• No results found

Die sosiologie van professie

3.4 Sosiologiese benaderings 1 Inleiding

3.5.4 Die postmoderne kennis en inligtingsamelewing

Vir Evetts et al. (2006) is dit juis die kennisgebaseerde beroepe wat as opkomende beroepskategorieë besig is om die kinderskoene uit te trek en te voorskyn tree as groeisektore in die arbeidsmark in ontwikkelde lande (Frenkel et al., 1995; Lyotard, 1984; Perkin, 1989; Reed, 1996); oorgangslande (Buchner-Jeziorska, 2001; Buchner-Jeziorska & Evetts, 1997), en ontwikkelende lande (Hiremath & Gudagunti, 1998; Sautu, 1998), ’n benadering wat fokus op die toename van beroepe gebaseer op kennis (Murphy, 1988), en die toenemende kapasiteit van hoëropvoedkundestelsels in die meeste gemeenskappe om hoogsgeskoolde werkers te produseer.

Evetts et al. (2006:107) meen dat die veranderinge in die Europese politieke en ekonomiese opset nuwe verwikkelinge inhou vir professies in die algemene/ope mark (“common market”) van die Europese Unie (EU). Pogings is enersyds daarop gemik om professionele diensvoorsiening te harmoniseer, en andersyds te dereguleer. Reeds in 2003 het die Europese Unie-kommissie die Europese professionele federasies uitgenooi om deel te neem aan die proses van die omskrywing van beroepskwalifikasies vir professies in die Europese gemeenskap (Evetts, 2001; Evetts & Dingwall, 2002), wat die klem kan herfokus op die kennisgebaseerde beroepe as die “new wealth of nations”.

Bell (1973) redeneer dat ’n professionele en tegniese (vakkundige) gespesialiseerde klassegroep, voorkeur vir teoretiese kennis, kontrolemeganismes vir tegnologie, en ’n “nuwe intellektuele tegnologie”, kenmerkend is van ’n postindustriële samelewing, wat ’n verhoogde vermoë impliseer vir die ondersoek na menigerlei komplekse veranderlikes onder toestande

van onsekerheid (soos byvoorbeeld in ʼn multilinguale opset, of ʼn linguistiese opset waar

betrokke partye mekaar nie kan verstaan nie). Die klem is veral op die rol en taak van gespesialiseerde opleiding, en die grootste uitdaging vir die postindustriële samelewing is die benutting van menslike hulpbronne: dit is die taak van gespesialiseerde opleiding om aan hierdie saak die nodige impetus te gee.

Kenmerkend van hierdie “kennisklas” (met noodwendig gepaardgaande “kennisberoepe”), is die verskuiwing in die ekonomiese opset van verbruikersgoedere na ’n verskeidenheid uiteenlopende tipes dienste, sowel as die toenemende rol van die vrou in die ekonomie en veral in die taalberoepe (Gouadec, 2007; Kotze, 1997; Mackenzie, 2004:4) aspekte wat onderhewig is aan die uitbreiding van dienste in die ekonomiese sektor en ’n toenemende steun op die wetenskappe as instrumente tot innoverende en georganiseerde tegnologiese vooruitgang.

’n Kognitiewe verskuiwing vind plaas soos wat nuwe kennis assimileer met bestaande kulturele, institusionele en ekonomiese strukture, met ’n onvermydelike modifikasie van die ou, bekende strukture (Delanty, 2001).Hierdie veranderinge kan in ’n neutedop saamgevat word met verwysing na “die kennissamelewing”, waar kennis as ekonomiese ruilmiddel

aangewend word sodat dit wesenlik ʼn kommoditeit word, en impliseer die verspreiding én

uitbreiding van gespesialiseerde dienste gebaseer op abstrakte, ontrafelde (ontbedde?) – in teestelling met ingebedde – kennis op alle gebiede van die sosio-ekonomiese en -kulturele opset (Giddens, 1991; Knorr Cetina, 1999).

Indien die postmodernisme dan aanspraak maak op die kommodifisering van verskynsels en vermoëns word gespesialiseerde kennis en vaardighede in die konteks van die taalpraktyk bloot ʼn verhandelbare kommoditeit, en waarskynlik nie so ʼn gewilde of sosiaal-aanvaarbare kommoditeit nie. Die postmoderne samelewing skep wel die teelaarde vir kennisgebaseerde dienste, maar dit impliseer nie noodwendig die ruimte vir professionalisering nie, en staan in der waarheid vyandig teenoor die geïnstitusionaliseerde beheer van “hekwagters” soos byvoorbeeld taalpraktisyns, veral vanuit ʼn normatiewe benadering (vergelyk 3.4.2 en 3.5.5). Taalpraktisyns deur die eeue heen (Delisle et al., 1995), maar meer so in die hedendaagse geglobaliseerde samelewing met sy veranderende en toenemende multitalige taal- werksaamhede, -dienste en -behoeftes, is deurslaggewende rolspelers in die fasilitering van “global flows of wealth, power and images” reg oor die planeet (Cronin, 2005:262). Hulle is ook instrumenteel in die vestiging van etniese identiteite, nasionale tale en godsdienstige affiliasies (Cronin, 1996).

