• No results found

Moderniteit, postmoderniteit, strukturalisme, en poststrukturalisme 1 Moderniteit en postmoderniteit

Die sosiologie van professie

3.4 Sosiologiese benaderings 1 Inleiding

3.5.2 Moderniteit, postmoderniteit, strukturalisme, en poststrukturalisme 1 Moderniteit en postmoderniteit

Die term “modern(iteit)”21, soos gekonseptualiseer deur Marx en Weber (Berman, 1982) en

Durkheim (1966), is ’n historiese term wat betrekking het op die tydvak ná die Middeleeue of feodale stelsel. Moderne denke (in die moderne samelewing) word gesien as ’n reaksie op die dogmatiese denke van die Middeleeuse samelewing, en word gekarakteriseer deur innovasie, vernuwing en dinamika en grootskaalse verdeling van arbeid (Durkheim, 1966; Berman, 1982), en die kulturele veranderinge wat met hierdie proses gepaardgaan wat manifesteer in differensiëring, rasionalisering, en kommodifisering (Haralambos et al., 2000:916).

In die moderne samelewing word die kulturele opset gedifferensieer van ander areas van die sosiale opset, en hoë kultuur van lae kultuur, met gepaardgaande gespesialiseerde instellings en beroepe, beheptheid met tegnologie, en die ondermyning van estetiese

waardes (Crook et al., 1992; Sarup, 1996:94-104). Industrialisering, kapitalisme,

verstedeliking, en liberale demokrasie is kenmerkend van die diepgaande transformasie in die moderne industriële samelewing, of moderniteit.

“Modernisme” is die term wat verwys na die teoretiese benadering waarmee hierdie veranderinge ondersoek en beskryf word, met as kernbeginsels (Haralambos et al., 2000: 7, 1070; Sarup, 1996:94-95):

 sekerheid in en optimisme teenoor die potensiaal van menslike voortbestaan, welvaart, welsyn en tegnologiese vooruitgang;

 rasionele beplanning vir die verwesenliking van doelstellings;

 ’n vertroue in die superioriteit van rasionele, logiese, intellektuele denke in teenstelling met intuïtiewe kennis, aanvoeling, ervaring, emosie;

 geloof in die vermoë van tegnologie en wetenskap vir die oplossing van die behoeftes en probleme van die mens;

 oortuiging van die mens se vermoë om die verloop van sy lewe self te bepaal, en  steun op industriële produklewering om lewenstandaarde te verbeter.

21 Die terme “modern”, “moderniteit”, “postmodernisme”; “postmodern”, “postmoderniteit”, “postmodernisme” word soms afwisselend in die literatuur gebruik,

en soms spesifiek gedefinieer. Vir die doeleindes van hierdie bespreking word verwys na “modern(iteit)” en “postmodern(iteit)” as omvattend

verbandhoudend met alle veranderinge wat die moderne of postmoderne wêreld tot gevolg het. Modernisme en postmodernisme is die kulturele beweging of denkstroming wat verband hou met die moderniteit of postmoderniteit, en kan ook gesien word as ’n kritiese refleksie hierop. Hoewel die terme dus verbandhoudend is, bestaan daar nie eenstemmigheid oor die betekenisonderskeidinge daarvan nie, en dit is nie altyd moontlik om hulle konsekwent uitmekaar te hou nie (Kumar, 2005:66-67).

Die sosiologie en sosiologiese ondersoek, wat intrinsiek vervleg is en simultaan met moderniteit ontwikkel het (Adams et al., 2005:1; Haralambos et al., 2000:1070; Sarup, 1996:94-95), is gevolglik gebaseer op ’n ooreenstemmende tydseie paradigma sodat gepaardgaande sosiologiese teorieë – die metanarratiewe – soos funksionalisme, interaksionisme en konflikteorie van die veronderstellings uitgaan:

 dat die ontwikkeling van die mensdom ’n voldonge feit is;

 dat wetenskaplike beginsels gebruik kan word om sosiale verskynsels – soos die verdeling van werk en die professies – te ondersoek en te beskryf, en

 dat die aanwending van rasionele denke sou waarborg dat die organisering van die samelewing, ook dan veral in die konteks van werk, werksverdeling en gepaardgaande dienste toegespits is op die behoeftes van die mens tot voordeel van die hele samelewing.

