• No results found

HOOFSTUK 3: Die opkoms van Afrikaanse rock

3.6 Die 1990’s

3.6.3 Die Suid-Afrikaanse rockontploffing

Die sogenaamde rockontploffing was egter in Engels. Hierdie ontploffing het begin kort na afloop van die demokratisering in 1994. Engelse rock in Suid-Afrika was nie iets nuuts nie (veral die jare 70 en 80 het ook Engelse rockbands in Suid-Afrika gesien), maar in die Nuwe Suid-Afrika het inspirasie soos ’n golf oor die land gespoel en was Suid-Afrikaanse rock baie meer populêr as ooit tevore. In 1997 berig Ilda Jacobs (1997:126) as volg in Die Huisgenoot oor ’n nuwe rock-ontploffing in Suid-Afrika:

Die Suid-Afrikaanse pop- en rock-kunstenaars wat tot ’n paar jaar gelede oorsee of voor hul eie mense hond haar-af gemaak het, kan jy amper op een hand tel [...]. Maar in die nuwe Suid-Afrika is dit asof die inspirasie soos ’n golf oor die land spoel. Twee hande vol vingers is nie meer genoeg om al die opkomende sterre af te tel nie. Vir ’n aandjie se lewendige musiek kan jy kies uit ’n tros groepe wat nuwe, oorspronklike musiek speel. En ál meer mense ruk gereeld op om na hulle te luister.

Met dié dat Suid-Afrika na afloop van demokratisering in 1994 nie meer die muishond van die wêreld was nie, skielik deel was van die globale wêreld en boonop baie internasionale aandag geniet het, het die kunste gefloreer. Baie van die musikale oplewing het (buiten vir die instroming en invloed van internasionale tendense) daarmee te doen dat Suid-Afrikaanse kunstenaars nou kon glo in ’n kans om dit oorsee te ‘maak’, as gevolg van die atmosfeer wat hierbo geskets is. Of dalk bloot omdat die kulturele sensuur opgehef is – die kultuur kon nou losbreek van die establishment en musiek kon in eie reg tot stand kom.

Die globale atmosfeer van die 90’s het ook hier ’n rol gespeel. Met die spoedige vooruitgang van die tegnologie in die nuwe inligtingsamelewing was daar ’n toename in toegang tot internasionale tendense en dus ook musiek – nie slegs makliker toegang nie, maar ook ’n toename in die breedheid van die mark. Boonop het tegnologiese ontwikkelinge die proses van vervaardiging en verspreiding vergemaklik.

In 1995 het verskeie populêre debuutalbums van Suid-Afrikaanse rockmusikante die lig gesien – soos Sugardrive se Hey God... it's me again, Squeal se Long Pig, Battery

940 se Protskrog en Springbok Nude Girls se Neanderthal. Dit was ook die jaar waarin die eksentrieke dans-trio Qcumba Zoo41 ontstaan het.

In 1996 stel die dansmusiekgroep Qcumba Zoo hul plaaslik debuut, Big, vry en kry ook ’n platekontrak by die New Yorkse platemaatskappy Arista, wat in dieselfde jaar die internasionale album Wake Up & Dream die lig laat sien. (Qcumba Zoo het met hul internasionale album ook die naam verander na Qkumba Zoo.) Die single, "The Child (Inside)", het die nommer-een plek behaal op Billboard se Club Chart, nadat dit aan die einde van 1996 vrygestel is in die VSA. Hierdie prestasie sou as groot aansporing vir ander Suid-Afrikaanse musikante dien wat daarvan gedroom het om op internasionale vlak ’n naam vir hulleself te maak.

Ook in 1996 debuteer Henry Ate met Slap in the Face. Wonderboom kom tot stand (aanvanklik as The Electric Petal Groove Machine), sowel as die populêre groep Fetish. Battery 9 word ook in hierdie jaar een van die eerste SA-rockgroepe wat in die dag op 5FM speeltyd kry vir hulle treffer “Kiss the Machine”, van hulle tweede album, Strop (ook vrygestel in 1996).

