• No results found

Die prototipe van professie

2.3 Redes vir die definisiegeskil

2.3.1 Diachroniese ontwikkeling en herdefiniëring oor tyd

2.3.1.1 Semantiese verwarring

Die eerste vorm van semantiese verwarring lê opgesluit in die etimologie van die woord

“professie”, wat van meet af aan die hele kwessie omtrent beroepe en beroeps- professionalisering kompliseer en wetenskaplike ondersoek in die wiele ry (Millerson, 1964a:1; vergelyk ook die definisies wat in hierdie verband in 2.5 bespreek word). Die vraag ontstaan of die semantiese verwarring spruit uit ʼn klassieke benadering tot kategorisering, of die gevolg is van ʼn statiese benadering wat die beginsel misken dat taal en betekenis – en gevolglik ook die definisie van professie – oor tyd verander? Verskeie teoretici blyk verskillende antwoorde en redes te gee.

Sciulli (2009:13) gee die etimologie van die woord “professie” aan as (een van) die redes vir die miskenning van die kontinentale oorsprong van die professies: “... ‘profession’ is uniquely an English-language term, utterly as alien to French language usage as it is to usage in every other continental language”.

Freidson (1986:21-27) is oortuig daarvan dat die verwarring rakende die term te wyte is aan heelwat meer as slegs teoretiese predileksie: as ’n woord het “profession” – Afrikaans “professie” – tesame met alle ander woorde wat dieselfde stam het, verskeie oorvleuelende denotasies en konnotasies, wat moeilik van mekaar te onderskei is. Die woord “profession”/“professie” het ’n lang etimologie in al die Europese tale met Latynse stamme, ’n geskiedenis wat Freidson (1986:26) tot die slotsom bring dat die progressiewe betekenisverwarring in die gebruik van die woord oor die eeue heen ’n funksie is van die semantiese verwikkeldheid opgesluit in die etimologie van die woord. Daarbenewens het die woord verskeie negatiewe sowel as positiewe betekenisonderskeidinge bo en behalwe eietydse navorsers se beheptheid met die konnotasie van “verhewe status en prestige”. Na ’n breedvoerige bespreking van die etimologie van die woord kom Freidson (1986:27-28) tot die gevolgtrekking dat die kontradiksie en verwarring, en melioratiewe en pejoratiewe konnotasies intrinsiek is aan die woord in die Engelse gebruik daarvan: in een konteks verwys dit na verhewe status, prestige en eer, soos byvoorbeeld die mediese beroep en die regsberoep, en in ’n ander konteks na lae status en sosiale afkeur, soos in die algemeen neerhalende verwysing na prostitusie as die oudste professie (Ryan & Jethá, 2010). In een gebruik is dit algemeen inklusief aan alle beroepe, en in ’n ander algemeen uitsluitind. In een omstandigheid impliseer die woord verhewe motiewe en morele onkreukbaarheid, maar in ’n ander impliseer dit bedenklike motiewe en bedrieglikheid (vergelyk ook Elliott, 1972:2-3). Die etimologies-semantiese dubbelsinnigheid en wydverspreide perseptuele ambivalensie loop hand aan hand, beide onder die lekepubliek én akademici (Freidson, 1986:27):

If it is accurate ... to say that the public and those who speak for it look on the professions with some ambivalence, it is no less accurate to say that the semantic ambiguity of the word itself both encourages and reflects that ambivalence. Indeed, it is not just the public that has been confused. Scholars and intellectuals have not been immune to the heavy and diverse semantic freight of the word: some of their controversies about professions and professionalization have stemmed as much from emphasis on different connotations and denotations as from issues of fact, logical inference, or analytic concern.

In die volksmond het die woord “profession” (Afrikaans “professie”, “beroep”, “vak”, “bedryf”,

“nering”, “werk”; Nederlands “bedrijf”, “beroep”, “broodwinning”, “professie”7) verskeie

betekenisgebruike, soos die bespreking van woordeboekdefinisies in 2.7.1 bevestig. Dit kan gebruik word as ’n sinoniem vir “job” (Afrikaans “werk”, Nederlands “ambt”, “baan”,

“betrekking”, “werkkring8), “work” (Afrikaans “werk”; Nederlands “arbeiden”, “werken”9),

“occupation” (Afrikaans “beroep”, “nering”; Nederlands “ambacht”, “handwerk”, “vak”,

“bedrijf”, “beroep”, “broodwinning”, “professie”10; vergelyk ook Kruyskamp, 1976:1939). Die

woord “professional” word in Engels ook vereenselwig met “any and every type of black- coated and white-collar occupation” (Millerson, 1964a:1-2).

’n Tweede vorm van semantiese verwarring spruit uit die vorming van verwante konsepte

deur middel van prefikse en bepalers, beide in Afrikaans en Engels: onder andere pseudo-, semi-, kwasi-, sub-, marginale, liberale, geleerde (Millerson, 1964a:2), “suiwer” en “hibriede” (“pure” en “hybrid”) van Noordegraaf (2007), of deur middel van suffikse wat verband hou met die konsep “professie”, soos “professioneel”, “professionele”, “professionaliseer”, “professionaliteit” en “professionalisme”.