In die moderne samelewing floreer die professies (Abbott, 1988; Goode, 1960a:902; Parsons, 1968:545). Moderne sosiologies-teoretiese ondersoeke na die professies en beroepsprofessionalisering as toenemende sosiale verskynsel weerspieël gevolglik hierdie wetenskaplike beginsels.

Fundamentele veranderinge in die samelewing – wat toegeskryf kan word aan veranderinge in die ekonomiese opset in die Westerse samelewing gedurende die tweede helfte van die twintigste eeu – lei tot ’n breuk met die opvattings van die moderniteit (Haralambos et al., 2000:8-9, 1069; Hutcheon, 1988; Lyotard, 1984). Wydverspreide kulturele transformasie as

gevolg van ingrypende wêreldgebeure oor die afgelope eeu het tot gevolg ʼn nuwe

ekonomiese en professionele bestel waaruit die postmodernisme as denkstroming te voorskyn tree.

In die hedendaagse kulturele opset konseptualiseer wetenskaplikes22 die term “post-

modern(iteit)” as ’n epogale konsep met as funksie “... to correlate the emergence of new formal features in culture with the emergence of a new type of social life and a new economic order” (Jameson, 1983:113).

Die postmoderne wêreld met sy postmoderne beginsels kan breedweg beskryf word in ’n postmodernistiese teorie – die postmodernisme – wat die tradisionele en modernistiese paradigmas wat dit voorafgaan, bevraagteken of verwerp (Connor, 1989; Crook et al., 1992;

Foster, 1983; Haralambos et al., 2000:8-9, 1069; Hutcheon, 1988, 1989; Kearney, 1988;

Sarup, 1996:95-96; Sarup, 1988:34-62; Trachtenberg, 1985):

 ’n fundamentele agterdog teenoor, en verlies in die naïewe optimisme van, die modernisme met sy onvervulde beloftes van wetenskaplike en tegnologiese welvaart wat

gemanifesteer het in vernietigende besoedeling, gevaar van ʼn kernoorlog, en risiko’s van

genetiese manipulering wat menslike progressie teenwerk: die professies word byvoorbeeld

22 Nie alle sosioloë is dit eens oor die toepassing van die term op die hedendaagse samelewing nie (Sarup, 1996:101). Giddens (1990) betwis byvoorbeeld

nie die veranderinge kenmerkend van die huidige samelewing nie, maar beweer dat “postmoderniteit” ’n onvanpaste term is om die hedendaagse samelewing te beskryf; die huidige verskynsel is slegs die vergestalting van die meer ekstreme toestand van ten volle ontwikkelde moderniteit, of laat- moderniteit. Die belangrikste verandering is dan die kontras tussen premoderne (tradisionele) kultuur en moderne (post-tradisionele) kultuur (vergelyk Gauntlett, 2002). Ten opsigte van die onderskeid tussen modernisme en postmodernisme en ondersoek na die verskillende vorme van postmoderne kultuur, vergelyk ook Connor, 1989; Foster, 1983; Hutcheon, 1989, Kearney, 1988; Kumar, 2005; Sarup, 1996; Trachtenberg, 1985. Dit is duidelik dat daar ’n deurlopende debat is oor wat modernisme is, of postmodernisme ’n definitiewe breuk daarmee het, en of dit ’n voortsetting daarvan is. Daar bestaan voorts geen konsensus oor die definiërende kenmerke van postmodernisme as ’n kultuurmodus nie: teenstanders (soos Eagleton, 1985; Jameson, 1983, 1984; Newman, 1985) sowel as voorstanders (Caramello, 1983) bly in gebreke om dit na wense te omskryf, maar dit is tegelykertyd ook een van die mees oor- en ondergedefinieerde terme waarmee in die huidige kulturele teoretisering gesmous word (Hutcheon, 1988:3, 37).

