• No results found

Die postmodernisme, die sosiokulturele opset en die professies

Die sosiologie van professie

3.4 Sosiologiese benaderings 1 Inleiding

3.5.3 Die postmodernisme, die sosiokulturele opset en die professies

Vanuit die postmoderne benadering kom postmoderne sosiale wetenskaplikes tot die slotsom dat “... all is culture in postmodern theory” (Delanty, 2001:149). Die taalpraktisyn en sy taalpraktyke word noodwendig deel van en opgeneem in hierdie kulturele wending (vergelyk die bespreking in 3.3.3). Die veranderinge van die sogenaamde postmoderne era op die kultuur van die mensdom is so allesomvattend dat die hedendaagse mens vertroue verloor het in “all grand plans for the future ... in all areas of social life” (Haralambos et al., 2000:1070); in al die “meesterverhale” van die modernisme, maar terselfdertyd weerstand bied teen nuwe “majestueuse narratiewe” waarmee sosiale verskynsels beskryf en verklaar kan word.

Die kultuur – die sosiokulturele opset – van ’n samelewing word vanuit die sosiologie omskryf as “... the way of life of its members; the collection of ideas and habits which they learn, share and transmit from generation to generation” (Linton, 1954, soos aangehaal in Haralambos et al., 2000:884). Kultuur word dus die artikulering van die wisselwerking tussen integrale (ver)houdings, waardes, norme en oortuigings op alle vlakke in ’n gemeenskap. Sowel Durkheim, Marx en Weber identifiseer hulle met hierdie siening van kultuur in ’n mindere of meerdere mate (Haralambos et al., 2000: 887-888; 889).

Vir Durkheim (1966) en die funksionele benadering (Haralambos et al., 2000:887) is ’n eensgesinde, solidêre kultuur analoog aan die kollektiewe bewussyn wat meganiese solidariteit bewerkstellig in pre-industriële samelewings met ’n geringe verdeling van arbeid waar mense ’n sin van solidariteit ervaar op grond van hulle samehorigheid. In industriële samelewings met ’n diverse en gespesialiseerde verdeling van arbeid, ervaar mense nie dieselfde mate van homogeniteit nie – gespesialiseerde arbeidsrolle verg differensiasie.

Vanuit die konflikteorie het vervreemding vir Marx sy oorsprong in menslike produktiewe aktiwiteite wat mettertyd ontaard in vervreemding as gevolg van die inperking van menslike vryheid wat weer die gevolg is van oneweredige verspreiding van eiendomsbesit. Die heersersklas bepaal die hoë kultuur in die samelewing. Ekonomiese en sosiale status bepaal dan waardes en lewens- en wêreldbeskouings wat’n heersersklasideologie tot gevolg het (Haralambos et al., 2000:889-891) sodat kultuur – en dus ook gespesialiseerde taalpraktyke – op die ou end ’n refleksie word van bestaande klasseverskille.

Vir Weber (1976) is kultuur ’n waardekonsep (“value concept”) inherent aan die kompleks van spesifieke vorme van oortuiging, geloof, prestasie, tradisies, kultuur en so meer wat die ruggraat vorm van enige samelewing. Daarby is statusgroepe subkulture in die moderne samelewing wat gevorm word op grond van aspekte soos taal, ras, etnisiteit, godsdiens, beroepstatus, geslag. Hierdie groepe deel ’n lewenstyl gebaseer op bepaalde waardes en norme en vorm ’n kultuur binne ’n kultuur.