Uit Millerson (1964a:2) se bespreking van die terminologiese vaagheid van die woord “professie” – tiperend van die klassieke benadering tot kategorisering van konsepte – kan die volgende afleidings gemaak word:

 Die term word gebruik sonder konsepomskrywing of definiëring beide in die akademie en die media, wat sou impliseer dat die leser veronderstel is om reeds bekend te wees met die betekenis en semantiese waarde van die term.

 Teoretici is daarop uit om ’n groep se pogings om hulle beroep te professionaliseer te verkleineer as sou sulke beroepe nie die status van “professie” waardig wees nie, om watter rede dan ook al (vergelyk byvoorbeeld Noordegraaf, 2007).

 Meestal is die doel om die gegewe te omseil dat alle beroepe gelykwaardig is, al sou sommige ondersoeke wel gesaghebbend voorkom of daarop aanspraak maak om die konsep “professie” in ʼn gunstige of ongunstige lig te stel.

Die implikasie is dat andersoortigheid sogenaamde “professies” differensieer van sogenaamde “nieprofessies”, die nuwe van die oue, die aanvaarbare van die onaanvaarbare, die suiwere van die hibriede (vergelyk byvoorbeeld Noordegraaf, 2007). Millerson (1964a:2) kom dan tot die slotsom dat dit in wese gaan oor taksonomiese demarkering: “If anything, these represent strivings toward a definition, and the characteristics distinguishing a profession from other occupations, without resorting to an actual definition” wat in wese ʼn klassieke benadering tot kategorisering weerspieël.

ʼn Derde vorm van semantiese verwarring is die gevolg van die onoordeelkundige

toepassing van die woord “professie” (Cogan, 1953:74) soos blyk uit die gebruik om

andersoortige konsepte met dieselfde term te beskryf:

 om een beroep van ’n ander te onderskei, klassiek-professioneel al dan nie: die mediese professie teenoor die taalberoepe;

7 Vergelyk: http://www.vertalen.nu/vertaal?van=eng&naar=nl&vertaal=profession 8 Vergelyk: http://www.vertalen.nu/vertaal?van=eng&naar=nl&vertaal=job 9 Vergelyk: http://www.vertalen.nu/vertaal?van=eng&naar=nl&vertaal=work 10 Vergelyk: http://www.vertalen.nu/vertaal?van=eng&naar=nl&vertaal=occupation

 om na ’n formele beroepsgroepering te verwys: ʼn sosioprofessionele werkkring waarvoor 'n praktisyn unieke en gespesialiseerde opleiding en bevoegdheid verkry het;

 om ’n geprofessionaliseerde beroep te beskryf: die mediese professie, en

 om ’n onjuiste beeld van byvoorbeeld ’n sportaktiwiteit te gee om sodoende status daaraan te verleen: die professionele sokkerspeler of tennisspelers, alhoewel die onderskeid tussen betaalde beroepspeler en onbetaalde nieberoepspeler in hierdie konteks die oorwegende motief is.

Daar word in Afrikaans in laasgenoemde instansie ʼn onderskeid getref ten opsigte van sport met die terme “beroepsport” teenoor “amateursport” (“professional sport” teenoor “amateur

sport”) wat in Engels ʼn ekstra belading aan die woord “professional” gee: dit maak ook

onderskeid tussen sport wat gedoen word vir ʼn inkomste en sport wat vir, byvoorbeeld,

ontspanning gedoen word. In Afrikaans word dit nie noodwendig in die sfeer van professionalisering gebruik nie, want die nuanse dat dit sport is wat as ʼn beroep verrig word, word uitgedruk deur die term “beroep(sport)”, terwyl in Engels die polisemiese gebruik van

“professional” die betekenis van ʼn professionele persoon, maar oor ʼn professionele

sportmens betrek. Die woord “professional” beteken dus iets anders in die domein van sport as wat dit beteken in die domein van witkraagberoepe (professies), maar in Afrikaans behoort die term nie verwarring te skep nie.

Die onderskeid is ʼn uitstekende illustrasie van die kognitiewe benadering: in Engels word

daar met die woord “profession(al)” veral in die domein van sport ʼn onderskeid tussen

professionele sportlui en amateursportlui getref, maar daar is ook in Engels bepaalde ooreenkomste en die sportdomein en die beroepsdomein, soos salaris (die idee van “baie geld” en “verhewe status”); goeie kwaliteit (net as jy baie goed is, kan jy “professioneel” wees as bokser of gholfspeler of tennisspeler), en beheerliggame wat die reëls en toegang tot professionele sport as professie bepaal.

Met Wittgenstein (1958) se betekenismodel van familie-ooreenkomste of met die prototipe by wyse van die eksemplaarmodel kan sin gemaak word met watter ooreenkomste daar is in die betekenis van woorde, soos byvoorbeeld professioneel in sy sportkonteks en professioneel in sy beroepskonteks. Dit hou nie dieselfde betekenis in nie, maar daar is tog ooreenkomste (sien ook 2.10.2 waar hierdie konsep verder van toepassing gemaak word op beroepe wat strewe na professionalisering).

In die klassieke benadering is so ʼn afleiding problematies en vandaar die oortuiging dat die

woord foutief gebruik word wanneer daar verwys word na, byvoorbeeld, ʼn bokser as ʼn

professionele persoon omdat die woord bepaalde kenmerke het wat nie anders gebruik mag word nie. In die prototipebenadering word die woord uitgebrei sodat dit verskillende nuanses bykry in verskillende domeine.