• No results found

2. DIE NORMATIEWE TAAK – PRINSIPIËLE SKRIFGEFUNDEERDE

2.5 EKSEGETIESE PERSPEKTIEWE BETREFFENDE DIE UITWERKING

2.5.2 DIE PASTOR

2.5.4.2 Opsomming van vers 1-15

In vers 1 vra Paulus vier retoriese vrae: Is hy dan nie ’n apostel nie? Is hy nie vry nie? Het hy dan nie die Here Jesus gesien nie? Is die gemeente dan nie sy werk in die Here nie? Die vrae het, volgens Trail (1995: 361), ten doel om Paulus se kritici uit te daag. Al die vrae bevat die Griekse negatiewe partikel oe (οὐ) wat ’n positiewe antwoord as reaksie verwag.

Vers 2 is, volgens Perkins (2012: 118), ’n stelling waarin Paulus impliseer dat sy “gehoor” (die Korintiër-gemeente) die bewys en seël van sy apostelskap is, al is daar “ander’” wat dit betwyfel.

Wat die gedeelte vanaf vers 3-12 betref, is Evans (2003: 68) van mening dat Paulus hier ’n prentjie skets van die huidige praktyk van bedienaars soos wat dit met Cefas, die broers van die Here en die ander apostels die geval is. Die materiële ondersteuning wat hulle verkry, is nie verkeerd nie. Paulus beaam dit deur ’n klomp stellings. Dit is hoogs waarskynlik dat die Jerusalem-gebaseerde gemeentes, waarvan Petrus en Jakobus die leiers was, materiële ondersteuning aan hulle verleen het.

Perkins (2012: 118) noem oor dié gedeelte dat Paulus hier die regte van ’n apostel eers duidelik moes vasstel voordat hy sy eie gedrag en optrede as ’n voorbeeld kon voorhou van wat dit beteken om as gelowige jou vryheid prys te gee.

Hy open hierdie gedeelte met ’n lang string retoriese vrae (v. 4-7), ’n demonstrasie uit die Skrif (v. 8-10) en samevattende vrae (v. 11-12). Die formele patroon van analogieë wat gestel word as retoriese vrae in vers vier tot sewe, word onderbreek deur ’n aanhaling uit die Tora. Om aan te sluit by sy ondervragingstyl, word hierdie aanhalings dan ook as vrae gerig. Deur dit te doen, word Paulus se direkte stelling oor sy eie gedrag en voorbeeld in vers 12b-c hiermee beklemtoon.

Volgens Perkins (2012: 118,119) skep Paulus se inisiële vrae in vers vier tot ses die indruk dat die apostels in ’n sekere sin ’n verwagting mag ontwikkel het dat die gemeenskappe waar hulle bedien het, aan hulle en hul families materiële ondersteuning móés bied. Die probleem wat moontlik hier na vore tree, is ’n gesindheidsprobleem wat mag behels het dat bedienaars (die apostels) nie meer die Evangelie verkondig het enkel en alleen uit die noodsaak en krag daarvan vir sy hoorders nie, maar dat dit moontlik gekoppel en geassosieer was met persoonlike materiële vergoeding. Dit mag dalk die algemeen aanvaarde “norm’” gewees het dat gemeentes bedienaars vergoed het. Dit was in dié tyd in die sekulêre wêreld algemeen bekend dat iemand vir sy dienste vergoed word. Dit het gegeld vir orators, filosowe, kunstenaars en skrywers. Die sekulêre wêreld se uitgangspunte en norme is egter nie dié van ’n apostel nie, al is dit ’n morele gebaar.

Paulus en sy kollega Barnabas daag hierdie algemeen aanvaarde “norm” uit deur ’n ambag te beoefen en nie vergoeding te aanvaar nie. Paulus wys hiermee dalk na ’n verkeerde gesindheid wat besig is om onder bedienaars pos te vat. Ja, hulle is geregtig op vergoeding, maar wanneer jy geroep is as bedienaar, gaan dit eerstens om die verkondiging van die Evangelie – dis hoofsaak. Indien jy wel daarvoor vergoeding ontvang is dit goed, maar ’n apostel se vertroue is eerstens in God en nie in mense nie.

Paulus lig dalk die kwessie van ’n sekere gesindheid wat mag ontstaan het uit, naamlik dat hy net soveel reg as die ander apostels het om begunstiging te verwag, maar kies doelbewus om nie so te wees nie. Dit het natuurlik kritiek ontlok. Die weiering van begunstiging (patronage) het vir hom risiko’s ingehou. Bykomend tot sy persoonlike ontberinge wat hy alreeds verduur het, het die apostel boonop nog sy eie openbare status ook ondermyn.