daarvan beskuldig dat hulle dienste slegs toegespits is op winsbejag en eiebelang, en nie op die behoeftes van die samelewing nie, en Afrika se geskiedenis bewys onteenseglik dat demokrasie en moderne ontwikkeling nie noodwendig lei tot voorspoed nie;

 ’n wesenlike skeptisisme omtrent die voordele van rasionele beplanning: groot, burokratiese, rasionele organisasies voorsien nie na wense in menslike behoeftes nie;  ’n wantroue teenoor politieke aansprake van stabiliteit en grootse teorieë van sosiale

vooruitgang en welvaart – die funksionalisme, interaksionisme, konflikteorie – wat aanspraak maak op verbetering van toestande in die sosio-ekonomiese opset wat sal lei tot die perfekte samelewing. In Suid-Afrika misluk die groot "social engineering"-projek van apartheid wel, maar ook die Marxistiese bestel slaag tot dusver nie daarin om sosiale veranderinge teweeg te bring nie, tewens, die grootste kritiek teen Marxisme klink op uit die geledere van die postmodernisme (Sarup, 1996:79);

 ’n fundamentele agterdog teenoor voorskriftelike metanarratiewe of metadiskoerse ten opsigte van denk- of lewenswyse soos byvoorbeeld konflikteorie, funksionalisme en interaksionisme wat die sosiologie van die professies onderlê; eiesoortigheid en andersheid word begunstig;

 ’n toenemende wantroue teenoor die mag van die rede, gespesialiseerde kennis en vaardighede van geleerdes, wetenskaplikes en kundiges (die professionele persoon), wat aanleiding gee tot die erkenning van emosionele oortuiging, interpretasie en intuïtiewe aanvoeling;

 'n stem en plek vir gemarginaliseerdes: groepe wat tevore nie van belang gereken is nie (vroue, gays, geskeides, gestremdes, minderheidsgroepe, enige beroep wat homself wil ophef), kry nou 'n stem in ’n tydsgees van liberale en groepsetiek;

 'n siening van die wêreld as ʼn “global village”: massa- en kommunikasiemedia maak die wêreld klein en “plat” (Friedman, 2007);

 ʼn pluraliteit van denke, waarskynlik die enkele, belangrikste onderskeidende kenmerk van postmodernisme (Crook et al., 1992), en fragmentasie beteken dat die mens daagliks blootgestel word aan talle uiteenlopende standpunte, sienings, waardestelsels, elkeen geldig, maar met geen alleenaanspraak op die waarheid nie: die nosie van waarheid is ’n versinde illusie wat diegene in mags- en gesagsposisies gebruik om ander te manipuleer en te beheer;

’n hernude respek vir tradisie, aangesien tradisie onvermydelik die mens se lewens- en

wêreldbeskouing bepaal – “the presence of the past” (Hutcheon, 1988:4); en

die verwerping van absolute sekerhede as ’n kragtige vorm van mag, gesag, kontrole,

manipulasie en dominansie.

Vir die afgelope twee dekades domineer die postmoderne debat die kulturele en intellektuele verhoog in die meeste wetenskaplike dissiplines regoor die wêreld, na aanleiding van die postmoderne filosofieë van Nietzsche, Heidegger, Derrida, Rorty, Lyotard en ander, tot so ’n mate dat die postmoderne aanslag talle nuwe kulturele, sosiale en politieke teorieë, sowel as teoretiese pogings genereer om die multifasettige aspekte van die postmoderne verskynsel opsigself te definieer (Haralambos et al., 2000:916-921; Kellner, 1988; Lyotard, 1984).

3.5.2.2 Strukturalisme en poststrukturalisme

Die term “postmodernisme” is enersyds ʼn beskrywing van die veranderende, nuwe tipe

samelewing – ook genoem die mediasamelewing, verbruikersamelewing, kennissamelewing – maar verwys andersyds ook binne die geesteswetenskappe na die poststrukturalisme as denkstroming (Sarup, 1988:118).

