• No results found

Die prototipe van professie

2.3 Redes vir die definisiegeskil

2.3.1 Diachroniese ontwikkeling en herdefiniëring oor tyd

2.3.1.2 Strukturele begrensing

Strukturele begrensing afgedwing deur pogings om fundamentele karaktereienskappe te versin as die tweede aanleidende oorsaak van die definisieverwarring in die literatuur het tot gevolg die kwessie: Het strukturele kwalifisering strukturele beperking of strukturele invariansie tot gevolg?

Die soeke na ʼn universele definisie lei aan die een kant tot ʼn siening van strukturele beperkings wat tot gevolg het ’n statiese en steriele beskouing van wat ’n professionele beroep sou behels soos dit manifesteer in óf die taksonomiese benadering wat gegrond is in die klassieke benadering tot kategorisering óf die kritiese benadering tot kategorisering wat die tendens van uitsluiting en dominansie verwerp.

Millerson (1964a:4) is van mening: “... a mass of confusion stems from all analysis, which attempt to determine the occupational characteristics of a profession”; dus die pogings om “’n definisie” te gee van wat ’n professionele beroep sou behels as sou “professie” ’n statiese

konsep met ’n reeks vaste kenmerke wees (vergelyk ook Houle, 1980), hetsy vanuit ʼn

klassieke of kritiese benadering.

Die gevaar van ʼn kritiese statiese benadering kan soos volg opgesom word:

 Unieke groepaffiliasie en beroepsrolle bepaal uiteraard die keuse van definiërende elemente.

 Teoretici se menings en uitgangpunte beïnvloed mekaar in die wedloop na professionele status: Millerson (1964a:3) beweer dat Carr-Saunders & Wilson (1933), die Webb- verslag11 (1917) en die relaas van Tawney (1920) klassieke formules geword het vir ’n taksonomie van “dié professie”.

 Karaktereienskappe en definisies word aanmekaargeflans om argumente te pas, of soos Millerson (1964a:3-4) dit stel: “More accurately, special characteristics have emerged from special consideration.”

Sodanige uitgangspunte sou dan lei tot onsamehangende konsensus, blinde aanvaarding en treffende ornamentiek wat dui op ’n emosionele, onwetenskaplike begronding van die onderwerp onder bespreking.

Aan die ander kant konstitueer definisiële integriteit op streng epistemologiese beginsels “... the very field of inquiry itself. The sociology of professions as an enterprise of empirical inquiry and theorizing is literally constituted by how professions are defined” (Sciulli, 2009:6; kursivering in oorspronklike bron).

Strukturele begrensing lê dus aan die kern van die sogenaamde taksonomiese benadering (die klassieke benadering van kategorisering) tot ’n bestudering van die professies wat die historiese en sosiologiese navorsing tot die middel sewentigerjare van die vorige eeu gedomineer het en spruit uit die Durkheimiaanse funksionele benadering tot die professies (vergelyk die bespreking in Hoofstuk 3).

Die taksonomiese benadering is primêr gemik op die identifisering van kenmerke van professie (vergelyk onder andere Barber, 1963; Carr-Saunders & Wilson, 1933; Elliott, 1972; Goode, 1957; Parsons, 1939) soos blyk uit die bespreking in 2.4. Hierdie teoretici en navorsers beskou professies as ’n spesiale kategorie beroepe met unieke kenmerke wat hulle kwalitatief onderskei van ander (nieprofessionele) beroepe. Hierdie tipiese kenmerke

word (in 2.5) in die omskrywing van die werksdefinisie verwerk na aanleiding van ʼn

11 Sidney James Webb, Baron Passfield (1859-1947) en Martha Beatrice Potter Webb (1858-1943), die bekende kinderboekskrywer, was Britse

sosialiste, ekonome, en hervormers. Saam met George Bernard Shaw, Annie Besant, Graham Wallas, Edward R. Pease, en Sidney Olivier, maak hulle van die Fabian Society die toonaangewende polities-intellektuele vereniging in Engeland in die Edwardiaanse era en daarna. Hulle sosialistiese aanslag het ʼn deurslaggewende invloed op Britse politieke denke en Britse institusies. Met verskeie belangrike empiriese sosiologiese werke bied hulle die norm vir die Britse welsynstaat. As stigters van die London School of Economics rig hulle ekonomiese denke en opleidingsinstansies wêreldwyd.

definisieliteratuurondersoek, en in Hoofstuk 4 toegepas op die professionele projek van taalpraktisyns in Suid-Afrika en Vlaandere.

Die strukturele (taksonomiese) benadering word in die vroeë 1970s gekritiseer, veral ten opsigte van die vraag of spesifieke kenmerke wetenskaplike studies van professionele praktyk kan ondersteun (byvoorbeeld Freidson, 1970a:158-68; Klegon, 1978) en verval dan in onguns, sodat professies nie analities of empiries te onderskei is van ander eksperte of middelklasberoepe nie (Abbott, 1988; Barber, 1983; Johnson, 1972). Revisionistiese kritici (Abbott, 1988; Barber, 1983; Johnson, 1972; Larson, 1977; Macdonald, 1995) verwerp dan die kernbeginsel van die taksonomiese benadering, naamlik dat professies unieke beroepe is met sekere unieke kenmerke. Hiervolgens is professies nie te onderskei van ander beroepe nie, en professionalisme het geen sosiale impak of uitwerking nie.

