• No results found

HOOFSTUK 3: Die opkoms van Afrikaanse rock

3.3 Die 1960’s

3.3.1 Die opkoms van Afrikanerrykdom en verstedeliking

Teen die jare sestig van die vorige eeu was die Afrikaner in ’n gunstige posisie ten opsigte van politiek en materiële welvaart (vergelyk Grundlingh, 2008:143-148). Die Nasionale Party was al sedert 1948 stewig aan bewind en veral die stedelike Afrikaner se ekonomiese posisie het aansienlik verbeter namate Afrikaners (te danke aan die rol van die nasionalistiese entrepreneurs en regering) deel geword het van die kapitalistiese milieu. Die veranderinge wat verstedeliking, materiële welvaart, sowel as die breër konteks van die sestigerjare vir die Afrikaner ingehou het, het gemanifesteer in sy kultuur en dus ook in sy verhouding met musiek.

Teen 1960 was ongeveer 76% van Afrikaners woonagtig in dorpe en stede (Welsh, 1969:265). Die spoedige verstedeliking van die Afrikaner, sowel as die uitbreiding van dorpe en stede, het beteken dat Afrikaners nie meer gekonsentreer was in klein,

plattelandse gemeenskappe nie, maar hulleself bevind het in kosmopolitaanse samelewings waar Afrikaner-tradisies minder hoog geag is en sogenaamde volksvreemde denkskole gefloreer het (Welsh, 1969:267) met ’n oorheersende Engelse inslag (Cronjé, 1974:168; vergelyk ook Grundlingh, 2008:150-151).

Die afbreek van tradisionele sosiale verhoudings en norme weens verstedeliking, laat identiteit in ’n vakuum. In die geval van die Afrikaner in die 1960’s het verskeie invloede, waaronder Engels, die veranderende familiestruktuur, nuwe denkskole, die opkoms van rykdom en ’n groter waardetoekenning aan die materiële, ensovoorts, die behoud van die sogenaamde volkseie bemoeilik en die afweer van die ‘volksvreemde’ laat vervaag. Die verbruikerswese het in ’n groot mate hierdie identiteitsvakuum gevul. Kultuurbeoefening, waaronder die interaksie met musiek, kry gevolglik ’n nuwe karakter in die stede. Musiek was nou nie meer sodanig ’n kultuurskepping nie, maar eerder ’n kommoditeit – iets wat vermaak moes verskaf (vergelyk Grobbelaar, 1974:42-43). Die rol van musiek as vormer van identiteit het spoedig vervaag teen die rol wat die verbruikerswese vervul het as sosiale verbintenis vir veral die jeug.

Die Afrikaner se verstedeliking het meegebring dat sy belangstelling in veral internasionale tendense en modes gegroei het en dus ook in internasionale musiek (Grundlingh, 2008:150-155). Dit is ook ’n nalatenskap van kolonialisme, oftewel kulturele imperialisme, om te glo dat alles van ‘oorsee’ beter is as dit wat in Afrika vervaardig word (Andersson, 1981:51). Veral die jeug het belang gestel in die rockmusiek uit die VSA en Brittanje (vergelyk Redelinghuys, 2008:46; Grundlingh, 2008:154) – musiek wat deur die Afrikaanse kulturele entrepreneurs beskou is as ’n gevaarlike bedreiging vir die ‘sobere, heilsame’ Afrikanerkultuur wat hulle gekoester het. Hulle het gevrees dit sou die Afrikanerjeug tot morele verval bring en dit bestempel as Kommunisties – ironies, aangesien die USSR ewe hard gepoog het om Westerse musiek buite hoorafstand van die Sowjet-jeug te hou (vergelyk Hopkins, 2006:51; Grundlingh, 2008:155).

Die 1960’s is op globale skaal gekenmerk deur ’n onstuimige atmosfeer (vergelyk Grundlingh, 2008:153). Hierdie onstuimigheid is sigbaar gemaak deur studente-opstande, die hippie-beweging, die opstande teen die oorlog in Viëtnam, asook die dominansie van rockmusiek met ’n kenmerkend uitdagende karakter. Die jeug in die

VSA en Brittanje se belangstelling in rockmusiek het reeds na afloop van die Tweede Wêreldoorlog begin. Rockmusiek was ’n instrument waarmee die status quo uitgedaag kon word. Die jongmense kon daardeur hul onafhanklikheid van die ouer geslag uitbeeld, sowel as hul solidariteit beklemtoon en daarin ’n nuwe identiteit vir hulleself toe-eien (vergelyk Sardiello, 1998:123).