Dit is op hierdie uitgangspunte wat Marx, Weber en Durkheim hulle onderskeie teorieë tot die professies grond. Die professies – en ook die taalpraktyk as professie – sou dan op grond van die onderskeid hierbo in die konteks van die konflikbenadering, funksionele benadering, en die interaksionisme in die moderne samelewing onderskeidelik gekenskets kan word as:  Marxistiese beheergroepe afgestem op eiegewin en monopolie;

 as invoedryke Weberiaanse subkultuurgroepe met gedeelde belange, maar ook as  Durkheimiaanse solidariteitsgroepe wat harmonie en stabiliteit in die samelewing

teweegbring, standaarde bewerkstellig en kwaliteitdienste verseker (vergelyk 3.4.2). Taalpraktyk as professionele beroepsgroep sou dan – veral in die hedendaagse multi-

kulturele opset – ʼn taalpolitieke monopolie kon wees afgestuur op die onderdrukking van

ander kulture, en ekonomiese eiegewin; ʼn sosiokulturele statusgroep wat bepaalde voordele

in die samelewing geniet, maar ook ʼn normatiewe, voorskriftelike drukgroep wat

standaardtaal bo alle ander variëteite verhef.

Die postmodernisme neem dan hierdie “vanselfsprekende” moderne verskynsel van verskillende sienings van die professies en verklaar dit sosiaal gekonstrueerd, wat dekonstruksie en herformulering vereis ten einde die diversiteit van die huidige sosiokulturele opset te reflekteer. Postmodernisme bevorder dus, deur die kritiese analise van dekonstruksie, die fragmentering van die ouer modernistiese raamwerk, maar terselfdertyd

ook die dubbelsinnigheid, openheid, en veelvuldigheid essensieel aan ʼn geglobaliseerde

wêreld sodat die unieke en uitsluitende toring van die professionele verskynsel in duie stort. Die professionele elite word “grensbewoners” saam met ander “wat in transito is – swerwerwerkers, nomade, en lede van die transnasionale korporatiewe elite” (Gupta & Ferguson, 1992:7).

Almal – verbruikers sowel as diensverskaffers – word oor dieselfde kam geskeer: “The mass grows. We are more alike than ever ...” (Rosenberg, 1957:5), met as resultaat ’n enkele,

homogene massakultuur (Macdonald, 1957:61-62) waar selfs die verdeling van arbeid ʼn

anomalie word.

Die wesenlike van die postmoderne ekonomiese aktiwiteite is die opkoms van wat soms

genoem word “postmoderne goedere”; objekte wat ʼn substansiële estetiese komponent

inhou, soos boeke, tydskrifte, koerante, films, popmusiek, realiteits-TV (Gupta & Ferguson, 1992:14; Lash & Urry, 1994:4), en veral die sentraliteit van ontwerpintensiewe produkte en die toenemende belang van die ekspressiewe komponent in die vervaardiging en lewering van goedere en dienste (Lash & Urry, 1994:111-144).

Die massakulturele, nieprofessionele verskynsel maak sy buiging in die samelewing. Die produksie en verspreiding van massakulturele taalpraktykprodukte en -dienste – films en televisieprogramme, radioprogramme, koerante, tydskrifte, boeke – waar vertaling, teksredaksie, oorklanking, oudiobeskrywing en onderskrywing in die multitalige, multi-

kulturele, multibehoeftige opset ʼn onontbeerlike mediërings-, vermaaklikheids- en

inligtingsrol speel. Die vervlakking wat spruit uit die appèl van ’n massakultuur in die postmoderne opset tesame met die beheer daarvan deur nieprofessionele organisasies en multinasionale korporasies wie se bona fides nie altyd bo verdenking is nie (Gupta & Ferguson, 1992:15), bevorder uniformiteit en ’n gebrek aan diversifikasie, maar bring ook die kwaliteit van die dienste ter sprake.

Op die lang duur ondermyn massakultuur die fyn netwerk van die “skering en inslag van die samelewing” (Haralambos et al., 2000:903) in die sin dat individue hulle slegs kan vereenselwig met gesentraliseerde sisteme en nasionale en multinasionale organisasies ten koste van interaksie in en met groepe en kleingroepe. Gespesialiseerde, georganiseerde beroepsgroepe – die professies – as kleingroepe wat strewe na professionalisering hou dan die bedreiging in van kulturele elitegroepe wat teen die stroom van massakultuur inswem. In teenstelling met die buitengewone geprofessionaliseerde praktisyn van die klassieke professies (in die modernistiese sin van die woord) kan Jan en San Alleman as beroepspersone in ʼn postmoderne bestel hulle “professionele dienste” op www.com aanbied sonder gewettigde bewyse van affiliasie, kwalifikasie, akkreditasie, lisensiëring of enige vorm van etiese of normatiewe aanspreeklikheid. Dit geld nie net taalpraktisyns nie, maar byvoorbeeld ook finansiële adviseurs en mediese raadgewers.

