways. We can use our strength to dominate others; we can use our weakness to manipulate others. Liberty is part of a person’s power: how far are we free to do as we choose? Who or what is in a position to restrict our choice?”

Sommige in die gemeente het gemeen dat Paulus ’n tekort aan gesag het en dat hy nie opweeg teen ander leiers nie. In hierdie verband het Graham (1982:55) vroeër aangedui dat Paulus tog ’n man ván gesag was omdat hy ’n man ónder gesag was.

In 1 Korintiërs 1:1 vermeld hy dat hy ‘n geroepe apostel van Jesus Christus deur die wil van God is. Alhoewel die roeping van ’n apostel volgens Gaham (1982: 55) een van die sekerste dinge in sy lewe is, is dit ook die area wat veral onder skoot kom. Dit was ’n stelling

wat Paulus gemaak het, maar ’n bewering wat hy altyd sou moes verdedig en bewys, volgens Graham (p:55), was dit “a proposition he could assert but never prove”.

Paulus se gesag wat onder verdenking is, is dus in hierdie hoofstuk een van die temas wat hy aanraak. Volgens Evans (2003: 63) is daar ook temas soos faksievorming en geestelike hoogmoed wat in die gemeente voorgekom het en wat uit die aard van die saak Paulus se rol en verhouding met die gemeente nog verder uitdaag.

Phillips (2002: 90) meen dat hierdie hoofstuk te doen het met die feit dat die Korintiër- gemeente vanuit die aanname gaan dat hulle ’n oordeel oor Paulus, Apollos en Céfas mag fel, maar Paulus wys hulle daarop dat die oordeel slegs God se prerogatief bly en dat sy oordeel duidelik aan die lig sal kom by die regterstoel van Christus. Volgens Ciampa (2010: 171) het ’n groot deel van die gemeente hul leiers geassesseer deur hulle te beoordeel na wysheid, welsprekendheid en ‘n indrukwekkende persoonlike teenwoordigheid en dit as kriteria en maatstaf vir gesag voorgehou. Paulus het nie aan hul kriteria voldoen nie. Paulus se teenargument is egter dat hy nie outoritêr is nie maar dat hy wel met outoriteit bedien. Sy bediening word volgens hom, wel deur gesag gekenmerk:

“En toe ek by julle gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van God kom verkondig met voortreflikheid van woorde of van wysheid nie... en my rede en my

prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag.” (1 Korintiërs 2:1,4)

Vers een, volgens Trail (1995: 159) het te doen met “stewardship of apostolic ministry”. Paulus en Apollos (en moontlik Céfas) was bedienaars van die verborgenhede van God en hulle moet as sodanig beskou word. Dit gaan hier oor die korrekte wyse hoe die taak van apostelskap beskou moet word. Paulus weier om deur mense vereer te word. Die apostels behoort aan en dien die kerk omrede die kerk aan Christus behoort. Hulle is dienaars (hupeireteis,, uphrethz) van Christus (afkomstig van die woord hupeireteou, uphretew – Louw en Nida,1988: 460).

Louw en Nida (1988: 460) bespreek die woord “hupeireteou” (uphretew) saam met woorde soos “diakoneou” (diakonew) en “therapeuou” (qerapeuw) onder die opskrif “Serve” en wat die moontlike betekenis dra van “to render assistance or help by performing certain duties, often of a humble or menial nature”; dit het ook die betekenismoontlikheid van “to help in small things” of “to do low tasks”. Hoofsaaklik dra dit die betekenis van ’n dienskneg. “Hupeireteis” (uphrethz) word dikwels gebruik om te verwys na verskeie tipes van diensknegte, soos die kneg van ’n

koning, amptenare van die Sanhedrin, helpers van die magistraat en, veral, in die Evangelie van Johannes, die Joodse tempelwagte. “Uphreteou” kan ook beteken om aaneenlopende of ononderbroke hulp of ondersteuning oor ’n lang tydperk te bied of aan die behoeftes van iemand te voorsien (Louw en Nida, 1988: 462).