Hy noem drie alledaagse voorbeelde om daarop te wys dat begunstiging nie verkeerd is nie, naamlik, ’n soldaat wat diens doen, ’n persoon wat ’n wingerd bewerk en ’n skaapwagter (v. 7). Hiermee wys hy dat bedienaars geregtig is op voedsel vir hul arbeid. Dan is dit asof hy na ’n

hoër rat oorskakel deur dieselfde punt te demonstreer vanuit die Mosaïese wet. In vers nege (soos in Deut. 25:4) haal hy aan: “ ’n Os wat graan dors, mag jy nie muilband nie” – dit dui op wat die werker toekom. Die een wat ploeg en die een wat dors moet dit met die verwagting om in die oes deel te hê, doen (v. 9-10).

Twee retoriese vrae word dan gebruik om hierdie landboubeeld op die werk van die apostels toe te pas. Met die eerste een gebruik hy die meervoud “ons” om moontlik na die apostels as ’n groep te verwys (v. 11): “As ons vir julle die geestelike gesaai het...ons julle stoflike goed maai?”.

Die tweede stelling se lyn van argument skep die idee van “As ander deel het... ons nie nog meer nie?” (v. 9:12a). Die meervoud “ons” verwys hier na die twee apostels (Paulus en Barnabas) wat nie aanspraak maak op die ondersteuning waarop hulle geregtig is nie. Paulus verskaf dan ’n rede: “Maar ons verdra alles om geen hindernis vir die Evangelie van Christus te veroorsaak nie”.

Paulus probeer nie die reg van ondersteuning vir pastors en bedienaars te ondermyn nie. Inteendeel, hy bevestig dit weer in die gedeelte van vers 13 tot 15 dat dié wat die Evangelie verkondig “daarvan moet leef” (Barnett, 2011: 156).

In vers 13 maak Paulus die waarneming dat die priester en diegene wat in die tempel werk, veral dié wat by die altaar werk, ’n deel het aan dit wat geoffer word. Paulus rugsteun in vers 14 hierdie Ou Testamentiese voorsiening aan priesters deur te meld dat die Here Jesus self dit so beveel het; dis sy orde (dietaxen) (Barnett, 2011: 156).

Maar tog voer Paulus self nie hierdie bevel uit nie (Evans, 2003: 68). Hy praktiseer dit doelbewus nie self nie, maar hy daag dit ook nie uit nie. Inteendeel, hy dring wel daarop aan dat dit gedoen moet word soos Christus dit beveel. In hierdie hoofstuk voer Paulus die teologie van Christus as gekruisigde uit, maar op só ’n wyse dat sy gedrag nie hierdie bevel van Christus reflekteer nie (Evans, 2003: 69).

Nadat hy die apostels as voltydse bedienaars se regte beaam het, verklaar hy dadelik in vers 15 sy eie reg om “van geeneen van hierdie dinge gebruik te maak nie”. Trail (1995: 381) vermeld die woord chraoumai (craomai) – om te gebruik) wat die betekenismoontlikheid bevat van om “nie een pennie van iemand te vra nie”. Paulus is hieroor baie duidelik. Vir hom is dit ’n saak van lewe of dood en hy sê: “Dit sou vir my beter wees om te sterwe as dat iemand my roem sou verydel”.

Volgens die navorser se mening bedoel Paulus hier dat dit vir hom beter sou wees om te sterf as om toe te laat dat iets soos begunstiging die suiwerheid van sy motiewe vir die verkondiging van die Evangelie sal aantas.

Wat was sy roem? Trail (1995: 384) meen sy roem behels dat hy nog nooit voorheen materiële vergoeding vir sy arbeid aanvaar het nie. Paulus se roem moet in die lig van vers 12, naamlik, om geen hindernis vir die Evangelie te wees nie, asook vers 18 verstaan word dat hy die Evangelie van Christus kosteloos verkondig. ”Roem” moet nie hier verstaan word in die lig van kompetisie nie.

Sy roem is (volgens die navorser) dat hy tot dusver ’n skoon verlede het en sy motiewe vir die verkondiging van die Evangelie is deur en deur suiwer en onaangetas. Dít is waar sy krag as apostel lê, daarom spreek hy homself so sterk teenoor hierdie kwessie uit. Indien die hart van die bedienaar nie suiwer is nie, verloor die Evangelie sy trefkrag. Dit is sý verantwoordelikheid as apostel om sy hart voortdurend te ondersoek en te verseker dat hy die Evangelie vanuit ’n onberispelike motief en gesindheid bedien.