Terwyl daar in die VSA en Brittanje bewys is dat rockmusiek instrumenteel kan wees in die uitdaging van die status quo, wou die Afrikaanse kulturele entrepreneurs nie só iets toelaat onder die Afrikanerjeug nie (vergelyk Grundlingh, 2004:489). Die uitlating van John Lennon in 1966, waar hy te midde van die sogenaamde Beatlemania beweer het dat die Beatles meer populêr is as Jesus, is veral deur die teenstanders van rock ’n roll as regverdiging van hulle standpunt gesien (Grundlingh, 2008:156). Die gevolg van die teenstand was die streng gesensureerde, indoktrinerende en voorskriftelike uitsaai van musiek deur die SAUK, wat onder die beheer van lede van die Broederbond was (vergelyk Hopkins, 2006:51).

Maar tot en met 1975 kon internasionale rockmusiek nog sommige Suid-Afrikaanse ore deur middel van kortgolf bereik deur ’n onafhanklike radiostasie uit Mosambiek, LM (Lourenço Marques) Radio – wat onder meer veral resente Amerikaanse en Britse rock en pop gespeel het. Die Afrikanerjeug het ’n ietwat groter belangstelling getoon in internasionale rockmusiek as die Engelse Suid-Afrikaanse jeug. Sosiologiese ondersoeke wat deur die Universiteit van Pretoria gedoen is in die middel-1960’s het getoon dat ’n effense groter hoeveelheid Afrikaanse jeugdiges (48,5%) as Engelse jeugdiges (46,7%) na LM Radio geluister het. Die hoeveeldheid Afrikaanse jeugdiges wat na LM geluister het was ook meer as diegene wat na die SAUK se Afrikaanse radiostasie geluister het, geraam op 32,3% (Grundlingh, 2008:154). Nuttall en Michael (2000:19) merk tereg op dat daar in die Suid-Afrikaanse kultuurstudies meer navorsing gedoen moet word oor die invloed van die populariteit van LM Radio op die Suid-Afrikaanse bevolking.

Hoewel die Suid-Afrikaanse jeug graag na rockmusiek geluister het, het hulle nie in daardie stadium musiek as uitdagende instrument jeens die heersende magte gesien nie. Anders as sekere sektore van die Amerikaanse en Britse jeug, was die Suid-Afrikaanse jeug se middelklasstatus nog te nuut om opstand te regverdig en boonop

was die houvas van skool, kerk en staat steeds te sterk om die opkoms van ’n anti-establishment-jeugbeweging toe te laat (Grundlingh, 2008:156).

3.3.2 Afrikaanse musiek in die 1960’s

Terwyl die Afrikaanse jeug in die 1960’s groot belangstelling begin toon het in internasionale musiek, het Afrikaanse sangers nog die liefde vir volk en vaderland (die sogenaamde volkseie) en die “veredeling van die lewe” en “waardering van al wat skoon is” in hulle lirieke laat eggo (in pas met die onuitdagende, proteslose volksliedjies van die FAK) en dus nie tred gehou met wat internasionaal in die populêre musiekwêreld aan die gang was nie. Tot en met die einde van die 1970’s sou dit nog blyk dat ’n Afrikaanse sanger(es) slegs suksesvol kon wees indien hy/sy gehou het by hierdie afgesaagde stemming in hulle lirieke.

Volgens Andersson (1981:147) was Sias Reinecke en Gert van Tonder, oftewel Groep Twee, teen 1966 moontlik die mees bekende Afrikaanse sangers in Suid-Afrika (met die uitsondering dalk van Gé Korsten en Mimi Coertze). Van Huyssteen (2007:34) meen dat Groep Twee die naaste aan ’n band is in die destydse Afrikaanse musiekgeskiedenis wat hoofsaaklik oorheers is deur solokunstenaars. In 1968 het Groep Twee die Midem-trofee (Suid-Afrikaanse afdeling) gewen by Cannes vir hulle treffer “Die Oukraaliedjie” vanaf die album getiteld Pret en plesier. Terwyl ander populêre Afrikaanse sangers soos Carike Keuzenkamp, Rudi Neitz, Charles Jacobie, Marie van Zyl, Vicki du Preez en Sonja Herholdt almal soortgelyke vaderlandliefde in hulle lirieke laat eggo het (Andersson, 1981:147). Dit was ook redelik maklik vir ’n Afrikaanse sanger om sterstatus te bereik, aangesien daar ’n beperkte poel Afrikaanse musikante was en die SAUK dit wat wel daar was, onverpoosd uitgesaai het – met ander woorde, hierdie Afrikaanse sangers het hiper-blootstelling geniet.

3.3.3 Die invloed van die Afrikaanse literatuur – ’n manifestasie van ’n veranderende kultuur

Dit moet nie buite rekening gelaat word dat die aard van Afrikaanse letterkunde tydens die Sestigs groot veranderinge ondergaan het nie en dat dit gevolge ingehou

het vir die Afrikanerkultuur (en later ook musiek). Om die waarheid te sê, miskien kan die veranderinge in die Afrikaner se kultuur (en identiteit) ten beste begryp word aan die hand van die voorbeeld van die letterkunde.