Op hierdie punt verduidelik Phillips (2002: 91) dat die woord “dienaars” verstaan kan word as “an under-rower”. Die woord dra die moontlike betekenis van die beeld van slawe op skepe wat roeiers is. Dit was ’n bekende gesig in Paulus se tyd. Dit is moontlik dat Paulus na homself verwys – nie as een van die slawedrywers wat met ’n sweep toesig oor die slawe hou nie, ook nie as die een wat die trom slaan om ritme aan te gee nie, ook nie as die slawemeester wat al die bevele uitroep nie. In teenstelling met die ander populêre leiers wat nou ’n groot aanhang in die gemeente het, moet Paulus dalk eerder beskou word as een van die slawe in die boot wat saamroei. Die Korintiër-gemeente moet aan Paulus en Apollos dink as dienaars en hulself daarvan weerhou om hulle te vereer.

Wat vers twee betref, verwys Trail (1995: 160) na die woord bedienaars as “oikononomos” (oikonomoz), ’n dienskneg aan wie die taak opgedra is om voorraad, toerusting en voedsel uit te deel aan die werkers op ’n landgoed. Iemand aan wie ’n huishouding toevertrou is (1995: 161). Maar so ’n persoon moes eers betroubaar bevind word (vers 2). Louw en Nida (1988: 477) is van mening dat “oikonomos” mag beteken: “one who is in charge of, one who is responsible for, administrator, manager.”

Oor die woord “oikononomos” is Phillips (2002: 92) van mening dat Paulus homself voorhou as iemand wat ’n hoë verantwoordelikheidsin het, omrede hy ’n bedienaar van die verborgenhede van God (4:1) was. Hy beklemtoon drie sleutel verborgenhede, naamlik, die verborgenheid ten opsigte van die kruis van Christus, die verborgenheid ten opsigte van die kerk van Christus en die verborgenheid ten opsigte van die wederkoms van Christus.

Paulus nooi in vers drie die Korintiër-gemeente om hom langs hierdie lyne te evalueer en te assesseer en of hy betroubaar daarin is (4:3). Volgens Paulus is dit nie belangrik dat hy deur ’n menslike regbank beoordeel word nie. Hy gee nie om dat hy beoordeel word nie:

“Paul admits to the need for inquiry into his faithfulness, but will submit only to God’s judgment of him, not theirs.” (Trail, 1995: 164).

Wat vir hom wel belangrik is, is dat hy met die wederkoms van Christus, getrou bevind sal word (verse drie tot vyf). Hy moet homself verantwoord teenoor Christus. Hy beoordeel en ondersoek homself nie eens nie, want daar is ’n soort selfbeoordeling wat negatief is en wat tot ’n morbiede selfintrospeksie kan lei. Menslike oordeel en selfs ’n subjektiewe beoordeling kan mens soms in die steek laat (Phillips, 2002: 93).

Volgens Phillips (2002: 96) het Paulus nou aandag aan sy opposisie se vooroordele gegee in die gedeelte vanaf 1 Korintiërs 4:1 tot en met hoofstuk 4:5. Vanaf vers ses kyk hy veral na die kwessie van hul hoogmoed en ons sien nou in watter lig hy hul hoogmoed beskou. In vers sewe tot agt spot hy daarmee, vanaf vers 9 verwerp hy dit en in vers 18 bestraf hy dit.

