• No results found

HOOFSTUK 4: Fokofpolisiekar

4.7 Brand Suid-Afrika

In 2006 het Fokofpolisiekar die kortspeler Brand Suid-Afrika vrygestel. Die album bevat slegs vier liedjies, waaronder die akoestiese weergawe van die groep se eerste treffer, “Hemel op die platteland”. Daarbenewens bevat die multimedia-CD ook die musiekvideo van laasgenoemde lied. In my bespreking sal hierdie video ook ter sprake kom, aangesien dit beklemtoon watter rol oudiovisuele voorstelling speel in die boodskap van lirieke.

Volgens ’n persuitreiking (Rhythm Records, 2006) handel Brand Suid-Afrika se titelsnit oor “konstruktiewe anargie”. Dit lewer volgens die persuitreiking “kommentaar op die universele jeug wat steeds hoor dat dinge nie meer is soos in die goeie ou dae nie. En dit terwyl Suid Afrika brand agter toe ooglede.”

Die feniks-simboliek word hier tot die uiterste gevoer. Die konstruktiewe anargie word uitgebeeld in die titelsnit se lirieke deur die tema van vuur wat vernietig, maar ook die voël (feniks) wat herrys: op die voorste omslag van die CD-boeke pryk ’n feniks met oopgespreide vlerke bo ’n vuur wat in Suid-Afrika brand.

Die titelsnit van Brand Suid-Afrika spreek enersyds dié land se problematiese geskiedenis van geweld en gepaardgaande paranoia aan, maar gee andersyds die opdrag dat die mentaliteit wat hierdie paranoia en geweld veroorsaak, vernietig moet word – met ander woorde, deur vernietiging is loutering en herskepping moontlik. Die titelsnit lui soos volg:

Brand Suid-Afrika

1 vir jou is daar nog messe wat wag 2 in die bosse buite jou huis in die nag 3 ons sal mos veilig wees

4 ons sal mos veilig wees 5 ons hou ons gewetens skoon 6 ons sluit toe die deur

7 ons het petrol gevat

8 en ons het al ons brûe afgebrand 9 voordat ons aan die anderkant was 10 en ek besef nou

11 en ek besef nou eers 12 bloed en yster 13 bloed en grond 14 bloed en olie 15 bloed en grond

16 bang en lui en desperaat

17 daar’s niks nuuts onder die son nie 18 en in die skaduwee

19 brand Suid-Afrika

20 wat weet ek van eerlik wees 21 my gewete syfer deur

22 my wakker lewe is hierdie ou man se geheue 23 en ek besef nou

24 en ek besef nou eers 25 bloed en yster 26 bloed en grond 27 bloed en olie 28 bloed en grond

29 bang en lui en desperaat

30 daar’s niks nuuts onder die son nie 31 en in die skaduwee

32 brand Suid-Afrika 33 en ek besef nou 34 en ek besef nou eers 35 die Ossewabrandwag

36 het gisteraand die munisipaliteit opgeblaas. 37 bloed en yster

38 bloed en grond 39 bloed en olie 40 bloed en grond

41 bang en lui en desperaat

42 daar’s niks nuuts onder die son nie 43 en in die skaduwee

44 brand Suid-Afrika 45 en ons vir jou

46 landmyne van skuldgevoelens 47 in ’n eenman-konsentrasiekamp

48 jy kla oor die toestand van ons land 49 wel fokken doen iets daaromtrent 50 brand Suid-Afrika

In bostaande lied bring die spreker sy bewustheid van die voortslepende gewelddadige geskiedenis van Suid-Afrika tot uitdrukking deur daarop te wys dat bloedvergieting en die meeding om natuurlike hulpbronne sinoniem geword het en dat vrees, wanhoop, angs en skuldgevoelens daarmee gepaard gaan. As gevolg van hierdie bewuswording van die spreker, waarsku hy sy medelandsburgers dat daar alternatiewe gevare is as dié waarvoor hulle vrees: omdat die geskiedenis homself herhaal, is die neiging tot geweld dalk inherent en kan die gevaar moontlik vanuit eie geledere kom. As gevolg daarvan, moet die nuwe generasie die sikliese gang van die bose kringloop van geweld breek deur middel van selfvernietiging (vergelyk ook “Vernietig jouself” op As jy met vuur speel sal jy brand).

Met die eerste twee reëls waarsku die spreker sy landgenote van ’n sluimerende gevaar waarná hy met die aangesprokenes se naïewe mantra van selfbeveiliging spot (reëls 3-6). Deur hul gewetens skoon te hou en hul deure te sluit, glo die aangesprokenes (wat deel is van die spreker se generasie – soos afgelei uit die gebruik van die woord “ons”) dat hulle veilig sal wees van eksterne gevare, onbewus van die interne gevare waarteen hulle hul blind staar. Laasgenoemde gevaar word deur die spreker bekend gemaak in reëls 7-19 waar hy tot die gevolgtrekking kom dat die land se geskiedenis van geweld, gekenmerk deur struwelinge oor grond en hulpbronne, niks nuuts is nie en tot die vernietiging van die land lei. Die feit dat dit die Ossewabrandwag is wat die munisipaliteit opblaas (reëls 35-36), suggereer nie slegs ’n ironiese tydsverwarring wat daarop dui dat die geskiedenis van geweld herhaal word nie, maar ook dat hierdie gewelddadigheid vanuit eie geledere kom. Ook die verwysing na landmyne en ’n konsentrasiekamp dui enersyds op die problematiese geskiedenis gekenmerk deur onder meer die Grens- en Anglo-Boereoorlog en andersyds op die interne gevare wat binne elke Afrikaner (reël 47) sluimer.

Gewelddadige vernietiging is nie slegs ’n waarneming nie, maar word ’n opdrag in die laaste drie reëls. Die spreker predik sodoende loutering deur vernietiging. Slegs deur die patroon van die geskiedenis te breek (deur dit ‘af te brand’), kan werklike verlossing kom (reëls 49-50).

Die titelsnit se musiekvideo versterk die boodskap van die lirieke. Die video beeld Fokofpolisiekar uit wat optree in ’n donker park wanneer ou motors as ’t ware ‘laer trek’ om die groep. Uit die motors klim daar dan mense wat verskeie ‘tradisionele’ groeperinge of ‘identiteite’ in die Afrikanerkultuur uitbeeld. Deur mee te maak aan die partytjie word die tradisionele opvattings oor hierdie ‘identiteite’ en veral die morele, Christelike Afrikaneridentiteit omgekeer en uitgedaag: Twee ‘boeremans’, geklee in kakie-kortbroeke, -hemde en -sokkies, word as homoseksueel uitgebeeld wanneer hulle mekaar liefkoos; ’n ouderwetse wit gesin poseer vir ’n gesinsfoto saam met hul swart bediende, maar raak aan die baklei; jong wit mans fuif en gebruik groot hoeveelhede alkohol wat ook in ’n bakleiery ontaard; ’n wit jongman en meisie fornikeer op die agterste sitplek van ’n motor en trompoppies tree in kort geskeurde denimrompies op met die uitbeelding van die feniks op die rooi en swart vlae wat hulle swaai.

Dit is dus duidelik dat “Brand Suid-Afrika” deur middel van die gebruik van die simboliek van vuur en die feniks, aankondig dat ’n nuwe identiteit uit die vernietiging van die vooropgestelde Afrikaneridentiteit van die ou bedeling kan voortkom.