• No results found

Die vooruitsigte vir die professies in die postmoderne samelewing

Die sosiologie van professie

3.4 Sosiologiese benaderings 1 Inleiding

3.5.6 Die vooruitsigte vir die professies in die postmoderne samelewing

Vir Freidson (1973:34-37; 1994) berus die toekoms van die professies op professionele

outonomiteit en gesag inherent aan gespesialiseerde kennis en vaardighede, tesame

met die impetus van die beroepsliggaam (vergelyk die bespreking in 4.6). Die kenmerke wat hiervolgens in die kognitiewe attribuutmodel deurslaggewend is, is outonomiteit en gespesialiseerde kennis wat hand aan hand gaan. Die professionele projek word dus suksesvol voltooi slegs indien en wanneer hierdie twee attribute realiseer.

Freidson (1973, 1994) se uitgangspunt is, alhoewel burokratisering en proletarisering toeneem, die gevestigde professies se posisie van rykdom, prestige en invloed in die

twintigste eeu tot so ʼn mate ’n hoogtepunt bereik het dat “ ... many other occupations have

begun to struggle for the same position to such a degree and with such energy that it may not be inappropriate to consider professionalization to be the major social movement of the twentieth century” (Freidson, 1973:35-36; vergelyk ook Freidson, 1994 waarin dieselfde uitgangspunt gehandhaaf word). Overgeset synde: Die professionele projek is hier om te bly. In die konteks van die professionaliseringsproses van die taalberoepe onder bespreking is die kwessie: Wat is die vooruitsigte vir die professie(s) en professionaliseringsproses(se) in die postindustriële sosiokulturele opset?

Freidson (1973; 1994) onderskei in hierdie verband tussen die beroepsbeginsel en die administratiewe beginsel wat in wese ’n verskil is tussen Durkheim se visie van die samelewing as ’n konstruktiewe verdeling van arbeid en Weber se siening van die rasionalisering van die samelewing.

Max Weber se uiteensetting van bestuursmatige gesag as die organiserende beginsel in die verdeling van werk kom neer op die administratiewe beginsel – rasionalisering – van die institusionele regulering van beroepe: die regmatige volmag tot gesagsuitoefening is die

primêre funksie van alleen maar die administratiewe gesag – bestuur – in die werkplek (Freidson, 1994:61-63).

Beroepsprofessionalisering verswak egter rasionalisering en die administratiewe beginsel (Freidson, 1973:22-24; Freidson, 1994:61-63) sodat die professies beheer het oor alle aspekte van hulle beroep. Die strukturele verhouding tussen beroepe en hulle werksaamhede word dus nie bepaal deur die bestuur van ’n werksorganisasie (werkgewer) nie, maar deur die beroepsbeginsel inherent aan Durkheim se siening van die rol van die professies in die sosiokulturele opset: gesagsuitoefening oor werk deur die beroep self, in baie gevalle met die ondersteuning van die staat wat uitsluitende lisensiëring en jurisdiksie positief beoordeel (Freidson, 1994:65).

Indien die aktiwiteite van die professionele persoon gerasionaliseer kan word – afgebreek kan word in ’n reeks diskrete, eenvoudige handelinge wat diegene met minimale opleiding kan uitvoer, en wanneer gekoördineer en gerekonstitueer deur administratiewe gesag, resulteer in dieselfde uitkoms of produk van die professionele persoon – sou die professies geen rol en funksie in die postmoderne samelewing kan vervul nie (Freidson, 1973:35). Die postindustriële omwenteling sou bloot ’n verlenging wees van die rasionalisering van werk van produksie tot dienste waar administratiewe rasionalisering besturende gesag versterk. Toenemende formele en maksimale akademiese opleiding vir gespesialiseerde beroepe is egter kenmerkend van die sosioprofessionele opset van die twintigste eeu, wat moet lei tot gespesialiseerde kennis en vaardighede, ’n beginsel inherent aan die kennissamelewing en bied die basis vir die professionele gesag van die professies (Freidson, 1973:36; 1994). Hierdie attribuut van gespesialiseerde kennis en vaardighede wat gepaardgaan met formele, maksimale tersiêre opleiding staan dan meer sentraal in die professionaliseringsprojek in die postmoderne samelewing.

Die vraag is waar die professionele ideaal hom in die een en twintigste eeu bevind as akademiese opleiding nie sy weg in die praktyk in vind nie (Abbott, 1988:53), as die insluiting van multivaardigheidsuitkomste in kurrikula bydra tot deprofessionalisering van die

vertaalberoep (Ladmiral & Mériaud23, 2005:30, in Séguinot, 2008:15), as kennis en

vaardighede wat die vertaalproses bevorder nie intrinsiek deel is van vertaalkompetensie nie (Pym, 2003b); as “laervlak”-vertaalopleiding deur regerings gesanksioneer word (Díaz- Cintas, 2009) en in Suid-Afrika bepleit word (Marais, 2010).

Gegrond op die volmag en gesag van deskundige kennis en vaardighede impliseer professionalisering van ’n beroep die grondslag van outoriteit om ’n verdeling van arbeid te koördineer (Freidson, 1973:25; Freidson, 1994:61-63) om professionele standaarde daar te stel. Dit beteken dat die werk van verskillende beroepe in enige groot organisasie, soos

byvoorbeeld ’n uitgewersmaatskappy, gekoördineer word rondom ʼn professionele diens,

soos vertaling en teksredaksie in die produksie van boeke. Koördinasie vind nie plaas deur bestuursbeplanning van die organisasie nie, maar deur die dominante professionele persoon in die arbeidsverdelingsproses, soos die professionele vertaler of teksredakteur, al sou so ’n

individu deel uitmaak van ’n redaksionele span. Of ʼn postmodernistiese werkbenadering

hierdie beginsel wat gebaseer is op “toegeskrewe deskundige kennis en vaardighede” in teenstelling met administratiewe gesag” (soos Freidson, 1973:26 postuleer) die behoefte na professionele, gespesialiseerde diens in die gedrang kan bring, is te bevraagteken.

Wat betref die vooruitsigte vir die professionele projek: die toekoms van die professionele projek is nie net afhanklik van die status van beroepe se kennis en vaardighede nie, maar ook van die status van hulle professionele beroepsorganisasies, wat ’n onafhanklike en noodsaaklike, waarskynlik ontoereikende veranderlike (Freidson, 1973:36) is. ʼn Beroepsliggaam is een van die eerste attribute wat beroepe tradisioneel verwesenlik en staan ook sentraal in die kognitiewe attribuutmodel.

Freidson (1973:37) koester die verwagting dat die intervensies van die beroepsorganisasie op sy minste ’n bolwerk kan bied teen die burokratisering van die professies en die uitbreiding van die beroepsbeginsel (beroepsprofessionalisering) vir die beheer van die professies tot die mate dat die postmoderne/postindustriële samelewing die professionele samelewing kan word.

Indien die postmoderne benadering tot die professies tot sy volle logiese konklusie

deurgetrek word in ʼn multitalige konteks soos Suid-Afrika en Vlaandere en die status quo

van die professionele beroepsliggame krities beskou word ten opsigte van hulle effektiwiteit

in die professionele projek, is die vraag: Hoekom by ʼn professionele beroepsliggaam

aansluit? Hoekom akkrediteer uberhaupt? (Beukes, 2011). Of pertinent gestel: Hoekom staat maak op die beroepsliggaam om te professionaliseer?

Dit bring die kwessie van taalpraktyk as aspirerende professie in ʼn postmodernistiese

konteks pertinent op die voorgrond.