Die nuwe ekonomie verhoog die prestige en belang van alle beroepsaktiwiteite met ’n omvangryke inligtings- en kenniskomponent. Die positiewe vooruitsigte vir die toename van

besturende, professionele en tegniese beroepe konstitueer die kern van die nuwe sosiale

struktuur en die toename van professionele beroepslui (Sarup, 1988:118). Die vraag is of die taalpraktyk as kennisgebaseerde beroep dan in hierdie sosio-ekonomiese en -kulturele opset as professie die mas kan opkom?

Afgesien van die feit dat die historiese verband tussen die prosesse soos vervat in die aanvanklike postmoderne teorieë nog nie empiries geverifieer is nie, kwalifiseer Castells (2002:219-223) die algemeen-aanvaarde stellings van die postmoderne teorie wat “’n simplistiese weergawe van postindustrialisme” verteenwoordig en stel voor:

 ’n analitiese klemverskuiwing van postindustriële na “informasionalisme” sodat samelewings inligtingsgebaseer is nie omdat hulle in ’n spesifieke model van sosiale struktuur inpas nie, maar op grond van die organisering van die “... production system around the principles of maximizing knowledge-based productivity through the development and diffusion of information technologies, and by fulfilling the prerequisites for their utilization (primarily human resources and communications infrastructure)” (Castells, 2002:219).  ’n duidelike karakterisering van die verskillende tipes dienste om in komplekse ekonomieë te

onderskei tussen ekonomiese aktiwiteite, wat neerkom op die diversifikasie van konsepte waardeur ekonomiese aktiwiteite gekategoriseer word.

 ’n kritiese besinning ten opsigte van die aard van die kennisgebaseerde beroepe voordat die toekoms van die professies as “die republiek van die geleerde elite” gekenskets word. In die konteks van die professies as kennisgebaseerde beroepe wat in die postmoderne samelewing die kern van die nuwe beroepstruktuur konstitueer, wys teoretici soos Sayer en

Walker (1992), Bluestone en Harrison (1988), Rumberger en Levin (1984), en Kuttner (1983) tog daarop dat hierdie verskynsel nie noodwendig die enigste eienskap van die postmoderne beroepstruktuur is nie.

Gelyktydig hiermee is daar ook die bestendige opkoms van die laagbesoldigde, ongeskoolde diensberoepe, wat ten spyte van hulle stadige ontwikkeling, ’n substansiële proporsie van die postindustriële sosiale struktuur kan verteenwoordig ingevolge hulle absolute getalle. Met ander woorde, vooruitstrewende inligtings- en kennisgebaseerde samelewings kan ook gekenmerk word deur ’n toenemend gepolariseerde sosiale beroepstruktuur, ten koste van die hoogaangeskrewe, gespesialiseerde middelklasberoepe soos die professies, vandaar die

deprofessionaliseringsverskynsel.

Terselfdertyd is daar ’n wydverspreide omstredenheid in die literatuur ten opsigte van die aanname dat kennis, wetenskap en gespesialiseerde vakkundigheid die deurslaggewende komponente inherent aan die meeste van die professies en besturende beroepe is (Castells, 2002:221). Vir Castells (2002:216-217, voetnoot 2), is die sekulêre transformasie van werk- en beroepstrukture ʼn onderliggende tema van die postmoderne beroeps- en werksopset wat afstuur op ʼn individualisering van werk wat potensieel die professies kan destabiliseer. Postindustriële teorie kombineer drie stellings en voorspellings ten opsigte van die post- industriële kennis- en inligtingsamelewing (Castells, 2002:218-219):

 Die bron van produktiwiteit en groei is geleë in die generering (ontginning) van kennis, en van toepassing op alle fasette van ekonomiese aktiwiteit deur middel van inligtings- prosessering.

 Ekonomiese aktiwiteite verskuif van goedereproduksie na dienslewering.

 Die toename van inligtingsryke (kennisgebaseerde) beroepe soos die professies konstitueer

die kern van die nuwe beroepstruktuur.

Hierdie drie interafhanklike stellings anker die postmoderne teorie op die vlak van die sosiale struktuur (Bell, 1973), hoewel Castells (2002:221-223) waarsku teen so ’n simplistiese interpretasie van postindustrialisme.