• No results found

HOOFSTUK 1: Oriëntering

1.5 Werkswyse

1.5.4 Kultuurstudies en die gebruik van mediatekste

Een van die doelstellings (en gevolglike uitkomste) van kultuurstudies is om nuwe intellektuele ruimtes te open in die studie van kultuur. Sommige navorsers meen dat daar in kultuurstudies ook klem geplaas moet word op die “university, non-textual” (Nuttall & Michael, 2000:14) oorspronge van kultuurstudies deur minder klem te plaas op blote interdissiplinariteit en meer op samewerking en interaksie met die openbare sfeer. Laasgenoemde benadering in kultuurstudies ontsluit volgens Nuttall en Michael (2000:14-15) ook in Suid-Afrika diskursiewe moontlikhede oor (en in) openbare en nuwe intellektuele ruimtes:

A new dispersal of intellectual resources, and a fluidity between what used to be distinct spheres of intellectual activity, has emerged following the transition to democracy in the 1990s. One example is the increasingly fluid space between the print media and the university classroom.

Die intellektuele ruimtes wat deur die media geskep word en in die media ontstaan, kry gevolglik ook aandag in hierdie studie. Daar word onder meer gesteun op mediatekste soos internetbronne14, koerant– en tydskrifartikels, asook televisie-programme soos die dokumentêr Johnny en die Maaiers (Kapp & Beukes, 2008), wat breedweg handel oor die opkoms van Afrikaanse musiek en in Junie 2008 op die DSTV-musiekkannaal MK uitgesaai is (sien Oosthuizen, 2008:4). Die dokumentêr self, sowel as my navorsingsrol daarvoor, het belangrike insigte vir hierdie studie verskaf.

14

Belangrike insigte is veral in 2008 verkry deur Liriekfabriek, my projek op LitNet se musiekafdeling, “KlankKas”.

Volgens Frith (1988:7) bewaar die joernalistiek iets wat sentraal staan in die betekenis van populêre musiek, maar wat moeilik is om oor te dra in afgetrokke akademiese terme, naamlik populêre musiek se afhanklikheid van tyd en plek. Die musiekmedia is daarbenewens ’n ruimte waar waardeoordele duidelik geartikuleer word (Frith, 1987:136). Deur mediatekste oor populêre musiek te bestudeer, kan daar dus ook nader beweeg word aan die verstaan van hoe waardeoordele daaroor gemaak en geartikuleer word. Daarom word mediatekste soos resensies en onderhoude ook as belangrike intellektuele bronne in hierdie studie beskou en gebruik.

Die media is verder ook belangrik in kultuurstudies (en hierdie studie) omdat dit ’n rol speel in die skep van kultuur. Een van die baanbrekers op die gebied van kultuurstudie, Stuart Hall (1996b:340), verwys na die rol van die media in hierdie verband:

[W]hat cultural studies has helped me to understand is that the media play a part in the formation, in the constitution, of the things that they reflect. It is not that there is a world outside, ‘out there’, which exists free of the discourses of representation. What is ‘out there’ is, in part, constituted by how it is represented.

Bostaande siening van Hall is baie belangrik in my benadering tot kultuur en skakel ook met die uitgangspunte van Dominic Strinati (2000:231) oor die erodering van die onderskeid tussen kultuur en gemeenskap en die implikasies daarvan op identiteit. Hierdie siening hou in dat daar in ’n postmoderne samelewing al hoe moeiliker onderskei kan word tussen die sin van die realiteit wat deur die massamedia geskep word en die realiteit wat bestaan buite die mediakultuur. Die implikasie is volgens Strinati (2000:231) dat laasgenoemde realiteit geleidelik verdwyn namate die postmodernisme verskyn. Mense se sosiale realiteit word dus geskep deur die populêre kultuur wat versprei word deur die massamedia, in plaas daarvan dat die massamedia bloot die realiteit reflekteer (Strinati, 200:231-232).

Strinati (2000:237) verwys verder in bostaande verband na die postmoderne argument oor die verhouding tussen fragmentering en identiteit en hoe die interpretering van identiteit, beide persoonlik en in ’n gemeenskaplike konteks, ’n belangrike kwessie geword het in die debatte wat deur die postmoderne teorie aangevoer word.

Laasgenoemde stel voor dat ’n beperkte aantal koherente identiteite begin het om te fragmenteer tot ’n diverse en onstabiele reeks kompeterende identiteite. Die toenemende fragmentering van persoonlike identiteite is volgens Strinati (2000:237-238) die resultaat van die agteruitgang van identiteite wat eens gevestig was en aan mense ’n geborge sin van hul posisie in die wêreld gegee het. Dit is veral weens die groeiende onmiddellikheid van globale tyd en plek wat as gevolg van die moderne massa-media ’n verwronge sin van hierdie tyd en plek verbeeld: “Time and space become culturally fragmented and this leads to the fragmentation of identity.” (Strinati, 2000:243). Hall (1996a:4) bespreek ook hierdie siening van die fragmentering van identiteit wat voortdurend meervoudig gekonstrueer word binne verskillende (dikwels oorkruisende en antagonistiese) diskoerse, praktyke en posisies. Identiteit kan dus beskou word as iets wat voortdurend in ’n proses van verandering en transformasie is (vergelyk ook Frith, 1996a:110).

Strinati se argument van die fragmentering van identiteit sal geëggo word in die derde en vierde hoofstukke van hierdie studie waar die kwessie van die identiteitsvorming van die Afrikanerjeug weer aan bod kom. Daar sal veral gekyk word na watter mate Afrikaanse rock die konsep van waarheid bevraagteken en nuwe idees daaroor skep met betrekking tot identiteit. Hierdie benadering vloei nie slegs uit bogenoemde insigte van Hall (1996a en 1996b) en Strinati (2000) nie, maar ook veral uit Frith (1987) se uitgangspunt oor die waarde van populêre musiek (wat in hoofstuk twee van hierdie studie duidelik omskryf word). Frith (1987:137) sê onder meer:

The question we should be asking is not what does popular music reveal about ‘the people’ but how does it construct them. [...] What we should be examining is not how true a piece of music is to something else, but how it sets up the idea of ‘truth’ in the first place.

Vanaf hierdie gesigspunt van Frith (vergelyk ook Frith 1996a:108-111,121; 1987:138-140) kan daar dan geargumenteer word dat populêre musiek nie noodwendig ’n sekere groep mense of hul kultuur reflekteer nie, maar eerder nuwe waarhede en die geleentheid vir identifikasie skep. Oor spesifiek Suid-Afrikaanse musiek beaam Byerly (1998:6) hierdie siening van Frith wanneer sy sê dat dit beide optree as mimese en profesie. In die lig van Strinati (2000) en Hall (1996b) se sienings oor die media hierbo vermeld, sal mediatekste en die wisselwerking daarvan met die betrokke

musiek ook ingespan word – benewens natuurlik die ondersoek van die skep van nuwe waarhede deur die musiek self in lirieke, optredes ens. – ten einde hierdie identiteitsvorming te ondersoek.