In die postmoderne konteks met sy kulturele pluralisme en subkulturele diversiteit wil dit dan voorkom of die professionele kompleks van Parsons (1968), die professionele projek van Larson (1977), en die aanspraak op status in die vorm van ’n professionaliseringsproses (Houle, 1980; Vollmer & Mills, 1966; Wilensky, 1964) ’n kulturele anomalie geword het. In die konteks van die ondergang van die “grand narratives” maak die strewe na gespesialiseerde kennis en vaardighede en professionele status nie sin nie.

Aan die ander kant, die postmoderne kulturele opset met sy massakultuur, veelvuldige interpretasies van die samelewing, eie ervarings, pluraliteit van denke, en “global village”- verskynsel kan dien as die impetus vir die professionalisering van die taalpraktisyn wat in die

mediasie van ʼn verskeidenheid taaldienste gespesialiseerde kennis en vaardighede moet

toepas in die konteks van ʼn geslaagde kommunikasieproses met dien verstande dat die

ideologie van die taalberoepsgroep streef na ʼn professie van kwaliteit en diens. Die inisiatief om wel te professionaliseer is onder druk, maar daarteenoor staan die taak en diens van die taalpraktisyn wat al hoe belangriker word (vergelyk ook 4.2):

 Die wêreldwye web maak dit moontlik vir enigiemand om enige tipe teks te publiseer wat vertaal en/of geredigeer moet word, en in baie gevalle selfs leesbaar gemaak moet word.  Televisieprogramme en films moet oorgeklank word, of van onderskrifte in ander tale voorsien word, dikwels van swak kwaliteit. Die klem op menseregte beklemtoon die

behoeftes van visueel gestremde persone aan oudiobeskrywing van ʼn verskeidenheid

van visuele tekste.

 Die behoeftes van gehoorgestremdes beklemtoon die noodsaak vir onderskrifte van televisieprogramme, films en ander visuele tekste.

 Doofstom individue benodig gebaretaaltolking in ʼn verskeidenheid kontekste om hulle lewenskwaliteit te verbeter.

 Die gebrek aan taalvaardighede van landverhuisers na Suid-Afrika en Vlaandere skep die behoefte in hospitale, universiteite, skole en howe vir tolke, vertalers en teksredigeerders; taalpraktisyns met gespesialiseerde kennis en vaardighede.

 Internasionale kongresse en simposia benodig in ʼn toenemende mate die dienste van tolke, simultaantolke en gebaretaaltolke.

Daar is dus ʼn toenemende vraag na opgeleide en bekwame taalpraktisyns in die

geglobaliseerde, postmoderne veranderde samelewing – soos wat dit trouens telkens in hierdie studie te berde gebring word. Bell (1973:xx) praat van die “kennissamelewing” wat

staatmaak op herskepte sosio-ekonomiese ooreenkomste, gebaseer op die produksie, organisering, en verhandeling van kennis as ’n “ekonomie van inligting” in teenstelling met ’n “ekonomie van handelsware”, met die implikasie dat die postmoderne kennis en inligtingsamelewing juis die teelaarde bied vir die taalberoepe om hulle status te bevorder en te bevestig. Die implikasie is dat sosiokulturele inhoud en mediëring aan die kern lê van die

nuwe ekonomiese paradigma, ʼn geglobaliseerde netwerk van buigbare en appellatiewe

produksieverskynsels in reaksie op ʼn veranderende en veelheid van behoeftes in die

sosiokulturele opset (Cronin, 2005:263).

Hierdie verskynsel word vervolgens in meer detail bespreek teen die agtergrond van die professionele verskynsel.