Terwyl postmodernisme ʼn eietydse kultuuropset verteenwoordig wat die modernisme afwys, ʼn bepaalde tydvak identifiseer en daarbinne funksioneer, verwys poststrukturalisme na ʼn meer eksplisiete kritiese beskouing, met die doel om essensialisme in verskeie dissiplines te dekonstrueer op weg na ʼn meer indringende diskoers.

Strukturalistiese ondersoek en bespreking “... appeals not to the consciousness of subjects, but to structures and systems of conventions operating within the discursive field of a social practice” (Culler, 1989:222).

Poststrukturalistiese ondersoek is gemoeid met die vorm en produktiwiteit van taal (en dus ook taalpraktyk) as “... an active, transitive force which shapes and positions the “subject’ (as speaker, writer, reader) which always itself remaining in process, capable of infinite adaptation” (Sarup, 1983:68). Hieruit kan die afleiding gemaak word dat die ondersoek na die sosioprofessionele verskynsel onder bespreking – die professionaliseringsprojek van die

taalpraktyk in Suid-Afrika en Vlaandere – ʼn poststrukturele onderbou sal aanneem in die

postmoderne en -strukturele konteks waarin dit afspeel in die vorm van ʼn prototipemodel

(vergelyk Hoofstuk 2).

Die taalpraktyk is gemoeid met die proses van linguistiese bemiddeling in die kommunikasieproses tussen verskillende tale en kodes, en die taalpraktisyn tree op as ’n professionele (linguistiese) bemiddelaar in linguistiese prosesse soos vertaling, tolking, lokalisering (Pym, 2004:1), en ook teksredigering, onderskrywing, en oudiobeskrywing.

Gedurende die afgelope halfeeu raak wetenskaplike en tegnologiese ondersoek in ʼn

toenemende mate gemoeid met taal en kennis en die toepassing daarvan in die samelewing:

linguistiese teorieë en prosesse, kommunikasieprobleme vertaalpraktykprobleme,

inligtingsberging, databanke, kubernetika, en rekenaartaal. Tegnologiese transformasies

beïnvloed die status van kennis in die postmoderne samelewing tot so ʼn mate dat die aard

daarvan noodgedwonge binne hierdie konteks ook ʼn proses van transformasie ondergaan

(Lyotard, 1984).

Binne hierdie konteks is gespesialiseerde kennis en vaardighede daarom nie meer slegs ʼn

doel opsigself of die vernaamste strukturele kenmerk wat ʼn beroep van ʼn professie

onderskei nie, maar ʼn verbruikerskommoditeit met verhandelbare en kapitale waarde. In die

sosioprofessionele konteks van die postmoderne samelewing kan daar dus ʼn toename van

professionele beroepslui en professies verwag word (Sarup, 1988:118) waar die

taalpraktisyn met gespesialiseerde taalkennis en taalvaardighede dan ʼn definitiewe

“merkantiele” rol en funksie te speel het.

Wat is kennis in die konteks van die taalpraktyk? Vir Lyotard (1984) is kennis ʼn saak van opleiding, insig, geleerdheid en vaardighede wat meer is as die gewone bepaling en toepassing van waarheid: dit word omvattend van die kriteria van tegniese vaardighede, etiese norme, en ouditiewe of visuele sensitiwiteit. Lyotard (1984) wys nie kennis in die “postmoderne professie” sonder meer af nie.

Wat taalvaardigheid betref, soos dit vervat word in die taalpraktyk, kan die afleiding gemaak word dat (taal)kennis dit is: “... what makes someone capable of forming not only ‘good’ denotative utterances but also ‘good’ prescriptive’ and good evaluative utterances. [...] They are judged to be good if they conform to the relevant criteria (of justice, beauty, truth and efficiency) accepted in the social circle of the ‘knower’s interlocutors” (Sarup, 1988:119).