In die lig van die onsekerheid rondom die toekoms van Afrikanerkultuur, het daar tydens die vroeë sestigerjare nuwe tendense in die Afrikanerliteratuur na vore gekom. ’n Nuwe beweging in die literatuur, bekend as die Sestigers, verteenwoordig die

avant-garde van hierdie tendense (Welsh, 1969:274). Deur middel van hulle

taalgebruik, temas en skryfstyl, het hierdie groep skrywers daarin geslaag om aanstoot te gee aan die tradisionaliste. Moderniteit, sekularisasie en seksuele vryheid is in hulle werk ondersoek en beskryf. Hierdie werk het moderne tegnieke gebruik en was dikwels eksperimenteel van aard. Daarbenewens was daar ook hoofstroomromans wat ’n nuwe gemoedstoestand weerspieël het (Giliomee, 2004:504).

In die werk van die Sestigers, soos byvoorbeeld Jan Rabie, Etienne Leroux, André P. Brink en Breyten Breytenbach, is daar in die prosa veral duidelik wegbeweeg van die tradisionele plaasroman wat kenmerkend was van die Afrikaanse literatuur van vroeër. Buiten die “gemoedelike lokale realisme”35 van hierdie vroeë romans, was dit dikwels patriargaal, met die hoofkarakter ’n man van die daad en ferm in sy oortuigings. In teenstelling daarmee is die vernaamste karakters van die Sestiger-romans dikwels passiewe randfigure wat worstel om hulself te ontdek en die kompleksiteit van die maatskaplike werklikheid te begryp (Giliomee, 2004:504-505). Die literatuur het ’n soort aarselende Afrikaner en ’n komplekse geskiedenis beskryf. Dit het afgewyk van die politici se voorstelling van die Afrikaners as doelgerigte mense, vasbeslote om alle bedreigings van hulle oorlewing die hoof te bied (Giliomee, 2004:505).

Nie slegs was daar veranderinge in die prosa nie, maar ook op die gebied van poësie het daar ’n vernuwing plaasgevind. Soos Sestiger, André P. Brink dit gestel het tydens die Sestiger-simposium wat in 1974 by die Universiteit van Kaapstad gehou is: “In die klein oes van Sestig het daar ’n vernuwing plaasgevind [...]: ’n durf, ’n eerlikheid,

35

Woorde wat deur die Afrikaanse skrywer, N.P. Van Wyk Louw in 1936 gebruik is om die beperktheid van die destydse Afrikaanse literatuur (na afloop van die Eerste Wêreldoorlog) te tipeer (Van Wyk Louw, 1939:10). (Sien ook Kannemeyer, 1984:269).

’n vormbesef, ’n avontuursin om te eksperimenteer, ’n bereidheid om te probeer.” (Brink, 1973:29-30).

Die kenmerke van hierdie vernuwing in die literatuur kan grootliks toegeskryf word aan die veranderende sosiale konteks van die Afrikaner weens sy opname in die kapi-talistiese wêreld, toenemende rykdom, sowel as die invloed van verstedeliking. Maar ook die veranderinge en onrus in ’n breër wêreldverband in die sestigerjare het die Afrikanerliteratuur van die tyd beïnvloed. So ook het die toenemende rykdom van die Afrikaner verseker dat meer mense oorsee kon toer en studeer, waar daar in aanraking gekom is met internasionale tendense en waar die maatskaplike situasie van Suid-Afrika vanuit ’n ander perspektief beskou kon word. Die Sestigers is bekend daarvoor dat hulle veral in Europa getoer en by tye daar gewoon het.

Die Sestiger-beweging was nie bloot in botsing met heersende norme en tradisies nie, dit was ook in botsing met heersende magte (Polley, 1973:7). Die Afrikanerkultuur-leiers en die Sestigers het spoedig van mekaar vervreem geraak. Hewige polemiek het byvoorbeeld geheers oor die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se toekenning van die gesogte Hertzogprys aan Etienne Leroux vir sy later bekende roman Sewe dae by die Silbersteins. Daar was dus ’n duidelike angstigheid by kulturele leiers rondom die behoud van die tradisionele en die ‘bedreiging’ wat verandering ingehou het vir die Afrikanerkultuur (Giliomee, 2004:505).

Die vernuwing wat die Sestigers meegebring het, sou later ook neerslag vind in die Afrikaanse musiek – Anton Goosen noem in ’n onderhoud (Kapp & Beukes, 2008) dat hy onder meer beïnvloed is deur Breyten Breytenbach en Ingrid Jonker.