Volgens Phillips (2002: 97) gebruik Paulus homself en Apollos (v. 6-13) as voorbeeld; in stede daarvan om die name te noem van die persone wat verantwoordelik is vir die onenigheid in die gemeente, hou Paulus homself en Apollos voor as illustrasie van denominasionele opponente. Volgens Phillips is dit ’n tegniek wat Paulus doelbewus aanwend. Almal in die gemeente weet van die goeie verhouding tussen hom en Apollos en dat niemand hom hieroor kan kritiseer nie. Paulus verwag van die gemeente om uit die verhouding tussen hom en Apollos te leer “...om nie te dink bo wat geskrywe is nie.” (v. 6)

Volgens Ciampa (2010: 175) bereik die argument dan in hierdie deel (v. 6-13) die oomblik van waarheid en die punt waarby Paulus uiteindelik wil uitkom, naamlik, dat “julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie”. (1 Korintiërs 4:6c)

In vers sewe kom Paulus met ’n reeks ironiese vrae na vore wat suggereer dat niemand voldoende gronde kan aanvoer vir enige superioriteit oor andere nie (Perkins, 2012: 78). “Want wie trek jou voor?” Volgens Paulus het hulle ’n gans te hoë dunk van hulself. Die beskuldiging oor die toe-eiening van iets wat in werklikheid ontvang is (“En wat het jy wat jy nie ontvang het nie?”), verwys hier na hul geloof. Hul arrogansie hou direk verband met hul verdraaide beskouing van geloof. Perkins (2012: 78) haal in hierdie verband 1 Korintiërs 1:4 aan waar Paulus die brief begin met: “Ek dank my God altyd oor julle vir die genade van God wat aan julle in Christus Jesus gegee is”.

Wat vers agt betref, beweer Ciampa (2010: 179) dat die Korintiërs onder die egotistiese indruk was dat hulle vinniger geestelike wasdom as Paulus bereik het. Hierdie idee was volgens

Ciampa afkomstig van die Siniese en Stoïsynse filosowe wat ’n hoë premie op wysheid en rykdom geplaas het en hulself as “konings” beskou het. Vir die Korintiërs het die Christelike geloof die ontbrekende bestanddeel verskaf om hulle uiteindelik te verhef tot dit waaroor slegs filosowe kon filosofeer.

Die Korintiërs se probleem handel, volgens Ciampa (2010: 179), dus oor hul konformiteit tot die heidense kultuur en heidense gebruike onder hulle. Paulus se strategie behels egter dat hulle hulself moet verstaan kragtens ’n eskatologiese narratief en hulself plaas tussen die kruis en die parousia.

Na aanleiding hiervan dui Barnett (2011: 66) aan hoe Paulus die woord “alreeds” in vers agt herhaal en wys op die frase “het julle geheers” om aan te dui hoe verdraaid die Korintiërs se opvattings in werklikheid was. Ja, die vervulling van die eeue het gekom in Christus; God het inderdaad alreeds sy mag opgeneem en begin heers. In Jesus se opstanding het God se toekomstige heerskappy agter ons ingekom en die beloftes van die Ou Testament vervul.

Sommige verwys hierna as ’n gerealiseerde eskatologie; die geloof dat die toekoms die teenswoordige “in Christus” binnegekom het. Maar Barnett (2011: 67) vermeld tereg dat dit belangrik is om die spanning wat hier ter sprake kom, te bly handhaaf. Christus het alreeds gekom, maar terselfdertyd “nog nie” teruggekom nie en dit is duidelik waarneembaar aan die verval en gebrokenheid binne die wêreld sowel as in die kerk.

Hierdie twee realiteite, die “alreeds” en die “nog nie” moet in die gelowige se lewe bevestig word en gelowiges moet in hierdie spanningsveld leef. ’n Oorbeklemtoning van die “alreeds” lei tot ’n oorgerealiseerde eskatologie (soos in die geval van die Korintiërs) en ’n onderbeklemtoning van die “alreeds” kan tereg tot ’n ondergerealiseerde eskatologie lei. Alreeds is hulle volgens 1 Korintiërs 1:5 “in alle opsigte in Hom ryk gemaak... in elke woord en alle kennis” en verkeer hulle tans onder die indruk dat hulle in ’n geestelike hoedanigheid verhewe is en om daardie rede heers.

Maar hieroor gee Paulus sy misnoeë duidelik te kenne: “Het julle tog maar geheers, sodat ons saam met julle kon heers!”.