Hierdie praktiese kriteria is ook vervat in die prototipedefinisie van die taalpraktyk as professie en vorm die grondslag van die profiel van die taalpraktisyn: gespesialiseerde kennis, opleiding en vaardighede, professionele status en solidariteit, persoonlike en werksverwante etiek.

Nie al die attribute is ewe relevant nie, want uit die bespreking is dit tog duidelik dat sommige attribute sentraal staan in die postmodernisme, teenoor die drie modernistiese benaderings waar ander attribute weer meer prominensie verkry. Vanuit die postmodernisme staan die attribute van die diensaspek, opleiding en gespesialiseerde kennis en vaardighede, tesame met die impetus van die beroepsliggaam sentraal. In die moderne benaderings is die aksent op outonomiteit, marksluiting en monopolie en ʼn altruïstiese diensideaal.

3.5.2.3 Die postmodernisme: ʼn akkommoderende perspektief vir professie

Die term “postmodernisme” verwys na ’n kenterende, eiesoortige, generiese, teoretiese kultuur(in)gesteldheid, maar moet in samehang met, en as reaksie op die modernisme verstaan word (Haralambos et al., 2000:8; Jameson, 1983:113; Ward, 1999:12).

Postmoderne teoretici soos Lyotard (1984) en Baudrillard (1988) gaan van die standpunt uit dat sigbare prosesse van verandering en transformasie in die hedendaagse hoëtegnologiese media-samelewing – soos rekenaartegnologie, die massamedia, nuwe vorme van kennis, en veranderinge in die sosio-ekonomiese opset – ’n postmoderne sosiale samestelling met ’n veranderde en steeds veranderende sosiokulturele samestelling genereer wat veranderde konsepte en teorieë vereis om sosiale verskynsels te ondersoek.

Neo-Marxistiese postmoderne teoretici soos Jameson (1984) en Harvey (1990) interpreteer die postmoderne in die konteks van die ontwikkeling van ’n gevorderde loop van die vrymarkekonomie gekenmerk deur ’n groter mate van kapitalistiese homogenisering regoor die wêreld. Hierdie prosesse het tot gevolg toenemende kulturele fragmentering, veranderinge in die tyd-ruimte-ervaring, en nuwe vorme van ervaring, subjektiwiteit, kennis, kultuur, werksomgewings en werksprosesse wat die teelaarde skep vir die sosio-ekonomiese en kulturele basis vir postmoderne teorieë.

Bogenoemde verskynsels is tekenend van die digitaaltegnologies veranderende beroeps- wêreld soos metafories beskryf in die ultrakapitalistiese sienings van die globalis Thomas L Friedman se “plat wêreld” (vergelyk die bespreking in 4.3.3).

Lyotard (1984:xxiv) beskryf die postmodernisme as ’n generiese sosiale toestand wat, simplisties gestel, manifesteer as ’n “incredulity toward metanarratives” – die teorieë en “absolute waarhede” waarop die modernisme, en dus ook die sosiologiese benaderings tot die professies gegrond is.

Die postmodernisme soos dit hierbo uiteengesit, dien in die konteks van die huidige sosio-

professionele en kulturele opset as ʼn heuristiese benadering tot die ondersoek van sosiale

verskynsels soos die professies en die beroepstrewe na professionalisering te midde van die toenemende fragmentering van die een en twintigste-eeuse realiteit.

Poststrukturalisme as eksplisiete kritiese beskouing tot sosiale verskynsels soos taal, taal- dienste en die beroepe wat hulle hiermee besig hou, verander die wyse waarop ons ondersoek instel na mense en hulle onderlinge persoonlike en werksverhoudinge, hulle kultuur en die

groter opset waarin hulle funksioneer (Marshall, 2004:21-31). Dit bied die moontlikheid van ʼn herinterpretasie van bestaande benaderings vir ʼn moontlike benadering tot betekenisgewing: ʼn poststrukturalistiese prototipemodel van professie wat ʼn akkommoderende perspektief bied vir beroepsprofessionalisering in die hedendaagse samelewing.