Daar is in hierdie tyd geglo dat Durban die nuwe rock-hoofstad is met groepe soos Squeal, Urban Creep en Arapaho wat daarvandaan kom (Jacobs, 1997:127). Squeal het in 1996 saam met internasionale bekendes soos Tracy Chapman en The Spin Doctors opgetree by 5FM se verjaardagkonsert, terwyl Arapaho vir die internasionale rockgroepe Bon Jovi en Def Leppard se Suid-Afrikaanse konserte geopen het.

Teen 1997 was die rockontploffing onmiskenbaar. Meer en meer Suid-Afrikaanse rockgroepe het teen hierdie tyd dag-speeltyd op 5FM en ander radiostasies begin kry, waar hulle voorheen slegs deur Barney Simon op sy 5FM-nagprogram gespeel is. Fetish stel in 1997 hulle eerste selfgetitelde album vry, wat op die 5FM top-tien ’n plek behaal, terwyl Wonderboom debuteer met Is it? en Just Jinger met All Comes

Round.

40

Battery 9 se lirieke wissel tussen Engels en Afrikaans.

41

Die kultureel-imperialistiese idee dat alles van ‘oorsee’ beter is as dit wat plaaslik vervaardig word, het ná 1994 verander in die sin dat Suid-Afrikaners bereid geword het om na plaaslike rock te luister – dit was nie meer slegs iets van ‘oorsee’ af nie. Maar kulturele imperialisme was tog steeds aanwesig in die feit dat Afrikaans-sprekendes in Engels gesing het. Al die lede van Springbok Nude Girls (die mees populêre en suksesvolle Suid-Afrikaanse rockproduk uit die 90’s) was byvoorbeeld Afrikaanssprekend. Dit het natuurlik ook te make met die atmosfeer van ná 94: Suid-Afrika was nou deel van die global village waarvan Engels die voertaal is. Engels bereik ook ’n groter mark. Dit het egter ook te make met waar die inspirasie vir die groep vandaan gekom het. In ’n antwoord op die vraag oor waarom Springbok Nude Girls in Engels gesing het, sê kitaarspeler Theo Crous: “Ons het nie Afrikaanse musiek gekry op daardie stadium wat ons regtig interesseer nie […] Ek dink ons het Engels gesing maar net omdat al ons influences Engels was op daardie stadium.” (Kapp & Beukes, 2008).

Die invloed wat Voëlvry gehad het in die vestiging van Afrikaanse rock het teen hierdie Engelse oplewing in Suid-Afrikaanse rock vervaag, terwyl Afrikaanse musiek in die 90’s gekenmerk is deur hoofstroom-“escapist”-musiek – nog steeds vas aan die naelstring van die “lekkerliedjie”. Myns insiens kan hierdie oorstroming van die populêre Afrikaanse musiekbedryf in die jare 90 toegeskryf word aan die behoefte om samehorigheid te vind binne ’n kultuur van ligte vermaak wat die aandag aftrek van die realiteit van magsverlies.

Die rockmusiek van Voëlvry het aansienlik verskil van die rock wat tydens die 1990’s na Suid-Afrika oorgespoel het. Kort voor lank was die musiek van die oorblywende Voëlvrymusikante iets van die ouer geslag – Kombuis en en veral Kerkorrel het deel van die hoofstroom geword. Dit sou meer as ’n dekade duur voordat daar weer aansienlike vernuwing in Afrikaanse rock sou kom. Maar die rockontploffing van die middel-90’s sou die weg baan vir Afrikaanse rockgroepe wat ná die draai van die eeu hul verskyning sou maak in die sin dat dit as ’t ware die “infrastruktuur” vir Suid-Afrikaanse rock daargestel het. Dit het ’n kultuur van ondersteuning van plaaslike rock geskep.