Hoewel nadruklike taksonomiese aktiwiteite steeds onaanvaarbaar is, bevraagteken Sciulli

(2005a, 2009) en Burrage et al. (1990)12 onder andere egter hierdie revisionistiese

benadering, en gaan van die standpunt uit dat definisiële integriteit en epistemologiese ondersoek hand aan hand gaan. Sciulli (2009) kom dan tot die slotsom van strukturele invariansie:

As a result of providing expert services within structured situations on the basis of an independent socio-cultural authority and consistently with positional interests, fiducial responsibilities, occupational orientations and the other invariant qualities, only professions introduce into the larger society structurally and positionally both immediate consequences and institutional consequences.

Uit die bespreking hierbo is dit duidelik dat al hierdie onenigheid juis berus op uiteenlopende

konsepte van wat ʼn definisie van “professie” behels, en nog dieper, wat die aard van

kategorisering tot definiëring en betekenis behels.

Teoretici praat noodwendig by mekaar verby omdat hulle uitgangspunt tot die konseptualisering van taal en betekenis verskillend is, maar meer waarskynlik omdat hulle nie begrip toon vir die veranderende aard van taal en betekenis teen die agtergrond van veranderende sosiale kontekste nie: “It can hardly be news to anyone that we are living in a period of intense social change. But what is perhaps less obvious is how important language is within the changes that are taking place” (Fairclough, 1992:26).

Hatch (1988:2) se opmerking dat daar in ’n demokratiese kulturele opset die gevaar bestaan van talle beroepe wat nie aan die kriteria van ʼn taksonomiese definisie voldoen nie, ook

professionele status kan verkry, is tekenend van ʼn ondertoon van die neiging van ʼn

geleidelike vae begrensing van en aanvaarding van ʼn prototipebenadering.

Regte en die mediese beroep verteenwoordig tradisioneel twee van die argetipiese professies op grond van die formele jurisdiksie (professionele erkenning en status) wat konvensioneel in verband gebring word met professie, en bied ʼn gesaghebbende model en

standaard vir beroepe wat ʼn professionele projek van stapel stuur (vergelyk byvoorbeeld

Abbott, 1988; Etzioni, 1969; Johnson, 1972).

Ironies is dit, tradisioneel gesien, die nieprofessionele beroepe soos konsultante (Alvesson & Johansson, 2000), alle vorme van “bestuurders” (Grey, 1994; Mintzberg, 2004; Raelin, 1997), projekbestuurders (Hodgson, 2005) en tegniese kontrakteurs, die “rondreisende

kundiges en agente” (“itinerant experts”, Kunda & Barley, 2004) wat geredelik professionele status verkry. Hierdie hedendaagse – weliswaar tipies postmoderne “professionele beroepsgroepe” – word by die tradisionele professionele konsep ingesluit hoofsaaklik omdat

hierdie “nuwe professies” tot ʼn groot mate in beheer is van hulle beroepsprosesse:

besturende professies sowel as professionele bestuurders (Noordegraaf, 2007).

Onderwys, verpleegkunde, biblioteekwese, maatskaplike werk, psigologie, onder andere,

toon die meeste van die strukturele en organisatoriese kenmerke en vereistes wat met ʼn

kenmerkgebaseerde benadering en model gepaardgaan, maar geniet tradisioneel minder outonomie oor hulle werk, minder kontrole oor hulle kennisbasis en swakker vorme van professionele beroepsorganisering en -beheer, swak vergoedingspatrone en laer sosiale status, en word dus inferieur aan die klassieke professie wat volle professionele status of jurisdiksie betref. Hierdie aspirerende professies kan as voorbeelde voorgehou word van beroepe wat in die praktyk as gevolg van strukturele begrensing, ten spyte van voortgesette professionele projekte, steeds as semiprofessies funksioneer (Etzioni, 1969; Devaney & Fenstermacher, 1990; Garrison, 1973; Keogh, 1997; Laurenson & Swartz, 2011; Sykes, 1988; Winter, 1983; vergelyk ook 1.3).

Ondergeskiktheid in die hiërargie van professionele status speel histories ʼn belangrike rol in die ontvouing van professionele projekte (Abbott, 1988:70-72). Die vestiging en volhoubaar- heid van professionele jurisdiksie behels prosesse van sosiale en beroepsluiting wat nie net

toegangsbeheer impliseer nie, maar wat oor tyd heen in ʼn proses van assimilasie en

funksionele onmisbaarheid in die werksplek vir die professies met volle jurisdiksie van onskatbare voordeel inhou (Abbott, 1988:72): “Draftsman, nurses, managing clerks, and paralegals have become essential parts of architectural, medical, and legal practice. This combination of assimilation and necessity reaches its peak in complex professional workplaces, which usually cannot function without extensive assimilation between the subordinate and the dominant incumbent.”

Geslagskwessies, klas en ras speel histories ʼn belangrike rol in die ontvouing van

professionele projekte (vergelyk die bespreking in 4.5.5.6 waar teenkanting vanuit spesifieke professionele elitegroepe ter sprake kom). Hierdie verskynsel kan in die konteks van hierdie bespreking ook in verband gebring word met die prosesse van sosiale (beroep)sluiting a la Max Weber (Parkin, 1974:3; vergelyk 3.5.3). As uitsluitingsmeganismes kan dit beskou word as defensiewe strategieë van diegene in institusionele mags- en gesagsposisies, tradisioneel blank, manlik en statusbehep (Davies, 1995; Davies, 1996; Parkin, 1974; Witz, 1992), wat strukturele begrensing in professies probeer afdwing.